1Kor 3:21-23 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; 22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
Hierdie woorde is vir baie ‘n groot raaisel wat Paulus hier bedoel het toe hy aan die gemeente in Korinte geskryf het in terme van hulle verdeeldheid. Een aspek van hierdie woorde wat reg aan die begin duidelik gemaak moet word, is dat die woorde “alles behoort aan julle” niks te make het met besittings nie. Nee, “alles” behoort aan hulle wie kan sien dat ons leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” – alles wat neergeskryf is in God se Woord het intieme geestelike inhoud vir hulle wie dit persoonlik kan ontvang.
Mat 4:1-4 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Dele van Paulus se lewe was vir ons neergeskryf en ons ontvang dit ook “deur die mond van God”. Alles wat God laat neerskryf het, is van groot belang. Alhoewel die fisiese konteks van elkeen se lewe anders is, beleef ons almal dieselfde geestelike proses. God het ‘n plan met elke persoon se lewe en ons almal sal deur dieselfde proses geneem word om uiteindelik in geestelike volmaaktheid alles te verstaan. Tydens ons aardse lewe is die plan van God en alles wat met ons gebeur nie so duidelik nie. Die wyse Salomo het dit as volg uitgedruk:
Pred 9:1-2 Want dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. 2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.
Ons beleef ook wat Paulus in sy lewe ervaar het, en ons kan baie leer uit dit wat geskryf is van sy lewe. Ons leer ken die apostel Paulus in die Bybel as ‘n jong man – hy word eers aan ons voorgestel onder sy Hebreeuse naam “Saulus”; later word hy onder sy Romeinse naam “Paulus” aangedui in die Skrifte. Die jong Saulus was teenwoordig by die steniging van die eerste Christen-martelaar, Stefanus.
Hand 7:54-58 En toe hulle [die destydse Joodse Raad] dit [Stefanus se getuienis] hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. 55 Maar hy [Stefanus] was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. 56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. 57 Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. 58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.
Saulus het die vermoording van Stefanus goedgekeur:
Hand 8:1a En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.
Saulus was ‘n ywerige Jood wat sy lewe voor God onberispelik wou lewe:
Fil 3:5-6 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; 6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.
Hy het studeer onder een van die Jode se groot leermeesters, Gamáliël, juis om die wet van Moses reg te verstaan en uit te leef:
Hand 22:3 Ek [Saulus/Paulus] is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad [Jerusalem] aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.
Saulus se ywer vir dit wat reg in sy oë was, het hom gedryf om later self aktief deel te word in die vervolging van die Christene, vir wie hy verdink het dat hulle die heilige instellings en Woord van God verdraai het:
Hand 8:1b-3 En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels. 2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe. 3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.
Die jong Saulus se haat teen die Christene en sy afkeur van die leer van Christus het hom al verder gedryf sodat sy hart gevul was om self moord te pleeg:
Hand 9:1-2 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
Wat Saulus nie geweet het nie, is dat hy ‘n afspraak gehad het met Jesus Christus self, en dat hy eintlik voorberei was vir ‘n baie groot werk:
Hand 9:3-9 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. 7 En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. 8 Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. 9 En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.
Paulus se vraag “wie is U Here?” gee vir ons duidelikheid dat hy geweet het dat God met hom praat. Hierdie God was niemand anders as die Here Jesus Christus wat totaal met sy volgelinge assosieer: “Ek is Jesus wat jy vervolg”. God het ‘n plan met Saulus gehad wat loodreg gestaan teen sy eie hartsbegeertes – “Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop“. Daar kom ‘n tyd in ons almal se lewe wanneer ons uitvind dat ons eie oortuigings van God 100% verkeerd was, en ons begrip van hoe Hy te werke gaan nie in waarheid gegrond was nie!
Hand 9:10-18 En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. 11 Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; 12 en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. 13 Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; 14 en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. 15 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. 17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. 18 En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.
Daar is definitief ‘n belangrike toepassing van hierdie deel van Paulus se lewe op ons eie lewe, as ons dit kan ontvang. Ons lewe van elke woord uit God se mond, en alles wat neergeskryf is in die Skrifte het toepassing op onsself.
Mat 4:1-4 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Hierdie woorde in Mattheus kom uit die woorde wat Moses neergeskryf het in die boek van Deuteronium:
Deu 8:1-3 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. 2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. 3 En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.
Die hele pad in elke mens se lewe is vooruit bepaal en God het dit neergeskryf in Sy “boek”, en dit is wat baie moeilik is vir die mens om te verstaan:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Ons word almal deur God opgestel om eerstens teen Hom te staan. God is gees (Joh 4:24), en vlees is nie die einddoel van God se plan met ons nie:
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Ons almal begin ons reis deur ‘n geboorte in vlees – ons natuurlike mens verstaan nie die geestelike dinge van God nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Ons heg groot waarde aan al die dinge wat saam in daardie vleeslike fase aan ons gebied word. Ons ontwikkel beginsels en oortuigings, en baie van dit berus op ‘n Christelike godsdienstige basis. Ons leer die Skrifte ken en net soos die jong Saulus is ons ywerig om God te behaag. Die groot probleem is dat ons nie weet op daardie stadium dat God nie deur vlees behaag kan word nie. Al ons GOEIE werke in die vlees is eintlik soos vuil lappe wat ons voor God kom uitstal. Wat ‘n skok as ons dit uitvind!
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Paulus se eiegeregtigheid en vleeslike ywer vir God het hom geestelik verblind. Paulus kon later sy fisiese volk se vleeslike eiegregtigheid en ywer beter verstaan omdat hulle gefokus was op die wet wat op vleeslike verordeninge berus het. Hulle het geensins verstaan dat daar ‘n ander wet bestaan wat op die geestelike dinge van God fokus:
Rom 10:1-4 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. 2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. 3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. 4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
God se geestelike wet in Christus bring die ware geregtigheid van God na vore. Die wet wat op die vlees fokus hou van uiterlike vertonings wat ander mense beindruk. Daarteenoor is die wet van die gees gefokus op die innerlike dinge in ons hart. Ons almal is van nature blind vir die geestelike dinge van God en ons eiegeregtigheid is baie belangrik. Ons dink ons kan ook God beindruk met ons goeie werke in vlees. Maar as God Sy groot lig van die hemel in ons harte skyn dan ontbloot Hy ons geestelike naakthede. Ons sien dan ook dat ons nie beter is as die ander sondaars op wie ons neerkyk nie. Ons begin optree met empatie teenoor ander mense wat soos ons in dieselfde strik getrap het. Solank ons nog op ander neerkyk, het ons nog nie opgemerk dat onsself skuldig is aan dieselfde sonde wat ons in ander raaksien nie. Kyk wat noem Paulus homself as hy uiteindelik die groot boosheid in homself raaksien:
1Ti 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.
As God die deur in ons hemel (ons denke / ons hart) oopmaak, dan word ons eie boek geopen wat die oordele van God oor ons aankondig:
Open 4:1 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.
Open 5:1-5 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. 2 En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? 3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. 4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.
Paulus se Damaskuspad-ervaring was net die begin van die groot stryd wat nog vir hom voorgelê het. Maar God stuur Sy boodskappers en werkers om ons te help en te versterk. Net soos God vir Paulus gedoen het, sal Hy ook sy Ananías na elkeen stuur. Die naam Ananías beteken “die wolk van God”. Hier is die wolk van God waarin God se uitverkorenes opgeneem word:
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Die wolk van God is almal in Christus se ware gemeente in gees (God se ware berg Sion), wat ons help om die skille van ons oë te verwyder en ons help om die vuurdoop van die gees van God te ervaar – om Sy Woord bo alles te stel:
Hand 9:15-18 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. 17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. 18 En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.
Heb 12:22-29 Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, 23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, 24 en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel. 25 Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. 26 Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. 27 En hierdie woord: nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. 28 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. 29 Want onse God is ‘n verterende vuur.