Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.
Die sinfrase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes in die Nuwe Testament voor, waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14). In Deel 2(A) van hierdie studiereeks was die fokus op die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus, en in Deel 2(B) was die fokus op die doel van die gelykenisse van Jesus wat ons dan ook help om te sien waarom daar twee groepe is waarmee Jesus werk, die “baie” en die “min”. In Deel 3 kyk ons na die oorspronklike Griekse woorde ‘klētos’ en ‘ekletos’ wat onderskeidelik vertaal word as “geroep” en “uitverkies” in Afrikaans in die volgende verse:
Mat 20:16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
Mat 22:14 Want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
In Deel 4 en Deel 5 kyk ons na die geestelike boodskap wat in die gelykenisse in Mattheus 20 en 22 onderskeidelik voorkom om ons te help om die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” beter te verstaan, soos God wil.
Ten laaste wil ons ‘n paar voorbeelde in die Skrifte kortliks aanraak waar die beginsel van die “min” uitverkorenes uitgebeeld word. Ons kan ook deur hierdie voorbeelde sien hoe alles wat in die Skrifte neergeskryf is, help om ons roeping en uitverkiesing te verstaan en raak te sien in ons eie lewe. Alles wat neergeskryf was in die Skrifte (veral die gebeure in die geskiedenis van die ou volk van Israel) is dus inderdaad neergeskryf vir ons lering “op wie die eindes van die eeue gekom het”:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [Israel van ouds] oorgekom as voorbeelde [tipes]en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
In Deel 6(A) van hierdie studiereeks kyk ons na Noag, en hoe hy en sy gesin die “min” verteenwoordig wat uitverkies was om God se doeleindes te bereik. Ons kyk ook na hoe God spesifieke aspekte uitwys deur middel van hierdie verhaal van die globale vloed wat in ons eie lewe toepaslik is.
Die uitverkiesing van Noag, die impak op sy gesin, en die totstandkoming van ‘n nuwe geslag
Gen 6:1-9 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar. 4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. 5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. 7 En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het. 8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. 9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.
Die eerste aspek wat ons wil dek is dat Noag die een persoon was uit die nageslag van Set (“die seuns van God”) wat nie ingetrou het met ‘n vrou uit die geslagslyn van Kain nie (“die dogters van die mense”). Let op dat God deur twee geslagslyne werk, naamlik die geslagslyn van Kain (die mens), en die geslagslyn van Set wat (die regverdige) Abel se geslagslyn ingeneem het. Let ook op hoe die beginsel van “die eerste sal laaste wees”, en “die laaste sal eerste wees” in die verhaal voorkom:
Gen 4:1-5 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
Die mens van vlees kom eerste, en die regverdige kom laaste, maar die mens van vlees (die “eerste Adam”) sal uitgewis word om plek te maak vir die geestelike skepping in die “laaste Adam”, Christus:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Die beginsel dat God eer diegene wat deur geloof leef, word ook baie goed uitgebeeld in die offer wat Abel gebring het.
Heb 11:4 Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.
Die regverdige leef inderdaad deur geloof.
Hab 2:4 Kyk, sy siel [die mens] is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.
Hulle wat leef deur geloof is die “seuns van God” wat God behaag, soos dit ook geskryf is van Abel en sy offer aan God:
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Kain het die geslagslyn van “die mens” van ongeloof verteenwoordig wie se hart tot haat neig wat tot moord oorgaan:
Gen 4:1-5 En die mens [Hebreeus: “âdâm”] het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. 2 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. 3 En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. 4 En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, 5 maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
1Jn 3:15 Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
Die geloofslyn is teenwoordig in die werke van die “seuns van God”. Kain het sy broer Abel verag omdat Kain “uit die bose was” en nie deur geloof tot God geoffer het nie:
1Jn 3:12 nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.
Kain het sy broer Abel vermoor, maar hy kon nie verhoed dat die geslagslyn van Abel voortgesit was in die afstammelinge van Set, waarvan Noag ook deel was (Gen 5:28-32). Daarom word die geslagslyn van Set gesien as die “seuns van God” wat “in die plek van Abel” gekom het:
Gen 4:25-26 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. 26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.
Gen 5:1-4 Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. 2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. 3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. 4 En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad.
Dit is die Skriftuurlike agtergrond om die volgende verse te verstaan, sodat ons nie op sleeptou geneem word deur al die talle vergissings van die valse leraars nie:
Gen 6:1-2 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.
God het Noag getrou gehou tot sy eie geslaglyn in Set se afstammelinge. Moses, geinspireer deur die gees van God, beskryf Noag as ‘n regverdige en opregte man in sy geslagslyn omdat God aan hom genade geskenk het:
Gen 6:8-9 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.
Ons almal ontvang alles van God, veral al die goeie en volmaakte gawes:
Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.
God se soewereiniteit is oorheersend en niemand kan iets doen of iets bereik as God dit nie bewerkstellig van begin tot einde nie. God se wil seëvier ten alle tye, en dit beteken dat geen skepsel ‘n vrye wil het nie. Die leer van ‘n vrye wil is vals en dit is ‘n leer wat die wêreld aan vaskleef tot hul eie nadeel en ondergang. Daarom kan die wêreld en sy valse leraars ook nie die leer van die uitverkiesing aanvaar nie. Daarom kan hulle ook nie die storie van Noag en die globale vloed aanvaar nie. God het alles bewerkstellig as les vir ons almal, wie dit kan ontvang dat God waarlik soewerein is, en self die keuses in ons lewe veroorsaak. Hierdie aspek in Noag se lewe is baie belangrik om van kennis te neem, want elkeen van ons wat uitverkies word is bewus van hierdie soewereine mag van God, en ons aanvaar dit in sy totaliteit, soos God ons help.
“Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark 9:24)
Ons het beslis niks om by te dra tot God se uitverkiesing nie. Soos ons ook in Noag se lewe sien, werk die genade van God saam met die geloof wat God aan ons skenk!
Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Noag word as een van die geloofshelde in die boek van Hebreërs genoem. Noag se geregtigheid was “uit genade…deur die geloof” wat hy van God ontvang het. Hierdie geloof was nie van Noag afkomstig nie:
Heb 11:7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
Noag is ‘n “voorbeeld” wat dit beteken dat iemand God se “maaksel” is. Elke uitverkorene in Christus weet hy of sy is geskep “in Christus tot goeie werke wat God voorberei het“. Dit is wat die genade en die geloof van Christus in ons bewerkstellig en waarin ons wandel! Geloof is nie passief nie, maar dit bring werke voort, soos Jakobus dit duidelik stel:
Jak 2:14 Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?
Die twee apostels, Paulus en Jakobus, het saamgestem dat die geloof altyd deur die werke vergesel word:
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Die gees van Christus het deur Noag gepreek vir die destydse mense wat in hul gees vasgevang was in ‘n gevangenis van ongeloof, Noag het saam met sy woorde van gleoof ook die werke gevoeg. Noag het ‘n kolosale ark gebou vir almal om te sien en hom dan ook daarvoor te bespot want hulle het glad nie die konsep van reën of ‘n wateroordeel sien kom nie:
1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; 21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus 22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
God se werking in en deur Noag het ook ‘n groot impak op die mense rondom hom gehad. Die groot getal mense in die wêreld romdom hom (die “baie”) het die boodskap verwerp wat Christus deur Noag gebring het, terwyl sy eie gesin (die “min”) by hom gebly het, en hom gevolg het.
Dit bring ons by die tweede aspek wat ons uit die lewe van Noag kan leer.
Ons word nie geroep en uitverkies deur God om ons ego te streel nie, en ons sal gewis nie as belangrik in die oë van mense in die wêreld beskou word nie. Nee, ons word geroep, uitverkies en getrou gehou deur God om Hom te vereer en Sy doeleindes te verwesenlik:
Mat 10:34-39 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 36 En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 37 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. 38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Ons word uitverkies deur God om net soos Jesus te wees, en om dieselfde pad te stap wat Hy gestap het. Die pad van Jesus is nie vir almal om nou te bewandel nie.
1Jn 4:17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
Ons uitverkiesing het baie groter doeleindes wat God deur ons gaan bereik, en dit het niks te doen met menslike verering nie. Selfs ons eie mens van sonde (ons vlees) is nie beindruk nie. Ons vlees haat die pad van Christus. Maar deur God se genade sal ons die bitter beker van God se oordeel oor ons eie ou mens moet drink.
1Pe 4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Menslike aspirasies en vleeslike verering is nie deel van die pad wat God se uitverkorenes stap nie. Jesus het dieselfde boodskap ook aan sy volgelinge oorgedra:
Mat 20:20-28 Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. 21 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 22 Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. 23 En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. 24 En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; 26 maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.
Die derde aspek wat ons wil uitlig in die lewe van Noag is sy belangrike rol as leier.
Noag was ‘n voorbeeld (tipe) van Christus wat deur die Vader uitverkies was om as die Leier op te tree en nou die “min” op te lei vir hul komende dienswerk binne die plan van God – die voortbring van die nuwe skepping in gees:
Open 19:11-16 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.
Noag was ‘n voorbeeld vir sy gesin, en so is Christus die Groot Voorbeeld vir elke uitverkorene wat nou in die “wolk van getuies” opgeneem word waarin Jesus nou Homself openbaar:
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Christus se inwonendende gees in die lewens van die “min” help hulle om hul “oog gevestig [te hou] op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” en sodoende hul voorberei en bekragtig deur die kennis en denke deur Sy Woord:
1Pe 2:9-12 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. 11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.
Hierdie geroepenes in Christus is die ware uitverkore volk van God, die geestelike Jode, wat in hul harte (hul denke) “besny” is deur die nuwe denke in Christus. Die ou denke van vlees word “uitgesny” en die nuwe denke word ingeplant. Die ware Jode in Christus is hulle wat geensins op die vlees vertrou vir hul saligheid nie:
Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Fil 3:3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie.
Gal 6:15 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.
Die “min” is hulle wat Christus volgens die gees ken en volg, en wat Sy Woorde die hoogste gesag in hul lewe plaas:
2Kor 5:14-17 Want die liefde van Christus dring ons, 15 omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. 16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die vierde aspek wat ons in Noag se lewe kan uitwys is dat Noag en sy gesin gered was om ‘n nuwe generasie na vore te bring.
Noag en sy gesin was voorwaar deur genade gered om ‘n nuwe lewe te betree:
Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.
Gen 6:17-18 Want kyk, Ék bring ‘n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ‘n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe. Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou.
Noag en sy familie was altesaam agt in die ark, en ons weet dat die getal agt dui op die nuwe mens in Christus, wat ‘n totale nuwe skepping sal inlei. Hierdie gebeure in Noag se dae help ons om te verstaan hoe God Sy duisend jaar koninkryk op die aarde vestig en hierdie aarde tot orde roep. God sal orde bring in elke gemeenskap op aarde, en die chaos wat op die oomblik op die aarde heers sal beëindig word. Alle godsdienste en politieke leiers sal moet neerbuig voor die koninkryk van God. ALMAL sal onderwerp word aan Christus en Sy uitverkorenes se heerskappy op aarde onderwerp:
Open 2:26-28 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. 28 En Ek sal hom die môrester gee.
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Petrus verklaar dat baie mense, in hierdie tyd veral, nie die oortuiging sal hê dat God regtig Sy uitverkore geestelike volk sal manifesteer en Sy koninkryk op die aarde sal vestig nie. Petrus noem hulle “spotters” wat openlik hierdie gebeurtenis as onsinnig afmaak, net soos die spotters gedoen het in die dae van Noag:
2Pe 3:3-7 Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4 en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. 5 Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.
Paulus het egter dit duidelik gemaak, onder die inspirasie van die gees van God, dat God wel Sy opgewekte volk wat deel was van die eerste opstanding hier op aarde OPENLIK sal tentoonstel as VERLOSSERS. Die koms van Christus se volk en koninkryk op aarde sal groot verligting bring aan hulle wat nou roep en bid na God vir ‘n oplossing uit al hul swaarkry, smarte en pyn.
Rom 8:12-21 Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; 13 want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. 14 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. 15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! 16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. 18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.
Daar is egter ook hulle wat in weelde op aarde leef, en nie eens Christus se koms aan dink nie. Hierdie spotters leef voort volgens hul eie oortuigings en begeerlikhede en sê: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af”. Jesus het hierdie moedswillige houding in sommige as volg uitgebeeld:
Mat 24:36-51 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. 37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, 39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 40 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. 43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. 44 Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie. 45 Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? 46 Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. 47 Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. 48 Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom— 49 en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, 50 dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; 51 en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Die mens op aarde, die spotters ingesluit, sal almal van die aarde verwyder word, soos dit gebeur het in die dae van Noag, maar die keer sal water nie gebruik word nie:
Gen 9:11-17 En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. 12 En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: 13 my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14 As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, 15 dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie. 16 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. 17 En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
Hierdie “boog…in die wolke”, wat God se verbond met mense uitbeeld, is ook sigbaar vir hulle wat nou ‘n geopende deur in die hemel sien, en hul plekke inneem op hul eie trone as God se uitverkorenes wat die aarde inderdaad sal regeer:
Open 4:1-4 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.
Die duisend jaar-ryk van God is egter nie die einde van God en Sy uitverkorenes se werk nie. Nee, daar wag ‘n groter taak en dit is om alle vlees en hierdie skepping totaal te vernietig, en ook “die ander dode” tot lewe in Christus te bring. God het ‘n laaste belangrike taak vir Satan, en dit is om die inwoners van die aarde tot ‘n opstand te lei wat dan die duisend jaar ryk sal beëindig. Alles is deel van God se plan omdat God alle fisiese liggame en ook die hele fisiese skepping sal vernietig:
Open 20:7-10 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Met al die dinge agter die rug, kan God nou Christus en Sy uitverkorenes inspan vir hul finale werk:
1Kor 15:24-28 Daarna kom die einde [“die ander dode“], wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Alles word finaal onderwerp aan die Vader wanneer Christus en Sy uitverkorenes sal optree as die “poel van vuur” waar “die ander dode” almal deur die “tweede dood” verlossing sal kry van hul vleeslike denke, valse leerstellings en oortuigings sodat daardie dood ook finaal in almal uitgewis kan word.
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Deur die finale oordeel, die groot wittroon-oordeel (ook die “tweede dood” genoem) sal God almal tot redding bring:
Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
1Kor 15:24-28 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.