‘Alles behoort aan julle’ – Die lewe van die apostel Paulus (Deel 2)

Ons leer van ons eie lewe deur die lewe van ander, en veral deur die lewens van hulle wie in die Skrifte aan ons voorgestel word. Een van die hoofskrywers van die Nuwe Testamentiese boeke is die apostel Paulus. Paulus was gekies deur God om aan ons belangrike lesse uit sy eie lewe te wys, want dit wat Paulus ervaar het, is ons eie storie. Die Vader gee alle dinge aan ons deur Jesus Christus, en dit is ook wat Paulus in sy eie lewe ontdek het, en aan gemeentes geleer het. Hy skryf die volgende woorde aan die gemeente in Korinte waar sommige gelowiges sekere leiers volg en hulself in kampies groepeer….

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Deur die woorde wou Paulus aan hierdie gelowiges leer dat hulle alles moet aanvaar uit die hand van God, en daaruit leer, ook die mense wat in ons lewe gegee word deur God. Die woorde “alles behoort aan julle” help ons om te verstaan dat ons alle dinge in die lewe sal ervaar wat die Vader vir ons vooruit beplan het.

Jes 46:9-10  Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;  10  wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.

Die onvolwasse Christene in die gemeente in Korinte het gedurende Paulus se tyd van bediening daar hulself in kampe verdeel en sodoende Christus en Sy leer, en die een plan van God as verdeeld voorgestel:

1Kor 1:10-13  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.  11  Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.  12  Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.  13  Is Christus verdeel? …

Is Christus verdeel? Is sy leer verdeel? Nee, Christus is nie verdeeld nie en Sy leer bring ook nie verdeeldheid in Sy een liggaam nie. Die talle menslike denominasies wat onder Christus se naam opereer, is juis vandag nog ‘n getuienis van hierdie valse gees wat reeds in Paulus se tyd werksaam was. Christus en Sy ware kerk is nie verdeeld nie.

Efes 4:1-6  Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,  2  met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra  3  en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.  4  Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping;  5  een Here, een geloof een doop,  6  een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.

Dit is juis die kernboodskap van Christus se leer dat die Vader Hom aangestel het as soewereine God van die hele skepping, en dat Hy almal se lewens regeer van begin tot einde. Dit is die wêreld wat verdeeld is en die wêreld gaan inderdaad val en verwoes word op die tyd soos God bepaal het.

Mat 12:25  …Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.

God se kinders weet dat God alles beheer en diegene wat die Vader in Jesus Christus versamel is een van gees en hulle weet wat die groot plan van God behels. Hulle weet dat almal se lewens haarfyn vooruit bepaal was, en almal leef presies uit wat God vir hulle beplan het:

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Die boek van ons persoonlike lewe is ook intiem gekoppel aan die Boek van die Lewe, dit is die Woord van God, Jesus Christus. Selfs die geskrewe Woord van Genesis tot Openbaring is ‘n verborgenheid wat ons hele lewe uitbeeld.

Mat 4:4  Maar Hy [Jesus] antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

As ons dus lees van die ontstaan van hierdie fisiese skepping in Genesis 1 en 2, is daar ‘n verborgenheid wat ons eie begin en ons aardse reis uitbeeld. Almal van ons begin in die vleeslike Adam (uit die stof van die aarde), maar ons sal elkeen in geestelike volmaaktheid eindig in die laaste Adam, Jesus Christus:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Die boek van Openbaring beeld ons eie oordeel en vernietiging van ons vleeslike Adam uit, in diep simboliese taal. Dit is deur die val van ons aardse Adam dat die nuwe Adam, Jesus Christus, in ons gevestig word. Ons hele geskiedenis kom in die hele Skrifte voor en word deur al die karakters en stories vasgelê. Ons naam is eintlik op elke bladsy van die Bybel. Dit maak die Bybel lewendig en bring ‘n ryk diepte in ons insigte van die Skrifte:

Heb 4:12-13  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.  13  En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Paulus se bestrawwing aan die gemeente in Korinte leer ons ook dat “alles aan ons behoort”, en dat ons veral die Woord van God se omvangryke krag en heerskappy in ons eie lewe kan herken. Paulus begin by homself, en wil aan sy hoorders / lesers ook duidelik kennis gee dat hulle (en ons) uit sy lewe kan leer en ook deur die lewens van ander mense wat ons paaie kruis. Ons moet niks ligtelik opneem nie – alles en almal werk saam om die boodskap van God vir ons persoonlik duidelik te maak:

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Belangrike dele van die apostel Paulus se lewe is in die Nuwe Testament neergeskryf vir ons waaruit ons so baie kan leer van Christus se werkinge in ons eie lewe. Paulus was eers onder sy Hebreeuse naam, naamlik Saulus, aan ons voorgestel in die Skrifte. Maar later word hy onder sy Romeinse naam, Paulus, bekend. Paulus was deur God voorberei in die Joodse godsdiens en hy het groot ywer opgebou om God te eerbiedig. Vanuit sy Joodse wêreldsiening het die jong Saulus die leer van Christus gehaat, en ook aktief betrokke geraak by die vervolging van die volgelinge van Jesus. Hier is Paulus se weergawe van sy lewe aan koning Agríppa tydens sy verweer waarom hy deur die Jode vervolg word:

Hand 26:1-11  En Agríppa sê vir Paulus: Dit is jou vergun om vir jouself te spreek. Toe steek Paulus sy hand uit en verdedig homself:  2  Ek ag my gelukkig, koning Agríppa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word,  3  veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.  4  My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode,  5  omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.  6  En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is,  7  waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.  8  Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek?  9  Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen.  10  Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.  11  En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.  

Paulus se pad het egter anders uitgedraai as wat hy oorspronklik gevolg het. Hy ontmoet die Here Jesus in ‘n bonatuurlike gesig waartydens Jesus spesifieke opdragte aan hom verduidelik en wat Paulus se hele lewe in ‘n totaal ander rigting gestuur het. So verduidelik Paulus hierdie gebeurtenis op die pad van Damaskus aan koning Agríppa, soos neergeskryf deur Lukas:

Hand 26:12-17  Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters,  13  het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad ‘n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.  14  En toe ons almal op die grond val, hoor ek ‘n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.  15  Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.  16  Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,  17  terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,  18  om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.

Lukas het twee weergawes beskryf in Handelinge (hoofstuk 9 en hoofstuk 22) met betrekking tot die manne wat saam met Paulus hierdie Damaskus-pad ervaring beleef het. Die manne wat saam met Paulus op dieselfde Damaskuspad was, het nie dieselfde openbaring van Christus ervaar nie…

Hand 9:7  En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.

Hand 22:9 En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.

Sommige van die manne wat saam met Paulus was kon die stem hoor en die lig sien, maar hulle kon nie die woorde verstaan nie. Paulus was wel bevoorreg om alles duidelik te verstaan en kon selfs die openbaring as goddelik herken. Luister weer na Paulus se reaksie tydens hierdie bonatuurlike ervaring, soos Lukas dit neergeskryf het in Handelinge 9, 22, en 26:

Hand 9:3-6  En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;  4  en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?  5  En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.  6  En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.

Hand 22:6-10  Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal,  7  en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?  8  En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.  9  En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.  10  En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.

Hand 26:14-18  En toe ons almal op die grond val, hoor ek ‘n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.  15  Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.  16  Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,  17  terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,  18  om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.

Paulus se respons op hierdie gebeurtenis was gehoorsaamheid aan die opdrag van Jesus, al het dit beteken dat hy sou ly onder sy eie mense wat steeds voortgegaan het om Christus en Sy ware volgelinge te haat en hul leer te verwerp. Sy vervolgng het inderdaad van sy eie Joodse volksgenote gekom, maar Paulus het nou empatie omdat hy self daardie pad geloop het…

Rom 10:1-4  Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.  2  Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.  3  Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.  4  Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

Maar wat vir Paulus dieper bedroef het, was toe sy eie mede-Christene teen hom begin staan en kwaadstook teen hom. Dit is veral die onvolwasse gelowiges in Christus (soos diegene wat verdeeldheid in Korinte aangehits het) wat altyd van Paulus ‘n rede wou hê oor sy apostelskap en sy werk in die talle gemeentes waar hy bedrywig was. Hulle het eintlik maar sy roeping deur Jesus in twyfel getrek. Paulus het geweet wat Christus aan Annanias gesê het, want hy het hierdie woorde persoonlik ervaar…

Hand 9:15-16  Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.  16  Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.

Paulus was inderdaad gedwing om te praat oor hierdie lyding en sy geroepenheid in Christus:

2Kor 11:1-21  Ag, as julle my net ‘n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar!  2  Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.  3  Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.  4  Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.  5  Want ek reken dat ek niks agterstaan by dié uitnemende apostels nie.  6  En al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie; maar ons het ten volle in alle opsigte openbaar geword by julle.  7  Of het ek sonde gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word, omdat ek die evangelie van God kosteloos aan julle verkondig het?  8  Ander gemeentes het ek beroof deur vergoeding te neem om julle te bedien; en toe ek by julle teenwoordig was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie.  9  Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedónië gekom het. En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.  10  So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.  11  Waarom? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dit.  12  Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat ‘n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word.  13  Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  14  En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  15  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.  16  Weer sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ‘n dwaas, sodat ek ook ‘n bietjie kan roem.  17  Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem.  18  Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem.  19  Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!  20  Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.  21  Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf—ek spreek in dwaasheid—ek durf ook.  

Dit is die pad van die ware uitverkorenes in Christus. Ons almal haat eers Christus en Sy ware leer, en kan nie glo dat God alle mense gaan red deur Jesus Christus nie. Ons almal glo in die valse leer van vrye wil. Ons almal glo die valse leer dat die mens in vlees volmaak geskep was en toe was daar ‘n sondeval. Ons almal glo aanvanklik die valse leer dat mense wat nie Jesus aanneem as hul “persoonlike” saligmaker volgens hul “vrye” keuse, vir ewig gaan brand in ‘n helse vuur. Die Skrifte gebruik die simboliese getal van “twee maal tien duisend maal tien duisend” perderuiters wat teen ons oorlog voer en ons jare lank magteloos maak met al daardie valse leerstellings wat ons hemel (denke) verdonker:

Open 9:1-21  En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.  2  En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.  3  En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.  4  En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.  5  En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.  6  En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.  7  En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.  8  En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.  9  En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.  10  En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. [lees Jesaja 9:14 – “…die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert”]  11  En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.  12  Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.  13  En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,  14  en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.  15  Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.  16  En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tien duisend maal tien duisend; en ek het hulle getal gehoor.  17  En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.  18  Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;  19  want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.  20  En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  21  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

Ons, net soos Paulus, glo eers hierdie valse profete met hul kragtige dwalings en valse leerstellings (die stert van die skerpioene en slange) en ons beywer ons in hul diens. God het egter ‘n afspraak met ons, soos Hy met Paulus gehad het. Christus is die magtige Ruiter op Sy wit perd wat elkeen van die “twee maal tien duisend maal tien duisend” perderuiters met hul valse boodskap sal neerslaan teen die grond wanneer Hy ons hemel (denke) oopmaak vir Sy waarheid!

Open 6:1-2  En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk!  2  En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.

Open 19:11-21  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.  12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.  13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.  14  En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.  15  En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.  16  En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.  17  En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,  18  dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.  19  En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.  20  En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.  21  En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

Soos sommige saam met Paulus die stem kon hoor en die lig kon sien, maar nie die woorde kon verstaan nie, so is sommige van ons medereisigers op die Christelike pad ook. Sommige kan wel die Skrifte lees, en verstaan op ‘n aardse manier, maar hulle kan nie die dieper geestelike boodskap daarin verstaan nie. Hulle gaan voort met hul valshede en kom teen God se uitverkorenes…

Open 9:20-21  En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.  21  En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

Dit is juis die mense van jou eie geestelike huis wat God dan op die manier gebruik om die teenkanting te bring wat die beproefdheid van geloof na vore bring en ons versterk. Net soos Paulus teenkanting gekry het van sy eie mense, so sal elkeen van God se uitverkorenes deur hul eie “huisgenote” verwerp word:

Mat 10:34-42  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.  37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.  38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.  40  Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.  41  Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.  42  En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

Teenkanting is die teenwig wat ons geloof sterker maak in Christus:

1Pe 1:6-9  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,  7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;  8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,  9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

Selfs diegene wat partyskappe promoveer, skei hulself van die een Here, Jesus Christus, en Sy een ware kerk vir die doel dat die ware gelowiges in Christus openbaar sal word:

1Kor 11:18-19  Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.  19  Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.