1Kor 3:21-23 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; 22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
Hierdie woorde van die apostel Paulus aan die gemeente in Korinthe was ‘n bestrawwing teen die verdeeldheid wat onder hulle geheers het.
1Kor 1:12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.
Hierdie onvolwasse gelowiges in die gemeente in Korinthe kon nie sien dat hulle nie net op sekere mense moet staatmaak en deur hulle persoonlike oortuigings beïnvloed word nie, want almal en alles behoort aan hulle…”of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge”. Een aspek van hierdie woorde wat reg aan die begin duidelik gemaak moet word, is dat die woorde “alles behoort aan julle” niks te make het met aardse besittings nie. Nee, “alles” behoort aan hulle wie kan sien dat ons leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” – alles wat neergeskryf is in God se Woord het intieme geestelike inhoud vir hulle wie daardie woorde kan ontvang.
Mat 4:1-4 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. 2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Paulus vra die volgende vraag aan die geestelik onvolwasse Korinthiërs wat so maklik beïnvloed was en dan groepies gevorm het ten koste van ander…
1Kor 1:12-13 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. 13 Is Christus verdeel?
Is Christus verdeel? Nee, Hy is nie. Is die Woord verdeel sodat ek net van sekere dele van die Skrifte leef? Nee, ons beleef alle woorde in die Skrifte deur hul geestelike inhoud:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Tog gaan sommige geestelike onvolwassenes tot vandag voort om Christus en Sy ware leer, en ook Sy een ware kerk as verdeeld voor te stel. In die afvallige Christendom sien ons derduisende menslike denominasies wat vandag op die aarde opereer (oor die 45 000). Mense wil aan menslike kerkorganisasies behoort want dit laat hulle veilig voel. Ons almal is baie godsdienstig van nature volgens menslike standaarde en voel dan ook trots oor ons godsdiens-organisasie, veral as dit al jare bestaan en belangrike vooraanstaande kundige leiers het. Jesus self het gewaarsku teen hierdie tipe aangetrokkenheid, en ons natuurlike bewondering van belangrike mense op die aardse vlak.
Luk 20:46-47 Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye. 47 Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.
Daar is inderdaad belangrike mense in hierdie lewe en hulle is daar geplaas deur God vir ‘n doel. Hulle word dan ook heel dikwels deur hul eie menslike status en belangrikheid bedwelm. Hulle wil dan ook so graag hul volgelinge en aanhangers beïndruk met hul “lang klere” en hulle hou van begroetinge, en hulle neem gewoonlik “die voorste banke” in die gemeenskap…
- Klere is ‘n bedekking vir ons liggaam, en in geestelike terme is klere ‘n verwysing na geregtigheid – ons eie geregtigheid of God se geregtigheid (Gen 3:7; Gen 3:21; Open 3:18; Open 19:8);
- Begroetinge – word uitgebeeld deur erkeninge en titels (aardse kwalifikasies). Sommige mense hou van titels en wil graag hê dat mense weet van hul kwalifikasies en dat dit saam met hul name gebruik word;
- Die voorste banke verwys na belangrikheid (negatief is dit hoe ons onsself hoër ag as ander);
- “skyn lang gebede” is ook om ander te beïndruk met baie woorde.
Ons almal word tydens ons eie tyd van onvolwassenheid beïndruk deur hierdie uiterlike bedrogspul, soos Paulus ook self eers met groot ywer die leer van sy aardse leiers en volksgenote gevolg het…
Fil 3:5-6 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; 6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.
Hand 22:3 Ek [Saulus/Paulus] is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad [Jerusalem] aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.
Die tragedie is dat hierdie tipe leiers en hul aardse organisasies nie God en Sy Christus ken nie. Die waarheid is dat hierdie leiers en hul organisasies die leer van Christus haat en almal wat dit volg word ook vervolg, soos Lukas ons ook duidelik uitwys uit die lewe van Paulus…
Hand 8:3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.
Hand 9:1-2 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
As ons dink dat ons nooit sulke dinge sal doen nie wat hier oor Paulus geskryf was nie, dan mislei ons onsself. Die omstandighede mag verskil, maar die intensie is 100% dieselfde. Ons beleef hierdie woorde inderdaad op ‘n persoonlike vlak as ons God se ware Christus en Sy leer nie ken nie. Maar as ons een van God se uitverkorenes is wat in hierdie lewe uit ons aardse Babilon geroep word, dan is ons eerlik om te sien dat ons wel “in mense roem”. Hierdie skokkende openbaring vind plaas in die lewe van elkeen wat deur God uit die geestelike hoer (die groot Babilon en al haar dogters) geroep word…
Open 18:1-8 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. 2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, 3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. 4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. 5 Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. 6 Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. 7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie 8 daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.
God se uitverkorenes erken persoonlik dat hulle deel was van hierdie ongoddelike hoer. Dit is ook wat met Paulus gebeur het en alles het begin duidelik word vir Paulus toe hy op pad was na Damaskus toe God se Engel aan hom verskyn en hy daarna drie dae lank verblind was…
Hand 9:3-9 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. 7 En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. 8 Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. 9 En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.
Na Ananías se gebed en handoplegging op Paulus het daar “iets soos skille van sy oë geval, en hy kon onmiddelik weer sien”. Paulus kon daarna beter sien wat God se plan en werk is in hierdie aardse eeu, en hy het die ware Jesus en Sy ware evangelie en Sy ware gees leer ken. Paulus het eers drie jaar spandeer in Arabië en Damaskus…
Gal 1:11-17 Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. 12 Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus. 13 Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het; 14 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders. 15 Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, 16 om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, 17 en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.
Drie jaar na sy Damaskuspad-ervaring het Paulus na Jerusalem gegaan om met Petrus kennis te maak, en hy het ook vir die apostel Jakobus daar ontmoet…
Gal 1:18-24 Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly; 19 en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here. 20 En wat ek julle skryf—voor die aangesig van God, ek lieg nie! 21 Daarna het ek gekom in die streke van Sírië en Cilícië; 22 en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa; 23 hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei. 24 En hulle het God verheerlik in my.
Paulus het dit duidelik gemaak dat hy nie belangrike mense gevolg het nie, en die guns van mense gesoek het nie…
Gal 1:10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.
Veertien jaar later het Paulus weer na Jerusalem opgegaan (sien Handelinge 15) om met die ander leiers daar te gaan beraadslaag of die heidinne ook die wet van Moses moet hou, en ook om seker te maak dat hy dieselfde evangelie preek as wat Christus ook aan hulle gegee het:
Gal 2:1-2 Daarna, veertien jaar later, het ek weer na Jerusalem opgegaan met Barnabas, en Titus ook saamgeneem. 2 Maar ek het opgegaan op grond van ‘n openbaring en hulle die evangelie voorgelê wat ek onder die heidene verkondig; en afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie. 3 Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ‘n Griek is…
Hand 15:1-2 En sekere persone wat van Judéa afgekom het [na die gemeente in Antiochíë], het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. 2 Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander [ook Titus] van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.
Dit neem tyd om God se instrument vir geregtigheid te wees, en selfs Jesus moes ‘n tydperk van omtrent dertig jaar voorberei word vir Sy tyd van aardse bediening van ongeveer drie jaar…
Luk 3:23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het…
Die eerste apostels van die Here was ook oor ‘n tydperk van ongeveer drie jaar voorberei vir hulle dienswerk. Die getal drie speel dus ‘n groot rol in hierdie verband, wat geestelik aandui dat ons deur ‘n proses geneem word voordat ons met gesag kan praat oor hierdie evangelie van die koninkryk van God. Jesus se eerste boodskap het duidelik uitgewys dat Hy deur die proses gekom het waartydens Hy deeglik voorberei was vir Sy dienswerk…
Mar 1:21-22 En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. 22 En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.
Jesus was nie soos die skrifgeleerdes nie, en Hy het nie “in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye” nie. Nee, Hy het die lang pad geloop van deeglike voorbereiding en was nooit daarop aangedring om volgens ‘n titel aangespreek te word nie (soos ons so dikwels vandag nog sien nie). So het Paulus ook die lang pad geloop en hy was ook deeglik voorberei en het geleer om nie ongeduldig te wees met ander wie nie kon sien wat hy kon sien nie. Paulus het dus met empatie begin optree toe hy dieselfde geestelike skille op die geestelike oë van ander sien. Kyk hoe mooi bemoedig Paulus die gemeentes om verdraagsaam te wees met mekaar – hierdie woorde is vir ons as ons dit kan ontvang en uitleef…
Die gemeente in Rome…
Rom 12:9-21 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; 10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; 11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; 12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; 14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; 15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; 16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; 17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; 18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. 20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. 21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Die heiliges in Efese…
Efes 4:17-32 Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie— 18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; 19 wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. 20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie, 21 as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: 22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. 25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. 26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; 27 en gee aan die duiwel geen plek nie. 28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. 29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. 30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. 31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. 32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Die gelowiges in Kollose was ook as volg aangemoedig…
Kol 3:1-17 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. 5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, 7 waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. 8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. 9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het 10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, 11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. 12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. 13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. 14 En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. 15 En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. 16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. 17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Die gemeentes van Galásië was ook baie na aan Paulus se hart…
Gal 6:1-10 Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. 2 Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. 3 Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself. 4 Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. 5 Want elkeen sal sy eie pak dra. 6 Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee. 7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. 8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. 9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 10 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.
En selfs die gemeente in Korinthe word aangemoedig om op te groei in Christus…
1Kor 12:12-31 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. 14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. 15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? 18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. 19 As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? 20 Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. 21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. 22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; 23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, 24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, 25 sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. 26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. 27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik. 28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. 29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? 30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? 31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg.
Paulus moedig ook die heiliges aan in Filippi om die gesindheid van Christus te hê…
Fil 2:1-5 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. 3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. 5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.
Oor hierdie eensgesindheid van Christus praat ons in Deel 4 van ‘Die lewe van Paulus’, soos God wil.