[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Kom ons kyk na die Griekse woord “geenna” wat nege keer vertaal is as “hel” in ons Ou Afrikaanse Vertaling. Hier is drie van die nege verse waarin die woord voorkom:
Mat 5:22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse (Grieks: “geenna”) vuur.
Mat 5:29 As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel (Grieks: “geenna”) gewerp word nie.
Mat 10:28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel (Grieks: “geenna”).
Die ander verse is: Mat 5:30; Mat 18:9; Mat 23:15; Mat 23:33; Mar 9:43; Mar 9:45; Mar 9:47; Luk 12:5; Jak 3:6.
“Geenna” was ‘n fisiese plek in antieke Israel en is in Hebreeus bekend as “Gehinnom”, of die Vallei van Hinnom. Dit was ‘n vallei wat uitgekerf was deur die Hinnomrivier aan die suidekant van die berg Sion. Die Hinnom-vallei was ook die laagste punt net buite die stad van Jerusalem. In die vallei van Hinnom het konings soos Solomo en die konings van Juda soos Agas en Manasse die aanbidding van die god Molog beoefen. Kinders was hier verbrand en geoffer vir hierdie afgod. Die afgod Molog was ‘n hoofgod van die Ammoriete en ander nasies (die Kanaaniete en Fenesiërs) in vroeë Bybelse tye. Hy is in Tofet, ‘n stad naby Jerusalem aanbid:
1Ki 11:7 Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon.
Koning Josia het egter ten tye van sy hervormings die altare vernietig en verhoed dat soortgelyke praktyke sou voortgaan. God het die praktyk sterk afgekeer en verbied dit ook in die boek van Levitikus:
Lev 18:21 En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.
Jer 7:31-32 En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
Wat beteken dit alles? Is “geenna” ‘n voorbeeld van ‘n ewige vuur? Nee! Vandag is die plek waar “geenna” was ‘n pragtige park en ‘n toeriste-aantreklikheid buite Jerusalem (dit opsigself sê baie vir die wat dit kan ontvang). Alles wat daar gegooi was, het uitgebrand! Daar is nuwe lewe na die oordeel van God!
Sal enige normale ouer sy kind in die vure van “geenna” gaan gooi? NEE!!! Dit moet iemand wees wat abnormaal dink en deur bose geeste beinvloed word. God het dit verbied, soos reeds genoem! Nou kom die groot vraag tot elkeen wat in so iets glo: Kan ons sê dat God iets sal doen wat Hy self afstootlik vind en ons verbied om te doen?
Dit is wat miljoene mense in sogenaamde Christen kerke egter glo wat God doen en gaan doen!!!!
Nee, ons liefdevolle hemelse Vader het Jesus aangestel as die Redder van elke mens:
Joh 3:16-17 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Jesus gaan 100% suksesvol wees!
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
1Ti 4:9-11 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges. 11 Beveel en leer hierdie dinge.
Fil 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.