‘Alles behoort aan julle’ – Die lewe van die apostel Paulus (Deel 6)

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Hierdie woorde van die apostel Paulus het hy aan die gemeente in Korinthe geskryf om die verdeeldheid en twiste wat tussen die gemeentelede bestaan het, aan te spreek en uit die weg te ruim:

1Kor 1:10-13  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.  11  Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.  12  Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.  13  Is Christus verdeel?

Die woorde “alles behoort aan julle” het niks te make met aardse besittings nie, maar verwys eerder na die waarheid dat God alles en alle mense in ons lewe stuur vir ‘n doel – dat ons deur dit groei en sterker word. Diegene wie kan sien dat ons leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” ervaar God se Woord op ‘n baie intieme manier.

Mat 4:1-4  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.  2  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.  3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Alles wat ons ervaar binne hierdie aardse tyd, en almal wat op ons lewenspad kom (dit sluit in die goeie en die bose) is van God afkomstig om Sy doel in ons te verwesenlik. God inderdaad “omgord” en “deurgrond” ons hele lewe, selfs al kan ons nie die diepte daarvan begryp nie:

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Psa 139:1-6  Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  2  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  3  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  4  Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.  5  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  6  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

Om te dink dat ons net sekere dinge uit God se hand ontvang, weerspieël geestelike onvolwassenheid. Alles (die goeie en die slegte dinge) kom uit God se hand, en Job het dit op die harde manier uitgevind:

Job 2:8-10  En hy [Job] het vir hom ‘n potskerf geneem om hom daarmee te krap, terwyl hy in die as sit.  9  Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf!  10  Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Paulus vermaan sommige gemeentelede in Korinthe om geestelik op te groei deur hierdie waarheid te omhels, dat alles (en almal) aan hulle behoort, in die sin dat hulle deur dit alles geestelik sterker groei en toegerus word in Christus. Ja, ook Paulus se insette in hul lewens was belangrik. Daarom deel hy sy lewenservaring met hulle, en ook dan met ons wat van hierdie dinge kan lees in die Skrifte. Paulus het ook aan die jong Timotheus die volgende meegedeel…

2Ti 3:14-17  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  15  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Paulus het as Jood grootgeword en was baie ywerig om die wet van Moses 100% te hou. Maar op die pad na Damaskus, toe hy op pad was om die jong Christene te vervolg, ontmoet hy Jesus Christus. Hierdie ontmoeting met Jesus in ‘n visoen verander Paulus se geloofsoortuigings so drasties dat hy sy vorige lewe onder die Joodse geloof as volg beskryf:

Fil 3:5-9  Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër;  6  wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.  7  Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  8  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry  9  en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;

Paulus se geregtigheid onder die wet van Moses was onberispelik, maar dit het nie aan die standaard van God voldoen nie. Derhalwe het Paulus alles van sy vorige oortuigings prysgegee om alles in Christus Jesus te verkry. Die geregtigheid wat hy in Jesus Christus gevind het deur geloof, was vir Paulus baie belangrik. Paulus het dit baie beklemtoon dat hierdie geregtigheid slegs deur geloof in Christus verkry kan word, en nie deur die werke van die wet van Moses nie.

Rom 3:20-22  aangesien uit die werke van die wet [van Moses] geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.  21  Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,  22  die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie.

Paulus het egter nooit gesê dat die geloof in Christus nie ook werke insluit nie. Valse leraars verdraai Paulus se boodskap sonder om hulle te skaam deur te sê dat Paulus ‘n evangelie verkondig het dat werke nie nodig was nie. Op hierdie valse aanklag gaan hullle dan voort en maak vergelykings tussen wat hulle “Paulus se evangelie” noem, teenoor die evangelie van ‘n persoon soos Jakobus. Is daar ‘n verskil tussen die leer wat Paulus verkondig het en die leer wat Jakobus verkondig het? Nee. Paulus het ook duidelik verklaar dat geloof sonder werke nie deur God aanvaar word nie, net soos Jakobus en al die apostels gepreek het. Diegene wat Paulus se boodskap wil verdraai, sal tekste soos die volgende nie reg lees nie…

Efes 2:8-10  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  9  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

As Paulus sê “nie uit werke nie” dan praat hy van die werke van die wet van Moses wat niemand regverdig voor God kan maak nie. Die basis van ons saligheid is geloof in Christus, en uit daardie geloof van Christus vloei die “goeie werke” wat in ons bewerkstellig en navore bring. Dit is ook wat Jakobus gepreek het. Paulus en Jakobus was een van denke – die denke en sin van Christus is een. Die volmaakte wet van Christus bring die dade van geregtigheid deur die geloof van Christus na vore. Ons moet versigtig lees van watter wet gepraat word – dit is of die wet van die vlees (deur Moses) of die wet van die gees (in Christus):

Jak 1:25  Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.

Jak 2:20  Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?

Rom 1:16-17  Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.  17  Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

Rom 8:1-4  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.  2  Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.  3  Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees,  4  sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

Omdat die funksie van genade ook nie verstaan word nie, kan baie nie sien dat Paulus die werke wat uit die geloof voortspruit as baie belangrik beskou het, net soos Jakobus dit gedoen het. As Christus in ons werk, dan werk Hy deur sy genade om ons van die aardse dinge te skei en ons op Hom te laat vertrou om die goeie werke van die gees na vore te bring. Kyk wat sê Paulus wat die genade van God in ons bewerkstellig:

Tit 2:11-12  Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn  12  en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,

Die genade van God produseer die goeie werke van die gees in ons en dit is daardie werke wat dan na buite manifesteer. Die simboliese boom dra dan die regte vrugte wat by die bekering pas, en almal sal dit kan sien. Die ou wet van Moses kon nooit, en kan ook nie vandag, hierdie ware vrugte waarin God belangstel na vore bring in enige persoon nie!

Gal 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die geloof wat ons kry van Christus (“dit is ‘n gawe” – Efes 2:8-9), help ons om heilig te lewe en die werke van die gees na vore te bring, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Dit is die enigste manier hoe ons God kan behaag! Dit is ook dieselfde Paulus wat die volgende woorde skryf om die punt van goeie werke deur geloof te bevestig:

Fil 2:12-13  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;  13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Sommige wat Paulus as ‘n voorstander van geloof sonder werke wil uitbeeld is doelbewus besig om aan mense onwaarhede te leer. Paulus en Jakobus is op dieselfde geestelike bladsy as hulle albei dieselfde boodskap verkondig:

Jak 2:14  Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?

Die geloof van Christus in ons produseer die werke – dit is hoe ons elke dag wandel en werk tussen mense. Die geloof van Christus en die werke van Christus in en deur ons gaan hand aan hand:

Jak 2:24  Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

Hiermee stem Paulus ook heelhartig saam omdat die wet van Moses ‘n heel ander doel gehad het:

Rom 3:19-20  Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;  20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Rom 3:28  Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.

“Alles” van die gees behoort aan die volgelinge van Christus wie Sy geloof ontvang het om alles in besit te neem – dit word in hierdie tyd as ‘n “onderpand” gegee totdat die volheid van die gees sal kom:

Efes 1:3-14  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,  4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,  5  deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,  6  tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.  7  In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,  8  wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,  9  deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,  10  om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—  11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,  12  sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,  13  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,  14  wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.