‘Baie is geroep, maar min uitverkies’ – Deel 6(E1): Die uitverkiesing van Josef – sy tyd as jongeling by sy familie

Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.

Die sinfrase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes in die Nuwe Testament voor, waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14).

In Deel 2(A) van hierdie studiereeks was die fokus op die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus. In Deel 2(B) was die fokus op die doel van die gelykenisse van Jesus wat ons dan ook help om te sien waarom daar twee groepe is waarmee Jesus werk, die “baie” en die “min”.

In Deel 3 kyk ons na die oorspronklike Griekse woorde klētos en ekletos’ wat onderskeidelik vertaal word as “geroep” en “uitverkies” in Afrikaans in die volgende verse:

Mat 20:16  So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep [Grieks:klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].

Mat 22:14  Want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].

In Deel 4 en Deel 5 kyk ons na die geestelike boodskap wat in die gelykenisse in Mattheus 20 en 22 onderskeidelik voorkom om ons te help om die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” beter te verstaan, soos God wil.

Ten laaste wil ons ‘n paar voorbeelde in die Skrifte kortliks aanraak waar die beginsel van die “min” uitverkorenes uitgebeeld word. Ons kan ook deur hierdie voorbeelde sien hoe alles wat in die Skrifte neergeskryf is, help om ons roeping en uitverkiesing te verstaan en raak te sien in ons eie lewe.

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

In Deel 6(A) kyk ons na Noag, sy uitverkiesing, die impak op sy gesin, en die totstandkoming van ‘n nuwe geslag.

In Deel 6(B) kyk ons na die voorbeeld van Abraham wat ook in die Skrifte gebruik word om die uitverkiesingsleer van Christus te verduidelik.

In Deel 6(C) kyk ons na die geslagslyn van Isak as die uitverkore seun van Abraham waar ons baie leer oor die aanneming van kinders van God in Jesus Christus.

In Deel 6(D) kyk ons kortliks na die lewe van Jakob, die uitverkore seun van Isak, en wat ons leer uit sy lewe t.o.v. sy verstandigheid en sy sterk begeerte vir die eersgeboortereg. Hierdie eersgeboortereg kry sy geestelike toepassing in die “min” uitverkorenes in Jesus Christus wat sterk begeer om deel te wees van die salige en heilige eerste “opstanding van die lewe”:

Joh 5:28-29  Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor  29  en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Hierdie opstanding van die lewe hou belangrike gevolge in vir die uitverkorenes sover dit hul eie lewens betref, maar ook in hul werk m.b.t. die redding van die hele geestelike en menslike skeppings.

1Kor 6:2-3  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?  3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

In hierdie studie bespreek ons nog ‘n pragtige voorbeeld van die uitverkiesing van die “min” deur kortliks te kyk na die lewe van Josef wat vir ons in die Skrifte in Genesis uitgebeeld word.

Josef – sy tyd as jongeling by sy familie

Jakob het altesaam twaalf seuns gehad by sy vroue, Lea en Ragel, en sy byvroue, Bilha en Silpa. Let veral op na die orde van die geboortes en by wie hierdie seuns gebaar was:

Gen 29:31-35  En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar.  32  En Lea het bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê.  33  En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem.  34  En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem.  35  En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.

Gen 30:1-13  En toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek.  2  Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het?  3  En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word.  4  Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan.  5  En Bilha het swanger geword en vir Jakob ‘n seun gebaar.  6  Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my ‘n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem.  7  En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob ‘n tweede seun gebaar.  8  Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem.  9  En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou.  10  En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob ‘n seun gebaar.  11  Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem.  12  Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob ‘n tweede seun gebaar.  13  Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem.

Gen 30:17-20  En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob ‘n vyfde seun gebaar.  18  Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Issaskar genoem.  19  En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ‘n sesde seun gebaar.  20  Toe sê Lea: God het my ‘n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.

Gen 30:22-24  En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:  23  sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem.  24  En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my ‘n ander seun daar byvoeg!

Gen 35:16-18  Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling.  17  En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook ‘n seun vir u.  18  En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.

Dit was eers nadat Lea (die nie-geliefde vrou van Jakob) en die twee byvroue van Jakob, Bilha en Silpa, tien seuns gebaar het, dat God Ragel (die geliefde vrou van Jakob) se gebede verhoor het en sy twee seuns vir Jakob gebaar het. Die getal tien beeld uit die vlees (die “baie”), en die getal twee beeld uit die geestelike getuies van God (die “min”). Hier sien ons weer die beginsel dat die vlees “eerste” in ons lewe kom, maar aan die einde van die proses sal dit “laaste” eindig (dit sal totaal vernietig word). Die vlees is ‘n tydelike tentwoning. Daarenteen kom die geestelike geboorte later in ons lewe (die “laaste”), maar dit is die geestelike skepping wat aan die einde van die proses “eerste” sal wees en ons ewige woning sal wees:

Mat 20:16  So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

2Kor 5:1-3  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.  2  Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,  3  as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.

Ons moet eerste ons tyd in vlees voltooi (die aardse lewe van die eerste mens, Adam in ons), deur die dood gaan, voordat God ons Sy nuwe geestelike lewe gee in Jesus Christus (lees gerus Johannes 3 oor vleeslike geboorte (eerste in ons lewe) en die geestelike wedergeboorte (wat laaste in ons lewe kom) in God se plan vir elke mens:

1Kor 15:45-50  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die mens is inderdaad bestem om een maal ‘n vleeslike bestaan te hê, waarna daardie vleeslikheid geoordeel word, en deur daardie oordeel word die nuwe geestelike skepping na vore gebring:

Heb 9:27  En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,

1Kor 3:13-15  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.  14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;  15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Die tien seuns was eerste gebore, en daarna was die twee geliefde seuns van Jakob gebore by sy geliefde vrou, Ragel. Lea en die byvroue Bilha en Silpa stel ons eerste periode in vlees voor, en ook ons eerste ontmoeting met Jesus in vlees voor. Ja, selfs Jesus gaan deur hierdie proses in ons eie lewe, en sodoende leer ons van die orde van God se werke in ons lewe, en in die lewe van elke mens:

Joh 1:14  En die Woord [Jesus] het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Gal 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,

Die vleeslike dinge is eerste en dit is eerste vrugbaar in ons lewe. Hier volg die werke of vrugte van die vlees wat in ons woon, en hierdie produkte van die vlees sal op die bepaalde tyd aan ons vertoon word:

Gal 5:19-21  En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;  20  afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap;  21  afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

Die vlees en sy werke was nooit en sal nooit in God se geestelike volmaakte koninkryk bestaan nie. Die vlees is ‘n onvolmaakte skepping in die hand van die Pottebakker. Dit is in die hand van die Pottebakker dat die vlees misluk.

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die [eerste] voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons is skaam en voel vuil as die werke van die vlees in ons lewe geopenbaar word, maar die doel daarvan is dat ons groot en belangrike lesse uit die mislukkings van ons vlees moet leer. Ons moet verstaan wat God se plan en doel met die vlees is. Ons moet tot Hom roep en op Sy verlossing staatmaak, nie ons eie oplossings nie. Maar hierdie proses neem lank. Ons moet geduldig wag op die volmaakte skepping in gees:

Luk 21:19  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Hand 14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Ragel moes baie lank wag om geboorte te skenk, en daaruit leer ons belangrike lesse hoe ons die geestelike lewe in besit neem. Ragel is dan ook ‘n tipe van die bruid van Christus waarin die “min” uitverkorenes nou versamel word. Die uitverkorenes sien die ware Christus in gees, maar weet ook dat ons nou net ‘n belofte van daardie gees ervaar:

Efes 1:11-14  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,  12  sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het,  13  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,  14  wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die uitverkorenes leer stelselmatig deur baie verdrukkinge dat hulle eerste deur die proses geneem word, en ook die eerste sal wees om verlos te word van hul aardse bestaan om eerste in die geestelike volmaaktheid opgeneem te word:

Jak 1:17-18  Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.  18  Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.

Die konsep van “eerstelinge” veronderstel dat die ander mense sal volg om ook die geestelike perfektheid deelagtig te word. Die geestelike lewe in Christus word eerste geskenk aan hierdie “min” uitverkorenes, maar alle mens sal gered word uit hul vleeslikheid, “op die regte tyd”:

2Kor 5:15-16  omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.  16  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

1Ti 2:3-6  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,  4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  6  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.

1Ti 4:9-10  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;  10  want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

Die Vader se fokus is nou op hierdie “gelowiges”eerstelinge” in Christus, en dit is dan ook waarom Josef (en sy broer Benjamin) as ‘n tipe van die uitverkorenes in Genesis aangedui is. Josef, die eerste seun van Ragel, leer ons baie uit sy lewe oor die haat wat teen ons kom omdat ons die waarheid van die ware Christus en Sy evangelie glo. Josef beeld ook uit die smarte wat ons moet verduur in die aanloop tot die eerste opstanding en die geduld wat God skenk om die lewe en denke van Chrirstus in ons te vestig. Dit verg inderdaad bomenslike krag om te volhard tot die einde om eendag ons erfdeel in besit te neem, en te regeer saam met Jesus as deel van die uitverkore heiliges:

Luk 21:16-19  Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak.  17  En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.  18  En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.  19  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Dit was die pad wat Josef vir ons geloop het as voorbeeld, om ons te help om te verstaan dat alles wat met hom gebeur het, ‘n geestelike tipe was van ons eie pad na geestelike volmaaktheid in Christus:

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [Israel van ouds] oorgekom as voorbeelde [tipes]en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Josef was as seun openlik bevoordeel deur Jakob, en daarvan het Josef se tien broers niks gehou nie:

Gen 37:1-4  En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.  2  Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.  3  En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak.  4  Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

Die vlees is altyd teen die gees, en ons sal dit in ons eie lewe ervaar tot aan die einde van ons aardse lewe. Sodra ons wil goed doen, dan staan die vlees teen ons:

Gal 5:17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Maar as ons in die gees van Christus wandel, sal ons die vlees stelselmatig oorwin:

Gal 5:16  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;

Fil 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Josef het hom nie laat onderkry deur sy ouers broers nie. Josef was nie skaam om die drome wat hy van God gekry het, openbaar te maak nie. Dit het sy tien broers verder kwaad gemaak:

Gen 37:5-8  Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.  6  Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.  7  Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.  8  Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

God het aan Josef ‘n droom gegee dat hy eendag oor hulle almal sou heers, en sy broers was afgunstig op hom en in hul harte het hulle begin om sy moord te beplan:

Gen 37:9-11  Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.  10  Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?  11  En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.

As die Here ons roep en aan ons wys dat ons uitverkies is om Sy waarheid te kan sien en verstaan, dan volg die vervolging van hulle wat dink ons is selfvoldaan en arrogant.

2Ti 3:12-13  En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.  13  Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.

Die vervolgers (die “baie”) hou die uitverkorenes (die “min”) noukeurig dop en wag op enige misstap. Maar troos en versterking kom in Christus, en Sy ware mede-uitverkorenes weet dit alles is nie uit hulself nie:

Rom 8:31-39  Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?  32  Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?  33  Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.  34  Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.  35  Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?  36  Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.  37  Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.  38  Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge  39  of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Josef het altyd aan Jakob verslag gegee oor wat die tien broers aanvang met sy pa se skape:

Gen 37:12-14  En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.  13  Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!  14  Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.

Die uitverkorenes in Christus ontbloot die leuens van die valse herders wat die Vader se skape mislei en hulle gebruik vir die gewin van die herder:

Eseg 34:1-6  En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:  2  Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?  3  Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie;  4  julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.  5  So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak.  6  My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.

Die valse herders word uitgeken aan geldgierigheid of ‘n drang na beheer oor mense, of albei saam. Die ware herders van Christus tree heel anders op en is vergenoegd met min:

Mat 20:25-28  Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen;  26  maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  27  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;  28  net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

1Ti 6:7-10  Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.  8  Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.  9  Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.  10  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

2Kor 1:24  nie dat ons [die ware herders van Christus] heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.

2Kor 2:17  Want ons [die ware herders van Christus] is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

Die teenstanders is ongeduldig en oordadig, en dit verraai hulle motiewe. Die broers van Josef het planne beraam om Josef se val te bespoedig:

Gen 37:18-24  En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.  19  En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!  20  Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.  21  Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.  22  Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie—sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.  23  En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,  24  en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.

Die vlees het geen gewete nie, en doen sonde en gaan voort asof niks gebeur het nie.

1Ti 4:1-2  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang  2  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete.

Die valse kerke (die ongeliefde vrouens) bedryf owerspel teen Jesus, en hulle gebruik Sy naam, maar eet hulle eie brood (valse leerstellings) en trek hul eiegeregtigheid aan, en dink niks daarvan nie:

Spr 30:20  So is die weg van ‘n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie.

Jes 4:1  En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.

Ons sien hierdie ongevoelige brandmerk in die gewetens van Josef se broers

Gen 37:25-28  Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ‘n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom—hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.  26  Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?  27  Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.  28  En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.

Hulle gewetens het hulle glad nie aangekla nie, en hulle het selfs ‘n leuen aan Jakob opgedis wat hul eie pa se hart gebreek het.

Gen 37:31-36  Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag ‘n bok en steek die rok in die bloed,  32  en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.  33  En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!  34  Toe skeur Jakob sy klere en trek ‘n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank.  35  En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.  36  En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.

Hierdie tien broers was gewetenlose bedrieërs in murg en been, en dit is hoe die “baie” geroepenes optree as dit kom by die redding van siele. Hulle het geen gevoel om die valse hel-leerstelling vol bravade te verkondig en mense wat nie met hul saamstem nie, vir ewig te verdoem sonder om te blik of te bloos. Hulle preek hul verfoeisels in die huis van God, en spaar nie eens hul eie kinders nie deur leuens van die wêreld aan hulle oor te dra nie:

Jer 7:30-33  Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die HERE. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig.  31  En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.  32  Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.  33  En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.