God het in die begin die hemel (die onsigbare dinge van God) en die aarde (die sigbare dinge) geskep.
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Die Skrifte verklaar dat ons as mens deur die sigbare dinge van die skepping kan weet dat daar onsigbare dinge van God bestaan – niemand het dus ‘n verontskuldiging nie:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Ons as mens ervaar dus eerste die sigbare dinge van God om ons voor te berei vir die onsigbare dinge van God wat ons almal weldra sal deelagtig word, op die tyd soos God bepaal:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons leer God ken deur hierdie orde en proses – ons begin by die sigbare en groei dan na die onsigbare dinge. Ons begin by die natuurlike dinge en groei dan tot die geestelike. Dit is ‘n orde en proses wat deur God begin word, en deur God beëindig sal word. God is in totale beheer van alles. Alles is geskep deur God en Hy bewerkstellig alles binne hierdie proses, sodat ons as mens Hom ten volle kan ken aan die einde van die proses!
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Die eerste oorspronklike Hebreeuse woord wat die konsep van “God” uitdruk in die Skrifte kom juis voor in Genesis 1 vers 1, en dit is die interessante woord “ĕlôhı̂ym” wat die meervoudsvorm van die Hebreeuse woord “ĕlôahh” is…
Gen 1:1 In die begin het God [Hebreeuse woord: “ĕlôhı̂ym“] die hemel en die aarde geskape.
Daar bestaan baie spekulasies oor hierdie meervoudsvorm vir “God”, maar deur die Skrifte word dit duidelik geopenbaar dat die “ĕlôhı̂ym” na die Vader en die Seun verwys as dit kom by die skeppingsproses in die boek van Genesis. God het juis die man en vrou geskep (albei saam was ook die “âdâm“ genoem) om as ‘n aardse skadubeeld te dien vir die geestelike “ĕlôhı̂ym“, die Vader en die Seun. Die woord “âdâm” het verwys na TWEE persone aan die begin. Hier is ‘n paar skriftuurlike getuies oor hierdie “ĕlôhı̂ym“ wie alleen betrokke was by die skeppingsproses.
Gen 1:26-27 En God [Hebreeuse woord: “ĕlôhı̂ym“] het gesê: Laat Ons mense [Hebreeuse woord: “âdâm”] maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens [Hebreeuse woord: “âdâm”] na sy beeld; na die beeld van God [Hebreeuse woord: die”ĕlôhı̂ym“] het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Gen 5:1-2 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God [Hebreeus: “ĕlôhı̂ym“]. 2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens [oorspronlike Hebreeuse woord: “âdâm”] genoem, die dag toe hulle geskape is.
Hierdie “ĕlôhı̂ym” wie alleen by die skeppingsproses betrokke was, bestaan uit die een God, die Vader, en die een Here, Jesus Christus (ook genoem “die Woord”) vir wie die Vader aangestel het as God oor hierdie skepping…
1Kor 8:6-7 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom. 7 Die kennis is egter nie in almal nie…
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Daar is die orde van die Godheid duidelik! God, die Vader is die Hoof van Christus, en hierdie orde word uitgebeeld deur die “âdâm”, die man en sy vrou.
1Kor 11:3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
Terloops, hierdie hoofskap van die man het niks te doen met ‘n man wat sy vrou misken, mishandel en verkleineer nie. Dit is nie die beeld van die Vader en die Seun nie. Inteendeel, die Vader erken die Seun en behandel Hom met groot respek, en so doen die Seun ook teenoor die Vader. Enige man wat sy vrou erken en respekteer, en ‘n vrou wat haar man erken en respekteer, beeld die verhouding tussen die Vader en Sy Seun uit.
Efes 5:20-33 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. 22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. 23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. 24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. 25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het 26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, 27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. 28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; 29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. 30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. 31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. 33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.
God, die Vader is die Leier in alle dinge in hierdie skepping, en Jesus respekteer die Vader as sulks:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Efes 4:6 een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.
Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.
Mat 11:25-30 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. 26 Ja, Vader, want so was dit u welbehae. 27 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig.
Dit is die beeld wat elke getroude paar kan volg as hulle geluk en vrede in hul huwelik wil behaal.
Joh 14:27-28 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. 28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.
Die Vader en Jesus is een in gees – hulle stem saam oor alles. Hulle is EEN van SIN!
Joh 10:30 Ek en die Vader is een.
Fil 2:5-9 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. 9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
Tog is die Vader groter as Christus…
Joh 14:28…my Vader [is] groter as Ek.
Daar is orde in die Godheid! Daar is orde in ‘n huwelik. Daar is orde in ‘n familie. Daar is orde in ‘n gemeenskap en samelewing.
Rom 13:1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
Ons moet die orde van God erken en respekteer, en ons sal weet of ons dit doen as ons op die natuurlike vlak toepassing daarvan sien in ons eie persoonlike leefwêreld.
Luk 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
Mense orals wil die wêreld red en regruk, maar die mens misken God en ons ken nie Sy plan en Sy orde nie. God is egter planmatig en Hy weet wat Hy doen. Dit wat vir ons somtyds na chaos en wanorde lyk, werk alles volgens plan. God gaan inderdaad die hele wêreld red, maar Hy doen dit op ‘n wyse wat aan baie min mense bekend is. As God Homself aan ‘n persoon bekendstel, dan leer God die persoon ook van Sy plan met hierdie skepping. Net dan word insigte aan ons geskenk om te sien dat God se reddingsplan eerstens baie persoonlik toegepas moet word. Wat ek doen in my alledaagse lewe, weerspieël my erkenning en respek vir die Vader en Sy Seun.
Elkeen moet vir homself/haarself die vraag vra: Hoe sien ek God en hoe respekteer ek Sy werke in myself, in ander mense, en Sy plan met die hele wêreld?
Jesus het verklaar dat ons God se Woord moet bewaar, en in die proses sal ek ook kan sien hoe ek die Godheid en hul orde erken.
Joh 14:21-24 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.
Dit is hierdie insigte in Sy Woord wat ons vrede gee en die Vader se plan met hierdie skepping kan ken.
Joh 16:25-33 Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom ‘n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. 26 In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; 27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. 28 Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. 29 Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. 30 Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het. 31 Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? 32 Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. 33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Jesus het die volgende stellings gemaak wat wys dat die Vader nooit deur enige mens gesien of dat Sy stem ooit deur enige mens gehoor was, behalwe die Seun van die mens, Jesus Christus:
Joh 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.
Joh 5:37 En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie.
God is gees en die mens is vlees. Geen mens kan die geestelike dimensie bereik behalwe deur Jesus Christus wie die enigste persoon is wie die Vader aangestel het om die Vader te weerspieël en mense na Hom te lei:
Joh 14:1-7 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
As ons Jesus in gees en waarheid ken, dan sien ons die Vader!
Joh 4:23-26 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. 25 Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. 26 Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!
Niemand het dus ooit die Vader se stem gehoor of Sy gedaante gesien, behalwe Jesus nie. Orals waar “God” se stem en Sy gedaante gesien was in die Ou Testament, was dit Jesus Christus! Hy was verwys na as die “HERE God” wat twee ander Hebreeuse woorde kombineer, naamlik “yehôvâh ĕlôhı̂ym“. Jesus was die “yehôvâh ĕlôhı̂ym” wie deur die Vader aangestel was om hierdie hele Skepping na vore te bring en as God daaroor te heers! Let op dat alles plaasvind deur God se WOORD:
Joh 1:1-5 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Die Vader gebruik dus SY WOORD om Homself aan ons te openbaar, selfs Jesus Christus. Die doel van die WOORD is om mens eerste deur ‘n letterlike vleesproses te neem. Soos ons in die WOORD gevestig word, so ontwikkel ons dieper insigte om die onsigbare dinge van God raak te sien (dit is hoe ons Sy GEES deelagtig word deur SY WOORD). In die proses word die letterlike (die vlees) se plek duidelik geopenbaar:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die probleem met ons as mens is egter dat ons verknog raak aan die eerste stap in die proses – ons wil by die letterlike (vleeslike dinge) vashou. Ons repekteer nie die orde van God nie. Ons moet aanbeweeg totdat ons die geestelike kan ken, die Vader en die Seun, want dit is waar ons die ware LEWE IN GEES (“ewige lewe”) ervaar.
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.
Die mens wil God volgens die mens se ewebeeld voorstel, en dit is waar die mens homself lelik misgis. Mense, selfs hulle wie beweer dat hulle God ken (veral godsdienstige leiers), verander die hele proses en wil God voorstel as menslik en selfs as dierlik. Hulle het geen respek vir die orde van God nie! God is nie ‘n mens nie, nog minder lyk Hy soos ‘n mens of enigeen van Sy skepsels:
Rom 1:22-23 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
As ons bly by die eerste dinge en God volgens ons aardse beelde voorstel, dan gee God ons oor aan daardie valse drogbeelde. So word mense in hul eie wanvoorstellings vasgevang. God openbaar Homself aan ons soos ons verdraaide denke aan ons wil voorskryf, as ons nie in Sy WOORD as gees en lewe erken nie!
Psa 18:26-27 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, 27 by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
Rom 1:24-25 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.
Vir diegene wat God deur Sy Woord nader (Gees en Waarheid), betoon God Hom as die liefderyke en opregte Vader wat net goeie gawes aan ons wil gee:
Mat 7:7-11 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. 9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; 10 en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? 11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!
Rom 8:28-30 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.
Hy is ons Abba! ONSE VADER!
Rom 8:14-17 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! 16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
Mat 6:9-13 Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; 11 gee ons vandag ons daaglikse brood; 12 en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13 en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Hierdie beeld van die Vader is egter nie inherent aan ons as mens nie. Hierdie beeld van die Vader kom totstand in ons deur ‘n pynlike proses..
Heb 12:3-15 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. 4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. 12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; 13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. 14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; 15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.
Maar die pyn en lyding sal aan die einde van die proses die moeite werd wees:
Rom 8:18-27 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? 25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. 26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 27 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
Hoe weet ons dat ons die Vader ken en Hom kan sien?
Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Dit is hoe elke seun van God sal lyk aan die einde van die proses, want Jesus sal elke mens perfek aan die Vader voorstel IN GEES, aan die einde van die tydelike vleesproses. Almal sal Jesus ken in gees en in waarheid, en so sal almal die Vader ken IN GEES. As ons Jesus ken, as ons die Woord ken, dan ken ons die Vader en ons kan Hom sien!
Joh 14:8-14 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. 12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. 13 En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. 14 As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.