Die tema van bloed in die Skrifte: Deel 1 – ‘n Kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Die Woord van God werk op twee vlakke met ons, naamlik in “die hemel” en op “die aarde”:

Gen 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ons as mens word eers bewus van die aardse (fisiese) dinge, en daarna word ons bewus van die hemelse dinge (die figuurlike / geestelike dinge). Ons denke en ons begrippe van onsself, ander mense en die dinge rondom ons, groei dus van ‘n bekende aardse konteks na die geestelike konteks. Die sigbare dinge in hierdie wêreld (Grieks: “kosmos”) is dus ‘n letterlike beeld van die onsigbare dinge van God.

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld [Grieks: “kosmos”] af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Alles in die Skrifte het dus twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en die geestelike toepassing. Die letterlike toepassing koppel met dit wat tydelik en nietig is (die vleeslike eon in ons aardse lewe), en die geestelike toepassing verbind met die dieper ewige dinge van God. Soos daar in die aardse dinge ‘n groeiproses is, so is daar ook ‘n groeiproses in ons geestelike insigte wat God aan elkeen gee deur die maat van geloof wat God skenk:

Rom 12:3  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Jesus het die twee toepassings van die Woord as volg uitgedruk, en verduidelik dan ook waarom die uiteindelike toepassing van Sy woorde op die geestelike dinge ons fokus moet wees. Aan die einde van die proses is alle aardse (letterlike) toepassings “van geen nut nie”:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Paulus het ook dieselfde geestelike fokus in sy bediening beklemtoon, en verduidelik die twee toepassings (die letterlike teenoor die geestelike) as volg:

2Kor 3:5-8  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,  6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.  7  En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan,  8  hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?

Die geestelike toepassing het dieper betekenisse waarin ons moet opgroei tot volwassenheid en geestelike volmaaktheid. Die gees van God neem ons dus op ‘n pad wat al hoe verder weg beweeg van die aardse (letterlike) betekenisse en fokusse:

1Kor 2:13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Maar ons moet eers deeglik kennis neem van die aardse dinge in ons lewe, en daarna volg die hemelse. Ons moet eers bewus wees van ons eerste Adam en sy dieptes, voordat ons die hemelse dieptes deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, leer ken:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Ons leer dus eers van ons “mens van sonde”, voordat God hom totaal uit die weg ruim (“die seun van die verderf”), en ons tot die hoër hemele opneem met die koms van Christus in ons lewe…

2Th 2:1-4  Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,  2  om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.  3  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Hierdie twee toepassings, die aardse (letterlike / vleeslike) dinge en die hemelse (geestelike) dinge, hou ook verband met ons begrip van bloed. Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons gaan in hierdie studiereeks fokus op hierdie tema en kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.

In Deel 1 gee ons ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte, soos God wil.

‘n Kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte

Vanuit ‘n natuurlike perspektief karwei bloed alle belangrike stowwe wat die liggaam nodig het om gesond te bly en te oorleef. Bloed is inderdaad ‘n komplekse vloeistof wat so baie dinge in ons liggaam reguleer deur die vervoer van dinge soos suurstof, voedingstowwe, beskermingsmiddels, boustowwe, ensovoorts. God het die tema van bloed in die Skrifte ingebring en gebruik hierdie aardse beelde van bloed om ons baie belangrike geestelike lesse te leer. Die Bybel word “die boek van bloed” genoem vanweë hierdie spesifieke tema wat in diepte in die Skrifte gevind word. Die eerste mens Adam en almal in sy geslag is van die grond af, en hulle almal kry dieselfde aardse bloed / vleeslike ‘lewensasem’:

Gen 2: 7 En die HERE God het die mens gevorm uit die stof van die aarde en die asem van die lewe in sy neus geblaas; en die mens het ‘n lewende siel geword.

Handelinge 17:26 En [God] het uit een bloed al die volke van mense gemaak om oor die hele aarde te woon, en die tye bepaal voordat dit bepaal is, en die grense van hulle woonplek.

Bloed, en bloedvergieting spesifiek, kom oral in die Bybel voor en dit maak die Skrifte onaantreklik vir die natuurlike mens. Bloedvergieting is onaangenaam om van te lees of daarvan te hoor. Ons as mens hou ook nie daarvan om bloed te sien nie, veral nie ons eie bloed nie. Dit ontstel ‘n mens. Ons wil bloed bewaar en behou in ons are in ons liggaam, en enige sny of wond aan ons liggaam moet so gou as moontlik versorg word om die verlies aan bloed te keer. Ons weet terdeë dat sonder die bloed kan mens nie leef nie. Maar God het skynbaar ander idees met bloed en reeds vanaf Genesis 3 en 4 begin die vergieting van bloed. Eers moes ‘n dier geslag word om die velbedekking vir Adam en Eva se naaktheid te voorsien in Genesis 3.

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Alreeds in die tuin van Eden sien ons die eerste bloedvergieting. God moes ‘n dier doodmaak en sy vel moes voorsiening maak vir die bedekking van mens se vlees (sonde). God het geen behae in vlees en in die dood nie, maar Hy gebruik dit slegs om Sy doelwitte te bereik. God het vlees geskep as ‘n tydelike woning vir die eerste Adam, waarin die mens talle lesse moet leer binne hierdie skepping. Dit is ook hier in Genesis alreeds baie duidelik dat die mens van nature geestelik blind was en nie sy eie vlees en sy naaktheid kon verstaan nie.

Gen 2:21-25  Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.  22  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.  23  Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.  24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.  25  En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Selfs toe Adam en Eva hul naaktheid sien, was hul oplossing onvoldoende:

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Dit is duidelik dat God se oplossing en bedekking gepaardgaan met bloedvergieting – ons aardsheid en sonde kan nie sonder bloedvergieting weggeneem word nie. ‘n Lewe moet opgeoffer word:

Heb 9:22  En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Hierdie les is kardinaal in ons eie geestelike ontwikkeling, maar ons as mens sien nie aanvanklik hierdie belangrike aspek ten volle nie. Ons aanvanklike begrip van die offer van ‘n lewe is altyd beperk tot ons selfsugtige selfbehoud. Dit is wat ons ook leer uit die lewe van Kain in Genesis 4. Abel het reg gedoen deur van sy eie diere te offer, maar Kain het die offer van ‘n lewe as onnodig gesien:

Gen 4:1-7  En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.  2  Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer.  3  En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring.  4  En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,  5  maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.  6  En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?  7  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

In Genesis 4 lees ons hoe die bloedvergieting van die eerste mens, Abel, plaasgevind het. Abel was deur sy eie ouer broer, Kain, doodgeslaan. 

Gen 4: 8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain opgestaan ​​teen sy broer Abel en hom doodgemaak. 9 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie: Is ek die bewaarder van my broer 10 En hy [God] sê: Wat het u gedoen? die stem van jou broer se bloed roep na my uit die grond.

Dit is ‘n skok om te sien dat die eerste mens se dood op hierdie manier moes plaasvind. Maar daardeur lees ons ook dat alle vlees “van die aarde” is en na die grond sal terugkeer, insluitend die bloed (Gen 2:7, 9, 19; Gen 3:19). Die Skrifte verklaar dat die eerste menslike bloed wat “van die grondlegging van die wêreld af” gestort was, was die van die “regverdige Abel”.

Mat 23:34-36  Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,  35  sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.  36  Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom..

Die bloedvergieting van Abel word dus vroeg in die Skrifte gebruik om as ‘n tipe te dien van die bloedvergieting van die regverdige Jesus Christus.

1Jn 1:5-10  En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  6  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.  8  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.  9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.  10  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Die bloed wat Jesus gestort het, word gebruik om ons te wys dat Hy vir die sonde van almal in die geslag van die eerste mens Adam gesterf het – van Kain en Abel tot by die laaste persoon wat in vlees geskep word. Dit is goeie nuus vir almal!

1Kor 15:1-3  Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,  2  waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  3  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;

1Jn 2:1-2  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.  2  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Die Vader het hierdie dood van Jesus al reeds vooraf bepaal om te gebeur volgens Sy perfekte raad en plan:

Hand 4:26-28  Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.  27  Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,  28  om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.

Jesus is inderdaad “die Lam wat van die grondlegging van die wêreld af geslag is” (Lukas 11: 50-51; Matt 23:35; Openb 13: 8) want God het Jesus aangestel om die Middelaar te wees vir elke mens, om hom of haar deur die hele proses te neem, van onperfekte vlees tot volmaaktheid in gees:

Heb 12:24 En aan Jesus, die middelaar van die nuwe verbond, en aan die bloed van besprinkeling, wat beter dinge spreek as die van Abel.

1 Johannes 1: 7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, het ons gemeenskap met mekaar, en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

As ons die “bloedspoor” in die Skrifte volg, dan lees ons ook van die bloedoffers tydens die tabernakeltyd en die tempeltyd in Israel se geskiedenis. Gedurende die tye van die ou verbond met al sy bloedoffers, was byna alles met bloed bedek. In die tyd van die tabernakel en die aardse tempels is daar onder meer bloed op die grond gestort en rondom die koperaltaar op die voorhof en die horings van die wierookaltaar voor die aangesig van die Here (Eks. 29:12; Lev 8:23; Lev 8:30; Lev 4:18). Die bloed van die offerdiere was gestort, onder andere,…

  • op die koperaltaar,
  • ook op die mense,
  • voor die voorhangsel van die heiligdom,
  • op die kledingstukke van die hoëpriesters en sy seuns,
  • en selfs op die versoendeksel van die ark in die Allerheiligste op die versoendag (Eks 24:6; Eks 24:8; Lev 4:6; Lev 6:27; Lev 16:14). 

Heb 9:18-22  Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie;  19  want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel  20  en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het.  21  En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel.  22  En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Bloed en bloedvergieting kan orals onder die ou verbond gesien word, om te dien as ‘n bedekking vir vlees en sonde. God hou nie van vlees nie, en wil dit nie voor Hom sien nie. Vlees is nie gees nie. God het geen behae in vlees nie, maar verdra dit vir die tyd wat Hy dit nodig het om die taak te vervul waarvoor Hy vlees geskep het:

Rom 8:8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Bloed en bloedvergieting in die Ou Verbond help ons om die reinigings- en versoeningswerk van Jesus te verstaan in ons eie lewe en ook in die lewe van elke mens wat Hy geskep het. Jesus kan werklik tot die uiterste red (Lev 14:1-57; Lev 15:1-33; 1 Kor 15:22-28):

Lev 17:11 Want die lewe van die vlees is in die bloed; en Ek het julle dit op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen.

Heb 7:25 Daarom kan Hy hulle ook tot die uiterste red [Grieks: “pantelēs” = “pas”+ “telos” = alles, heeltemal] wat deur hom tot God kom, aangesien hy ooit lewe om vir hulle in te tree .

Hierdie vergieting van die bloed getuig van ‘n gewelddadige proses wat almal wat die geestelike koninkryk van God betree, sal ly.

Mat 11:12  Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.

Almal wat die koninkryk van God betree sal drink uit die diep en groot bitter beker as hulle moet afstand doen van hul eie aardse aangetrokkenheid en valse leerstellings (Jer 25:15-38):

Hand14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Rev 15:5-8  En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen.  6  En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.  7  En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid.  8  En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Almal is gekoppel aan die bloedvergieting van Abel, tot by die dood van Jesus. Ons almal is skuldig aan bloedvergieting deur ons verbintenis tot vlees en die valshede waarin ons glo (Matt 4:4; 1Kor 3:21-23). Bekend of onbekend, ons almal is gekoppel aan mekaar deur die onperfekte vlees waarin ons lewe. As God ons oë open vir ons eie vlees en sy naaktheid, dan stem ons saam met Paulus in die volgende woorde, en neem dit alles baie persoonlik op…

1Ti 1:15  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.