‘Alles behoort aan julle’ – Die lewe van Apollos

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus het met die woorde “alles behoort aan julle” ook die naam van Apollos ingesluit, want ook deur die lewe van hierdie volgeling van Jesus, kan ons baie dinge leer oor ons eie geestelike groeiproses. Ons lees die eerste keer van Apollos in die boek van Handelinge, waar die kerk van Jesus Christus in sy beginjare bekendgestel word aan ons:

Hand 18:24-28  En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.  25  Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.  26  En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.  27  En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut;  28  want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.

Uit die gedeelte in Handelinge word so baie aan ons deurgegee van Apollos wat vir ons baie waardevol is. Apollos was van Alexandrië in Egipte op die vasteland van Afrika. Apollos was inderdaad ‘n Afrikaan wat ook ‘n groot impak gehad het in die kerk van Jesus reg aan die begin. Jesus het gesê dat sy volgelinge van elke uithoek van die aarde saamgestel sal word, en hier is weereeens een bewys dat Jesus het bedoel wat Hy gesê het. God is inderdaad geen aannemer van die persoon nie, want Sy doelwitte seëvier en Hy doen wat vir Hom welgevallig is. God vra niemand se toestemming of goedkeuring as Hy iets wil doen nie, of as Hy iemand wil gebruik vir Sy doel nie. Kyk na Petrus se reaksie toe hy ook ervaar het dat God selfs aan nie-Jode Sy gees gee en in die kerk van Jesus inbring…

Hand 10:34-35  En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,  35  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.

Die klein groepie uitverkorenes vir wie die Vader in hierdie kerkeeu versamel in Christus, kom inderdaad “uit elke stam en taal en volk en nasie…”

Open 5:9-10  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,  10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Alexandrië was op daardie tydstip ‘n bekende sentrum van kennis en mense met ‘n hoë opvoedingsvlak was daar opgelei. Dit is dus geen verrassing dat Apollos ook as ‘n welsprekende man beskryf word nie:

Hand 18:24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man…

Die stad Alexandrië was vernoem na Alexander die grote, vir wie God dan ook gebruik het om die Griekse taal se invloed oor die bekende wêreld van sy tyd te versprei. God het die ryk woordeskat van Griekse taal gebruik as die taal waarin die oorspronklike boeke van die Nuwe Testament saamgestel was. Apollos was ‘n Jood en hy was geskool in die Skrifte…

Hand 18:24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.

Apolllos het die Ou Testamentiese Skrifte geken en dit was ook heel moontlik dat Apollos in kontak gekom het met die briewe van die apostels in die Griekse taal wat in daardie tyd in omloop was. Apollos het tyd geneem om die Skrifte te ondersoek en te studeer, en dit is wat ons eerstens van hom kan leer. Die Skrifte bly steeds die basis van ons geloof, en ons ontvang God se geestelike insigte deur Sy Woord:

Rom 10:17  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Psa 119:105  U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.

God praat met Sy volgelinge deur Sy gees, en dit kom deur God se Woord in ons…

Joh 14:15-18  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.  16  En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:  17  die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.  18  Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

Joh 14:23-24  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.  24  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Die gemeente in Beréa word spesiaal vermeld in Handelinge vir hierdie rede, dat hulle elke dag die Skrifte ondersoek het en dit ter harte geneem het…

Hand 17:10-12  Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.  11  En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.  12  Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.

Paulus en Silas was baie opgemaak deur hierdie mense omdat Paulus self ook homself eers in die Skrifte gevestig het, en geweet het hoe belangrik die Woord in ons harte is as ons God se stem wil hoor praat met ons en deur God gebruik word…

Hand 22:3  Ek [Paulus] is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.

So beveel Paulus ook aan elkeen van ons, soos hy vir die jong Timotheus aangemoedig het:

2Ti 3:14-17  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  15  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Ons word volkome toegerus vir elke goeie werk deur God se Woord! Die Woord is die enigste verwysingsraamwerk vir die waarheid! Dit is hoe ons waarheid van leuens kan onderskei van mekaar!

Joh 17:17  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Alle openbarings moet aan die Woord gemeet word, anders is ons verlore binne ‘n see van stemme van misleidings wat orals met ons wil praat, en ons aandag en kommentaar/opinies vereis. Die hele Skrif is verseker ons behoud in ‘n wêreld wat oploop is met allerhande verleidings as mense saam met allerhande slim slenters gesleep word…

2Tim 3:16-17  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Baie mense hoor stemme, droom drome, kry gesigte en visioene, volg mense se woorde, volg tekens en wonders rondom hulle, maar alles is subjektief en misleidend as dit nie aan die standaard van die Woord van God voldoen nie. Die Woord is die enigste waarheid wat ons vrymaak van misleidings en aan ons ‘n ware beskutting gee teen al die subtiele dinge wat ons vrede wil beroof:

Joh 8:31-32  En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.  32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Dit het Apollos ook geleer met tyd. Apollos het na die stad Efese gekom en daar het hy onderrig ontvang aangaande “die weg van die Here” en hy het “noukeurig geleer”…

Hand 18: 25  Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer

Apollos was gretig om te leer en die veilige hawe van die Woord op te soek meer as enigiets wat mens soek.

Spr 4:20-27  My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde,  21  laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart.  22  Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ‘n genesing vir hulle hele liggaam.  23  Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.  24  Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe.  25  Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou.  26  Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,  27  wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.

Wat ‘n belangrike karaktereienskap is dit vir elke kind van God!

Spr 23:12  Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.

Jesus het gesê dat Sy dissipels soos kinders moet wees, om gretig te wees om te leer, en nie om kinderagtig te wees nie:

Mat 18:1-4  In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?  2  Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan  3  en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!  4  Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.

Selfs Apollos moes leer dat die roeping van elke kind van God is om in nederigheid te leer…

1Kor 1:26-29  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  27  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  28  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Apollos was vurig in gees maar sy kennis van Jesus was nog nie volwasse nie.

Hand 18:25  Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.

Ons almal is eers baie ywerig as ons die waarheid van Christus se boodskap ontdek, maar baie keer is die kennis gebrekkig en ons word gou tot orde geroep, soos Paulus self moes uitvind en ook hierdie gebrek in die kennis van sy Joodse volksgenote ontdek het…

Rom 10:2  Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.

God in Sy barmhartigheid sal altyd iemand stuur om ons in liefde te help, en so was dit ook in die lewe van Apollos die geval:

Hand 18:26  En hy [Apollos] het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.

Wat ‘n pragtige gebaar van Aquila en sy vrou Priscilla. HUlle het Apollos onder hul vleuels geneem by hul huis en hom tydsaam gehelp om die ware leer van Jesus beter te verstaan. Weereens sien ons hoe die gees van Christus in Apollos hom gehelp het om leergierig te wees en in nederigheid te groei. Na hierdie tyd met Aquila en Priscilla was Apollos gereed om sy werk in Christus met groter volwassenheid aan te pak:

Hand 18:27-28  En toe hy [Apollos] wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut;  28  want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.

Apollos het ook in die kerk in Korinthe ‘n groot impak gemaak:

Hand 19:1  En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis…

Die laaste ding wat Paulus of Apollos sou wou hê is om volgelinge te hê wat hulle volg in plaas van Christus. Sommige leiers is swak en voel goed en sterk as mense hulle volg. Maar Paulus en Apollos het geweet dit is nie wat enige ware leier in Christus wil hê nie. Ons volg Christus en die leiers wat God in ons lewe plaas sal ook ons aan Christus en Sy Leer verbind, eerder aan hulself en hul persoonlike opinies en smake…

1Kor 11:1  Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.

Daarom was die onvolwasse Korinthiërs bestraf om nie een mense te volg nie, al is hulle leiers in die kerk omdat ons almal moet eer en van almal moet leer:

1Kor 1:10-13  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.  11  Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.  12  Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.  13  Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus het sekergemaak dat hierdie onvolwasse gees nie ‘n breuk maak tussen hom en Apollos nie:

1Kor 3:5-7  Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.  6  Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.  7  So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

Paulus was baie lief vir Apollos en omgekeerd, en soos ook in latere geskrifte na vore kom het hulle hierdie gees van verdeeldheid oorwin en vir mekaar en ander omgegee:

Tit 3:12-15  Wanneer ek Artemas of Tíchikus na jou stuur, doen dan jou bes om na my te kom in Nikópolis, want ek het besluit om daar te oorwinter.  13  Jy moet Senas, die wetgeleerde, en Apollos ywerig voorthelp, sodat dit hulle aan niks ontbreek nie.  14  Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.  15  Almal wat saam met my is, groet jou. Groet die wat vir ons liefhet in die geloof. Die genade sy met julle almal! Amen.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.