Die tema van bloed in die Skrifte: Deel 6 – Bloed en die verbonde in die Skrifte (5)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons fokus in hierdie studiereeks op hierdie tema, en ons kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.

Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.

In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.

In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.

In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.

In Deel 5 het ons ondersoek hoe die storting van bloed deur offers verbind is aan danksegging en belofte.

In Deel 6 sal ons die volgende gedeelte uit die Skrifte neem en ‘n hele paar aspekte uitlig om te kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en dan ook die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God ons die insigte gee uit Sy Skrifte.

Gen 15:9-21  En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif.  10  En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.  11  Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.  12  En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.  13  Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.  14  Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.  15  Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.  16  En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.  17  En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.  18  Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:  19  die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete  20  en Hetiete en Feresiete en Refaïete  21  en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.

Ons lees in ons teksgedeelte in Genesis 15 dat God aan Abram (later Abraham genoem) opdrag gee om diere dood te maak. Daar was ook duidelike riglyne hoe die diere gesny moes word en hoe die karkasse op die grond geplaas was. Ons lees ook van iets soortgelyk in Jeremia waar dit duidelik is dat ‘n tipe verbond ter sprake is:

Jer 34:18-19  En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het:  19  die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.

Die dood van die diere gaan gepaard met bloedvergieting. Die konsep van bloedvergieting word dan ook in die Skrifte gebruik om die verlies van ‘n lewe aan te dui. In verbondskappe moet alle betrokke partye persoonlike opofferings maak tot voordeel van die ander party(e). Die offers van diere binne hierdie primitiewe verbondsritueel is dus ‘n skadubeeld van ons eie lewe wat aan God gewy word. Hier is geen sprake van ‘n plaasvervangingsdood nie, maar eerder ‘n oproep van God om ons eie lewe op te offer. Selfs Christus se dood as die Offerlam van God vir sonde, roep ons op om ons eie lewe SAAM met Hom op te offer:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Hierdie ritueel wat in Genesis 15 neergeskryf is, was ‘n bekende ritueel in vroeër tye waar ‘n verbond tussen partye opgestel was. Vandag word kontrakte tussen partye op ander wyses gedoen. Die wyse waarop verbonde gesluit was in vroeëre tye, soos genoem in die Skrifte, is egter gelaai met diep geestelike betekenisse wat ons baie help om ons eie rol en funksie in God se plan en werk te verstaan. Ons het dus afbeeldinge van hemelse dinge op ‘n aardse vlak om aan ons God se onsigbare dinge verstaanbaar te maak:

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Die aardse dinge wat in die ou verbonde in die Ou Testament voorkom, is dus afbeeldinge (‘n skadubeeld) van die ware offers van hulle wie deel is van die “hemelse dinge” – dit is die liggaam van Christus:

Heb 9:23  Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

Heb 10:1-8  Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.  2  Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie.  3  Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes;  4  want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.  5  Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei.  6  Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie.  7  Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God.  8  Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—

Die eerste aspek wat ons na gekyk het uit die Skrifgedeelte in Genesis 15 was die rol wat diere speel in hierdie verbond wat God gemaak het met Abraham, en hoe dit in ons eie lewe toegepas word.

Die tweede aspek wat ons op fokus uit hierdie gedeelte is die rol van die getal “twee” in die sluiting van ‘n verbond.

Die derde aspek is die gebruik van die getal “drie” en hoe ons God se geestelike insigte vir ons eie groei in geloof in hierdie verbond kan sien, soos God wil.

Die vierde aspek wat ons gedek het in hierdie gedeelte in Genesis 15 is hoekom ons moet weet dat alles wat met ons gebeur deel is van God se plan vir ons persoonlik, en hoekom ons God moet ken in al ons weë in hierdie wêreld.

Kom ons kyk na die vyfde aspek wat ons wil belig in ons teksgedeelte in Genesis 15, as ons kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe in die Skifte.

Die vergieting van bloed bring vrees en verskrikking, maar ook groot vertroosting en hoop

Nadat Abraham die diere gesny en op die grond gerangskik het, het hy die roofvoëls van die karkasse af verwilder. Toe gebeur iets interessants. ‘n Diep slaap het oor Abraham gekom, en skrik en groot duisternis het hom oorval.

Gen 15:12  En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 

Ons moet onthou dat hierdie dinge gaan alles gepaard met die vergieting van bloed in die opstel van hierdie betrokke verbond – soos reeds genoem impliseer die vergieting van bloed die verlies aan ‘n lewe. Ons aardse lewe is soos ‘n son wat opkom op die dag van ons geboorte, en dan gaan daardie son weer onder die dag as ons sterf. Van die dag van ons geboorte groei ons in dae, weke, maande en jare wat ook dan ‘n verouderingsproses veroorsaak. Aan die begin is ons nie eens bewus dat ons verouder nie, maar hoe ouer ons word hoe meer word die harde feit van veroudering in ons liggaam gevoel. Ons is dus vanaf die dag van ons geboorte betrokke in die verouderingsproses van die aardse lewe. Dit is skokkend vir die vlees om te hoor dat die vlees vanaf die begin eintlik op ‘n afdraende pad is. God het nooit enigiets in hierdie skepping (insluitend die vlees) as ‘n ewige skepping gemaak nie. Paulus stel dit as volg:

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Hierdie waarheid was reeds aan die begin aan Adam bekend gemaak in die volgende woorde, maar deur valse vertalings word dit weggesteek:

Gen 2:16-17  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,  17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

(Lees gerus ons studies oor hierdie woorde “sekerlik sterwe” en die waarheid oor die sogenaamde “sondeval” by die volgende skakels: Die waarheid oor die sondeval, Almal sal sekerlik sterf!, Goeie nuus: Jy sal sekerlik sterf)

Die proses van veroudering wat lei tot die fisiese dood word as volg beskryf deur Salomo…

Pred 12:1-3  En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie—  2  voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,  3  dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word.

Met die ondergang van ons aardse son, kom daar ‘n slaap oor mense. Slaap is verwysend na die dood, soos Jesus ook na die dood verwys:

Mat 9:18-19  Terwyl Hy vir hulle dit sê, kom daar ‘n sekere owerste en val voor Hom neer en sê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe.  19  En Jesus het opgestaan en hom gevolg, en ook sy dissipels.

Mat 9:23-25  En toe Jesus in die huis van die owerste kom en die fluitspelers sien, en die skare wat te kere gaan,  24  sê Hy vir hulle: Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap. En hulle het Hom uitgelag.  25  En nadat die skare uitgedryf was, het Hy ingegaan en haar hand gegryp; en die dogtertjie het opgestaan.

Joh 11:11-14  Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.  12  Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.  13  Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.  14  En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.

Die dood van ‘n mens lei inderdaad ‘n slaaptyd in, waar die gestorwe mens wag vir die opstanding uit die dood. Die Skrifte gee ons die waarheid oor die toestand van die dooies:

Pred 9:5-6  Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.  6  Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Ten spyte van hierdie waarheid oor die dood, en die beloofde opstanding uit die dood, kan baie nie sien dat God elke mens binne een van die twee opstandings sal opwek nie:

Joh 5:28-29  Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor  29  en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Daar is eerste ‘n “opstanding van die lewe” vir hulle wie “aan Christus behoort by Sy koms”, en later volg ‘n opstanding tot die oordeel vir die res. Die Griekse woord “telos” wat in die volgende verse in die oorspronklike teks vertaal is as “die einde” het meer te make met ‘n doelwit wat bereik wil word – “die einde” is die laaste groep wat God gaan opwek uit die dood…

1Kor 15:22-24  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde [Grieks: “telos” = die laaste groep], wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.

Elke mens sal in een van die twee opstandings wees. Maar voordat hierdie opstandings plaasvind, moes Christus dieselfde pad volg as elke mens. Die Skrifte verklaar dat Jesus ook in dieselfde vlees as ons s’n gebore was, en self aan die verouderingsproses onderworp was, wat geëindig het in Sy dood op ‘n kruis vir ‘n spesifieke doel…

Joh 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Gal 4:4-5  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,  5  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

1Kor 15:1-4  Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,  2  waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  3  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;  4  en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

Sy opstanding uit die graf gee vir ons almal hoop van die oorwinning oor die dood vir almal! Dit is die evangelie van hoop vir almal! Jesus het alles gedoen om ons wat nog in die vlees lewe, te verlos van die onkunde en vrees vir die dood:

Heb 2:14-15  Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—  15  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Maar as gevolg van al die valse leerstellings oor die toestand van die dooies en die leuens wat versprei word oor die twee opstandings waarin alle mense deelagtig gaan wees, is daar steeds groot onsekerheid as mense dink aan hul eie dood. Soos met Abraham gebeur het, kom daar ‘n skrik en ‘n groot duisternis as die onvermydelike realiteit van die dood ons tref…

Gen 15:12  En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 

Die rede vir hierdie skrik en duisternis in die geval van Abraham, was omdat God aan hom meegedeel het dat sy nageslag verdrukking en swaarkry sal ervaar vir vierhonderd jaar!

Gen 15:13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.  

Maar dan spreek God ook wonderlike trooswoorde vir Abraham:

Gene 15:14-16  Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.  15  Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.  16  En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.

Ons vleeslike bestaan is ‘n tyd van vreemdelingskap (weg van God) waartydens ons verslaaf is aan ons aardse drange en begeertes. Maar hierdie tyd, wat gesimboliseer word deur “vierhonderd jaar”, is alles volgens God se plan. Die getal “vier” is baie prominent in God se belofte aan Abraham omdat ons die hele tyd in ons vlees onder hierdie slawerny van sonde sal sukkel, en nooit ware vrede en geluk in ons vlees sal ervaar nie.

Gen 15:13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.  

Gen 15:16  En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.

Vlees sal nooit voor God kan roem in enigiets nie!

1Kor 1:26-29  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  27  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  28  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Vlees en bloed was nog nooit en sal nooit in God se geestelike volmaaktheid ingaan of bestaan nie!

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die getal “vier” verwys geestelik na die geheel (volledigheid) van iets. Ons moet, soos Abraham se nageslag, ook ons volledige tyd onder die slawerny van vlees en sy ongeregtigheid (die geestelike Amoriete in ons) uitdien, soos deur God bepaal:

Gen 15:13-16 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.

Ons hele tyd in vlees is ‘n tyd van geestelike gevangeniskap onder die tydelike (‘n “kort tydjie”) beheer van die vleeslike Amoriete (ons aardse drange, begeertes) in ons. Jesus alleen sal elke mens deur Sy oordeel vrystel van hierdie slawerny, op die tyd soos die Vader bepaal:

Luk 4:16-21  Toe kom Hy [Jesus] in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.  17  En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:  18  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  19  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.  20  En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.  21  Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.

Die tydperk van slawerny is die heerskappy van die eerste Adam in ons lewe, voordat ons die tweede tydperk van die heerskappy van die laaste Adam, Jesus Christus, sal ervaar. Dit is die groot troos wat ons uit God se Woord moet leer en ken…

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Hierdie kennis van die waarheid verlos ons van ons onkunde en ons vrees vir die dood:

Joh 8:32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

As ons ons eerste tydperk in vlees vergelyk met ons tyd in gees met die gees van Jesus in ons lewe, is dit om nag en dag teen mekaar te plaas. Ons aardse sontydperk is dus ‘n tyd in die geestelike nag / duisternis, waarna die gees van God in ons gebring word deur God se Woord om ons op te wek in ‘n nuwe lewe:

Mat 4:16-17  die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.  17  Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

Joh 1:1-5  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2  Hy was in die begin by God.  3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.  4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.  5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Joh 12:46  Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

God sal ons tydperk in vlees (in duisternis) tot ‘n einde bring op die regte tyd. Ons begeerte in hierdie tyd (die nag / die duisternis) moet wees om die nuwe lewe deelagtig te word. God beloof deur Abraham dat Hy sal hierdie vlees in ons oordeel en ons bevry daarvan. Deur God se oordeel oor ons vlees word ons deelagtig aan die nuwe lewe in Christus:

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.