Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.
Die sinfrase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes in die Nuwe Testament voor, waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14). In Deel 2(A) van hierdie studiereeks was die fokus op die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus, en in Deel 2(B) was die fokus op die doel van die gelykenisse van Jesus wat ons dan ook help om te sien waarom daar twee groepe is waarmee Jesus werk, die “baie” en die “min”. In Deel 3 kyk ons na die oorspronklike Griekse woorde ‘klētos’ en ‘ekletos’ wat onderskeidelik vertaal word as “geroep” en “uitverkies” in Afrikaans in die volgende verse:
Mat 20:16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
Mat 22:14 Want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
In Deel 4 kyk ons na die geestelike boodskap wat in die volgende gedeelte in Mattheus 20 waar die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” voorkom:
Mat 20:1-16 Want die koninkryk van die hemele is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. 2 En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir ‘n penning op ‘n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. 3 En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. 4 En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. 5 Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. 6 En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? 7 Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang. 8 En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. 9 En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. 10 Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang. 11 En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer 12 en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. 13 Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? 14 Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. 15 Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is? 16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.
Hier is die tweede gelykenis in Mattheus 22 waarin die woorde “baie is geroep, maar min uitverkies” voorkom in die Nuwe Testament:
Mat 22:1-14 En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: 2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het 3 en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. 4 Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. 5 Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak. 6 En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. 7 Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. 8 Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. 9 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. 10 En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. 11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. 12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. 13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
In hierdie gelykenis hoor ons van ‘n bruilofsfees wat ‘n sekere koning gereël en gehou het vir sy seun. Jesus gebruik hierdie simboliek van ‘n bruilof as ‘n beeld van die koninkryk van God:
Mat 22:1-2 En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: 2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het
Hierdie koning is ‘n tipe van die hemelse Vader wat nie net die voorbereidings tref vir alles wat in ons lewe gebeur, maar ook alles laat gebeur in ons lewe. God het inderdaad alles wat in ons lewe gebeur reeds vooruit gereël, en in Sy “boek” opgeskrywe voor ons geboorte in vlees. Alles gebeur dus op ‘n vooraf bepaalde tyd en plek:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Pred 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd.
Alles kom dus UIT God, die Vader:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom…
Die Seun kom ook UIT die Vader, en die Vader het alles in hierdie skepping DEUR die Seun, Jesus Christus, na vore gebring:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Joh 14:28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.
Joh 16:27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.
Kol 1:15-17 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
Open 3:14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God.
Die Seun erken die Vader se oorheersende rol in alles, en onderwerp Hom ten volle aan die Vader se reëlings in Sy lewe. Die Seun ontvang alles uit die hand van Sy Vader en is 100% tevrede met alles wat die Vader doen:
Joh 14:8-11 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
Dit is die Vader se prerogatief wie Hy “trek” tot Sy Seun se koninkryk, en niemand kom in die koninkryk sonder die Vader se wete nie.
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Jesus het hierdie gelykenis vertel om te wys dat God se koninkryk ‘n geestelike een is, en dat vlees en bloed nie daarin kan gaan nie, soos Paulus dit ook mooi verduidelik:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Diegene wat op hul vleeslike dinge, soos byvoorbeeld herkoms, staatmaak, is nie deel van die geestelike koninkryk van God nie. Jesus het die gelykenis ten eerste gemik op die fisiese Jode wat op hul fisiese herkoms staatgemaak het en hul behoud van die fisiese wette van Moses as toegang tot die koninkryk gesien het. Jesus, die ware Messias en Verlosser van alle mense, insluitend die Jode, het ‘n koninkryk wat nie van “hierdie wêreld”, oftewel vleeslik is nie. Die Jode, en alle mense, wil graag hul vlees behou en met die vlees vir ewig saam leef. Dit is egter nie die Vader se keuse nie. Die Vader is gees, en Hy wil hê dat almal Hom ook in dieselfde gees leer ken en aanbid.
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Fil 2:1-2 As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, 2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.
Dit is die taak wat die Vader aan Jesus gegee het, om almal wat “in Adam” geskep was (in vlees), lewend te maak “in Christus”:
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld:
Jesus het aan Pilatus verduidelik dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Die Jode wil in hul fisiese toestand die hele wêreld regeer, en hulle glo dat hul Messias ook dan so sal optree. Maar Jesus het hul hele aspirasies omver kom werp. Alle ortodokse Jode kan tot vandag nie Jesus, of Sy leer aanvaar nie, en daarom het hulle ook Hom destyds uitgelewer aan Pilatus om gedood te word:
Joh 18:33-37 Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode? 34 Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? 35 Pilatus antwoord: Is ek dan ‘n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen? 36 Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. 37 Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.
Hierdie verwerping van Jesus se ware leer is nie net by die fisiese Jode teenwoordig nie, maar by alle vleeslike mense wat hul eie godsdienstige organisasies stig en dan hul vleeslike hoogmoed en welluste daarin vooropstel. Hulle wil almal hul vlees verheerlik tot ‘n vlak waar hulle alles het en oor alles regeer, en dit sal nooit gebeur nie.
Jak 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.
Dit is dus ook duidelik dat hierdie godsdienstige mense op hul fisiese werke staatmaak en dan van God vereis om hulle toegang te gee tot Sy geestelike koninkryk.
Mat 7:21-23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Wat ‘n tragedie. Alle vleeslike mense sal op ‘n bepaalde tyd uitvind dat Jesus nie meer in hul fisiese welluste en versoeke gaan voorsien nie. Hulle bedrog sal aan hulle uitgewys word en dan word dinge donker:
Matt 22:11-13 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. 12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. 13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Jesus is gefokus op die geestelike dinge in Sy geestelike koninkryk, en baie van Sy volgelinge kan dit net nie aanvaar nie, en hulle verlaat Hom en haat Sy leer:
Joh 6:53-66 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. 54 Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 55 Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. 56 Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58 Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. 59 Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het. 60 En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? 61 En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ‘n aanstoot? 62 Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? 63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. 64 Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. 65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. 66 Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.
Daarom het die “genooides” in die gelykenis in Mattheus 22 nie die uitnodiging aanvaar nie omdat hulle meer gefokus was op fisiese aardse dinge wat hul vlees (hul eer, hul hoogmoed en hul welluste) moes bevredig.
Mat 22:1-14 En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: 2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het 3 en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.
Die natuurlike mens het geen belangstelling in God se geestelike dinge nie, soos ons sien in terme van die boom van (geestelike) lewe, Jesus Christus:
Jes 53:1-2 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? 2 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
Selfs die letterlike boom van lewe in die tuin van Eden was geignoreer deur Adam en Eva, wie meer gefokus was op die boom van kennis van goed en kwaad terwyl albei hierdie bome die sentrale plek in die tuin gekry het. Die listige slang was gebruik om Adam en Eva se belangstelling in die verkeerde boom te prikkel:
Gen 2:8-9 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. 9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
Gen 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Ons almal dwaal agter ons eie begeerlikhede aan, soos Adam en Eva ook versoek was deur hul eie hoogmoed en welluste om van die verbode vrug te eet:
Jak 1:14-16 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. 16 Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.
Die geestelike Boom van Lewe, Jesus Christus, word nie as interessant en voedsaam gesien vir ons vlees nie want die natuurlike mens kan nie die geestelike dinge van God verstaan nie:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Die natuurlike mens is vleeslik, en die vlees is in stryd teen die geestelike dinge van God:
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Ons almal volg eerste die vlees en sy denke wat gevul is met die wêreld se dinge wat altyd in ons vlees teenwoordig is:
1Jn 2:15-16 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Jesus wys hier in hierdie gelykenis in Mattheus 22 dat die fisiese Jode, die eerste genooides, nie belangstel in die uitnodiging na die geestelike koninkryk wat deur Jesus Christus, Sy Seun, kom nie. Die Jode het glad nie van Jesus se boodskap oor hierdie geestelike koninkryk gehou waarin almal uiteindelik opgeneem sal word as gelykes. Reg aan die begin van Sy bediening het Jesus se eie mense dit duidelik gemaak. Die Jode in Sy eie dorp, Násaret, wou Hom doodmaak na Sy eerste preek daar. Geen ware profeet van God is inderdaad aanvaarbaar in Sy eie vaderland nie, veral as Hy nie Sy eie volk as meer belangrik as ander volke sien nie!
Luk 4:14-30 En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ‘n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; 15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. 16 Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. 17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: 18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; 19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. 20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. 21 Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. 22 En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? 23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. 24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie. 25 Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ‘n groot hongersnood gekom het in die hele land, 26 en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee. 27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër. 28 En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; 29 en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30 Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
Jesus was hier in Násaret blatant eerlik dat God na alle mense se saligheid kyk, en selfs die heidinne help omdat die “genooides” hulself so verhef bo almal. Die “genooides” in die gelykenis in Mattheus 22 verwys dus eerstens na die fisiese Jode. Hulle hoogmoed was die struikelblok in hul weg om God se uitnodiging te aanvaar wat Hy deur Jesus gebring het. Tot vandag word Jesus en Sy boodskap oor God se ware koninkryk deur ortodokse Jode verwerp. Hulle fokus is op ‘n aardse heerskappy met ‘n aardse stad (Jerusalem) as hoofsentrum binne ‘n aardse tempel. Die tempel bestaan nie eens vandag nie, en tog is hierdie aspirasie van die Jode en hul aanhangers die leidende oorsaak van so baie konflik op hierdie aarde. Baie Christene word saamgesleep in hierdie verdraaide aspirasie van heerskappy oor die wêreld en baie mense word bedrieg deur sogenaamde Christenleiers om bydraes te stuur omdat hulle glo dat ‘n nuwe fisiese tempel gebou moet word omdat die Joodse Messias daar te ontvang en te kroon. Maar Jesus, die ware Messias en Verlosser van alle mense, se boodskap is totaal anders, en daarom word Hy en Sy ware volgelinge gehaat en vervolg. Hy het geen behae in aarde tempels nie:
Mat 24:1-2 En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. 2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
Jesus verduidelik dat alle aardse dinge, die vleeslike liggaam ook, sal verwoes word om plek te maak vir die nuwe geestelike liggaam, die ware tempel van God:
Joh 2:18-22 Toe antwoord die Jode en sê vir Hom: Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen? 19 Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. 20 En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? 21 Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek. 22 En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.
Toe hierdie woorde die Jode se ore bereik, het hulle dit verdraai en fisies verstaan en het die dood van Jesus gesoek:
Mat 26:59-68 En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. 60 En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. 61 Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. 62 Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? 63 Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? 64 Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. 65 Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! 66 Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig. 67 Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, 68 en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?
Hulle wat op aardse dinge fokus mis die hele proses van die geestelike koninkryk van God wat reeds sedert Handelinge 2 in mense se harte gevestig word:
Hand 2:1-41 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? 13 Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. 14 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 22 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— 23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; 24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. 25 Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. 26 Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. 27 Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. 28 U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 29 Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. 30 Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, 31 het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. 32 Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. 33 Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. 34 Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand 35 totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete. 36 Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. 37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? 38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.
Petrus het dit duidelik gemaak dat die koninkryk van God almal sal insluit, nie net die Jode nie:
Hand 2:17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees…
Aanvanklik was die omvang van hierdie boodskap nie heeltemal verstaan nie, selfs die apostels van Jesus het gesukkel om dit heeltemal te aanvaar. Maar ons sien in Handeling 10 word die einste Petrus gebruik om die nie-Jode tot die geestelike koninkryk van God te verwelkom:
Hand 10:1-48 En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. 2 Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God. 3 Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! 4 En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom. 5 Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6 Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. 7 En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, 8 en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe. 9 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; 10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. 17 En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. 18 En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 19 En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. 20 Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur. 21 En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? 22 En hulle sê: Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. 23 En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan. 24 Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. 25 Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. 26 Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens. 27 En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het; 28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. 29 Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het. 30 En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, 31 en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. 32 Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. 33 Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is. 34 En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35 maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. 36 Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal. 37 Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, 38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was. 39 En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang. 40 Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn 41 nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het. 42 En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode. 43 Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. 44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. 46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: 47 Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? 48 En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae te bly.
Petrus, en later Paulus, het sterk gestaan in die boodskap van die koninkryk van God wat vir “alle vlees” bedoel was, en daarom was die uitnodiging geneem “op die kruispaaie” na almal, die goeies en die slegtes:
Matt 22:9-10 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. 10 En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.
Maar baie dink hulle kan inkom by die geestelike bruilofsfees, dit is die koninkryk van God, met hul talle valse leerstellings wat hul eiegeregtigheid voed. Maar daar is nie plek in God se koninkryk vir hierdie tipe geregtigheid nie, soos die gelykenis in Mattheus 22 ook mooi vir ons uitbeeld:
Matt 22:11-13 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. 12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. 13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Die enigste bruilofskleed wat aanvaarbaar is, is die geregtigheid van Jesus. Ons eie geregtigheid wat ons so baie van dink, is inderdaad gelykstaande aan ‘n vuil en stinkende kleed voor God:
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Daar is min mense wat hierdie waarheid nou in hierdie lewe kan uitleef, want die mens het ‘n inherente hoogmoed om op homself of haarself te vertrou en nie God se werke van begin tot einde in hul lewe kan sien of aanvaar nie. Min mense aanvaar dat hulle basies niks bydra tot hul tyd in misdade en sondes, of wanneer God hulle uitnooi tot Sy Seun se bruilofsfees nie:
Efes 2:1-10 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. 4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Ons is God se maaksel van begin tot einde, ons slegte tye en ons goeie tye, en dit is ‘n geloof wat nie nou in almal is nie. Ons wil so graag selfs net ‘n bietjie eer uit die saligheidsproses kry. Nee, daar is nie plek vir menslike hoogmoed, menslike eer en menslike prestasies in God se koninkryk nie. Alhoewel God ten einde laas inderdaad Sy gees op alle vlees sal stort, is daar nou “min” wie in hierdie lewe hierdie uitnodiging om deel te wees van Sy koninkryk met geestelike insigte benader en die erns en nougesetheid hanteer wat dit verg:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.