Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.
Die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes voor in die Nuwe Testament waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14). Ons sal later in die reeks studies meer aandag aan albei hierdie gedeeltes gee, soos God wil. Ons moet eerstens kyk na die idee van gelykenisse. Die gebruik van gelykenisse deur Jesus is baie insiggewend en dit help ons ook om hierdie woorde “baie is geroep, maar min uitverkies” te verstaan. In Deel 2(A) van hierdie studiereeks kyk na die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus.
Alle gelykenisse wat Jesus vertel het, het een en dieselfde hooftema, naamlik die koninkryk van God, of soos dit ook beskryf word in die Skrifte as die koninkryk van die hemele.
Matt 13: 9-11 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! 10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
Die koninkryk van God is inderdaad die koninkryk van die hemele, soos die volgende tekse dit ook aandui:
Mat 19:23-24 En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. 24 En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
Luk 18:24-25 En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. 25 Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
Albei hierdie uitdrukkings, “die koninkryk van God” en “die koninkryk van die hemele”, getuig van God se heerskappy oor alles en almal. God is soewerein en almagtig, en Hy werk volgens ‘n plan met die huidige skepping in die algemeen, en die mensdom in besonder. Hierdie plan is 100% op dreef van die begin af en God het alle detail van hierdie plan reeds vooraf uitgewerk om te gebeur op die bepaalde tyd en bepaalde plek, om Sy doeleindes te verwesenlik:
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.
Job 42:2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.
God se plan met die mensdom is die behoud (saligheid) van elke mens deur Jesus Christus, deur Wie Hy ook “alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is” uiteindelik gaan verenig met Hom in geestelike volmaaktheid:
Efes 1:3-10 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. 7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, 8 wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, 9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig.
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
Die koninkryk van die hemele is ‘n verborgendheid vir die “baie”, maar dit word aan die “min” openbaar
Jesus sê dat die koninkryk van die hemele‘n verborgenheid is, en dat hierdie verborgenheid die mensdom in twee groepe verdeel.
Matt 13: 9-11 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! 10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
Die een groep is die “julle” aan wie die verborgenhede van die koninkryk van die hemele bekend gemaak word, en die ander groep is die “hulle” aan wie God nie die verborgenhede van Sy koninkryk bekendmaak gemaak word tydens hierdie aardse tydperk nie. Dit is die breedste vertolking wat God dan gebruik om die onderskeid te tref tussen die “min” wat uitverkies is (die “julle”), en die “baie” wat geroep is (die “hulle”). Die Vader maak self hierdie onderskeid lank voor die grondlegging van die wêreld, voor die skepping en geboorte van enige mens.
Efes 1:3-4 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.
1Pe 1:13-20 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. 14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. 15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. 17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; 18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil.
Die mens het dus niks te make met hierdie groepering en uitverkiesing nie – die Vader kies self wie Hy nou in hierdie aardse tydperk tot die kennis van die waarheid wil trek:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
God se koninkryk is nie vir almal sigbaar nie. Johannes skryf dat God verblind mense om nie die koninkryk van God te kan sien nie, en hy verwys na die profeet Jesaja wat ook dieselfde geskryf het oor die ou volk van Israel:
Joh 12:37-40 En alhoewel Hy [Jesus]so baie tekens voor hulle [die Jode] gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; 38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: 40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
Johannes sê God bepaal wie kan glo in Hom en Sy plan en werke verstaan. Moses het dieselfd boodskap van God gekry:
Eks 4:11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?
Rom 9:15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
God se openbaring van Homself en Sy werke hang nie van die mens af nie, beaam Paulus:
Rom 9:16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
Die mens se wil is nie vry soos hy dit wil glo nie. God beheer alles en net God se wil is vry en Hy doen met almal wat Hy wil:
Rom 9:17-21 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. 19 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? 20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
God verblind die mens om nie te sien dat Hy oor alles heers. Kyk hoe antwoord Jesus ‘n vraag van die godsdienstige mense wat dink hulle weet wie God is en wat Hy doen:
Luk 17:20-24 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. 22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. 23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie. 24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.
Die natuurlike mens kan nie sien WAAR die koninkryk van hemele is nie, en derhalwe weet die mens ook nie WANNEER hierdie koninkryk kom nie. Die Skrifte is duidelik dat die koninkryk van die hemele NIE met uiterlike sigbare tekens kom nie, want die koninkryk van die hemele kom binne-in die mens, as die mens dit kan sien.
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
God is Koning en Hy heers van begin tot einde oor elke gedagte en elke daad van elke skepsel, maar hierdie waarheid is “te wonderbaar” en “te hoog” vir die denke van die natuurlike mens, soos koning Dawid self ook moes uitvind en so pragtig vir ons verwoord het:
Psa 139:1-16 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. 11 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, 12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. 13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Ons begin almal ons lewens (die “eerste dag”) in duisternis en ons leef in onkunde onder die verdraaide leerstellings en valse filosofieë van die wêreld, “volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”, onder die beheer van God (“die gees van God het gesweef op die waters”), voordat God die lig van Sy waarheid in ons lewe bring:
Gen 1:2-5 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
Efes 2:1-3 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
As die lig kom in ons denke, dan sien ons die skeiding tussen “die waters onder die uitspansel” (die aardse dinge) en “die waters bo die uitspansel” (die hemelse dinge van die koninkryk van God):
Gen 1:6-8 En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. 7 God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. 8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.
Soos ons uitkom uit die aardse waters, so verander ons denke (ons hemele) progressief totdat God ons laat sit in die hemele in Christus Jesus om alles uit Sy perspektief te sien:
Efes 2:4-7 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
Paulus noem hierdie opheffing in denke die “derde hemel”:
2Kor 12:1-4 Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. 2 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. 3 En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— 4 dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.
Daar is dus diegene wat die koninkryk en heerskappy van God INNERLIK herken in hul eie lewe, en in die lewens van mense om hulle. Hierdie groepie mense (die “min”) ontvang dus die geloof van Christus as geskenk om niks van hulself te dink nie en alle eer aan God bring vir AL die werke in hul lewe, deur Christus Jesus!
Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Hierdie “min” weet dat alles VOORUIT deur God beplan was en dat Hy elke ding bewerkstellig, ook hul uitverkiesing, volgens die raad van Sy Wil:
Efes 1:3-11 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. 7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, 8 wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, 9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig— 11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Hulle weet dat Hy ‘n spesiale erfdeel aan hulle geskenk het, sonder verdienste, waaroor hulle gehaat sal word deur die wêreld omdat die wêreld dink dat die uitverkorenes opportunisties is en so baie van hulself dink, terwyl dit glad nie die geval is nie:
Mat 10:16 Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.
Mat 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Maar die Here gee aan Sy uitverkorenes die vreesloosheid om hul posisie in te neem en hul erfdeel aan te kleef te midde van baie teenstand:
Mat 10:26-33 Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. 27 Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke. 28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. 29 Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. 30 En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. 31 Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. 32 Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. 33 Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.
Hierdie “min” ervaar die swaard van God wat hulle skei van familie en vriende:
Mat 10:34-39 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 36 En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 37 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
Die “min” leer om hul eie kruis op te neem, wat deel is van die kruis van Jesus, deur hul aardse verbintenisse prys te gee om die groter lewe in Christus op te neem wat groot wins inhou:
Mat 10:37-38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Hierdie “min” ervaar nou die vurige oordeel van God waardeur hulle die geregtigheid van God deelagtig word – sonder hierdie oordeel van God is daar geen kennis van die waarheid nie.
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
1Pe 4:12-19 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. 15 Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie. 16 Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. 17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? 19 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Die “baie” sal later deur dieselfde oordeel geneem word, in die groot wittroon-oordeel, waar die “min” ‘n groot rol sal speel in die “poel” van vuur:
Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Hierdie twee groepe, die “min” en die “baie”, sal albei uiteindelik met God se geregtigheid (die “wit klere”) beklee word!
Open 4:4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.
Open 6:11 En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.
Open 7:9-17 Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; 10 en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! 11 En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: 12 Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen. 13 Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? 14 En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. 15 Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. 16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; 17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.