‘Alles behoort aan julle’ – Die lewe van die apostel Paulus (Deel 7)

Paulus skryf die volgende vermaning aan sommiges in die gemeente in Korinthe wie twiste in die gemeente veroorsaak het…

1Kor 1:10-13  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.  11  Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.  12  Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.  13  Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?

Paulus se lewe was ‘n voorbeeld vir ons omdat dit vir ons ook ‘n aanduiding is wat ons alles sal ervaar as ons Christus volg.

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus se lewenservaringe “behoort” ook aan elke gelowige, in die sin dat ons elkeen deur soortgelyke ervarings geneem sal word. Daarom moet ons kennis neem van die volgende woorde van Jesus aan Satan, die versoeker van elke mens:

Mat 4:1-4  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.  2  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.  3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Wat ons leer uit dit wat vir ons neergeskryf was in die Skrifte, ook wat neergeskryf was van Paulus se lewe. Ons deel, soos Paulus, dieselfde lydingspad van Christus.

Mat 10:34-39  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.  37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.  38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Jesus se kruisdood het letterlik plaasgevind ongeveer 2000 jaar gelede daar buite die ou stad van Jerusalem. Die boodskap van die kruis is net so relevant vandag vir hulle wat daardeur gered word:

1Kor 1:18  Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Ons moet ons eie spreekwoordelike kruis opneem en saam met Jesus sterf, net soos Paulus dit ook ervaar het en die volgende kon skryf aan die gemeentes…

Fil 1:29-30  omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly,  30  terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Paulus skryf ook die volgende woorde aan die gemeente in Filippi om hierdie waarheid vas te lê dat ons almal moet leer, ontvang, hoor en sien wat hy alles moes deurleef om die werk van Christus in sy lewe te voltooi…

Fil 4:9  En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.

Paulus skryf van sommige van sy ontberinge aan die gemeente in Korinthe, en veral aan diegene wat sy roeping in Christus betwyfel het. Hy noem die dinge wat hy ervaar het sodat ons nie die dinge as hindernisse moet sien in ons bediening aan ander mense… 

2Kor 6:3-10  Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie;  4  maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede;  5  in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly;  6  in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde;  7  in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter— en linkerhand;  8  deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig;  9  as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie;  10  as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.

Voor Paulus sy bediening in Christus begin het, het hy geweet dat swaar tye vir hom voorlê soos aan hom geopenbaar was na sy bekering op die pad na Damaskus… 

Hand 9:15-16  Maar die Here sê vir hom [Ananías]: Gaan, want hy [Saulus wat later bekend geword het as Paulus] is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.  16  Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.

Maar kyk na Paulus se houding toe die gees van God aan hom bevestig dat baie dinge hom sou oorkom tydens ‘n spesifieke besoek aan Jerusalem…

Hand 20:22-24  En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie,  23  behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag.  24  Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.

Paulus het sy prediking in Damaskus begin, en reg vanaf die begin van sy bediening in Christus het teenstand teen hom gegroei, veral uit die kringe van sy eie volksgenote, die Jode. Baie komplotte was teen Paulus beplan, en sekere mense onder die Jode het individue subtiel beinvloed en selfs skares opgesweep om oproer te maak teen Paulus en dit wat hy gepreek het. Hier is die eerste insident wat Lukas neergeskryf het waar Saulus in groot lewensgevaar verkeer het in Damaskus…

Hand 9:23-25  En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring.  24  En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring;  25  maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in ‘n mandjie te laat afsak.

Selfs toe hy in Jerusalem gekom het, was die gelowiges daar nie so oortuig van die man se bedoelinge nie…

Hand 9:26-27  En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie.  27  Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het.

Paulus se eie volksgenote uit die Jodedom was nooit tevrede met Saulus se nuwe boodskap nie, en wou hom gedurig om die lewe bring, maar die Here het ook hom veilig gehou met die hulp en bystand van mede-Christene…

Hand 9:28-30 En hy het saam met hulle in— en uitgegaan in Jerusalem  29  en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak. 30  En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur.

Tydens sy eerste sendingreis is Paulus in die stad Lystra gestenig omdat hy ‘n verlamde man genees het. Sommige Jode het hom uit die stad gesleep en gedink dat hy dood is, maar toe sy dissipels om hom kom, staan ​​hy wonderbaarlik op en kon voortgaan met sy werk…

Hand 14:19-20  Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.  20  Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek.

Hierdie ondermyning en lewensgevare was altyd deel van Paulus se lewe en die boek van Handelinge gee indiepte informasie deur Lukas wat alles met hulle gebeur het.  Maar Paulus wou self nooit dit gebruik om te spog nie. Paulus noem dit dwaasheid om openlik te dweep oor verdrukkings en lyding. Paulus was egter gedwing deur al die teenstanders se leuens oor hom om te praat oor van sy ontberinge en lyding vir Christus. Hierdie dinge wat vir ons neergeskryf was van Paulus se lewe help egter ons almal wat in ons eie lewe deur soortgelyke ontberinge moet worstel. Lees gerus die gedeelte wat deur Paulus neergepen was wat hy alles moes ervaar vir naam en saak van Jesus Christus:

2Kor 11:16-33  Weer sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as ‘n dwaas, sodat ek ook ‘n bietjie kan roem.  17  Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem.  18  Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem.  19  Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!  20  Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.  21  Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf—ek spreek in dwaasheid—ek durf ook.  22  Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook.  23  Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels.  24  Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.  25  Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—  26  dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;  27  in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.  28  Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.  29  Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?  30  As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem.  31  Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie.  32  In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang;  33  en ek is in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.

Lukas beaam dit alles en vertel dat Paulus ontvoer was (Hand 21:27), geslaan (Hand 21: 30-31; 23: 3), gedreig (Hand 22:22; 27:42). Paulus was baie keer gearresteer (Hand 21:33; 22:24, 31 ; 23:35; 28:16), hy was beskuldig in regsgedinge (Hand 21:34; 22:30; 24: 1-2; 25: 2, 7; 28: 4), ondervra (Hand 25: 24-27), bespot (Hand 26:24), geïgnoreer (Hand 27:11), skipbreuk gely (Hand 27:41) en dan nog ook deur ‘n adder gebyt (Hand 28:3). Behalwe hierdie fisiese beproewings, het Paulus ook baie ander teleurstellings ervaar en byna voortdurende bekommernisse gely oor die wyd verspreide gemeentes van Christene. Hy druk dit as volg uit vir die gemeente in Kolosse…

Kol 1:24-27  Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;  25  waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,  26  naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges,  27  aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.

Ons ontberinge in Christus is die “oorblyfsels van die verdrukking van Christus”!!! Ons ‘vul aan’ dit wat Jesus in sy lewe moes ontbeer, ja selfs Sy kruisdood!!! Vir baie sal dit godslaterlik wees om so iets te sê. Maar Paulus het dit openlik gesê en elke volgeling van Jesus bely dieselfde. Ons vul in ons vlees aan “die oorblyfsels van die verdrukking van Christus” [Lees gerus die artikels oor “Elkeen sal sy eie pak dra” en “Lyding is deel van God se plan van saligheid“]:

Kol 1:24-27  Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;

Weereens herhaal Paulus sy onwilligheid om te roem in hierdie dinge, want sy roem is in Christus wat alles op sy pad gebring het om hom nederig te hou:

2Kor 12:1-10  Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here.  2  Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.  3  En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit—  4  dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.  5  Oor so ‘n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie, behalwe in my swakhede.  6  Want as ek sou wil roem, sou ek nie ‘n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie.  7  En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.  8  Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.  9  En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  10  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

Paulus moes dieselfde pad loop as wat Jesus geloop het. Ons almal sal die lydingspad moet loop. Die omstandighede verskil, maar die onderliggende aspekte van die pad is dieselfde. Jesus se pad van lyding word vandag voorgestel op ‘n goedkoop kommersiële straat in die aardse Jerusalem (ook genoem die Via Dolorosa). Soos Paulus, volg elke ware volgeling van Jesus Sy lydingspad en ons leer ook uit die lewe van Paulus wat dit is om Christus te volg as ons ons eie kruis opneem en ly vir die naam en saak van Jesus Christus:

Mat 10:34-42  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.  37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.  38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.  40  Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.  41  Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.  42  En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.