Die sleutels tot die koninkryk van die hemel – Deel 7 [Mike Vinson]

Hierdie is ‘n vertaling van ‘n reeks studies in Engels deur Mike Vinson getiteld “The Keys to The Kingdom of Heaven” on the website http://www.iswasandwilbe.com. Hier is die skakel na die oorspronklike studie: https://www.iswasandwillbe.com/the-keys-to-the-kingdom-of-heaven-part-7/

“Die eerste mens, Adam… Die laaste Adam…”

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 

Inleiding

Ek het al dikwels gesê die hele Bybel (die hele Skrif), of dit nou van individue of nasies praat, is eintlik net gemoeid met ‘n voorafbepaalde belangrike stryd tussen twee persone, en daardie twee persone is “die eerste mens Adam … [en] die laaste Adam ”. Die eerste mens, Adam, is fisies, tydelik en boos, en die laaste Adam is geestelik, permanent en regverdig.

Nog ‘n manier om hierdie stryd uit te druk, is die proses van “aflegging” van die “oue mens” en die “bekleding” van die “nuwe mens”, soos dit uitgedruk word in die volgende verse:

Efes 4:22-24 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,  23  en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed  24  en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

In ons studie vandag sal ons ‘n paar van die voorbeelde en die Skrifte gee wat die eenvoud van hierdie “sleutel tot die huis van Dawid” sal bevestig.

Ons moet oplet dat die eerste mens, Adam (die “oue mens”), inderdaad eerste is en dat hy lewe en “ryk en verryk geword [het]” (Open 3:17), en oud word lank voordat die “nuwe mens”, die jonger man, begin om die sterwende “oue mens” te vervang. Die ou mens ontwikkel vinnig tot ‘n magtige nasie met baie stede en ‘n hoofstad, lank voordat die nuwe mens begin floreer.

Die verhaal van hierdie twee persone word uitgebeeld deur die skepping van die boom van die kennis van goed en kwaad wat Christus reg in die middel van die tuin van Eden, reg langs die boom van die lewe, geplaas het:

Gen 2:9  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Dit is belangrik om daarop te let dat die boom van die kennis van goed en kwaad en die boom van die lewe beide deur Christus in die middel van die tuin van Eden geplaas was. Dit is ook baie belangrik dat ons weet dat beide hierdie bome “uit die grond” kom. Wat dit vir ons sê, is dat dit in die aarde is waar God Sy groot werk begin om die kroonjuweel van Sy skepping in Sy “paradys” te plaas (Open 2:7).

Dit begin as “die eerste mens, Adam”, ‘n fisiese mens in ‘n fisiese tuin, maar dit eindig met “die laaste Adam” wat ‘n geestelike mens is in ‘n geestelike liggaam in ‘n geestelike tuin.

Hier is die begin en die einde van wat God deur Christus doen:

Gen 2:7-9  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.  8  Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.  9  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Rom 5:14  Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat ‘n voorbeeld is van Hom wat sou kom.

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Open 2:7  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Christus se ‘tuin’ is Sy heiliges in wie Hy woon. Hy is die “boom van die lewe”, en dit is Hy wat in die middel van sy tuin is, want ons word vertel “Sy erfdeel [is] in die heiliges”:

Efes 1:18  verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;

Die saad van die vrou en die saad van die slang

Die twee persone van die hele Skrif

Hierdie openbaring van “die eerste Adam” en “die laaste Adam” word aan ons voorgestel aan die begin van die eeue, terwyl ons oorspronklike ouers nog in die tuin van Eden was:

Gen 3:14-15  Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.  15  En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

“Jou saad en haar saad” – diegene aan wie oë gegee word wat “die dinge van die gees” sien, weet dat “die eerste mens Adam” die slang se “saad” (geslag) is. Die “saad” (geslag) van die vrou, daarenteen, is Christus, “die laaste Adam”. “Jou saad” staan ​​inderdaad bekend as “die saad” van die slang, of soos Christus dit gestel het, “Julle het die duiwel as vader”:

Joh 8:43-44  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.  44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Die slang was ‘n moordenaar “van die begin af”. Hy het nie begin as ‘n regverdige engel wat toe teen Sy Skepper gerebelleer het, soos diegene wat Esegiël 28 en Jesaja 14 verdraai, wil hê ons moet glo nie.

Dit is van uiterste belang dat ons besef dat toe Christus gesê het: “Julle het die duiwel as vader”, Hy nie met die skrifgeleerdes en Fariseërs gepraat het wat nie in Hom geglo het nie. Hierdie woorde was gerig aan “daardie Jode wat in Hom geglo het”:

Joh 8:30-31  Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.  31  En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Dit is diegene wat in Hom glo maar “nie [Sy] woord kan hoor nie”, wat nie “in [Sy] woord bly [voortgaan] nie”. Wat dit openbaar, is dat om in Hom te glo en nie in Sy woord te bly nie, dieselfde is as om “die saad” (die geslag) te wees van “die god van hierdie wêreld”, wat dieselfde is as om “die duiwel as vader” te hê.

2Kor 4:4  naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.

Wat dit aan ons openbaar is dat ons die duiwel aanbid wanneer ons ons eie vlees aanbid en dien. Wat die skrifte leer, is dat wanneer ons ons eie ‘dierlike’ self aanbid, ons in werklikheid “die draak” aanbid wat sy mag aan “die dier” gee:

Open 13:4  En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?

Om te verstaan ​​wat dit beteken om “die duiwel as vader [te hê]… is om in Christus te glo, maar nie “te bly in Sy woord nie”, en om te verstaan ​​dat “die eerste mens, Adam…[ons] oue mens” is. Hierdie kennis is nog een van “die sleutels tot die koninkryk van die hemele”.

Kain en Abel

Kort nadat die eerste mense, Adam en Eva, uit die tuin van Eden gewerp is, word ons weer gewys op die stryd tussen die saad van die vrou en die saad van die slang, die eerste en die laaste Adam, in die verhaal van Kain en Abel.

Gen 4:8-10  En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.  9  Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?  10  En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.

Die bloed van Abel tipeer die bloed van Christus. Die stryd tussen Kain en Abel tipeer die stryd tussen die eerste en die laaste Adam. Die bloed van beide Abel en Christus eis geregtigheid, en God is ‘n regverdige God wat Homself aan alle mense bekend sal maak, en op die vasgestelde tyd sal Hy wraak neem op ons ou “eerste mens Adam”.

Rom 12:19  Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.

Open 6:9-10  En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.  10  En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?

“Die bewoners van die aarde ” is die vlees van alle mense, insluitend die vlees van God se uitverkorenes.

Daar is ‘n vasgestelde tyd wanneer alle mense geskei word: wie God dien en wie Hom nie dien nie.

Mal 3:15-18  En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!  16  Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.  17  En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.  18  Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.

Die dag is reeds vasgestel. Dit word individueel binne-in elke persoon aangewys, en dit is ‘n aangewese dag wat ook uiterlik sal plaasvind. “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” Dan sal die eerste Adam van die laaste mens Adam onderskei word vir almal om te sien en te ken.

Abraham en Lot

Alhoewel dit waar is dat Egipte hierdie wêreld tipeer en Farao, die koning van Egipte, meestal die mens van sonde tipeer, word aan Farao ook ‘n positiewe toepassing in die Skrif gegee. In die verhaal van Josef tipeer die Farao God die Vader, wat die koninkryke van hierdie wêreld oorgee om deur Christus en Sy uitverkorenes regeer te word. Sonder om in diep besonderhede in te gaan, is daar nog ‘n sleutel tot die koninkryk van God wat aan ons openbaar dat daar ‘n helder, positiewe toepassing op elke woord van God is, en terselfdertyd is daar ‘n donker, negatiewe toepassing op elke woord. Dit is ‘n onderwerp vir ‘n ander studie wat ons mettertyd sal doen.

Ek het dit alles gesê om Abraham en Lot voor te stel as ons volgende tipe van die eerste en laaste Adam. Terwyl Lot in ‘n positiewe sin genoem word as ‘n “regverdige man” in die volgende verse…

2Pe 2:7-8  en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense;  8  want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke—

Maar wanneer ons Lot se naam in die Ou Testament sien, word hy voorgestel as deel van die familie wat Abraham aangesê is om uit hulle te gaan en hulle agter te laat:

Gen 12:1  En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.

Abraham tipeer God se uitverkorenes wat eers traag is om God se woorde te gehoorsaam. In plaas daarvan om sy vader se huis te verlaat, is dit dus Abraham se pa, wat die “oue mens” tipeer, wat Abraham eers lei om Ur van die Chaldeërs te verlaat, waarvandaan hy net halfpad na Kanaän gaan, en stop om ‘n huis in Haran op te rig, wat steeds aan die Chaldeërs se kant van die Eufraatrivier is. Om gelei te word deur sy pa, wat hy aangesê is om te verlaat, word Abrahame hier gebruik om aan ons ons eie onvolwasse geestelike stadium uit te wys. Abraham het by die halfpadmerk stilgehou, en dit tipeer die “vleeslike… klein kinders in Christus” wat ons almal aan die begin van ons geestelike wandel is, soos Paulus ook aandui in die volgende verse.

1Kor 3:1-4  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,  3  omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  4  Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?

Tydens ons onvolwasse geestelike fase lei ons ou man ons steeds, en selfs nadat Abraham Haran verlaat het, klou sy vlees nog steeds. Hierdie toestand in ons eie lewe word getipeer deur die woorde: “en Lot het saam met hom getrek” oral waar Abraham gegaan het:

Gen 12:4  Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.

Gen 13:1  So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.

Gen 13:5  En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad.

Dit is wie ons as vleeslike klein kinders in Christus is, tot op die dag dat ons kan sien dat ons eenvoudig nie kan voortgaan in die ou gemeenskap met ons vlees nie, wat smag om in hierdie wêreld te bly soos hierdie volgende verse openbaar:

Gen 13:7-8  En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.  8  Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.

Die woorde “ons is mos broers” demonstreer die gehegtheid wat ons op hierdie stadium van ons wandel nog aan ons eie vlees het. Dit is ‘n tyd van groot stryd tussen hierdie twee persone (die ou mens en die nuwe mens) in ons. Dit is baie insiggewend dat hierdie skeiding tussen Abraham en Lot aangewakker was deur die stryd tussen die herders wat hul kuddes gevoed het. Wat daardie feit vir ons sê, is dat dit leerstellige kwessies is, aangaande daardie dinge wat die Here se kudde voed, wat ons sal skei van ons “oue mens” (die eerste mens Adam), wat ons fisiese, vleeslike families is.

Let op waarheen ons “verwante” (ons fisiese families) gaan wanneer hulle uiteindelik besef dat hulle nie meer saam met ons kan loop nie:

Gen 13:11-12  En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.  12  Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.

Ismael en Isak

Dit is eers nadat ons hierdie laaste breuk gemaak het met ons “vader se huis”, ons ‘ou man’ se huis, dat die hemele vir ons begin oopgaan en ons gegun word om baie meer van die Here se plan vir ons te sien:

Gen 13:14-17  En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste;  15  want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.  16  En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.  17  Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.

Hier is dieselfde belofte in Nuwe Testamentiese terme:

Open 21:7 Wie oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.

Paulus het hierdie verse oor Abraham se nageslag wat so talryk geword het soos “die stof van die aarde” gevoeg saam met al die verse wat vir ons sê dat Abraham se kinders so talryk sal wees “soos die sterre van die hemel”, en hy is deur die gees die openbaring gegee dat Abraham eintlik ‘n tipe van Christus was, wat “die erfgenaam van die wêreld” sou word en die vader van alle mense van alle tye sou wees:

Rom 4:13  Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.

Gal 3:29  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename..

Na die dood van Tera, Abram se pa, het Abram uiteindelik as ‘n vreemdeling en ‘n pelgrim in die beloofde land aangekom. Na Abram se aankoms in die beloofde land het die Here die beloofde land met ‘n hongersnood getref. Hongersnood is een van die Here se “kwaai gerigte” (Eseg 14:21). Ons word vertel dat oordeel uit die noorde kom (Eseg 9:1-2). Oordeel en hongersnood kom oor ons wanneer ons versuim het om gehoorsaam te wees. Dit het die dood van Abram se pa, die simbool van ons “ou man”, gekos voordat Abram gehoorsaam was aan wat die Here hom beveel het. Soos ons altyd doen wanneer oordeel oor ons kom, wil ons teruggaan Egipte toe, terug na die gemak van die wêreld om die pyn van die Here se oordele oor ons lewens te vermy, net soos Israel gedoen het. Dit is wat die “suide” uitbeeld as die teenoorgestelde van die “noorde” in geestelike terme. Ons reis na die “suide” is ons geestelike poging om die pyn van die oordele van God te vermy. Abram gaan dus af na Egipte waar hy sy vrou verloën en deur ‘n heidense koning vir sy leuens vermaan word.

Dit is hier in Egipte dat Sarai ‘n Egiptiese slavin as geskenk van die Farao ontvang, en dit is deur hierdie Egiptiese slavin, Hagar, dat Sarai en Abram saamstem om God te help om Sy belofte na te kom om Abram ‘n groot nasie te maak. Dit is die seun van Abram deur hierdie slavin wat ‘n ander tipe word van die ‘eerste Adam’, ons ‘ou man’. Dit is egter die seun van die vry vrou, Isak, wat “bespot [en] vervolg” was deur sy ouer halfbroer, wat as ‘n tipe van God se uitverkorenes. Isak was wonderbaarlik aan Abraham en Sara geskenk in hul oudag.

Gen 21:8-10  En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het ‘n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.  9  Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;  10  en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.

Gal 4:28-31  Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte;  29  maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.  30  Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.  31  Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.

In teenstelling met wat baie dink, praat die “seun van die slavin” nie van die fisiese Palestyne nie, en die seun van die vry vrou verwys nie na die fisiese Jode nie.

Die woorde “ons, broeders” word gerig aan heidense Galasiërs wat Christus as hulle Hoof en as hulle Verlosser aangeneem het, en die seun van die slavin sluit in “die teenswoordige Jerusalem [wat] met haar kinders saam in slawerny [is]”, soos Paulus dit duidelik maak in:

Gal 4:25-26  want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.  26  Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.

Die enigste ‘Jerusalem’ wat “die seun van die vry vrou [is]”, is die Jerusalem “wat daarbo is [wat] vry ​​is, [en] wat die moeder van ons almal is”.

In terme van hierdie studie is “die teenswoordige Jerusalem [wat] met haar kinders saam in slawerny [is]” die eerste Adam, ons ou man, wat nie die woorde van Christus kan hoor nie omdat hulle geestelik onderskei word”.

Joh 8:43-45  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.  44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.  45  Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.

Almal wat nog dink dat “die teenswoordige Jerusalem [wat] met haar kinders saam in slawerny [is]” nie Hagar die slavin is nie, is steeds in slawerny met fisiese Jerusalem en haar kinders, en hulle is almal die seuns van die slavin, want:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Jakob en Esau

Die eerste mens Adam word ook deur Esau getipeer, en die laaste Adam word deur Jakob getipeer. In hierdie verhaal van Esua en Jakob word Jakob aan ons voorgestel op die wyse wat die betekenis van sy naam vir ons bevestig, naamlik “vervanger”. Hy vervang eintlik sy broer Esau, net soos Christus ons ou, “eerste mens Adam”, vervang met “die laaste Adam, [ons] nuwe mens”. Met elke nuwe openbaring van hierdie twee persone vervaag die verskille tussen hulle meer en meer, en die verskille word moeiliker om te onderskei.

In die verhaal van Jakob en Esau word albei uit die vry vrou gebore, en albei is die seuns van Abraham. Dit maak dit baie moeiliker om die eerste Adam van die laaste mens Adam te onderskei. Christus en Sy uitverkorenes onderskei egter die stem van ‘n vreemdeling, die stem van die eerste mens Adam in teenstelling met die stem van die laaste Adam:

Joh 8:37-40  Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie.  38  Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het.  39  Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen;  40  maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.

Wat ons uit hierdie openbaring van hierdie twee persone leer, is dat die eerste mens, Adam, baie vinniger volwasse word as die laaste Adam. Beide Ismael en Esau word groot nasies met baie stede en hoofstede, lank voordat die tipe van die laaste Adam, Jakob, ‘n blote stam van “sewentig siele” word wat na Egipte aftrek om nog ‘n hongersnood te vermy:

Gen 25:16  Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.

Gen 36:9  Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr.

Gen 36:43  die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom, volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die stamvader van die Edomiete.

Eks 1:5  En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.

Die les vir ons is dat ons ou mens, die eerste mens, Adam, gebore word en tot volwassenheid groei as die dier wat hy is, voor ons nuwe mens, die laaste Adam, begin groei en ons ou, eerste mens Adam vervang.

Koning Saul en Dawid

Beide hierdie konings is deur dieselfde profeet, Samuel, gesalf, en as sodanig was albei “die Here se gesalfdes”. Samuel is aanvanklik tevrede met die eerste koning van Israel, koning Saul, wat kop en skouers oor al die ander in Israel gestaan ​​het.

1Sa 10:22-24  En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip.  23  Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk.  24  En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe!

Soos die boom van die kennis van goed en kwaad, is ons vleeslikgesinde, eerste mens Adam, fisies aantreklik, en altyd baie aanloklik vir ons vlees. Kyk maar na Abraham se reaksie toe hy ingelig is dat Isak vir Ismael sou vervang. Dit is presies hoe geheg ons aan ons eie vlees en bloed is:

Gen 17:18-21  En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!  19  Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.  20  Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ‘n groot nasie maak.  21  Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.

In hierdie laaste voorbeeld van hierdie twee persone as ‘n sleutel tot die verborgenhede van die koninkryk van die hemel, leer ons dat hierdie stryd tussen hierdie twee persone voortgaan tot in die ryk van God se uitverkorenes. In hierdie openbaring van hierdie twee persone, tipeer koning Saul God se verwerpte gesalfdes. Ismael was die nageslag van Abraham, maar hy was nie die seun van die vry vrou nie.

Esau was die seun van Abraham en is ook uit die vry vrou gebore, maar hy het nie waarde geheg aan wat aan hom gegee was nie, en soos Judas was Esau maklik deur Jakob, die bedrieër, van sy eersgeboortereg en sy seën beroof. In hierdie verhaal van hierdie twee manne is beide koning Saul en Dawid die Here se gesalfdes.

Een van die Here se gesalfdes, die eerste koning, koning Saul, tipeer “die uitverkorenes van die Here” wat die Here se “uitverkorenes” verraai en probeer vernietig as ’n tipe van diegene in ons midde wat vertroude raadgewers is, wat tog, soos Judas, deur God verwerp word, en aan die teëstander oorgegee word as sy werktuig om die Here se uitverkorenes te vervolg en te vernietig.

Koning Saul het twee keer ‘n spies na Dawid gegooi om hom dood te maak:

1Sa 18:10-12  Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ‘n spies in sy hand hou.  11  Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee.  12  En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het.

Koning Dawid, as ‘n tipe van God se ware gesalfde uitverkorenes. Dit is hulle wat belowe is dat hulle “deur alle mense gehaat sal word”. Dawid was sy eie vertroude raadgewer, Agitófel, verraai wanneer dawid se eie seun, Absalom, probeer om hom te vernietig:

2Sa 15:12-13  Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, ‘n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.  13  Toe daar dan ‘n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan—

2Sa 15:31  Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o HERE, verydel tog die raad van Agitófel!

Later het koning Dawid in die Psalms geskryf oor die pyn wat hy ervaar het toe sy eie vertroude raadgewer teen hom gedraai het:

Psa 41:8-10  Al my haters tesame fluister onder mekaar teen my; teen my bedink hulle my onheil en sê:  9  Iets skandeliks is op hom uitgestort; en nou dat hy lê, sal hy nie weer opstaan nie.  10  Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.

Dan weer in:

Psa 55:13-15  Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek;  14  maar jy, ‘n man soos ek, my vriend en my vertroude!  15  Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare.

Dit het alles met koning Dawid gebeur, en dit is geskrywe tot ons lering, soos dit vir Christus self was:

Joh 13:18  Ek spreek nie van julle almal nie—Ek weet wie Ek uitverkies het—maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.

So het koning Dawid, toe Hy vir sy eie seun gevlug het en vir sy lewe teen sy eie familie en teen die raad van sy eie vertroude raadgewer Agitofel geveg het, Christus getipeer. Christus sê vir ons dat ons moet verwag om presies soos Hy behandel te word deur mense:

Mat 10:24-25  ‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie.  25  Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!

Hand 22:8  En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.

Dit is waarlik een van die sleutels tot die koninkryk van die hemele om gegee te word, om te weet dat ons nie net gegee is om in Christus te glo nie, maar om ook in ons liggame aan te vul “die oorblyfsels van die verdrukking van Christus” vir Sy liggaam se onthalwe, wat die kerk is.

Kol 1:24  Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;

Fil 1:27-30  Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie,  28  en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ‘n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God;  29  omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly,  30  terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.

Dit is die seën en die eer wat ons s’n is in diens van ons Here. Ons lyding is namens Christus, en dit is om daagliks te sterwe vir ons ou eerste mens Adam, deur wie se dood ons nuwe mens, die laaste Adam, daagliks gebore word. Hierdie eer kom slegs toe aan hulle aan wie Christus “die sleutels van die koninkryk van die hemele” gegee het.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.