[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Agtergrond:
God het “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon”:
Hand 17:26-29 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. 29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
Alle mense is “die geslag van God” en ons leer deur die aardse ervaring baie dinge wat ons nodig kry in die proses om in God se ewe beeld geskep te word. Dit is reg, die vleesmens is nie volmaak in die geestelike ewebeeld van God nie, soos die oorspronklike Hebreeuse teks van Genesis 1 ook vir ons aandui:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [Hebreeuse werkwoord is “âśâh” wat in die Hebreeuse Qal stem is in die onvoltooide handeling of aksie uitbeeld] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Daar staan dit geskryf, vir hulle wat dit kan ontvang. Die “maak” van mens in God se ewebeeld is ‘n proses wat begin by die aardse vleesmens, en eindig in die hemelse geestelike skepping van God! God is gees! Hy het nie gees nie, HY IS GEES EN VOLMAAK. Vlees daarenteen is NIE gees nie en onvolmaak, en NIE in God se ewebeeld nie.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Ons as mens is “die geslag van God” in vlees en bloed, en ons vlees kan nie God se geestelike koninkryk ingaan nie. Kom ons lees weer…
“Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie”
Alle aardse mense word tot op hede geskep in die aardse beeld van die “eerste Adam”, wat uit die stof van die aarde geskep was:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Die aardse liggaam is ‘n wonderbaarlike skepping van God uit die moederaarde, en ons bewonder en hanteer dit met groot ontsag.
Psa 139:13-16 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Nie net is ons aardse liggaam ‘n kunstige skepping nie, maar God het ook al ons dae en alles wat daarin gebeur vooruit bepaal. Hy weet wat Hy doen. Ons leef van een sekonde tot die volgende sekonde, en ons ken wat gister gebeur het. Dis al. Die toekoms weet ons niks van nie. Ons vind eers uit wanneer dinge gebeur. So het ons mettertyd ook uitgevind van ons kunstig geweefde liggaamsdele en wat die funksie van elke deel is. Selfs die grootste kenners op die mediese vlak is nog besig om nuwe dinge van die mens se liggaam uit te vind. Wat ‘n ontdekkingstog. So vind ons ook nog meer uit van die belangrike vloeistof wat in ons are vloei, wat as die bloed geken word. Die mens se bloed is sy lewenslyn, en sonder bloed kan die aardse liggaam nie funksioneer nie. Bloed vervoer suurstof en voedingstowwe deur die liggaam, en help ook om afvalstowwe te verwyder. Die bloed reguleer ons liggaamstemperatuur en help ons om infeksies te beveg. Mense val in verskillende bloedgroepe, maar elke persoon se bloed het unieke biologiese kenmerke, soos ons vingerafdrukke uniek aan ons is. God dupliseer inderdaad nie, en die bloed wys dit weereens vir ons! Die embrio/fetus ontwikkel sy/haar eie bloed ongeveer drie weke na bevrugting plaasgevind het. Hierdie uniekheid van die bloed in ‘n mens is ‘n wonderwerk van God. Tydens swangerskap ontwikkel daar ‘n totale verwydering tussen die bloed van die ma en die bloed van die embrio/fetus. Die ongebore baba word deur die naelstring aan die plasenta verbind en al die nodige voedingstowwe, suurstof en lewensondersteuning van die moeder se bloed gaan deur die naelstring wat aan die plasenta gekoppel is, terwyl al die afvalstowwwe ook op die manier uit die ongebore baba se liggaam verwyder word. Weereens kan ons saam met Dawid uitroep…
Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!
As ons vleeslike ontwikkeling ‘n leersproses en ontdekkingstog is, soveel meer kan ons sien uit ons geestelike ontwikkeling, veral ook as dit kom by die tema van bloed. Ons bloed is belangrik in ‘n aardse sin, maar nog baie meer in ‘n geestelike sin. Daarom is die tema van bloed (en in besonder die konsep van bloedvergieting) een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons het spesifiek gefokus op die konsep van bloedvergieting in die Skrifte. Alles begin in die boek van Genesis waar God vir Adam en Eva ‘n kleedbedekking van vel gemaak het, waar die vel afkomstig was van ‘n dooie dier wat vir die doel sy lewe verloor het. Die beginsel wat daar vasgelê was, is dat sonder bloedvergieting daar geen vergifnis van sonde is nie. Die vel dien as bedekking vir naaktheid (naaktheid simboliseer sonde):
Gen 3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.
Heb 9:22 … en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
Ons studiereeks oor die tema van bloed in die Skrifte was as volg ingedeel:
- Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
- In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
- In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
- In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
- In Deel 5 het ons ondersoek hoe bloedvergieting deur diere offers verbind is aan danksegging en belofte.
- In Deel 6 kyk ons na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en belig die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God wil. Ons begin by die verbond wat God met Abraham gemaak het in Genesis (in sewe artikels dek ons verskeie aspekte wat ons uit die volgende Skrifteks kry – u kan dit lees by die volgende skakels: eerste aspek, tweede aspek, derde aspek, vierde aspek, vyfde aspek, sesde aspek, sewende aspek):
Gen 15:9-21 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. 12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. 17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. 18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Ons het ook gekyk na hoe bloedvergieting voorkom in die verbond van God met Israel, soos vervat in die Wet wat deur Moses gekom het. Ons het veral gekyk na die vyf hoofoffers:
- Die brandoffer
- Die spysoffer
- Die dankoffer (insluitend is die lofdankoffer, die gelofte-offer en die vredesoffer)
- Die sondoffer
- Die skuldoffer
Twee groepe offers wat hierby aansluit was die Drankoffer en die Versoensdagoffers. Lees hiervan by die volgende skakels:
Die geestelike betekenis van die twee bokramme in die offers op die Groot Versoensdag.
Ons fokus is bloedvergieting, waar die Skrifte ons voorberei dat ons ons aardse lewe sal moet prysgee om die nuwe lewe in die gees van Christus en Sy Vader te kan ontvang. Vervolgens kyk ons kortliks na wat bedoel word met die woorde “julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie”.
‘Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie‘
God neem ons inderdaad op ‘n ontdekkingstog in die vlees, maar meer belangrik is die leerproses in die geestelike dinge van God wat daarmee gepaardgaan. Ons kennis van bloed is ook deel van albei hierdie prosesse. Ons leer stelselmatig soos ons volwasse word hoe dinge werk. Ons word deur die Skrifte aangemoedig om God se werke in die mens beter te verstaan, van Genesis tot by Openbaring:
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
Die mens (en diere) het aanvanklik nie vleis geëet nie…
Gen 1:29-30 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.
Maar na die globale vloed in die dae van Noag, kom daar ‘n verandering…
Gen 9:1-4 En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. 2 Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. 3 Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. 4 Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.
Die mens kon nou vleis eet, maar die bloed moes nie geëet word nie. Die Wet van Moses het die gebod op die eet van bloed ook uitgestippel. Hier is ‘n paar Skrifverwysings:
Lev 3:17 ‘n Ewige insetting is dit vir julle geslagte in al julle woonplekke: géén vet en géén bloed mag julle eet nie.
Lev 7:26-27 Ook mag julle géén bloed van voëls of van vee in enigeen van julle woonplekke eet nie. 27 Elkeen wat maar enigsins bloed eet, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
Lev 17:10-14 En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit. 11 Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel. 12 Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie. 13 En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n stuk wild of ‘n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak; 14 want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.
Deu 12:16 Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.
Maar ons leer ook dat die Wet wat deur Moses gegee was, was nie bedoel om enigiemand regverdig voor God te maak nie, omdat dit juis bedoel was om die mens se sondige toestand uit te wys:
Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Met hierdie kennis is die betekenis van die aardse dinge baie duideliker. Vlees in alle vorme is ‘n tydelike skepping, en ons moet weet dat God iets baie meer blywend gaan skep.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Hier is hoe God hierdie boodskap deur die mond van die profeet Jeremia uitgedruk het:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Ons moet eerste deur hierdie tydelike skepping baie belangrike lesse leer, voordat ons in die “ander voorwerp” wat “reg is” in God se oë, gemaak sal word. Ons moet eers “groen plante” eet in ons tyd van geestelike onvolwassenheid voordat ons na die vaste spys geneem word deur God. Ons drink eers geestelike melk as ons alles verstaan deur ons natuurlike denke:
Rom 14:1-2 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. 2 Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.
Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. 13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Wanneer God ons op Sy vaste spys-dieet plaas, dan verstaan ons dat ons vlees sonde is, en God het ons doelbewus “in sonde”gemaak:
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Die bloed van die vlees gee aan die vlees daardie lewe om voort te gaan in sonde. Die verbod op die eet van bloed het dus ‘n dieper boodskap ingehad wat die mense nie aanvanklik verstaan het nie. Ons aardse mens se denke kan nie God se geestelike dinge verstaan nie, en het tot gevolg dat ons fokus eers net op die aardse dinge:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Maar wanneer ons groei tot volwassenheid, dan bring God aan ons Sy openbaringe wat ons geestelike perspektiewe uitbrei, en ons begin die groot prent sien:
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Johannes beskryf die ontwaking in ons as ‘n “geopende deur in die hemel”…
Open 4:1 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.
Ons leer dat die vleeslike dinge en ons natuurlike begrip van dinge van geen nut is nie, soos Jesus dit ook pragtig genoem het:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Dit is juis in hoofstuk 6 van Johannes se evangelie waar Jesus hierdie skokkende woorde vir die vleeslike Jode van Sy dag gespreek het, en wat tot vandag nie deur die natuurlike denke van die mens verstaan kan word nie:
Joh 6:48-59 Ek is die brood van die lewe. 49 Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. 50 Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. 52 Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? 53 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. 54 Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 55 Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. 56 Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58 Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. 59 Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het.
Jesus sê nie net dat ons Sy liggaam moet eet nie, maar ook Sy bloed moet drink! Dit was skokkend vir Jesus se Joodse gehoor, en dit is nog skokkend vandag as mense die woorde op ‘n natuurlike wyse wil verstaan en toepas. Om fisiese brood te eet en wyn te drink by ‘n sogenaamde nagmaaldiens is steeds ‘n vleeslike interpretasie van die woorde van Jesus. Ons drink Sy bloed en eet Sy liggaam op ‘n onwaardige manier as ons aan die natuurlike toepassings vashou.
1Kor 11:27-32 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. 28 Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. 29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. 30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
Op een vlak is die negatiewe toepassing van die drink van die bloed van Jesus dat ons almal skuldig is aan Sy dood:
Mat 26:27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
Ons is moordenaars van Jesus as ons Sy waarhede verwerp en Sy leer haat:
1Jn 3:15 Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
As ons ‘n persoon haat, dan is ons ‘n moordenaar en God eis die lewe van daardie persoon van ons…
Gen 9:5-6 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. 6 Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.
Ons moet die vleeslike begrippe vervang met die geestelike begrippe. Ons moet die leuens en valse leerstellings verlaat en die waarheid in gees aankleef. Ons moet die vleeslike Jesus verlaat en aan die verese geestelike Jesus kleef, en dan sal ons die ware lewe ervaar en alles en almal anders sien. Dit is die positiewe toepassing van die bloed van Jesus…dit maak alles in ons nuut!
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Deur die verese Jesus Christus in gees het God ‘n totale nuwe vlak van begrip oopgemaak, vir hulle wie Sy Woord as primêr geestelik verstaan. Daar is ‘n fisiese toepassing in God se Woord, maar dit is gegee om ons in te lei en ons basiese begrippe te gee van God se werke in hierdie skepping:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Die aardse bloed is ‘n gelykenis van ‘n dieper waarheid. Wat God werklik vir Israel gesê het, was dat die ware lewe nie in aardse bloed was nie, maar in Sy Woord. Sy Woord is die geestelike bloed wat ware lewe bring. Hy was hulle lewe, en hulle moes op Hom vertrou. Hiermee maak Jesus Sy volgelinge vry om Sy woorde as gees en lewe te ervaar. Sy liggaam en Sy bloed is Sy Woorde wat Hy spreek en alles wat in die Skrifte vir ons opgeteken is.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Daarom is die verbod op eet van vleis met bloed nie meer op hulle wie in Christus glo van toepassing nie. Dit is nie wat ons fisiese inneem wat ons onrein maak nie…
Mat 12:33-37 Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. 34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. 35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.
Mar 7:14-16 En Hy het die hele skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister almal na My en verstaan. 15 Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak. 16 As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor!
Die geestelike koninkryk van God gaan oor baie dieper dinge in ons harte:
Rom 14:17 Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.
Tit 1:14-16 en hulle nie besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie. 15 Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel. 16 Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.
Sommige mense het selfs die gebod op die eet van bloed nog verder verdraai volgens hul natuurlike begrippe en selfs dit op bloedoortappings toegepas. Dit is hoe absurd die natuurlike denke kan word in sy tyd van geestelike duisternis. Die ontvangs van bloedoortappings word geensins verbied in die Skifte nie, maar dit berus op ‘n persoon se eie keuse. Mense wat ander mense se lewe wil bemoeilik, maak hulle gewoonlik skuldig aan die oortredings van groter gebooie in die Skrifte omdat hulle dinge inlees (byvoeg) by die Skrifte…
Deu 4:2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
Open 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Niemand kan oor ‘n ander se geloof heers nie, omdat dit die Vader is wat daaroor heers, en aan elkeen ‘n maat van geloof gee waarmee die persoon God eer:
2Kor 1:24 nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
As ons ook weet dat die menslike embrio in die baarmoeder vir die eerste drie weke afhanklik is van die bloedsomloop van die moeder voordat die embrio sy/haar eie hart ontwikkel het en sy/haar eie bloed gevorm was, dan ontvang die embrio inderdaad die bloed van die moeder. God het dit so bepaal. Om die gebod op die “eet” van bloed met bloedoortapping te vergelyk spreek van onkundigheid. Sommige mense is daarop uit om ander mense se lewens te bemoeilik, en oor ander se geloof te heers, soos hulle ook die volgende woorde van Jakobus verkeerd lees…
Hand 15:19-20 Daarom oordeel ek [Jakobus] dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, 20 maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.
Die verwysing na die onthouding van bloed, staan saam met die onthouding van dit wat afgode-dienaars doen. Afgode-dienaars hoereer geestelik, en hulle eet die vleis en die bloed van diere-offers wat selfs verwurg was. Jakobus en die kerk het saam met die gees van God ‘n reëling gemaak dat nie-Jode nie die Joodse tradiese hoef te hou om saligheid in Christus te verkry nie. Hulle moet hulself weerhou van die afgodeoffers wat wanpraktyke van slagtings van diere ingesluit het. Ons herhaal die reëling wat alles verband hou met die slagting van diereoffers…
“…dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.”
Die gelowige in Christus sien die groter prent, en leef met omsigtigheid in die wêreld, veral in die teenwoordigheid van ander wat mag aanstoot neem oor die eet van vleis wat bloed bevat. Eet liewers sulke vleis by die huis:
1Kor 10:23-26 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie. 24 Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander. 25 Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. 26 Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.