Die tema van bloed in die Skrifte: Deel 6 – Bloed en die verbonde in die Skrifte (15)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Agtergrond:

Die tema van bloed (bloedvergieting) is een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Die konsep van bloedvergieting in die Skrifte gaan oor die verlies van ‘n lewe. Alles begin in die boek van Genesis waar God vir Adam en Eva ‘n kleedbedekking van vel gemaak het, waar die vel afkomstig was van ‘n dooie dier wat vir die doel sy lewe verloor het. Die beginsel wat daar vasgelê was, is dat sonder bloedvergieting daar geen vergifnis van sonde is nie. Die vel dien as bedekking vir naaktheid (naaktheid simboliseer sonde):

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Heb 9:22  … en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Om die nuwe lewe in gees te verkry moet ons ons ou lewe van vlees aflê.

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Elke mens sal deur die geestelike proses van “bloedvergieting” geneem word, almal sal hul eerste lewe in vlees verloor, en daarom kan Paulus die volgende woorde met groot oortuiging verklaar:

1Kor 15:22  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Ons studiereeks oor die tema van bloed in die Skrifte was as volg ingedeel:

  • Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
  • In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
  • In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
  • In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
  • In Deel 5 het ons ondersoek hoe bloedvergieting deur diere offers verbind is aan danksegging en belofte.
  • In Deel 6 kyk ons na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en belig die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God wil.

Ons begin by die verbond wat God met Abraham gemaak het in Genesis (in sewe artikels dek ons verskeie aspekte wat ons uit die volgende Skrifteks kry – u kan dit lees by die volgende skakels: eerste aspek, tweede aspek, derde aspek, vierde aspek, vyfde aspek, sesde aspek, sewende aspek):

Gen 15:9-21  En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif.  10  En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.  11  Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.  12  En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.  13  Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.  14  Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.  15  Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.  16  En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.  17  En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.  18  Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:  19  die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete  20  en Hetiete en Feresiete en Refaïete  21  en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.

Ons het ook gekyk na hoe bloedvergieting voorkom in die verbond van God met Israel, soos vervat in die Wet wat deur Moses gekom het. Ons het veral gekyk na die vyf hoofoffers:

  1. Die brandoffer
  2. Die spysoffer
  3. Die dankoffer (insluitend is die lofdankoffer, die gelofte-offer en die vredesoffer)
  4. Die sondoffer
  5. Die skuldoffer

Twee groepe offers wat hierby aansluit was die Drankoffer en die Versoensdagoffers. Lees hiervan by die volgende skakels:

Die drankoffer

Die geestelike betekenis van die twee bokramme in die offers op die Groot Versoensdag.

Vervolgens kyk ons na “die bloed van die Nuwe Testament” (die nuwe verbond in gees) en wat dit alles beteken.

Die bloed van die Nuwe Testament – die nuwe verbond in gees

Die bloed van Jesus is ‘n belangrike fokus van die nuwe verbond:

Mat 26:26-29  En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.  27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.  28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.  29  Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

Die Nuwe Testament of die Nuwe Verbond word gevestig deur Jesus se bloed, en die doel van die bloedvergieting is weereens bevestig deur Jesus se woorde die aand voor Sy dood:

Mat 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Die Skrifte bepaal van begin tot einde dat sonder bloedvergieting geen vergifnis kan plaasvind nie:

Heb 9:22  …sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Soos ons weet is hierdie beginsel dat vergifnis van sonde kom deur bloedvergieting reeds in die begin met Adam en Eva gevestig, toe ‘n dier gedood moes word en sy vel gebruik was om as bedekking vir hul naaktheid te dien (naaktheid is ‘n Skriftuurlike simbool van sonde en sondigheid). Die konsep van bloedvergieting impliseer die verlies van ‘n lewe.

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Die aardse lewe is ‘n tydelike lewe wat aan ons geskenk word vir ‘n beperkte eon, en wat dan weer teruggeneem word deur God, soos God ook aan ons almal duidelik verklaar deur die mond van Job, vir ons lering:

Job 1:21-22  en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!  22  By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.

Ons almal kom naak in die lewe en naak sal ons die lewe verlaat, wat beteken dat ons almal in sonde geskep was deur God en dat ons hele aardse bestaan deur sonde gemuilband word.

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Maar daar kom ‘n dag, daar kom ‘n bepaalde uur, dat ons van hierdie sondige vleeslike bestaan verlos sal word.

Pred 3:1-2  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:  2  ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is,

Vlees is inderdaad tydelik en nietig van aard:

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Alles was so bepaal deur die Skepper voor die grondlegging van die aarde, toe Hy elkeen se boek geskryf het, en in detail bepaal het wat op elke dag presies sou gebeur:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

God het bepaal dat Hy eers ons almal gaan maak in die vlees, en dan deur hierdie tydelike lewe lesse te leer wat ons nooit op ‘n ander manier sou kon leer nie. Alles in voorbereiding van die nuwe pot wat Hy gaan skep wat perfek sal wees in gees, soos Hy is:

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons aardse liggaam is ‘n “liggaam van die sonde” wat misluk “in die hand van die Pottebakker. Alles is ook innerlik van toepassing omdat ons denke ook net so ‘n “liggaam van die sonde” is. Ons moet die ou mens van vlees aflê (“die liggaam van die sonde” uiterlike en innerlik), en dit is wat die konsep van “kruisiging” uitbeeld. Ons neem NIE ‘n fisiese kruis op soos Jesus moes doen nie, maar ons sterf ook op ‘n kruis deur nie meer sonde te dien nie!

Rom 6:1-7  Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?  2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?  3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?  4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.  5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;  6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.  7  Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

Jesus, die Skepper en die Gewer van die goed en die kwaad, het ons in ‘n tydelike “liggaam van die sonde” gemaak, wat Hy dan sal wegneem van ons op die tyd soos deur die Vader bepaal was voor die grondlegging van die wêreld:

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Job se vrou, soos almal van ons, sukkel om die waarheid oor ons aardse bestaan te verstaan, maar God bring aan haar, en aan ons, die waarheid deur Job se woorde:

Job 2:9-10  Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf!  10  Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Ons moet die sondige aardse bestaan opgee want God neem dit weg van ons op die tyd soos Hy bepaal. Jesus het in dieselfde vlees gekom en het aan ons die voorbeeld van gehoorsaamheid aan Sy Vader gestel. Jesus was “sonde gemaak” deur in die aardse liggaam te kom, en die dood te ervaar:

2Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde [vir ons] gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Fil 2:7-8  maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;  8  en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Heb 2:14-18  Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—  15  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.  16  Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom.  17  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.  18  Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Jesus het self aan “die beker” van hierdie aardsheid en sy doodsproses deelgeneem, soos Sy dissipels en alle mense ook drink…

Mar 10:38-39  Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?  39  En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.

Ons almal sal op die bepaalde tyd uitvind waarom hierdie aardse lewe so ‘n “moeilike taak” is wat ons so baie “kwel”, soos Salomo dit ook uitgevind het:

Pred 1:13  En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Ons beker is inderdaad gevul met wyn en die wyn is simbolies van die bloed wat lewe voorstel. Ons aardse bloed is ons eerste lewe, die lewe van Adam, wat God aan ons gee, en wat Hy ook weer van ons gaan wegneem. Onthou Job se woorde…

Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!

Ons deel ook ons bekers met ander, vir goed en vir kwaad. Soos God aan ons gee, so gee ons ook aan ander…

Gal 6:10  Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

Soos God neem, so neem ons ook van ander. Ons maak ander mense ook seer. Dit is die seermaak van ander mense wat ons ook skuldig maak aan die bloedvergieting van Jesus:

Mat 25:41-46  Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.  42  Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.  43  Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.  44  Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?  45  Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.  46  En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

Hoe ons optree teenoor ander mense, beeld uit hoe ons optree teenoor Jesus. Die woorde “drink almal daaruit” in die volgende versreëls is baie insiggewend want hierdie woorde van Jesus maak almal skuldig aan die storting van Sy bloed, die neem van Sy lewe.

Mat 26:27-28  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.  28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes

Die woord “baie” wat sal drink verwys na alle mense. Ons almal het ‘n aandeel in die bloed (die dood) van Jesus. Pilatus wou hom verontskuldig, en ons almal is soos Pilatus in ons eie tyd:

Mat 27:24  En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!  

Maar die woorde van die hele volk, is die woorde wat ons almal aan skuldig is:

Mat 27:25  En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!

Ons is almal skuldig aan die dood van Jesus en Sy bloed kom inderdaad op ons en op ons nageslagte. Net so is ons deel van die generasie van “hierdie geslag” (die mensdom in vlees en bloed) wat skuldig is aan die dood van elke profeet wat God gestuur het:

Luk 11:49-51  Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,  50  sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,  51  van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.

Hoe doen ons dit? As ons weet dat die Woord van God “is, en wat was, en wat kom”, dan sien ons in onsself hoe die woorde in die Skrifte op ons van toepassing is:

Open 1:8  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Jesus Christus en Sy Woord van Genesis tot Openbaring, is die woorde “wat is, en wat was, en wat kom” in elke generasie van die mensdom:

Mat 24:35  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

Die Woord van God is die Waarheid, en ons almal verwerp die Woord van God en luister na valse leerstellings wat die ware woorde van die Skrifte verdraai. Dit was van die begin af die geval en ons almal wat in Adam se beeld geskep word, doen presies soos hier vir ons neergeskryf was in Genesis 3:

Gen 3:1-6  Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?  2  En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,  3  maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.  4  Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;  5  maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.  6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Ons almal luister eerder na die slang en al sy diensknegte wat hul voordoen as verkondigers van lig en waarheid, terwyl hulle eintlik leuens en bedrog preek in God se naam:

2Kor 11:13-15  Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.  14  En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.  15  Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Die dood van Jesus het die weg gebaan vir die nuwe verbond wat in gees kom, in ons harte, in ons denke. Dit is wanneer ons self drink van die beker, deur ons eie lewe af te lê, dat die koninkryk van God in gees in ons harte kom. Dan word die volgende woorde van Jesus in ons eie lewe toepasbaar…

Mat 26:29  Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.

Jesus drink die beker saam met ons deur die oordeel van God in ons eie lewe as ons saam met Hom sterf!

Luk 17:21-24  En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.  22  En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie.  23  En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.  24  Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.

Hierdie nuwe verbond word met die huis van die geestelike Israel van God in Christus gemaak:

Gal 6:15-16  Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.  16  En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!

Dit is van hierdie nuwe verbond in die gees en waarheid van Christus wat al die profete van ouds geprofeteer het, soos Jeremia ook van die innerlike verbond in gees in die volgende woorde geprofeteer het:

Jer 31:31-34  Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit;  32  nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.  33  Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.  34  En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

Al die vleeslike verbonde wat voorafgegaan het en in die Ou Testament van die Skrifte genoem was, was gegee om ons in te lig oor hoekom die geestelike dinge van God ver bo die vleeslike dinge uitstaan. Die gees van God oortref alles wat in vlees kom. Dit is waarom die nuwe verbond van Christus die “beter verbond” genoem word:

Heb 7:22  in sover het Jesus van ‘n beter verbond borg geword.

Heb 8:6  Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.

Diegene wat in hierdie lewe reeds in Christus opgeneem word, is hulle wat deel is van “die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”. Die bloed van Jesus spreek volgens die Nuwe Verbond in gees, terwyl die bloed van Abel spreek van die Ou Verbond in vlees:

Heb 12:22-24  Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele,  23  by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,  24  en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

Die bloedverbond van Jesus is op elke mens van toepassing en elkeen sal ook dieselfde beker drink. Elkeen sal die dood moet smaak en geoordeel word om die lewe in gees te betree:

Jer 25:15-17  Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,  16  dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.  17  En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het.

Die huis van God, dit is die kerk van Christus, drink hierdie beker eerste…

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Hierdie “huis van God” is die mense wie die eerste is wat erken dat hulle Jesus gedood het, deur te glo in die leuens wat die valse leraars oor Hom gepreek het, en Sy waarheid te haat:

1Jn 3:15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Dit is hierdie moordenaars wat God eerste begenadig en wie die Vader uitverkies het om Jesus te volg, en saam met Hom te sterf:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

1Jn 4:17  Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

1Pe 2:21  Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Die bloed van Jesus was gestort om op die einde van die proses vir elke mense ‘n bedekking in gees te gee.

Joh 3:14-17  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,  15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Jesus is inderdaad die Redder (“Behouder”) van elke mens:

1Ti 2:3-6  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,  4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  6  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.

1Ti 4:9-10  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;  10  want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

Almal wat in Adam se vleesbeeld geskep was, sal in die beeld van die verheerlikte Christus opgewek word, elkeen in sy eie orde:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.