[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]
In die begin het God twee domeine daargestel waarbinne mens sy lewe sal uitleef, en dit word as volg uitgebeeld:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Die mens ervaar die “hemel” as die “onsigbare dinge” van God (die geestelike dinge) wat in ons denke opereer, terwyl die “aarde” die sigbare / tasbare dinge verteenwoordig. Die mens raak eers bewus van sy sigbare / vleeslike bestaan voordat ons die onsigbare dinge (die geestelike dimensie in onsself) ontdek. Die vleeslike dinge is juis geskep sodat ons ‘n basiese begrip van die geestelike dinge van God kan verkry:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Daar is dus ‘n leer- / groeiproses betrokke waar ons begin by die bekende dinge, en dan beweeg ons na die onbekende dinge. Ons begin in vlees en ons sal eindig in gees. Ons raak eers geheg aan ons vleeslike lewe, maar om die geestelike lewe te verkry moet ons die vleeslike lewe verlaat. Ons lewe eers die lewe van die “eerste mens, Adam” voordat ons hierdie aardse lewe sal moet opoffer om die lewe in die gees deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, te verkry:
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Hierdie oorgangsproses van vlees na gees gaan inderdaad gepaard met groot lyding en opofferings. God gebruik weereens tydelike beelde om hierdie proses vir ons verstaanbaar te maak. Onder die ou verbond was aardse dinge gebruik om die geestelike dinge verstaanbaar te maak. So byvoorbeeld was diere gebruik om ons eie aardse lewe uit te beeld. Sonder hierdie insig sal ons fokus op diere bly en ons sal nie onsself reg sien nie:
Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
Ecc 3:18 (KJV) I said in mine heart concerning the estate of the sons of men, that God might manifest them, and that they might see that they themselves are beasts.
God het geen behae in die dood van diere nie:
Jes 1:11 Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
Amo 5:21-22 Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. 22 Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie.
Die offer van ‘n dier is dus nie die beeld van ‘n plaasvervanger soos baie wil glo nie, maar eerder ‘n tipe van onsself. Ons sal ons eie vleeslike lewe moet opoffer om die geestelike lewe deelagtig te word. Jesus stel vir ons die voorbeeld van die hele proses deur mens te word en deur die hele pynlike proses te gaan, voordat Hy opgeneem was om by die Vader te wees in gees. Hy is ons Hoëpriester wat dieselfde pad moes stap om ons nou te help om ook die proses in ons eie lewe te verstaan:
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Heb 5:5-9 So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. 6 Soos Hy ook op ‘n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. 7 Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs— 8 Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; 9 en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword
Jesus het die proses deurgegaan om ons die pad te wys en ons te help om dit te voltooi.
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 16 Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. 17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Die valse leer van Jesus as plaasvervanger vir ons is van alle waarheid ontbloot! Jesus gaan VOOR ons uit, en dit is wat die Griekse woord “huper” in die volgende vers wil uitlig…
1Pe 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir [Grieks: “huper” = voor] die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees.
Jesus is die eersteling van die gees, Hy het VOOR ons die pad gestap van die dood en kom nou IN ons leef om ons te help om ons eie kruis op te neem. Dit is wat die Wysheid, Jesus Christus, in ons kom openbaar:
Spr 8:22 Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.
Jesus is die gees van waarheid wat Hy van die Vader gekry het om aan ons te skenk…
Joh 14:15-29 As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. 25 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. 27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. 28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek. 29 En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur.
Daarom het die Vader vir Jesus opgewek as bewys aan ons dat God ook aan ons Sy hulp bied om dieselfde proses suksesvol te voltooi!
1Kor 15:20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
Dit is die ware en enigste evangelie van ons Here Jesus Christus…
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.
1Kor 15:12-22 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. 20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. 21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. 22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
Die wette van die offers onder die ou verbond is dus baie insiggewend vir hulle wie die geloof geskenk word om te sien dat hierdie offers alles na Jesus verwys, en dat ons SAAM met Jesus sterf en SAAM met Hom opgewek word op die tyd soos die Vader bepaal het:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Joh 12:24-26 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. 26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
Wat met Jesus gebeur het, gebeur met ons, en dit maak Sy liefde vir ons persoonlik en volmaak:
1Jn 4:17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
Alles wat tevore geskrywe was in die Skrifte moet nie ligtelik opgeneem word nie. Alles is toepaslik op ons eie lewe, maak nie saak waar of op watter tydstip mens lewe nie:
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
Ons leef van elke woord van God, en baie min mense kan die volgende woorde van Jesus waardeer:
Mat 4:4 …Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Die woorde wat God na ons bring is baie belangrik om van kennis te neem, eerstens op die vleeslike vlak (die “aarde”), maar die vleeslike vlak help ons om die geestelike vlak (die “hemel”) te verstaan. Aan die einde van die proses is die vlees van geen nut nie want dit is die gees van God wat ons die ware lewe gee:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
God bewerkstellig dit alles IN ons hemel, en ons “werk” dit UIT op ons aarde:
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Onder die wet van die offers onder die ou verbond was vyf hoof-offers geidentifiseer.
- Die brandoffer
- Die spysoffer
- Die dankoffer (insluitend is die lofdankoffer, die gelofte-offer en die vredesoffer)
- Die sondoffer
- Die skuldoffer
Hierdie vyf offers word in twee groepe verdeel:
- die eerste drie offers (die brandoffer, die spysoffer en die dankoffer) word elkeen in hul geheel as ‘n “lieflike geur” offer bestempel;
- die ander twee offers (die sondoffer en die skuldoffer) word nie in geheel as “lieflike geur”offers bestempel nie omdat sonde en skuld (oortredings) betrokke is – net die vet wat gebrand word in die sondoffer word ‘n lieflike geur vir die Here:
Hierdie offers kon net op een plek, by die tempel in Jerusalem, gedoen word. Daar is egter ‘n probleem: die tempel was in 70nC vernietig deur die Romeine en die offers van diere kon nie op ander plekke gedoen word nie, volgens God se opdrag. Maar dit alles was volgens God se plan, soos Jesus ook duidelik maak aan Sy dissipels:
Mat 24:1-2 En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. 2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
Joh 4:19-24 Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. 21 Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Vir hulle wie God nou eenkant roep tot Sy koninkryk (“Sy dissipels het nader gekom”) bring Hy nou tot die ware tempel in gees en Hy wys hulle die nuwe Jerusalem:
Gal 4:21-31 Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? 22 Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. 23 Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. 24 Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar; 25 want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. 26 Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal. 27 Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het. 28 Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; 29 maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. 30 Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. 31 Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.
Die geestelike koninkryk van die hemele word nou in die volgelinge van Jesus opgestel:
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Die Hebreeuse woord vir offer is “qorbân” wat te doen het met intimiteit, iets wat naby gebring word. God bring ons nader aan Hom deur ons vleeslike skeidsmuur uit die weg te ruim deur die dood van ons ou vleesmens:
Jes 59:2 maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
Efes 2:11-22 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. 17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; 18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. 19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.
In hierdie reeks studies oor die vyf offers sal ons elkeen van die offers apart bespreek en die ryk lesse vir ons eie lewe daaruit leer, soos God wil.