Daar is net een ware God, die Vader “uit wie alles is”, en net een ware Here, Jesus Christus “deur wie alles is”:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die Vader het Jesus aangestel as die God van hierdie skepping. Alles is deur Hom geskep en Hy word ook genoem “die Woord van God” omdat die Vader alles in hierdie skepping deur Jesus bekendmaak:
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Joh 14:5-10 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. 8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.
Jesus is die soewereine God oor alles, soos bepaal deur die Vader. Sy wil seëvier ten alle tye.
Jes 45:5 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie.
Mat 10:29-30 Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. 30 En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.
Alles in hierdie skepping was totstandgebring om funksioneel te wees, in die hemel (die onsienlike dinge) en op die aarde (die sigbare/tasbare dinge), en al die dinge in die hemel en die aarde was geskep om “baie goed” te wees.
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Alles dien dus God se doeleindes en dit is wat die woorde “baie goed” beteken, want deel van die huidige skepping is die teenwoordigheid van die duisternis en die onheil (dit wat onheilig is) wat ook deur God geskep was vir Sy doeleindes.
Gen 1:2-5 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [Hebreeus: “ra”] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Die skeppingsproses begin met die woorde “woes en leeg, en duisternis” en dan voeg Jesaja ook nog “onheil” by wat alles deur die Here geskep was. Die oorspronklike Hebreeuse woord is “ra”, wat die kwaad (die bose) aandui. God neem volle verantwoordelikheid vir die skepping en teenwoordigheid van die bose en alles wat onheilig is in hierdie skepping. God het die duisternis, die onheil, die goddelose as funksionele dele van die skepping gemaak, en dit alles werk saam om God se doel te verwesenlik. Dit ALLES, die goed en die kwaad, het die stempel van “baie goed” van God gekry.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die water.
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [Hebreeus: “ra”] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Lam 3:37-38 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? 38 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
God “is dit wat al hierdie dinge” geskep het, en totaal beheer van begin tot einde, “vir Sy doel”. God werk volgens ‘n plan wat deur niemand verander of van koers gebring kan word nie.
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.
Job 42:2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
God se raad seëvier en Sy wil bepaal alles. Alles wat Hy doen, behaag Hom, en Hy hoef ook aan niemand rekenskap te gee oor waarom Hy op ‘n sekere manier te werk gaan nie:
Jer 10:6-7 Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en u Naam is groot in krag. 7 Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.
Rom 11:33-36 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! 34 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? 35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? 36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.
God neem aan, en God verwerp. Hy maak harte sag en Hy verhard harte. God se uitverkiesing bly staan en Hy gee aan niemand redes vir Sy keuses nie! God alleen is waarlik SOEWEREIN!
Rom 9:10-18 En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. 11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep 12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. 13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. 14 Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! 15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. 16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
God het net een plan met hierdie skepping oor die algemeen, en met die mens in besonder, en Sy werkswyse is perfek om hierdie plan 100% suksesvol uit te voer. God weet alles vooruit, en Hy bepaal alles om te gebeur presies soos Hy dit bepaal het om te gebeur op die presiese tyd:
Pred 3:1-8 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: 2 ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, 3 ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, 4 ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, 5 ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, 6 ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, 7 ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, 8 ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.
Selfs die wreedste moord wat ooit plaasgevind het, was haarfyn deur God beplan en uitgevoer deur mense, soos God dit wou hê:
Hand 4:26-28 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Die mens het van nature geen idee wie God werklik is, en wat Hy doen nie. Dit is God wat die inisiatief neem om Homself aan mens te openbaar op die tyd en wyse soos Hy bepaal. God is gees en die mens is vlees, en die vlees kan God nie werklik ken en aanbid nie:
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Die manier hoe God te werk gaan, kwel die mens, en die mens sukkel om God se werkswyse te verstaan, van begin tot einde. Die natuurlike mens is geestelik blind en in homself gekeer:
Pred 3:9-11 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? 10 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. 11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
Die mens is van nature selfsugtig en in opstand teen God, want Hy verstaan God, God se plan en God se werkswyse glad nie. Daar is ‘n natuurlike teenstand en vyandskap tussen gees (God) en vlees (die mens):
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Die mens is ‘n gevangene van sy eie natuurlike denke wat die geestelike dinge van God nie kan verstaan nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Dit is waarom die eerste mens, Adam, en sy vrou, Eva, van stof gemaak was en teen God se opdrag gegaan het en so maklik verlei was. God het dit alles haarfyn vooraf beplan en uitgevoer, en die resultate is welbekend aan ons:
Gen 2:7-9 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. 8 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. 9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
Gen 3:1-7 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
Alles in hierdie Skrifte is deur God bepaal om presies so te gebeur, en al die deelnemers (die slang ingesluit) het presies gedoen wat in elkeen se “boek” geskryf was, voor hulle geskep was:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.
“Alles wat in die wêreld is”, was in Adam en Eva geplaas by hul skepping en het na vore gekom op die tyd soos God dit bepaal het:
1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees [die boom was goed om van te eet] en die begeerlikheid van die oë [die boom was ‘n lus vir die menslike oog] en die grootsheid van die lewe [die boom gee aardse verstand]—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Adam en Eva, en die slang was doelbewus van stof gemaak en was soos klei in God se hand. Jeremia het dit as volg beskryf:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Die skepping van stof (alles op aarde kom uit “die stof van die aarde”) misluk in die hand van die Pottebakker! Die vleesmens kan nie geestelik perfek wees nie, behalwe dat daar ‘n metamorfose plaasvind. Dit is hoe God dit voor die begin van die skepping bepaal het.
“….maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.”
Hierdie mislukking van die vleesmens is ‘n integrale deel van God se plan, omdat God in die proses is om mens in Sy ewebeeld, in gees te herskep, soos dit vir die Pottebakker “reg was om dit te maak”. Die werkwoord “maak” in die volgende vers is in die onvoltooide vorm in die oorspronklike Hebreeus teks:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [Stem: Qal; Mood: Imperfect] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Hierdie waarheid word bevestig in die Skrifte, en hier is een getuienis:
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die eerste mens, die aardse Adam, is dus net die begin van die proses wat God dan gebruik om die nuwe skepping in gees na vore te bring in Christus, die hemelse Adam. Ons moet dus eers in water (vlees) gebore word, en dan herskep word in gees, soos Jesus dit self so mooi verduidelik:
Joh 3:1-17 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. 8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. 9 Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? 10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? 11 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie. 12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? 13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. 14 En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Jesus is die Redder van almal, en Hy gaan 100% suksesvol wees! Die proses is egter nie vir almal beskore om te sien op hierdie stadium nie. God werk deur twee Adams, die vleeslike Adam van die aarde, en die geestelike Adam van die hemel. Hierdie twee Adams speel die sentrale rol om elke mens deur hierdie twee stadia (eons) te neem in ons reis na perfektheid om uiteindelik in God se geestlike ewebeeld te wees.
Teen hierdie agtergrond sal ons die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” in hierdie studiereeks ondersoek, en soos God wil sal daar ‘n openbaring kom van God en Sy werke in hierdie skepping, om Sy plan met die mens in besonder te voltooi.