[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons fokus in hierdie studiereeks op hierdie tema, en ons kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.
Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
In Deel 5 het ons ondersoek hoe die storting van bloed deur offers verbind is aan danksegging en belofte.
In Deel 6 sal ons die volgende gedeelte uit die Skrifte neem en ‘n hele paar aspekte uitlig om te kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en dan ook die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God ons die insigte gee uit Sy Skrifte.
Gen 15:9-21 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. 12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. 17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. 18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Ons lees in ons teksgedeelte in Genesis 15 dat God aan Abram (later Abraham genoem) opdrag gee om diere dood te maak. Daar was ook duidelike riglyne hoe die diere gesny moes word en hoe die karkasse op die grond geplaas was. Ons lees ook van iets soortgelyk in Jeremia waar dit duidelik is dat ‘n tipe verbond ter sprake is:
Jer 34:18-19 En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het: 19 die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.
Die dier word in twee stukke verdeel en op die grond geplaas op so ‘n manier dat die persone wat in verbondskap tot mekaar gaan, tussen die dele kan deurstap. Hierdie was dus ‘n bekende ritueel in vroeër tye waar ‘n verbond tussen partye opgestel was. Vandag word kontrakte tussen partye op ander wyses gedoen. Die wyse waarop verbonde gesluit was in vroeëre tye, soos genoem in die Skrifte, is egter gelaai met diep geestelike betekenisse wat ons baie help om God se plan en werk te verstaan, soos God wil. Ons het dus afbeeldinge van hemelse dinge op ‘n aardse vlak om aan ons God se onsigbare dinge verstaanbaar te maak:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Die aardse dinge wat in die ou verbonde in die Ou Testament voorkom, is dus afbeeldinge (‘n skadubeeld) van die ware offers van hulle wie deel is van die “hemelse dinge” – dit is die liggaam van Christus:
Heb 9:23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.
Heb 10:1-8 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. 2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. 3 Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes; 4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. 5 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. 6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. 7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. 8 Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—
Die eerste aspek wat ons na gekyk het uit die Skrifgedeelte in Genesis 15 was die rol wat diere speel in hierdie verbond wat God gemaak het met Abraham, en hoe dit in ons eie lewe toegepas word.
Die tweede aspek wat ons op fokus uit hierdie gedeelte is die rol van die getal “twee” in die sluiting van ‘n verbond.
Die rol van die getal “drie” in die sluiting van verbonde in die Skrifte
Die derde aspek wat ons na kyk is die rol van die getal “drie” in die sluiting van verbonde in die Skrifte, soos God ons die insigte gee uit die Skrifte.
Gen 15:9-10 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
Terwyl die natuurlike mens se denke op die letterlike getal “drie” fokus, kan dit nie die geestelike inhoud agter die getal raaksien nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Jesus het gesê dat ons op die geestelike betekenis in Sy woorde moet fokus, want daarin is Sy lewe te vind. Die vlees (die letterlike betekenis van Sy woorde) het eintlik geen ware lewe nie, en dit is van geen nut vir ons geestelike groei nie:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die persoon wat die geestelike insigte van God ontvang, kry dus insig in die dieper geestelike denke van Christus en wat Hy wil oordra:
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Die gees van God in Christus leer die persoon wat op God se geestelike dinge fokus, om geestelike dinge dan met geestelike te vergelyk (dit is om Skrif met Skrif te vergelyk – Joh 6:63), en dieper waarhede kom dan na vore:
1Kor 2:12-13 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Daar is ‘n geestelike rede waarom die vers, bokooi en ram wat gebruik was deur Abraham drie jaar oud moes wees! As ons die geestelike betekenis van die getal “drie” verstaan, dan sal ons ook weet dat hier van ‘n proses gepraat word (lees gerus die studie van die getal “drie” by hierdie skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/08/30/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-3/)
Gen 15:9-10 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
Met ons groeiproses in geestelike dinge word dit ook gesien in die tipe offers wat ons bring. Ons sien die aardse skadubeeld hiervan in Abraham se offer aan God. Hy het nie net voëls geoffer nie, maar ook die groter plaasdiere van die kleinvee (die ram en die bokooi) tot die vers (bees).
Genesis 15 vers 9:”En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]:
(A) Neem vir My ‘n driejaaroud vers [verteenwoordigend van die beesrasse (koeie, bulle, osse, verse en kalwers)];
(B) en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram [verteenwoordigend van die kleinvee];
(C) en ‘n tortelduif en ‘n jong duif [verteenwoordigend van die voëls].”
Op die natuurlike vlak het die tipe offers wat gebring was in die ou verbond die persoon se fisiese rykdom en stand aangedui. Hoe ryker, hoe groter die offer. Die grootste offer was eerstens gebring uit die duurste dier wat mens op ‘n plaas kan hê, naamlik die beesrasse waarvan die bul/os natuurlik die hoogste waarde was. Daarna volg die kleinvee (bokke en skape), en laastens volg die voëlfamilie wat deur die armer families geoffer was. Let op na die woord “bekostig” in die verse…
Lev 5:7 Maar as hy nie ‘n stuk kleinvee kan bekostig nie, moet hy as boete vir wat hy gesondig het, twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die HERE bring, een as sondoffer en een as brandoffer;
Lev 5:11 Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer vir wat hy gesondig het, die tiende van ‘n efa fynmeel as sondoffer bring. Hy moet geen olie daarop gooi en geen wierook daar byvoeg nie, want dit is ‘n sondoffer.
Lev 12:8 Maar as sy ‘n lam nie kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem, een as brandoffer en een as sondoffer; en die priester moet vir haar versoening doen; dan sal sy rein wees.
Lev 14:30 Dan moet hy een van die tortelduiwe berei of van die jong duiwe wat hy kan bekostig.
Eseg 46:7 en as spysoffer moet hy gereedmaak: ‘n efa vir die bul en ‘n efa vir die ram, maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
Kyk na die volgorde hier in die gedeeltes in Levitikus:
(A) die beesrasse met die bul as die grootste offer:
Lev 1:1-9 En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: 2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van kleinvee. 3 As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind. 4 En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen. 5 Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van die HERE slag; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is. 6 Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel. 7 En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê. 8 Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet reglê op die hout wat op die altaarvuur is. 9 Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
(B) die kleinvee (skape en bokke):
Lev 1:10-13 En as sy offer ‘n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer, moet dit ‘n ram sonder gebrek wees wat hy bring. 11 En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van die HERE; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar uitgooi. 12 Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is. 13 Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
(C) die voëls (duiwe en tortelduiwe):
Lev 1:14-17 En as sy offer aan die HERE ‘n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe. 15 En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar uitgedruk word. 16 Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi, aan die oostekant, op die asplek. 17 Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die vuur is; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
Hierdie drie klasse diere wys geestelik uit na ons eie stand van onvolwassenheid of volwassenheid in die geloof van Jesus. Die getal “drie” wys dus uit hoe ons groei in hierdie geloof en wat die maat van ons geloof is wat God aan ons skenk (onthou die getal “drie” verteenwoordig ‘n proses in geestelike taal). Ons almal begin met die duif-offer, en groei dan deur die kleinvee-offer stadium, tot ons die hoogste offer van ons volwasse dier kan gee. Die “dier” verteenwoordig ons eie mens van vlees en hoe ons daardie vlees offer in diens van God:
Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
Ons geestelike offers aan God gaan deur ‘n proses van ‘n onvolwasse stadium na ‘n volwasse stadium. Ons begin om eers voëls te offer wat nie eens verdeel word nie. Die diere was in twee dele verdeel en die getal “twee” verwys na getuienis, soos die Vader en Christus getuig van mekaar en mekaar bevestig, volgens die Skrifte:
Joh 8:16-17 En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17 En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is.
Joh 3:31-34 Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32 En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie. 33 Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Pred 4:9-11 Twee is beter as een, want hulle het ‘n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ‘n tweede is om hom op te tel. 11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?
Tydens die stadium waar ons offers van voëls bring aan God is die getuienis van Jesus in ons lewe in die begin-stadium en ons begin ons geloofsproses. Daarom het Abraham nie die voëls verdeel nie…
“…die voëls het hy nie verdeel nie.”
Die ander diere was verdeel. Die hoogste getuienis van die werk van Christus in ons lewe is ons offer van ons hele lewe:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Ons hele lewe is ons “hele tiende”:
Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.
Ons bou ons geestelike huis in Christus want Hy is ons Skathuis. Ons geestelike offers wys uit op watter vlak ons is. Geestelike offers gaan oor hoe ons God eer en gehoorsaam:
1Pe 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
Geestelike offers in hierdie lewe gaan oor hoe ons ons “liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer” en ons “redelike godsdiens” in diens van ons medemens. Dit alles vind plaas volgens die maat van geloof wat God aan ons skenk.
Rom 12:1-3 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.