[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Inleiding
Die Woord van God werk op twee vlakke met ons, naamlik in “die hemel” en op “die aarde”:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Ons as mens word eers bewus van die aardse (fisiese) dinge, en daarna word ons bewus van die hemelse dinge (die figuurlike / geestelike dinge). Ons denke en ons begrippe van onsself, ander mense en die dinge rondom ons, groei dus van ‘n bekende aardse konteks na die geestelike konteks. Die sigbare dinge in hierdie wêreld (Grieks: “kosmos”) is dus ‘n letterlike beeld van die onsigbare dinge van God.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld [Grieks: “kosmos”] af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Alles in die Skrifte het dus twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en die geestelike toepassing. Die letterlike toepassing koppel met dit wat tydelik en nietig is (die vleeslike eon in ons aardse lewe), en die geestelike toepassing verbind met die dieper ewige dinge van God. Soos daar in die aardse dinge ‘n groeiproses is, so is daar ook ‘n groeiproses in ons geestelike insigte wat God aan elkeen gee deur die maat van geloof wat God skenk:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Jesus het die twee toepassings van die Woord as volg uitgedruk, en verduidelik dan ook waarom die uiteindelike toepassing van Sy woorde op die geestelike dinge ons meer belangrike fokus moet wees. Aan die einde van die proses is alle aardse (letterlike) toepassings “van geen nut nie”:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Paulus sien ook die geestelike toepassing van God se Woord as baie belangrik, en hy het ook die geestelike fokus in sy bediening beklemtoon. Paulus verduidelik hierdie twee toepassings (die letterlike teenoor die geestelike) as volg:
2Kor 3:5-8 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 7 En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8 hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?
Die geestelike toepassing het dieper betekenisse waarin ons moet opgroei tot volwassenheid en geestelike volmaaktheid. Op ‘n stadium in ons geestelike ontwikkelingsproses sal elkeen gebring word om die vleeslike Jesus te verlaat, en te fokus op die geestelike Jesus – ons ken Hom nie meer “na die vlees” nie, maar “na die gees”…
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die gees van God neem ons dus op ‘n pad wat al hoe verder weg beweeg van die aardse (letterlike) betekenisse en fokusse:
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Maar ons moet eers deeglik kennis neem van die aardse dinge in ons lewe, en daarna volg die hemelse. Ons moet eers bewus wees van ons eerste Adam en sy dieptes, voordat ons die hemelse dieptes deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, leer ken:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons leer dus eers van ons “mens van sonde”, voordat God hom totaal uit die weg ruim (“die seun van die verderf”), en ons tot die hoër hemele opneem met die koms van Christus in ons lewe…
2Th 2:1-4 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Hierdie twee toepassings, die aardse (letterlike / vleeslike) dinge en die hemelse (geestelike) dinge, hou ook verband met ons begrip van bloed. Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons gaan in hierdie studiereeks fokus op hierdie tema en kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.
Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
In Deel 4 kyk ons na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens, soos God ons Sy insigte gee in hierdie tema.
Die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens
Voor die globale vloed in die dae van Noag was die mens se dieet beperk tot groen plante en boomvrugte wat saad dra:
Gen 1:29-30 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.
Na die globale vloed sien ons ‘n verandering in die dieet van mens en dier:
Gen 9:1-3 En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. 2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. 3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle.
Nie net het sekere diere begin vleis eet na die globale vloed nie, maar ook die dieet van die mens het drasties verander. Dit is nou nie net plante wat geëet kon word deur die mens nie, maar ons sien nou dat alles wat beweeg ook ingesluit word in die dieet van mens. Vleis kon nou ook deur mens geëet word met die een belangrike voorwaarde dat die bloed nie geëet moes word nie. Soos in die geval van Kain word die verbod op die neem van ‘n menslike lewe ook weereens ernstig beklemtoon deur God.
Gen 9:4-6 Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. 5 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. 6 Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.
Hierdie verandering in dieet na die globale vloed het ‘n diep geestelike les in vir ons as mens. Die globale vloed was deur God gebruik om die tyd van oordeel waardeur elke mens sal moet gaan, uit te beeld. Die vloed bring skeiding tussen die lewe van die ou mens en die nuwe lewe in Christus. Die nuwe skepping in Christus verbind met die getal agt – net agt mense was in die ark en was gered:
1Pe 3:18-20 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is.
Die universele aard van die globale vloed wys uit dat…
- alle mense (alle vlees) uitgewis sal word en alle mense gered gaan word aan die einde van die proses (1Kor 15:22-28);
- dat alle vlees (geestelike dood) in elkeen van ons totaal uitgewis sal word (1Kor 15:26; 1Tim 2:2-4; 1Tim 4:9-10).
Net God se oordeel kan die skeiding bring tussen die ou Adam-natuur in ons en die nuwe Christus-natuur in ons. Die boosheid in mens se hart kan nie verander word sonder God se oordeel nie. Mens is boos en ons kan nie onsself regbring nie! Die mens, klein en groot, ryk en arm, is “altyddeur” boos en sleg!!!
Gen 6:5-6 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.
God het ‘n groot plan met die mens en hierdie plan is nie aan almal geopenbaar nie. Daarom skep sekere gedeeltes in die Skrifte probleme vir diegene wat nie God se plan ken nie. God weet wat Hy doen en die woorde “dit het die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart” gee aan ons ‘n beeld van die heiligheid van God en hoe Hy die vleesmens sien. God is heilig en Hy kan nie boosheid aanvaar nie, maar verdra dit vir ‘n tyd om Sy doelwitte te bereik. Vlees is boos en was nooit die volmaakte skepping van God nie, maar dit word slegs gebruik om die mens deur ‘n proses te neem om van God se heiligheid te leer. Vlees en bloed was nooit en sal nooit in God se geestelike volmaaktheid wees nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Vlees is dus ‘n tydelike skepping en dit is wat die volgende woorde ook wil beklemtoon vir ons:
Gen 6:7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
Die eerste mens Adam word dus vir ‘n tyd lank ‘n aardse lewe gegee, waarna daardie lewe permanent weggeneem word om dan uiteindelik vervang te word deur die onbeperkte geestelike lewe van God. Alles vind plaas deur God se Seun, Jesus Christus, ook genoem “die laaste Adam” in die Skrifte:
1Kor 15:45-48 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.
Die oorgangstyd tussen die vleesmens en die geestelike skepping in elke mens, word deur die oordeel van God gevul. Die oordeel is dus part en deel van God se plan om mens deur ‘n proses te neem waar mens van ‘n vleeslike bestaan na ‘n geestelike bestaan geneem word:
2Kor 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
Die oordeel bring dus God se geregtigheid in elke mens:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Die oordeel bring die skeiding in die “dieet” van die mens. Die oordeel help ons om van ‘n “melk”-dieet (geestelike onvolwassenheid) oor te beweeg na ‘n “vaste spys”-dieet waar ons sterker groei tot geestelike volwassenheid:
Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. 13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Die oordeel van God neem ons van geestelik onvolwassenheid (plant-dieet) na ‘n meer gebalanseerde dieet (vaste spyse). Ons moet egter elkeen se geestelike dieet respekteer en mekaar verdra:
Rom 14:1-4 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. 2 Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. 3 Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. 4 Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.
Elkeen eet die geestelike dieet ten opsigte van die mate van geloof wat aan elkeen individueel geskenk word deur God:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Die geestelike onvolwasse stadium in ons lewe (ons vleeslike stadium) word ook as geestelike dood beskryf in die Skrifte, en die geestelike volwasse stadium word as “lewe en vrede” met God beskryf
Rom 8:5-6 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,
Die mens is dus eers “bestem” om eerste hierdie dood te ervaar voordat die lewe en vrede van God ingebring word. Dit is die oordeel van God wat ons uit die dood van die vlees neem tot die lewe in Christus. en dit is ook wat die volgende vers vir ons sê (vir hulle wat kan hoor wat die gees sê):
Heb 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,
Hierdie oordeel en die oorgangsproses van dood tot lewe is slegs nou beperk tot die huis van God in Christus:
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Dit is hierdie huis van God in Christus wat nou deel het aan die aflê van hul aardse lewens. Hul aardse “bloed” word nou gestort en is nie deel van hul geestelike dieet in Christus nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Hierdie uitverkorenes in Jesus Christus word deur Hom instaat gestel om hul eie kruis op te neem en Hom te volg op die pad van selfverloëning (die vergieting van hul aardse bloed, dit is hul aardsheid/vleeslikheid):
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Die verbod van bloed in die dieet beeld ook vir ons uit hoe die mens geen reg het om ‘n lewe van ‘n mens te neem nie. Mens moet kyk na sy eie lewe en met God se hulp sy eie kruis opneem daagliks, soos Paulus ook aandui vir ons…
1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.
Net God het die reg om ‘n lewe te gee en ‘n lewe te neem, soos Job ook tereg verklaar het…
Job 1:21-22 en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! 22 By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.
Aan die mens gee God ‘n gebod om nie die lewe van ‘n mens te neem nie:
Eks 20:13 Jy mag nie doodslaan nie.
Eks 21:12 Hy wat ‘n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.
Lev 24:17 En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word.
Mat 5:21 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg [Grieks: “krisis” = oordeel].
God egter het alleen reg op lewe en dood, en dit sien ons in God se opdrag aan Moses tydens Israel se oorname van elke stad in die land Kanaän…
Deu 20:10-18 As jy naby ‘n stad kom om daarteen te veg, moet jy dit vrede aanbied. 11 En as dit jou ‘n antwoord van vrede gee en vir jou oopmaak, moet die hele volk wat daarin gevind word, aan jou dienspligtig wees en jou dien. 12 Maar as dit geen vrede met jou sluit nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit beleër. 13 En die HERE jou God sal dit in jou hand gee, en jy moet al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan; 14 net die vroue en die kinders en die vee en alles wat in die stad is—die hele buit moet jy vir jou roof; en jy moet die buit van jou vyande eet wat die HERE jou God jou gegee het. 15 So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie by die stede van hierdie nasies behoort nie. 16 Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie. 17 Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het; 18 sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die HERE julle God sondig nie.
God het ook aan Saul, die eerste koning van Israel, opdrag gegee om mense dood te maak, manne sowel as vroue, kinders en suiglinge:
1Sa 15:1-3 Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE. 2 So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. 3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
Daar is dus geen teenstrydigheid in die verband nie. Mens kan nie ‘n mens se lewe neem tensy God die opdrag gee. God alleen het die reg op die lewe en op die dood. Hulle wie dit weet het groot vrees vir God alleen en neem hul eie kruis op soos God hulle opdrag gee en bekragtig:
Mat 10:28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Grieks: “geenna” = God se oordeel].
Terloops, die woord “hel” in daardie vers in Matheus 19 vers 28 is vertaal uit die oorspronklike Griekse woord “geenna” wat alles te doen het met God se vurige oordeel waartydens God alle vleeslikheid in elke mens sal vernietig! (Sien die studie oor hierdie Griekse woord “geenna”):
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
God het die lewe en die dood van alle mense in Sy hande. Selfs Jesus se dood was die Vader se idee en Hy het alles haarfyn beplan en uitgewerk – die plek, die tyd en die mense wat daarby betrokke sou wees:
Hand 4:26-28 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Ons is almal skuldig aan die dood van Jesus deur ons eie ongehoorsaamheid aan Sy Woord en ons haat vir die mense van wie ons nie hou nie. Alle mense is die “geslag” [Grieks: “genos” = familie] van God in Christus:
Hand 17:26-28 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag [Grieks: “genos” = familie].
1Jn 3:15 Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
1Jn 4:20-21 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? 21 En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.
Ons moenie ander mense oordeel voor die aangewese tyd nie (die Here self bepaal die tyd van oordeel vir elkeen). Ons moet nie die bloed van mens stort nie:
1Kor 4:5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
Ons leer nou, soos God wil, om op onsself te let (ons eie ou mens kruisig) en in vrede met ander te leef:
1Ti 4:16 Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.