Paulus skryf aan die gemeente in Korinthe die volgende vermaning toe daar mense was wie groepies gevorm het en die gemeente op die manier wou skeur…
1Kor 1:10-13 Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening. 11 Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. 12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. 13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?
1Kor 3:21-23 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; 22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
Paulus noem dat hy aan hulle almal behoort, en ook Apollos en Céfas, so ook die wêreld, die lewe en die dood, die teenwoordige dinge en die toekomstige dinge – alles behoort aan hulle almal daar in die gemeente van Korinthe, en dit alles behoort ook aan ons want ons gaan almal deur dieselfde proses. In hierdie reeks studies kyk ons na wat hierdie woorde beteken. Ons het reeds gesels oor hoe die lewe van Paulus en Apollos aan ons behoort, by die volgende skakels:
Die lewe van Paulus (Deel 1; Deel 2; Deel 3; Deel 4; Deel 5; Deel 6; Deel 7; Deel 8)
Volgens Paulus is dit dwaas om jouself te beperk tot sekere mense, want alles behoort aan ons as ons kan sien dat almal wie in hierdie vlees kom deur “een en dieselfde lot” gaan – ons almal begin in vlees (die eerste Adam), maar sal almal in gees (die laaste Adam) herskep word. Ons leer van mekaar en ondersteun mekaar…
Pred 9:2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Céfas, of te wel Simon Petrus, was ook ‘n belangrike persoon vir die mense in die gemeente van Korinthe. Hy was immers een van Jesus se eerste apostels met ‘n hoë profiel.
Joh 1:35-43 Die volgende dag het Johannes [die Doper] weer daar gestaan en twee van sy dissipels; 36 en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God! 37 En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg. 38 En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: 39 Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi—dit wil sê, as dit vertaal word, Meester—waar is U tuis? 40 Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur. 41 Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het. 42 Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind—dit is, as dit vertaal word, die Christus. 43 En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas [Aramees vir “klip”], wat vertaal word Petrus [Grieks = “Petros” – klip].
Daar is tot vandag soveel valse leringe oor hierdie “Petros” simboliek wat Jesus hier aan Simon koppel. Groot verwarring heers oor die werk en posisie van Petrus in die kerk van Christus. Hierdie misinformasie oor Simon Petrus het destyds reeds in die gemeente van Korinthe posgevat, en groot skade word aangerig aan mense se geloofslewe. Petrus was inderdaad een van die leiers in die eerste kerk, en ons moet eer gee waar eer behoort (Rom 13:7). Christus stel leiers aan in Sy kerk en ons moet dit respekteer, want daar is ‘n heilige doel betrokke, soos Paulus ook uitwys in die volgende woorde aan die gemeente in Efese…
Efes 4:11-13 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.
Daar was leiers in elke gemeente geplaas – die klem is op die meervoud. Geen enkele persoon was volgens ‘n piramide-hiërargie aan die bopunt geplaas nie, behalwe Christus wie die Hoof van die kerk is, en direk in elke gemeente werksaam is, ook deur die leierskap in die betrokke gemeente:
Kol 2:17-19 …die liggaam behoort aan Christus. 18 Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid, 19 en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word.
Efes 4:15-16 …terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, 16 uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.
Hier is nog ‘n paar Skriftuurlike bewyse dat meervoudige leierskap in die gemeentes van Christus vanaf dag een by die eerste gemeentes van toepassing was:
Hand 14:23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge [meervoud] gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.
Hand 15:6 En die apostels [meervoud] en die ouderlinge [meervoud] het vergader om hierdie saak te ondersoek.
Hand 20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.
Tit 1:5 Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het—
Fil 1:1 Paulus en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is, saam met die opsieners en diakens.
1Pe 5:1-5 Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: 2 Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; 3 ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. 4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. 5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
Soos Petrus ook self hier noem in die bogenoemde verse (in hoofstuk 5 van sy eerste brief), is daar geen sprake in Jesus se koninkryk van heersers oor ander mense nie, maar diensknegte oor Christus se erfdeel, soos Jesus die volgende woorde van vermaning gegee het…
Mat 20:20-28 Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs [Jakobus en Johannes] met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. 21 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 22 Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. 23 En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. 24 En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; 26 maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.
Paulus het ook die heerskappy oor ander se geloof as onwys beskou:
2Kor 1:24 nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.
Paulus self het Petrus as EEN van die “pilare” (leiers) van die kerk in Jerusalem gesien en erken:
Gal 2:9 en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan.
Petrus was een van die eerste apostels met wie Paulus ontmoet het na sy bekering, maar Paulus maak ook seker dat almal weet dat hy nie die aardse of wêreldse opvatting van titels en posisies groot agting gegee het nie. Paulus noem dat hy nie “vlees en bloed” geraadpleeg het oor die openbaring wat hy persoonlik van Jesus ontvang het nie. Vir Paulus was Jesus die geestelike Hoof en niemand kon daardie rol of posisie inneem nie…
Gal 1:15-19 Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, 16 om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, 17 en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus. 18 Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly; 19 en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.
Paulus en Petrus, en al die eerste apostels van Jesus, se geloof was gebaseer op die EEN WARE ROTS van ons geloof, Jesus Christus, die enigste ware fondasie van die kerk…
1Kor 3:9-11 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
Rom 9:33 Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
1Kor 10:4 en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
Jesus het na Sy opstanding weereens Petrus se belangrike rol bevestig aan Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme:
Mar 16:1-8 En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. 2 En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf. 3 En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? 4 En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot. 5 En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ‘n jongman, met ‘n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik. 6 En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7 Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het. 8 Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.
Jesus het later ook self persoonlik aan Petrus sy leierskaprol in die eerste kerk bevestig:
Joh 21:15-19 Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. 16 Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. 17 Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei. 18 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. 19 En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.
Petrus was nooit die Rots waarop die kerk van Jesus gebou is nie, al wil baie dit glo as hulle die volgende woorde van Jesus lees…
Mat 16:13-20 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? 14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. 15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. 18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19 En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. 20 Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.
Petrus se lewe is ‘n voorbeeld vir ons van hoe ons ook Christus as die enigste ware fondasie van Sy kerk en van die waarheid moet vertrou. Luister na Petrus se eie woorde wat vir ons neergeskryf is…
Hand 2:38-39 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Hand 4:8-12 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, 9 as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, 10 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. 11 Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. 12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.