[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Inleiding
Die Woord van God werk op twee vlakke met ons, naamlik in “die hemel” en op “die aarde”:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Ons as mens word eers bewus van die aardse (fisiese) dinge, en daarna word ons bewus van die hemelse dinge (die figuurlike / geestelike dinge). Ons denke en ons begrippe van onsself, ander mense en die dinge rondom ons, groei dus van ‘n bekende aardse konteks na die geestelike konteks. Die sigbare dinge in hierdie wêreld (Grieks: “kosmos”) is dus ‘n letterlike beeld van die onsigbare dinge van God.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld [Grieks: “kosmos”] af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Alles in die Skrifte het dus twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en die geestelike toepassing. Die letterlike toepassing koppel met dit wat tydelik en nietig is (die vleeslike eon in ons aardse lewe), en die geestelike toepassing verbind met die dieper ewige dinge van God. Soos daar in die aardse dinge ‘n groeiproses is, so is daar ook ‘n groeiproses in ons geestelike insigte wat God aan elkeen gee deur die maat van geloof wat God skenk:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Jesus het die twee toepassings van die Woord as volg uitgedruk, en verduidelik dan ook waarom die uiteindelike toepassing van Sy woorde op die geestelike dinge ons meer belangrike fokus moet wees. Aan die einde van die proses is alle aardse (letterlike) toepassings “van geen nut nie”:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Paulus sien ook die geestelike toepassing van God se Woord as baie belangrik, en hy het ook die geestelike fokus in sy bediening beklemtoon. Paulus verduidelik hierdie twee toepassings (die letterlike teenoor die geestelike) as volg:
2Kor 3:5-8 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 7 En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8 hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?
Die geestelike toepassing het dieper betekenisse waarin ons moet opgroei tot volwassenheid en geestelike volmaaktheid. Op ‘n stadium in ons geestelike ontwikkelingsproses sal elkeen gebring word om die vleeslike Jesus te verlaat, en te fokus op die geestelike Jesus – ons ken Hom nie meer “na die vlees” nie, maar “na die gees”…
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die gees van God neem ons dus op ‘n pad wat al hoe verder weg beweeg van die aardse (letterlike) betekenisse en fokusse:
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Maar ons moet eers deeglik kennis neem van die aardse dinge in ons lewe, en daarna volg die hemelse. Ons moet eers bewus wees van ons eerste Adam en sy dieptes, voordat ons die hemelse dieptes deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, leer ken:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Ons leer dus eers van ons “mens van sonde”, voordat God hom totaal uit die weg ruim (“die seun van die verderf”), en ons tot die hoër hemele opneem met die koms van Christus in ons lewe…
2Th 2:1-4 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Hierdie twee toepassings, die aardse (letterlike / vleeslike) dinge en die hemelse (geestelike) dinge, hou ook verband met ons begrip van bloed. Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons gaan in hierdie studiereeks fokus op hierdie tema en kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.
Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
In Deel 5 wil ons ondersoek hoe die storting van bloed deur offers verbind aan danksegging en belofte.
Bloed verbind met danksegging en belofte
Na die globale vloed, doen Noag iets wat vir ons baie diep geestelike betekenis lesse inhou:
Gen 8:20-22 En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. 21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. 22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.
Die eerste ding wat Noag doen nadat hy en sy gesin uit die ark stap, was om ‘n altaar te bou en die bloed van rein diere stort en die lewe van hierdie diere op die altaar op te offer. Noag wou sy dank aan God betuig deur hierdie gebaar. Noag het geweet hoe belangrik danksegging is as ons God se werke kan sien en respekteer. God moedig ons aan in die Skrifte om altyd in alles dankbaar te wees, want dit is die wil van God wat altyd in alles seëvier!
1Th 5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
Alles gebeur volgens die raad van God se plan met ons, en alles in hierdie skepping werk op daardie beginsel:
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.
God eer ‘n dankbare hart, soos ons ook sien in die verse in Genesis 8:
Gen 8:20-22 En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. 21 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. 22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.
Hierdie verse sê nie dat God gefokus was op ‘n fisiese reuk wat Hy van die brandoffer van Noag gekry het nie, soos sommige wil glo nie. God ervaar nie dinge soos mense dinge ervaar nie. Nee, God is gees en Hy word aanbid in GEES en in WAARHEID:
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
God kyk na die hart van mens, en die “geur” van die hart is vir Hom belangrik, soos Samuel ook moes leer toe hy ‘n koning moes salf in die plek van die eerste koning, Saul, nadat Saul ongehoorsaam was aan God:
1Sa 16:7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
Die aardse mens fokus op die uiterlike dinge, omdat die mens se hart bedrieglik is vanaf die begin:
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Kyk net wat was in Adam en Eva se hart voordat hulle van die verbode boom se vrug geëet het:
Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
God het die mens so geskep, en God weet dus hoe ons harte “van ons jeug” net fokus op dinge wat sleg vir ons is:
En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.
‘n Hart wat gehoorsaam is, is die hart wat ‘n lieflike geur vir God opoffer. Dit is wat Noag vir ons uitbeeld. God se gawe van geloof in Noag se hart het hom tot gehooraamheid gelei:
Heb 11:7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
Noag was gehoorsaam aan God se gebooie, en was al een in sy hele generasie (die seuns van Set) wat God gehoorsaam het en hy en sy gesin was gered deur God:
Gen 6:1-13 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar. 4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. 5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. 7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. 8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. 9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. 10 En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. 11 Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. 12 Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe. 13 En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.
Hierdie woorde van God is insiggewend ten opsigte van hoe Hy vlees sien, en ons moet deeglik kennis neem:
“Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom..”
Vlees en hierdie skepping is van die begin af nie God se finale huisvesting vir mens nie. Nee, die eerste Adam was doelbewus van vlees geskep om ons deur die proses te neem waartydens ons baie lesse moet leer voordat God ons almal in Sy geestelike beeld sal herskep:
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die offer van rein diere deur Noag wys vir ons na Christus se offer aan die kruis, waar Hy ook in gehoorsaamheid aan ons die voorbeeld stel:
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.
God het geen behae in die fisiese dood van sondaars nie:
Psa 5:5 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.
Eseg 18:23 Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?
God het nie behae daarin om die storting van fisiese bloed te sien nie, maar eerder om gehoorsaamheid te sien, soos koning Saul ook moes uitvind op die harde manier:
1Sa 15:22-24 Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. 23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. 24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.
“Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” is woorde wat tot vandag geldig is. God soek na ‘n gehoorsame hart en opregte handelswyses:
Psa 40:7-9 U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. 8 Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. 9 Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.
Spr 11:20 Die wat verkeerd van hart is, is vir die HERE ‘n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.
Jes 1:11 Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
Psa 51:18-19 Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. 19 Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
Hos 6:6 Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.
God het behae in gehoorsaamheid en opregtheid. God het behae in dankbaarheid deur die offer van ons heilige offers deur ‘n nuwe hart en Sy denke en waarheid in ons:
Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Ons aflë van ons ou lewe met sy aardse bedrog is die heilige offer op ons eie kruis, soos ons Jesus volg:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
God is getrou en Hy sal alles laat plaasvind op Sy tyd. Ons buig voor Hom en volg Hom want ons weet alles sal op die einde sin maak:
Gen 8:21-22 En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. 22 Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.