Die tema van bloed in die Skrifte: Deel 2 – ‘Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie’

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Die Woord van God werk op twee vlakke met ons, naamlik in “die hemel” en op “die aarde”:

Gen 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ons as mens word eers bewus van die aardse (fisiese) dinge, en daarna word ons bewus van die hemelse dinge (die figuurlike / geestelike dinge). Ons denke en ons begrippe van onsself, ander mense en die dinge rondom ons, groei dus van ‘n bekende aardse konteks na die geestelike konteks. Die sigbare dinge in hierdie wêreld (Grieks: “kosmos”) is dus ‘n letterlike beeld van die onsigbare dinge van God.

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld [Grieks: “kosmos”] af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Alles in die Skrifte het dus twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en die geestelike toepassing. Die letterlike toepassing koppel met dit wat tydelik en nietig is (die vleeslike eon in ons aardse lewe), en die geestelike toepassing verbind met die dieper ewige dinge van God. Soos daar in die aardse dinge ‘n groeiproses is, so is daar ook ‘n groeiproses in ons geestelike insigte wat God aan elkeen gee deur die maat van geloof wat God skenk:

Rom 12:3  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Jesus het die twee toepassings van die Woord as volg uitgedruk, en verduidelik dan ook waarom die uiteindelike toepassing van Sy woorde op die geestelike dinge ons fokus moet wees. Aan die einde van die proses is alle aardse (letterlike) toepassings “van geen nut nie”:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Paulus het ook dieselfde geestelike fokus in sy bediening beklemtoon, en verduidelik die twee toepassings (die letterlike teenoor die geestelike) as volg:

2Kor 3:5-8  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,  6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.  7  En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan,  8  hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?

Die geestelike toepassing het dieper betekenisse waarin ons moet opgroei tot volwassenheid en geestelike volmaaktheid. Ons verlaat dus die vleeslike Jesus en fokus op die geestelike Jesus – ons ken Hom nie meer “na die vlees” nie, maar “na die gees”…

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die gees van God neem ons dus op ‘n pad wat al hoe verder weg beweeg van die aardse (letterlike) betekenisse en fokusse:

1Kor 2:13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Maar ons moet eers deeglik kennis neem van die aardse dinge in ons lewe, en daarna volg die hemelse. Ons moet eers bewus wees van ons eerste Adam en sy dieptes, voordat ons die hemelse dieptes deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, leer ken:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Ons leer dus eers van ons “mens van sonde”, voordat God hom totaal uit die weg ruim (“die seun van die verderf”), en ons tot die hoër hemele opneem met die koms van Christus in ons lewe…

2Th 2:1-4  Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,  2  om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.  3  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Hierdie twee toepassings, die aardse (letterlike / vleeslike) dinge en die hemelse (geestelike) dinge, hou ook verband met ons begrip van bloed. Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons gaan in hierdie studiereeks fokus op hierdie tema en kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.

Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.

In Deel 2 kyk ons na die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek is as daar vergifnis van sonde plaasvind.

Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie

God het vlees geskep as ‘n tydelike “woning” vir die eerste Adam. Tydens ons tydelike verblyf in die vlees leer die mens talle lesse.

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

God het die mens dus doelbewus in vlees geskep omdat die mens deur ‘n proses geneem moet word om belangrike lesse te leer, en sodoende tot geestelike volwassenheid en volmaaktheid gebring word – “dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel”.

Pred 1:13  En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Ecc 1:13 (CLV) I applied my heart to inquiring and exploring by wisdom concerning all that is done under the heavens: it is an experience of evil Elohim has given to the sons of humanity to humble them by it.

Ons beweeg vanaf ‘n vleeslike ervaring tot ons die geestelike lewe totaal sal besit. God daarenteen is volmaak in gees – God het nie ‘n gees nie, maar Hy IS GEES. Die wat Hom aanbid moet na Hom kom deur gees en waarheid.

Joh 4:24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Die mens in vlees het nog nooit hierdie volmaaktheid besit nie. God het die vlees opgestel TEEN dit wat gees en volmaak is, volgens die Skrifte:

Gal 5:16-17  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;  17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

God is GEES en Hy is HEILIG. Die vlees en sy denke is alles behalwe heilig. Kyk hoe beskryf Paulus die vlees en sy denke:

Rom 6:6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Rom 7:24  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Rom 8:5-8  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  6  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Die vlees en sy denke word deur die Skrifte beskryf as “sonde” en “dood”. Het vlees so geword of was dit so geskep deur God? Baie glo die valse leerstelling dat vlees aanvanklik volmaak was voordat Adam en Eva ongehoorsaam was en oortree het. Maar die Skrifte stem nie saam nie, vir hulle wie oë en ore gegee word om die waarheid in die volgende verse te sien en hoor…

Rom 5:12-13  Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het  13  want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie.

Voor God die gebod gegee het dat hulle nie moes eet van die boom van kennis van goed en kwaad nie, was Adam en Eva “in sonde”. Die eerste Adam was inderdaad in vlees geskep en vlees en bloed was nie in geestelike heerlikheid nie:

1Kor 15:45-50  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die eerste Adam was inderdaad doelbewus gemaak as ‘n mislukking “in die hand van die Pottebakker”!

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Wie glo die volgende verklaring uit God se mond…

Jes 45:6-7  … Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Isa 45:6-7 (KJV) … I am the LORD, and there is none else. I form the light, and create darkness: I make peace, and create evil: I the LORD do all these things.

God skep die bose en dit wat onheilig is – ook die vlees wat boos en onheilig is. Elke skepsel binne hierdie skepping was inderdaad in nietigheid geskep deur God se hand – hierdie skepping word inderdaad deur die Skrifte beskryf as “die verganklikheid”!

Rom 8:20-21  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het  21  in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.

Die gees van God het dit ook aan Dawid bekendgemaak dat vlees IS sonde en ongeregtigheid:

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Jesus het ook in dieselfde vlees as ander mense gekom, en was “sonde gemaak” alhoewel Hy self geen sonde gedoen het nie! LW: Die woorde “vir ons” in die vers is ingevoeg deur die vertalers en is nie in enige oorspronklike Griekse manuskrip nie.

2Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde [vir ons] gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Dit is ook in Genesis alreeds baie duidelik dat die mens van nature onheilig was – perfekte skepsels sal sekerlik nie doen wat Adam en Eva gedoen het nie. Watter perfekte skepsel het onvolmaatheid? Perfeksie is tog immers volmaak! Onvolmaaktheid in ‘n skepsel maak dit onperfek! Niemand kan onvolmaaktheid perfeksie noem nie – absurd! En tog stem ons almal op ‘n tyd saam met hierdie eienaardige logika dat onvolmaakte skepsels op ‘n tyd geestelik volmaak was. So ook was Adam en Eva blind vir hul eie naaktheid, en kon geensins hul eie wese verstaan nie.

Gen 2:21-25  Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.  22  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.  23  Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.  24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.  25  En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Met die oortreding van Adam en Eva en die ontdekking van hul eie geestelike blindheid, het hulle probeer om hul eie oplossing te vind vir die probleem. Hulle het aanvanklik eers net bewus geword van hul naaktheid, maar hulle sou mettertyd uitvind dat daar nog baie ander lelike dinge in hulle was wat na vore gebring sou word. Maar hul aanvanklike oplossing vir hul naaktheid gee aan ons ‘n idee hoe mens omgaan met al sy probleme.

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Alle menslike oplossings is onvoldoende. Dit sal nooit die menslike probleem van sonde en dood oplos nie. Daar was ‘n ander oplossing maar dit sou tyd neem vir mens om uit te vind. Ons leer die ware oplossings vir ons lewe deur lydsaamheid!

Luk 21:19  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Heb 10:36  Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.

Jak 1:2-4  Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,  3  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.  4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

God se oplossing vir Adam en Eva se naaktheid beeld uit hoe ons almal deur dieselfde proses geneem word om geestelike volmaaktheid te bereik – die dood van ‘n dier!

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Alreeds in die tuin van Eden sien ons die eerste bloedvergieting. God moes ‘n dier doodmaak en sy vel moes voorsiening maak vir die bedekking van mens se vlees (sonde). God het geen behae in vlees en in die dood nie, maar Hy gebruik dit slegs om Sy doelwitte te bereik. God het reg aan die begin in die tuin van Eden die beginsel neergelê dat vergifnis en verlossing van vlees nie kan plaasvind as daar nie bloedvergieting is nie.

Heb 9:22  En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

‘n Lewe moes afgelê word as mens in God se guns wil leef en van sonde bevry wil wees. Hierdie les is kardinaal in ons eie geestelike ontwikkeling. Maar ons as mens sien aanvanklik nie die volle omvang van die aflegging van ‘n lewe nie. Ons sien die opoffering van ‘n dier as die bedekking van sonde. Ons lees onder die Ou Testament moes daar hande gelê word op ‘n dier en dit dan geslag word. Dan kom ons in die Nuwe Testament en lees dat Jesus die offerlam was en so die vereistes van die bloedoffer vervul:

Joh 1:29  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Ons leer aanvanklik dat Jesus vir ons sondes gesterf het, soos Paulus ook aan die gemeente in Korinthe voorhou:

1Kor 15:1-4  Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,  2  waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  3  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;  4  en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

Paulus bestraf egter ook die geestelike onvolwassenheid wat hy van hoor nog by sommige gemeentelede daar (in Korinthe van sy dag) voorkom…

1Kor 3:1-2  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie.

Paulus koppel dan hierdie geestelike onvolwassenheid by sommige Korinthiërs aan hul idee dat die dood van Jesus al is wat God van Sy kinders verwag in terme van die konsep van kruising of die aflê van ‘n lewe…

1Kor 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Christus se dood aan die kruis was inderdaad vir ons sonde, maar daardie dood het geen effek as ons nog in daardie sonde wil voortleef nie. Om te glo in Jesus se dood op die kruis daar op Golgota omtrent 2000 jaar gelede, is slegs die begin van ons geloofslewe, want ons sal moet opgroei om te sien dat onsself ons eie kruis sal moet opneem vandag, en Jesus volg. Hy het die voorbeeld gestel en ons moet volg!

Joh 13:15  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.

Die historiese aspek van Jesus hou ons vir ‘n tyd lank in ‘n geestelike gevangenis. In die sin, volg ons Jesus op ‘n afstand – “van ver af”.

Luk 22:54  En hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg.

Ons word emosioneel en stort selfs trane oor die wrede manier waarop Jesus behandel was. Ons is in ‘n sin deel van “die menigte” wat Hom volg en “rou bedryf en Hom beklaag”…

Luk 23:27  En ‘n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.

Ons dank God dat ons vandag kan lees in die Skrifte hoe Hy gevang was, gegésel was, bespot was en in baie pyn was voor Sy dood daar buite Jerusalem.

Luk 22:63-65 En die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan.  64  En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het.  65  En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek.

Joh 19:1-3 Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel.  2  En die soldate het ‘n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en ‘n purper kleed om Hom gewerp  3  en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan.

Mat 27:45-46  En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe;  46  en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Ons sing mooi gewyde liedere in diep waardering, en val op ons knieë uit dankbaarheid vir die “ou ruwe kruis” en opoffering van Jesus. Dit alles is goed en wel, maar die boodskap van die kruis is kragteloos vir hulle wat nog aan hul sonde, vleeslike denke en valshede wil vaskleef:

1Kor 1:18-25  Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;  19  want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.  20  Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?  21  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;  22  want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,  23  maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;  24  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.  25  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

Die ware boodskap van die kruis van Jesus is dat ons ook ons eie kruis moet opneem en saam met Jesus sterf vir ons sonde, ons aardse denke en ons valse geloofsoortuigings:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Bloedvergieting het dus ‘n baie dieper betekenis vir hulle wat saam met Jesus sterf vir hul eie vleeslikheid:

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Hierdie kruis van Jesus en die bloedvergieting het inderdaad letterlik plaasgevind, maar dit is ook geestelik as dit vandag in ons eie lewe vervul word en aktueel is. Dit is wat die oordeel van God op ons voltrek, en wat hierdie geestelike toepassing van bloedvergieting aktueel maak nou in ons lewe. Dit is waarom die huis van God alreeds nou deur hierdie afleggingsproses gaan deur hierdie belangrike oordeel van God:

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Die oordeel van God bring nuwe insigte en die geregtigheid van God na ons.

Jes 26:8-9  Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.  9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

God se geregtigheid kom deur hierdie oordeel, en dit is hierdie geregtigheid van God wat die ware bedekking wat ons nuwe mens is. Hierdie bedekking is die toegangskleed na die bruilofsmaal van die Lam!

Open 19:7-9  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  9  Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

Open 19:11-14  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.  12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.  13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.  14  En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.

Dit is inderdaad deur die swaard van God wat vlam en flikker dat die ou mens uitdelg word en die nuwe mens (die gérub “aan die oostekant van die tuin van Eden”) toegang kry tot die Boom van Lewe, Jesus Christus!

Gen 3:24  So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Die oordeel van God bring saam met dit die teenstand van mense wat nie met die waarheid saamstem nie – dit is wat elke kind van God moet verwag omdat die leuens uitgewys word as die Waarheid Sy plek inneem:

1Pe 4:12-16  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;  13  maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.  14  As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.  15  Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie.  16  Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.

Sonder hierdie volledige omvang van bloedvergieting (van die letterlike tot die geestelike toepassings), is daar nie ‘n volledige begrip van wat die verlossing van vlees en vergifnis van sonde beteken nie:

Heb 9:22  En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Die aflê van die aardse dinge gee ‘n uitweg uit hierdie vleeslikheid van die dood en die sonde. So word ons vrygemaak van “hierdie dood”, en word ons sonde vergewe en vir ewig weggeneem, soos God wil!

Rom 7:24-25  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?  25  Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!

1Kor 15:31  Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Dit is hoe ons deel kry aan die nuwe lewe in Christus!

1Kor 15:45-50  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.