Die tema van bloed in die Skrifte: Deel 3 – Ons het deel aan ‘die bloed van Abel’ en ook die dood van Jesus

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Die Woord van God werk op twee vlakke met ons, naamlik in “die hemel” en op “die aarde”:

Gen 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ons as mens word eers bewus van die aardse (fisiese) dinge, en daarna word ons bewus van die hemelse dinge (die figuurlike / geestelike dinge). Ons denke en ons begrippe van onsself, ander mense en die dinge rondom ons, groei dus van ‘n bekende aardse konteks na die geestelike konteks. Die sigbare dinge in hierdie wêreld (Grieks: “kosmos”) is dus ‘n letterlike beeld van die onsigbare dinge van God.

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld [Grieks: “kosmos”] af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Alles in die Skrifte het dus twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en die geestelike toepassing. Die letterlike toepassing koppel met dit wat tydelik en nietig is (die vleeslike eon in ons aardse lewe), en die geestelike toepassing verbind met die dieper ewige dinge van God. Soos daar in die aardse dinge ‘n groeiproses is, so is daar ook ‘n groeiproses in ons geestelike insigte wat God aan elkeen gee deur die maat van geloof wat God skenk:

Rom 12:3  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Jesus het die twee toepassings van die Woord as volg uitgedruk, en verduidelik dan ook waarom die uiteindelike toepassing van Sy woorde op die geestelike dinge ons meer belangrike fokus moet wees. Aan die einde van die proses is alle aardse (letterlike) toepassings “van geen nut nie”:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Paulus sien ook die geestelike toepassing van God se Woord as baie belangrik, en hy het ook die geestelike fokus in sy bediening beklemtoon. Paulus verduidelik hierdie twee toepassings (die letterlike teenoor die geestelike) as volg:

2Kor 3:5-8  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,  6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.  7  En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan,  8  hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?

Die geestelike toepassing het dieper betekenisse waarin ons moet opgroei tot volwassenheid en geestelike volmaaktheid. Op ‘n stadium in ons geestelike ontwikkelingsproses sal elkeen gebring word om die vleeslike Jesus te verlaat, en te fokus op die geestelike Jesus – ons ken Hom nie meer “na die vlees” nie, maar “na die gees”…

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die gees van God neem ons dus op ‘n pad wat al hoe verder weg beweeg van die aardse (letterlike) betekenisse en fokusse:

1Kor 2:13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Maar ons moet eers deeglik kennis neem van die aardse dinge in ons lewe, en daarna volg die hemelse. Ons moet eers bewus wees van ons eerste Adam en sy dieptes, voordat ons die hemelse dieptes deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, leer ken:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Ons leer dus eers van ons “mens van sonde”, voordat God hom totaal uit die weg ruim (“die seun van die verderf”), en ons tot die hoër hemele opneem met die koms van Christus in ons lewe…

2Th 2:1-4  Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,  2  om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.  3  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Hierdie twee toepassings, die aardse (letterlike / vleeslike) dinge en die hemelse (geestelike) dinge, hou ook verband met ons begrip van bloed. Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons gaan in hierdie studiereeks fokus op hierdie tema en kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.

Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.

In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.

In Deel 3 kyk ons kortliks na hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.

Ons het deel aan “die bloed van Abelen ook die dood van Jesus

Jesus het op ‘n keer die volgende woorde gespreek waarin Hy aandui dat God die bloed van Abel eis van elke geslag wat leef op aarde:

Luk 11:49-51  Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,  50  sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,  51  van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.

Die mense wat eerste hierdie woorde gehoor het, was sekerlik stomgeslaan en moes gewonder het hoe hulle skuldig was aan die dood van Abel as hulle nie eens daardie tyd van Abel se dood geleef het nie. Hoe is ons elkeen skuldig aan die dood van Abel as dit solank terug gebeur het. Dit was tog immers Kain wat Abel sy broer vermoor het, soos aangeteken in die Skrifte in Genesis:

Gen 4:1-16  En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.  2  Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer.  3  En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring.  4  En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,  5  maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.  6  En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?  7  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.  8  En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.  9  Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?  10  En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.  11  Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.  12  As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.  13  Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.  14  Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.  15  Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.  16  Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.

Daar is die historiese rekord in die Skrifte aangeteken hoe Kain (die eerste kind van die eerste paartjie op aarde, Adam en Eva) sy eie broer vermoor het! Wat ‘n tragiese storie, maar dit is die storie van menswees. Die mens was nie ‘n volmaakte skepsel soos die valse leraars aan ons voorhou nie. Die Skrifte het nog nooit die leuen van die volmaaktheid van vlees verkondig nie. Vlees en bloed was nog nooit deel van God se geestelike volmaaktheid nie! Die vlees kan nooit God behaag nie, want God self het dit doelbewus onvolmaak geskep:

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Rom 8:8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

1Kor 1:29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Dit is ‘n waarheid wat die vleesmens in ons net nie kan aanvaar nie. Ons dink ons vlees is beter as wat dit regtig is. Die mens is lief vir sy eie vlees en wil dit ten alle koste beskerm en vertroetel. Ons sien hierdie liefde vir die vlees ook in die lewe van die eerste mense.

Gen 2:23-25  Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.  24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.  25  En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Ons is van nature opgeskeep met ons vlees en ons is lief vir onsself, selfs ten koste van ander. Kain kon nie aanvaar dat sy jonger boetie ‘n beter offer as hy gebring het nie. Hy was jaloers en haat teenoor Abel het hom oorweldig en tot die dood van Abel gelei. Die dood van Abel word ook in die evangelie van Mattheus gemeld, en Mattheus beskryf Abel as die “regverdige Abel”:

Mat 23:34-36  Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,  35  sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.  36  Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.

Hoekom word Abel as regverdig beskryf? Die boek van Hebreërs gee ons duidelikheid:

Heb 11:4  Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.

Abel se offer was beter omdat dit in geloof geoffer was. Dit is dus duidelik dat Kain se offer nie in geloof geoffer was nie. Geloof in God se Woord en Sy opdragte is dus die sleutel tot God se geregtigheid. Geloof kom deur “die gehoor” (dit is GEHOORSAAMHEID in die WOORD van God). Sonder geloof kan niemand God behaag nie…

Heb 11:6  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Rom 10:17  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Kain se offer was sonder geloof gedoen en Kain was duidelik ONGEHOORSAAM aan die WOORD van God. Abel het geweet hoe die mens God behaag deur gehoorsaamheid. Abel het uit sy pa en ma se fout geleer om nie ons eie werke voor God uit te stal en dan te verwag God gaan tevrede moet wees nie. Nee, God werk op ‘n heel ander manier as wat die mens se vleeslike wysheid aanbeveel. Ons sien dit duidelik in die bedekking van Adam en Eva se naaktheid. Adam en Eva het hul eie vleeslike wysheid gevolg en hul werke het dit bewys. Hulle het hul naaktheid bedek met vyeblare. Ons eie oplossings vir ons tekortkominge werk nie. Selfs ons goeie werke is vuil lappe voor God:

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Mat 7:21-23  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

God het nie die vyeblaar-bedekking vir naaktheid (sonde) aanvaar nie, soos Adam en Eva ook geleer het:

Gen 3:6-7  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.  7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

‘n Lewe moet geoffer word, en dit het Abel goed verstaan uit die les van sy ouers…

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Ons werke moet wees volgens God se Woord en volgens Sy voorskrifte. Kain het dit geignoreer. God stel die standaarde en die mens moet dit volg. Abel het dus die offer van ‘n dier in geloof geoffer met die wete dat die offer van ‘n dier God se guns sou kry. Abel wou God erken en tevrede stel. Kain het nie dieselfde oortuiging gehad nie, en was deur selfsug en ongeloof gedryf. Kain het die hemelse wysheid kortgekom. Hy het volgens sy aardse menslike wysheid voortgeploeg en van sy beste landbouprodukte geoffer. Dit was sy fout. Jakobus druk die twee tipes wyshede (die aardse teenoor die hemelse wysheid) as volg uit en ook wat die uiteenlopende gevolge van die twee is…

Jak 3:13-18  Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.  14  Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.  15  Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;  16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.  17  Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.  18  En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.

Jak 1:5-8  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.  6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  7  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—  8  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

Ons moet ons aardse wysheid laat vaar en God se wysheid in nederigheid soek in elke saak, en dan in gehoorsaamheid doen wat God verwag van ons. Ons moet in daardie sin ons eie lewe offer – dit is wat ‘n “welgevallige offer” is.

Rom 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Ons redelike godsdiens is dat ons deur geloof ‘n welgevallige offer aan God bring – volgens Sy voorskrifte en vir Sy eer. Ons moet nie soos Kain, iemand anders se lewe opoffer nie.

1Jn 3:11-12  Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê;  12  nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.

Ons moet ons eie offer bring in gehoorsaamheid aan God se voorbeeld in Jesus. Die offer van Jesus se lewe vir ons sonde is die basis waarop ons one eie lewe offer deur af te sterf vir ons eie sondige neigings.

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Ons eie lewe is die welgevallige offer van aanbidding tot God – dit is nie hoe ons God behaag nie. Kain se werke was boos omdat hy nie God se wysheid gesoek en gevolg het nie. Die boosheid was gesetel in Kain se hart in die vorm van haat. Kain het Abel en Abel se werke gehaat. Haat teenoor ander mense weerspieël ons haat teenoor God en Sy gebooie. Haat in die mens se hart is die oorsprong van moord en bloedvergieting:

1Jn 3:13-15  Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.  14  Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.  15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Die mens hou nie van die manier waarop God dinge doen nie. Die mens is vlees en hy beoordeel alles volgens sy vleeslike aardse oortuigings. God is egter gees en die twee, vlees en gees, staan teenoor mekaar:

Gal 5:16-17  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;  17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Ons sien hierdie stryd tussen die vlees en die gees in die harte en lewens van Adam en Eva, en ons sien dit ook in ons eie harte, soos God dit aan ons openbaar. Dieselfde vlees van Adam en Eva is in ons teenwoordig. Ons sou net so opgetree het as ons in Adam en Eva se posisie was. Ons sou net so opgetree het as ons onsself in Kain se posisie sou bevind.

Ons is in Kain se posisie as ons ons medemens haat en kwaad dink van ander mense.

Ons almal wandel die weg van Kain, en ons haat God se gebooie en doen wat voordeel bring vir onsself want ons dink ons is beter as ander. Ons dink ons ken beter as ander, en selfs beter as God:

Jud 1:11  Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.

Ons almal is inderdaad skuldig aan haat, en in die sin is Jesus se woorde 100% waar dat elke geslag skuldig is aan die bloed van Abel. Ons is skuldig aan alle boosheid wat ons by ander mense opmerk want ons deel dieselfde vlees en bose hart (denke). Dit is wat God reg aan die begin sien en tot vandag is dit dieselfde boosheid wat in ons eie harte is – as God ons die oë gee om dit te sien:

Gen 6:5  Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

Ons natuurlike mens haat God se Woord en die boodskap daarin, en ons maak dan ook God se boodskappers dood wat die waarheid aan ons bring:

Luk 11:49-51  Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,  50  sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,  51  van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.

Die ware leer van Christus is vandag onbekend vir die meeste mense, want hulle verlustig hulle in die valshede van die valse profete en valse apostels. Jesus se dood aan die kruis was gedoen uit pure haat vir Sy waarheid, en so het ons almal op ‘n tyd die Waarheid gekruisig. Almal wat die waarheid preek, word gehaat…

Joh 15:18-23  As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.  19  As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.  20  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.  21  Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.  22  As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.  23  Wie my haat, haat ook my Vader.

Die haat vir die waarheid is die moord en bloedvergieting van die regverdige Jesus en Sy ware profete. Dit is die haat en die dood wat elke profeet en boodskapper van die waarheid van God sal ervaar. Maar die dood saam met Christus en die beloning wat volg, spreek van beter dinge as Abel se dood…

Heb 12:24  en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

1Jn 5:1-5  Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.  2  Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.  3  Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.  4  Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  5  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

Die oorwinning oor ons eie vlees en sy bose denke maak die deure van die hemele oop en die beloning is voortreflik…

Open 2:7  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Open 2:11  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.

Open 2:17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Open 2:26  En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,

Open 3:5  Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.

Open 3:12  Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.

Open 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.