Paulus vra die volgende vrae aan die geestelike onvolwasse Korinthiërs wat so maklik deur mense beïnvloed was en dan groepies gevorm het.
1Kor 1:12-13 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. 13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?
Christus is verdeel wanneer mens dink jy is geestelik volwasse en dit nie is nie. Sommige geestelike onvolwassenes gaan tot vandag voort om Christus en Sy ware evangelie, en ook Sy een ware kerk op verskillende maniere as verdeeld voor te stel. Dink maar net aan al die Christelike denominasies en groeperinge wat na aan die hart van baie mense lê. Mense wil graag aan menslike organisasies behoort, want dit laat hulle veilig voel, veral as die organisasie al jare lank bestaan en belangrike vooraanstaande leiers het. Nee, die ware Christus is nie verdeel nie, en daarom moedig Paulus ons almal aan om die diepte van die volgende woorde te begryp:
1Kor 3:21-23 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; 22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
Ons sal “alles” beleef wat God in ons boeke geskryf het voor ons gevorm was in die moederskoot:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Ja, ons beleef inderdaad ook “Paulus…Apollos…Céfas (Petrus)…die wêreld…die lewe….die dood…die teenswoordige dinge….en die toekomstige dinge….alles…”. Van Paulus se lewenservaringe is vir ons neergeskryf want dit was inderdaad Paulus wat self ook hierdie pragtige waarheid moes leer…”alles behoort aan julle”. Dit is Paulus se briewe wat die meeste van ons Nuwe Testament vul, en kyk net wat skryf Petrus van Paulus se skrywes:
2Pe 3:15-16 En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16 net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.
Paulus se skrywes was deur die ander apostels van Jesus Christus as Skrifte aanvaar, en tog word hierdie skrywes ook tot vandag verdraai en geminag deur hulle wie nie gegrond is en opgevoed is in die waarheid nie. Paulus was een van die grootste voorstanders van die eenheid van Christus se kerk, en hoe hierdie een kerk vir die afgelope ongeveer 2000 jaar vasstaan in die waarheid van Christus, een van gees met een evangelie wat die een hoop vir almal omsluit. Geen leuen en verdraaiing van die afvallige geestelike dooies kon nog ooit die waarheid oorweldig nie!
Mat 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots [die waarheid] sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Hier is ‘n paar tekste uit Paulus se pen soos geïnspireer deur God se gees wat tot hierdie oomblik in elke ware gelowige in Christus se hart vasstaan:
1Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.
1Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Efes 4:4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping.
Fil 1:27 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie.
Ja, daar is net een evangelie van Christus wat vele aspekte dek en ook mense “uit elke stam en taal en volk en nasie” omsluit. Die Skirfte gebruik verskeie uitdrukkings om hierdie een evangelie uit te druk. Uitdrukkings soos “aan die armes word die evangelie verkondig” sê tog geensins van ‘n ander evangelie wat net vir die armes bedoel was nie, terwyl die rykes weer ‘n ander evangelie gekry het nie…
Mat 11:4-5 En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: 5 blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.
Almal wat in Christus opgeneem word (ryk en arm) is een in gees – hulle weet dat hulle almal in hulself “arm in gees” is, en weet dat hulle totaal afhanklik is van Christus vir alles!
Mat 5:1-3 En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; 2 en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: 3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
So ook kan die uitdrukking soos “die evangelie van vrede” nie as ‘n ander evangelie gesien word nie. Die een evangelie van Christus bring ook vrede in die harte van elkeen wat dit kan ontvang (Jood en nie-Jood, ryke en arme)…
Hand 10:36 Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.
As die volgende gedeelte dan praat van “die evangelie vir die onbesnedenes” en die evangelie “vir die besnedenes” sien sommige twee verskillende evangelies…
Gal 2:6-10 Maar van die wat in aansien was—wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie—hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie. 7 Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes— 8 want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene— 9 en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan; 10 alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.
Petrus en Paulus het dieselfde evangelie aan almal gebring (die “armes in gees”), maar Petrus was gefokus op die Jode van sy dag, en Paulus was gefokus op die nie-Jode van sy dag. Ons weet dat die kerk van Christus aanvanklik eers uit Jode bestaan het, en dit het alles in Jerusalem begin (Handelinge 2). Net soos die fisiese lewe ons leer oor ons groeiproses tot volwassenheid, so is niemand ook oombliklik geestelik volwasse nie! Ons gaan persoonlik ook deur ‘n geestelike groeiproses wanneer ons die waarheid ontvang…
1Pe 2:1-2 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; 2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.
Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. 13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Selfs Jesus het tydens sy aardse lewe deur ‘n fisiese en geestelike groeiproses gegaan, vir ons lering. Jesus was gebore “onder die wet” van Moses en het “toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en mense…”
Gal 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.
Luk 2:51-52 En Hy [Jesus] het saam met hulle [Sy ouers] gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.
Jesus het gekom “om die wat onder die wet [van Moses] was, los te koop” deur hulle tot ‘n hoër wet te neem – die wet van die gees!
Gal 4:4-7 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! 7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
Rom 8:1-8 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Jesus se eerste volgelinge was almal gekies uit die destydse Jodedom (die “wêreld” van Sy dag):
Joh 15:16-19 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee. 17 Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. 18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
Die kerk van Christus was stelselmatig verlos uit hul vleeslike opvatting van dinge en opgeneem om die geestelike dinge van God te kan ervaar. Dit is die kerk waarin ‘n jong Saulus (later Paulus) hom aanvanklik bevind het, en hy (soos die ander) moes saam met die kerk groei. Paulus self was ook uit die Joodse geloof bekeer…
Fil 3:4-9 alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; 6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. 7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof.
Paulus het alles uit sy vorige lewe opgegee en as drek beskou! Ons almal gaan eers deur ‘n vleeslike godsdienservaring waarvan ons dan moet wegbreek as ons die waarheid in Christus kan ontvang. Maar dit neem ‘n lang tyd – daar is ‘n pynlike proses aan verbonde.
Hand 14:22 …Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Vir elkeen is die omstandighede anders en dit is ‘n unieke ervaring, maar die proses bly dieselfde. So is die evangelie van Christus dieselfde, maar elkeen groei daarin volgens elkeen se “maat van geloof”…
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Sommige Joodse gelowiges wat geloof in Christus ontvang het, het dit moeilik gevind om te breek met hul ou Joodse gewoontes en tradisies, soos alle mense maar ook doen as hulle uit hul eie vleeslike agtergrond geroep word om Christus in gees te volg:
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Vir die vroeë kerk wat in die boek van Handelinge beskryf word, het die oorgang ook gepaardgegaan met groot pyn. Die ou Joodse gewoontes en tradies het maar moeilik gesterf en daar moes met groot deernis en geduld omgegaan word. Sommige van die nuwe Christene het ook destyds voortgegaan om die wette van Moses te onderhou. Die kerk het egter uitgebrei en ook heidinne was deur God na Christus en Sy een ware kerk getrek. Lees gerus Handelinge 10 – hier is die laaste verse van die hoofstuk…
Hand 10:44-48 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. 46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: 47 Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? 48 En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae te bly.
Probleme het egter ontstaan omdat broers wat steeds die Joodse tradisies beoefen het, ook die nuwe Christene uit die heidendom forseer het om ook die Joodse gewoontes te volg. Hulle het ook die onderhouding van die wet van Moses aan die heidin-bekeerlinge opgedwing as ‘n vereiste vir saligheid in Christus. Hieroor was daar groot ongelukkigheid by leiers soos Paulus, Petrus en Barnabas, en ook by die nie-Joodse gelowiges. Daar was toe ‘n dringende vergadering in Jerusalem belê waar die saak uitgeklaar sou word. Die volgende resolusie was toe bereik:
Hand 15:23-29 En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete! 24 Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, 25 het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus— 26 manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. 27 Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring. 28 Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: 29 dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!
Die onvolwasse Joodse gelowiges het met verloop van tyd geestelik gegroei en het volwasse geword in hul oortuigings oor die redding in Christus. Hulle kon ook mettertyd sien dat daar geen redding is vir enigeen deur die wette van Moses te hou nie, vir Jood sowel as nie Jood. Hulle kon sien dat dieselfde evangelie van Christus vir almal geld:
Rom 1:16 Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.
Rom 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.
Rom 8:1-8 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.
Dieselfde evangelie van Jesus Christus was verkondig vir Jode en nie-Jode, vir die afgelope ongeveer 2000 jaar. Oor hierdie tydperk het die ontvangers van die evangelie verskil in hul kultuur, gewoontes en tradisies, maar die evangelie het dieselfde gebly. Aan die einde van die geestelike groeiproses sal almal inderdaad dieselfde wees. Ons moet dus fokus op die einde van die proses in elkeen se lewe (“ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie”), en nie bly by die eerste beginsels nie…
Heb 13:7-8 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. 8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Mense verander, maar Jesus Christus en Sy die evangelie bly dieselfde…
Fil 2:1-5 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. 3 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. 5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.
1Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.
1Kor 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Efes 4:4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping.
Fil 1:27 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie,
Daar is geen skeiding in die een kerk van Christus nie want God het die “middelmuur” verwyder wat aanvanklik daar was as gevolg van die geestelike onvolwassenheid van die eerste gelowiges. Sommige sien nog steeds vandag die middelmuur tussen Jood en nie-Jood omdat hulle self hul tyd beleef van geestelike onvolwassenheid en geestelike blindheid. Die middelmuur wat bestaan tussen ons eie geestelike onvolwassenheid en geestelike volwassenheid word gaandeweg deur die Here afgebreek. Hierdie afbrekingsproses is die werk van die genade binne die ware evangelie van Christus:
Tit 2:11-13 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer [Grieks: “paideuō” = tugtig / oordeel] om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.
Die genade van God het aan ALLE mense verskyn, en hierdie genade het ‘n kruis wat moet opgeneem word waarop ons moet sterf:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Om saam met Christus te sterf is die evangelie van Christus waarin elkeen sal deelhê op die tyd soos die Vader vir elkeen bepaal. Hierdie genade wat God se tug na ons bring is nou op elke seun / dogter van God
Heb 12:5-8 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.
Hierdie tugtiging is juis die oordeel wat nou in hierdie aardse eeu op die ware huis van God in Christus is:
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Deur God se reddende genade (Sy oordeel) word ons geleidelik tot dieper en hoër geestelike insigte gebring. Ons groei uit ons onvolwasse stadium en ons insigte word volwasse in die dinge van God. Dit is wat Paulus self later verkondig het toe hy ook gegroei het in sy geestelike sieninge deur God se oordele in sy eie lewe.
Efes 2:11-22 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. 17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; 18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. 19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.
Hoeveel van diegene wat die “middelmuur” van sogenaamde verskillende evangelies in Christus propageer lees hierdie woorde van Paulus en beoordeel hul eie onvolwassenheid in geestelike dinge van God? Die natuurlike mens kan nie God se geestelike werke verstaan of aanvaar nie. Net diegene wat die eensgesindheid van Christus deur God se oordele verkry, kan in ‘n geestelike volwasse sin dinge reg beoordeel:
1Kor 2:14-16 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
God het in Christus net een geestelike “gebou” en daarin is GEEN middelmure meer nie. Daarin is geen dubbele agendas in Christus se leer en Sy evangelie nie.