[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Die tema van bloed is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons fokus in hierdie studiereeks op hierdie tema, en ons kyk wat ons alles daaruit kan ontgin, soos God wil.
Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
In Deel 5 het ons ondersoek hoe die storting van bloed deur offers verbind is aan danksegging en belofte.
In Deel 6 sal ons die volgende gedeelte uit die Skrifte neem en ‘n hele paar aspekte uitlig om te kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en dan ook die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God ons die insigte gee uit Sy Skrifte.
Gen 15:9-21 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. 12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. 17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. 18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Ons lees in ons teksgedeelte in Genesis 15 dat God aan Abram (later Abraham genoem) opdrag gee om diere dood te maak. Daar was ook duidelike riglyne hoe die diere gesny moes word en hoe die karkasse op die grond geplaas was. Ons lees ook van iets soortgelyk in Jeremia waar dit duidelik is dat ‘n tipe verbond ter sprake is:
Jer 34:18-19 En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het: 19 die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.
Die dood van die diere gaan gepaard met bloedvergieting. Die konsep van bloedvergieting word dan ook in die Skrifte gebruik om die verlies van ‘n lewe aan te dui. In verbondskappe moet alle betrokke partye persoonlike opofferings maak en hul lewe toewy tot voordeel van die ander party(e). Die offers van diere binne hierdie primitiewe verbondsritueel is dus ‘n skadubeeld van ons eie lewe wat aan God gewy word. Hier is geen sprake van ‘n plaasvervangingsdood nie, maar eerder ‘n oproep van God om ons eie lewe op te offer. Selfs Christus se dood as die Offerlam van God vir sonde, roep ons op om ons eie lewe SAAM met Hom op te offer:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Hierdie ritueel wat in Genesis 15 neergeskryf is, was ‘n bekende ritueel in vroeër tye waar ‘n verbond tussen partye opgestel was. Vandag word kontrakte tussen partye op ander wyses gedoen. Die wyse waarop verbonde gesluit was in vroeëre tye, soos genoem in die Skrifte, is egter gelaai met diep geestelike betekenisse wat ons baie help om ons eie rol en funksie in God se plan en werk te verstaan. Ons het dus afbeeldinge van hemelse dinge op ‘n aardse vlak om aan ons God se onsigbare dinge verstaanbaar te maak:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Die aardse dinge wat in die ou verbonde in die Ou Testament voorkom, is dus afbeeldinge (‘n skadubeeld) van die ware offers van hulle wie deel is van die “hemelse dinge” – dit is die liggaam van Christus:
Heb 9:23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.
Heb 10:1-8 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. 2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. 3 Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes; 4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. 5 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. 6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. 7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. 8 Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—
Ons kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe in die Skifte, en die eerste aspek wat ons na gekyk het uit die Skrifgedeelte in Genesis 15 was die rol wat diere speel in hierdie verbond wat God gemaak het met Abraham, en hoe dit in ons eie lewe toegepas word.
Die tweede aspek wat ons op fokus uit hierdie gedeelte is die rol van die getal “twee” in die sluiting van ‘n verbond.
Die derde aspek is die gebruik van die getal “drie” en hoe ons God se geestelike insigte vir ons eie groei in geloof in hierdie verbond kan sien, soos God wil.
Die vierde aspek wat ons gedek het is hoekom ons moet weet dat alles wat met ons gebeur deel is van God se plan vir ons persoonlik, en hoekom ons God moet ken in al ons weë in hierdie wêreld.
Die vyfde aspek wat ons belig in ons teksgedeelte in Genesis 15, as ons kyk na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe in die Skrifte, is om te verstaan dat die vergieting van bloed bring vrees en verskrikking in ons vlees, maar ook groot vertroosting en hoop.
Die sesde aspek wat ons dek is die simboliese gebruik van Egipte in ons eie lewe, as heerser vir ‘n tyd. God is in beheer van Egipte in ons eie lewe, en God sal ook Egipte se heerskappy in ons lewe beëindig.
“…Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed…”
Die ou volk van Israel het vir vierhonderd jaar as slawe in Egipte gebly, soos God dit bepaal het en dit vooraf in ‘n gesig (‘n visioen) aan Abraham meegedeel, soos aangeteken in Genesis 15:
Gen 15:13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.
Hand 7:6-7 En God het aan hom [Abraham] dít gesê, dat sy nageslag bywoners in ‘n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vier honderd jaar lank. 7 En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.
Maar God bring ook aan Abraham baie goeie nuus en groot troos…
Gen 15:14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.
Alles wat met die ou volk van Israel gebeur het, was neergeskryf om ons te help om ons eie lewe daarin te sien afspeel:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [Grieks: “tupos” = tipes van ons eie lewe] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Ons elkeen gaan ‘n tydperk deur waar ons in “vreemdelingskap” van God sal leef, weg van God se volmaaktheid en sonder enige geestelike insigte. Die aardse mens is gemaak van stof en hy leef binne ‘n tydelike opset, deur die hand van die Skepper:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Soos Adam, is ons almal onderworpe aan nietigheid en aan sonde, soos God dit gemaak het. Ons is slawe van sonde. In ‘n geestelike sin leef ons almal vir ‘n bepaalde tyd in ons eie “Egipte”. Dit is die tydperk wat ons sal leef onder die eerste Adam se heerskappy, ons eie vlees, voordat ons bevry sal word deur die laaste Adam, Jesus Christus…
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Elke mens wat in vlees gebore word leef eerste in sonde wat al hoe erger word soos ons ouer word, soos getipeer deur die volk van Israel.
Eks 2:23 En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.
Daar kom ‘n tyd in elkeen se lewe waar ons uitroep na God om uit die sonde verlos te word…
Psa 102:1-6 ‘n Gebed van ‘n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. 2 o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom! 3 Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou! 4 Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos ‘n vuurherd. 5 Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet. 6 Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
God sal ons almal uit die mag van sonde verlos, op die tyd soos Hy bepaal, en ons sal nooit weer daarin terugkeer nie!
Rom 6:1-9 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, 9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
Egipte is ‘n geestelike simbool van ons eie tyd wanneer ons op vlees vertrou en ons hoop in ons eie denke en opinies plaas. Ons tyd in Egipte word gekenmerk deur ons geloof in valse leerstellings en ons bewondering van die filosofieë van die wêreld:
Jes 31:1-3 Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie. 2 Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk. 3 Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde.
Jes 36:6 Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.
Ons trek na Egipte as ons nie luister na die Woord van God nie:
Jer 43:7 en hulle het na Egipteland getrek; want hulle het nie geluister na die stem van die HERE nie. En hulle het tot by Tagpánhes gekom.
God is egter in beheer van ons hele tyd in Egipte en Hy ken ons smarte:
Eks 3:7-8 En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. 8 Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning…
Maar dit is ook in Egipte waar ons waardevolle lesse leer, soos God aan Abraham beloof het…
Hand 7:8-10 En Hy het hom [Abraham] die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders. 9 En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom 10 en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.
God het deur Abraham se nageslag, selfs deur die lewe van Isak, Jakob en deur Josef ons eie tyd in Egipte belig en hoe ons vlees altyd hunker na Egipte se heerlikheid en voorspoed:
Gen 45:13 [Josef sê aan sy broers…] Vertel my vader [Jakob] dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af.
Gen 45:23 En net so het hy [Josef] ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis.
Gen 46:2-7 En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek! 3 Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak. 4 Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk. 5 Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer. 6 En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom: 7 sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring.
Egipte en Josef
Die geestelike betekenis van Egipte word ook aan ons verduidelik in die storie van Josef, toe sy broers hom verkoop het as ‘n slaaf:
Gen 37:28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.
Gen 37:36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.
Gen 39:1 En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ‘n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.
Gen 45:4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.
Egipte en Moses
Moses moes ook ‘n tyd lank in Egipte bly en daar groot lesse leer wat later waardevol te pas gekom het. Egipte se wysheid berei ons voor om ons plek in God se werk te kan inneem:
Hand 7:17-22 En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ‘n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte, 18 totdat daar ‘n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie. 19 Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie. 20 In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; 21 en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. 22 En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.
Moses het ook geloof ontvang dat God ‘n groter plan en werk het vir hom as sy tyd van genot en voorspoed in Egipte. Ons sal ons aardse genietinge en voorspoed moet opoffer om bruikbaar te wees in God se geestelike koninkryk…
Heb 11:23-27 Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie. 24 Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, 25 omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, 26 en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. 27 Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.
Moses was ‘n tipe van die Groot Verlosser, wie deur diesefde proses as ons moes gaan om as God se getroue Bevryder van sonde op te tree vir elke mens:
Deu 18:15 ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister—
Heb 3:1-6 Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, 2 wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis. 3 Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis; 4 want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God. 5 En Moses was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, 6 maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.
Egipte en Salomo
Die ongehoorsame koning Salomo moes ook op die harde manier leer dat God bedoel as Hy sê dat ons nie Egipte as ons blywende vennoot moet beskou nie, en nie in verbondskappe met Egipte moet gaan nie:
1Kon 3:1 En Salomo het hom verswaer met Farao, die koning van Egipte; hy het naamlik die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebring totdat hy met die bou van sy huis en die huis van die HERE en die muur van Jerusalem rondom klaar sou wees.
Ons verbintenis met Egipte maak deure oop na ander vleeslike dinge, wat in die korttermyn ons genot verskaf, maar die einde van alles is groot verdriet, soos Salomo ook moes ervaar, vir ons lering:
1Kon 11:1-8 En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese— 2 uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan—Salomo het hulle met liefde aangehang. 3 En hy het sewe honderd vroue, vorstinne, gehad, en drie honderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het. 4 En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie. 5 En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop. 6 So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie. 7 Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon. 8 En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.
Egipte en Jesus
Jesus het ook Sy bepaalde tyd in Egipte gebly…
Mat 2:13-15 En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. 14 Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. 15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.
Jesus Christus moes Sy hemelse heerlikheid verlaat en vleesmens geword om saam met ons te ly in vlees:
Fil 2:5-8 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. 6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Jesus moes “in alle opsigte aan Sy broers gelyk word” en so ook alle versoekings van die vlees verduur. Ons het inderdaad ‘n getroue Hoëpriester wat alles ervaar het wat ons as mens ervaar op ‘n daaglikse basis, sodat Hy ons kan help wat ook in ons tyd deur versoekinge en beproewinge moet worstel:
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 16 Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Opsomming van Egipte en ons eie lewe:
Vlees en bloed (Egipte) sal nooit in God se geestelike koninkryk bestaan nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Egipte en hierdie hele wêreld bied geen blywende geluk en voorspoed nie. God sal ons vlees oordeel en ons sal leer dat vlees en bloed nie in God se geestelike koninkryk ingaan nie:
1Kon 11:9-11 Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, 10 en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie. 11 Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.
God sal Egipte totaal verwoes, net soos Hy ook die vlees nie vir ewig sal laat voortgaan nie:
Eks 10:7 Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?
Deu 11:1-4 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê en altyd sy ordening, sy insettinge sowel as sy verordeninge en sy gebooie onderhou. 2 En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die onderwysing van die HERE julle God nie geweet en nie gesien het nie: sy grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm 3 en sy tekens en sy dade wat Hy in Egipte gedoen het aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy hele land; 4 en wat Hy gedoen het aan die leër van Egipte, aan sy perde en aan sy strydwaens waaroor Hy die waters van die Skelfsee laat aanstroom het toe hulle julle agtervolg het, sodat die HERE hulle omgebring het tot vandag toe;
Die offer van ons aardse lewe (die aardse nasie / Egipte) deur bloedvergieting (soos Abraham die diere moes opsny en offer) gee ons toegang tot die nuwe lewe in gees in Christus (die “baie goed” wat aan Abraham beloof was)!
Gen 15:14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
God belowe aan Abraham (en aan ons as ons kan glo dat ons ook van hierdie woorde leef – Mat 4:4) dat hy sal vrede ervaar en sy nageslag sal terugkeer na hul eie land…
Gen 15:15-16 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.
Ons almal sal uit die vleeslike bestaan verlos word op die tyd soos God bepaal, en die sondige vlees met sy ongeregtigheid en al sy aardse begeerlikhede (die geestelike Amoriete) sal “vol” wees – dit is dat die tyd van die heerskappy van die vlees oor ons sal voltooid wees.
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
Hulle wie die stem van die Goeie Herder kan hoor, luister na die Waarheid en hulle verlaat die valse stad Babilon, die valse godsdienste en genootskappe:
Open 18:1-24 En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. 2 En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, 3 omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. 4 En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. 5 Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. 6 Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. 7 Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie 8 daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. 9 En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, 10 terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! 11 En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, 12 koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer 13 en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. 14 En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie. 15 Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: 16 Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! 17 En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan 18 en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: Watter stad is soos die groot stad? 19 En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes! 20 Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het! 21 En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie. 22 En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie, en die geluid van die meul sal nooit meer in jou gehoor word nie. 23 En die lig van ‘n lamp sal nooit meer in jou skyn nie, en die stem van bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie; want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei. 24 En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.