[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
Agtergrond:
God het “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon”:
Hand 17:26-29 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. 29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
Alle mense is “die geslag van God” en ons leer deur die aardse ervaring baie dinge wat ons nodig kry in die proses om in God se ewe beeld geskep te word. Dit is reg, die vleesmens is nie volmaak in die geestelike ewebeeld van God nie, soos die oorspronklike Hebreeuse teks van Genesis 1 ook vir ons aandui:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [Hebreeuse werkwoord is “âśâh” wat in die Hebreeuse Qal stem is in die onvoltooide handeling of aksie uitbeeld] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Daar staan dit geskryf, vir hulle wat dit kan ontvang. Die “maak” van mens in God se ewebeeld is ‘n proses wat begin by die aardse vleesmens, en eindig in die hemelse geestelike skepping van God! God is gees! Hy het nie gees nie, HY IS GEES EN VOLMAAK. Vlees daarenteen is NIE gees nie en onvolmaak, en NIE in God se ewebeeld nie.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Ons as mens is “die geslag van God” in vlees en bloed, en ons vlees kan nie God se geestelike koninkryk ingaan nie. Kom ons lees weer…
“Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie”
Alle aardse mense word tot op hede geskep in die aardse beeld van die “eerste Adam”, wat uit die stof van die aarde geskep was:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Die aardse liggaam is ‘n wonderbaarlike skepping van God uit die moederaarde, en ons bewonder en hanteer dit met groot ontsag.
Psa 139:13-16 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Nie net is ons aardse liggaam ‘n kunstige skepping nie, maar God het ook al ons dae en alles wat daarin gebeur vooruit bepaal. Hy weet wat Hy doen. Ons leef van een sekonde tot die volgende sekonde, en ons ken wat gister gebeur het. Dis al. Die toekoms weet ons niks van nie. Ons vind eers uit wanneer dinge gebeur. So het ons mettertyd ook uitgevind van ons kunstig geweefde liggaamsdele en wat die funksie van elke deel is. Selfs die grootste kenners op die mediese vlak is nog besig om nuwe dinge van die mens se liggaam uit te vind. Wat ‘n ontdekkingstog. So vind ons ook nog meer uit van die belangrike vloeistof wat in ons are vloei, wat as die bloed geken word. Die mens se bloed is sy lewenslyn, en sonder bloed kan die aardse liggaam nie funksioneer nie. Bloed vervoer suurstof en voedingstowwe deur die liggaam, en help ook om afvalstowwe te verwyder. Die bloed reguleer ons liggaamstemperatuur en help ons om infeksies te beveg. Mense val in verskillende bloedgroepe, maar elke persoon se bloed het unieke biologiese kenmerke, soos ons vingerafdrukke uniek aan ons is. God dupliseer inderdaad nie, en die bloed wys dit weereens vir ons! Die embrio/fetus ontwikkel sy/haar eie bloed ongeveer drie weke na bevrugting plaasgevind het. Hierdie uniekheid van die bloed in ‘n mens is ‘n wonderwerk van God. Tydens swangerskap ontwikkel daar ‘n totale verwydering tussen die bloed van die ma en die bloed van die embrio/fetus. Die ongebore baba word deur die naelstring aan die plasenta verbind en al die nodige voedingstowwe, suurstof en lewensondersteuning van die moeder se bloed gaan deur die naelstring wat aan die plasenta gekoppel is, terwyl al die afvalstowwwe ook op die manier uit die ongebore baba se liggaam verwyder word. Weereens kan ons saam met Dawid uitroep…
Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!
As ons vleeslike ontwikkeling ‘n leersproses en ontdekkingstog is, soveel meer kan ons sien uit ons geestelike ontwikkeling, veral ook as dit kom by die tema van bloed. Ons bloed is belangrik in ‘n aardse sin, maar nog baie meer in ‘n geestelike sin. Daarom is die tema van bloed (en in besonder die konsep van bloedvergieting) een van die sentrale temas in die Skrifte, van Genesis tot Openbaring. Ons het spesifiek gefokus op die konsep van bloedvergieting in die Skrifte. Alles begin in die boek van Genesis waar God vir Adam en Eva ‘n kleedbedekking van vel gemaak het, waar die vel afkomstig was van ‘n dooie dier wat vir die doel sy lewe verloor het. Die beginsel wat daar vasgelê was, is dat sonder bloedvergieting daar geen vergifnis van sonde is nie. Die vel dien as bedekking vir naaktheid (naaktheid simboliseer sonde):
Gen 3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.
Heb 9:22 … en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
Ons studiereeks oor die tema van bloed in die Skrifte was as volg ingedeel:
- Deel 1 was ‘n kort algemene oorsig oor die tema van bloed in die Skrifte.
- In Deel 2 het ons gekyk hoe die beginsel dat bloedvergieting ‘n sentrale aspek in ons vergifnis van sonde inneem.
- In Deel 3 was die fokus op die vraag hoe ons almal skuldig is aan die bloed van Abel, en ook die dood van almal God se boodskappers, insluitend die dood van Jesus Christus.
- In Deel 4 het ons gekyk na die geestelike betekenis van die verbod van bloed in die dieet van mens.
- In Deel 5 het ons ondersoek hoe bloedvergieting deur diere offers verbind is aan danksegging en belofte.
- In Deel 6 kyk ons na die verbintenisse tussen bloed en verbondskappe, en belig die diep geestelike betekenisse wat dit vir ons inhou te belig, soos God wil. Ons begin by die verbond wat God met Abraham gemaak het in Genesis (in sewe artikels dek ons verskeie aspekte wat ons uit die volgende Skrifteks kry – u kan dit lees by die volgende skakels: eerste aspek, tweede aspek, derde aspek, vierde aspek, vyfde aspek, sesde aspek, sewende aspek):
Gen 15:9-21 En Hy [God] antwoord hom [Abram – later Abraham genoem]: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. 10 En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. 12 En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. 13 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. 17 En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. 18 Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Ons het ook gekyk na hoe bloedvergieting voorkom in die verbond van God met Israel, soos vervat in die Wet wat deur Moses gekom het. Ons het veral gekyk na die vyf hoofoffers:
- Die brandoffer
- Die spysoffer
- Die dankoffer (insluitend is die lofdankoffer, die gelofte-offer en die vredesoffer)
- Die sondoffer
- Die skuldoffer
Twee groepe offers wat hierby aansluit was die Drankoffer en die Versoensdagoffers. Lees hiervan by die volgende skakels:
Die geestelike betekenis van die twee bokramme in die offers op die Groot Versoensdag.
In Deel 7 het ons gekyk na wat dit beteken dat ons nie die bloed van vlees moet drink nie, en waarom ons dit wel drink en die gevolge daarvan.
Ons fokus is bloedvergieting, waar die Skrifte ons voorberei dat ons ons aardse lewe sal moet prysgee om die nuwe lewe in die gees van Christus en Sy Vader te kan ontvang. Vervolgens kyk ons kortliks na wat dit beteken dat Jesus se bloed in die heiligdom is.
Jesus se bloed in die heiligdom
Kom ons lees die volgende verse biddend deur en kyk wat God vir ons wil sê…
Heb 9:11-12 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
Die aardse weergawe van hierdie taak van ‘n hoëpriester was genoem onder die wet van Moses:
Lev 16:2 en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.
Lev 16:14-20 En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. 15 Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. 16 So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon. 17 En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel. 18 Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van die HERE is en daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk 19 en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel. 20 En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom;
Lev 16:29-31 En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef. 30 Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word. 31 ‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is ‘n ewige insetting.
Hierdie ritueel moes plaasvind op die groot versoendag wat God vir die volk van Israel voorgeskryf het. Die aardse hoëpriester van die volk Israel het in ‘n fisiese tabernakel/tempel gewerk en moes die bloed van diere in die heiligdom inneem op die groot versoensdag vir die volk van Israel, een keer ‘n jaar. Jesus het hierdie ritueel volbring in gees, en het versoening gedoen vir die sonde van die hele wêreld. Ons hemelse Hoëpriester, Jesus Christus, werk binne die geestelike tabernakel/tempel, en Hy het Sy eie bloed in die geestelike heiligdom ingeneem, een keer vir al tyd. Hy het dit gedoen vir alle mense:
Heb 9:11-12 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
1Jn 2:1-2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
1Pe 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring…
As ons glo dat die heiligdom waarin Jesus gegaan het ‘n “regtige plek” is “bokant die aarde” wat agter die verste en laaste sterrestelsel in hierdie heelal bestaan, dan is ons geestelike kennis beperk tot aardse begrippe. Dan kan ons nie die geestelike dinge van God aanneem nie want ons natuurlike denke beperk ons. Ons natuurlike mens se denke kan die “dinge van die gees van God” nie verstaan nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Ons natuurlike gedagtes kan nie anders as om te glo dat God in ‘n letterlike plek bly, en op ‘n letterlike troon sit…in ‘n letterlike tempel…in ‘n letterlike stad met letterlike goue strate en engele wat rondvlieg met letterlike vlerke. Ons natuurlike denke skilder dit alles vir ons as ‘n baie mooi, rustig plek met ‘n “heilige” voorkoms. Maar alles is gebaseer op ‘n natuurlike verwysingsraamwerk. Die ware konsep van “hemel” is een van die dinge wat Jesus vir Sy uitverkorenes duidelik maak in Sy Woord, en daardie Woord is gees en dit bring die waarheid na ons:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
God se Woord is gees, en Hy is gees. Hy het geen nut vir natuurlike dinge nie. Ons natuurlike denke is vir Hom ook van geen nut nie, daarom gee Hy aan Sy kinders Sy geestelike denke. Dit is deur Sy geestelike denke dat ons Hom kan ken en aanbid:
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Kor 2:15-16 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
God is gees en Hy het nie ‘n “regte plek” nodig wat ons aardse denke opdis nie. Niks (geen plek) kan Hom “bevat” nie:
2Kron 2:6 Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?
Die hemel is ‘n geestelike dimensie wat geensins ooreenkom met ons aardse konsepte nie. God het in die begin ook die hemel geskep toe Hy hierdie skepping na vore gebring het:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
God het geen begin nie, maar ons sien duidelik dat die hemel ‘n begin het. Die huidige hemel het ook ‘n einde:
Mat 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Open 21:1 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.
2Pe 3:7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.
Die teenswoordige hemel is ‘n tydelike skepping waarin God met ons werk. God het die hemel geskep IN ONS. God skep en bewoon die hemel om ons daar te “ontmoet” en daar met ons te werk. Maar waar het God hierdie ontmoetingsplek /werkplek, die hemel, gemaak? Paulus gee die antwoord baie duidelik vir diegene wat dit kan ontvang!
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle WOON nie?
Ons is Sy tempel….ons is Sy woonplek. God is hier by ons, so naby dat die mens Hom kan aanraak. God se hemel is IN die mens, en die natuurlike mens se denke kan dit net nie aanneem nie. Die natuurlike mens soek daar buite, daar ver. Die natuurlike mens wil God se ver as moontlik uit sy lewe hê. Hy is die “onbekende God” vir die natuurlike mens, soos Paulus ook vir die Grieke daar in die Areópagus wou verduidelik…
Hand 17:22-29 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. 23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. 24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. 26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. 29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
God lewe IN ons, Hy beweeg IN ons, en Hy IS in ons. Maar die mens weet dit nie. Die hemel wat God IN ons gemaak het, en waar HY IN ons werk, word beskryf as ons DENKE. Ons hemel is eers vuil en vol booshede, net soos die mense wat aan die begin in die Skrifte aan ons bekendgestel word. Kyk wat was alles in Adam en Eva se denke:
Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Dit stem 100% ooreen met alles wat in die wêreld is!
1Jn 2:15-16 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Die mens se hemel (denke) is inderdaad boos van Sy skepping af, en God weet dit want Hy het dit so gemaak:
Gen 6:5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.
Job 15:15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie.
Die eerste pot wat die Pottebakker maak misluk doelbewus in die hand van die Pottebakker, net soos God aan Jeremia gewys het, en wat neergeskryf was vir ons lering:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Maar God het ‘n plan waarvolgens Hy werk. Die tweede pot sal “reg” wees, soos die Pottebakker ook elke mens sal herskep in volmaakte gees:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Die Pottebakker gaan die hemele suiwer maak, en Hy neem elke mens op sy tyd deur die reinigingsproses.
Heb 9:23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.
Die “hemelse dinge” is die mense waarmee Jesus werk op die tyd soos die Vader bepaal:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Jesus sal almal reinig met Sy bloed:
Heb 9:24-28 Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; 25 ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, 26 want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen. 27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, 28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.
Hulle wie in Christus opgeneem word, sit met Hom in die hemel. Dit is wat NOU gebeur vir hulle aan wie God Sy gees en waarheid openbaar:
Efes 2:6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.
Die hemele waar Christus se Sy kinders saam sit, is die hoogste hemel waar God Sy denke met hulle deel aan wie Hy Homself openbaar. So stel Paulus daardie denke (hemel):
2Kor 12:1-4 Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. 2 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. 3 En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— 4 dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
1Kor 2:13-16 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
Die “sin van Christus” is Sy denke, en dit kom na ons deur Sy Woord:
Joh 6:63 …die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Joh 14:21-24 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.
Die Woord van God is Sy bloed wat ons Sy gees en Sy lewe gee. Nou kan ons verstaan wat bedoel word met die volgende woorde:
Heb 9:11-12 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
As God ons geestelike oë open, dan kan ons “sien” waar Sy heilige tabernakel/tempel/hemel/troon is.
Open 4:1-11 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. 5 En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; 6 en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. 7 En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg. 8 En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! 9 En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10 val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: 11 U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
Ons kan dan ook sien wat die bloed is wat Hy in Sy heiligdom inbring. Elkeen moet vir hom/haarself persoonlik vra: “Is die bloed van Jesus in my heiligdom?”
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle WOON nie?
Efes 5:25-27 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het 26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, 27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
1Pe 1:2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!
1Pe 1:18-19 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
1Jn 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
1Pe 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.