‘Baie is geroep, maar min uitverkies’ – Deel 6(E3): Die uitverkiesing van Josef – sy aanvanklike tyd as heerser in Egipte onder die farao

Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.

Die sinfrase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes in die Nuwe Testament voor, waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14).

In Deel 2(A) van hierdie studiereeks was die fokus op die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus. In Deel 2(B) was die fokus op die doel van die gelykenisse van Jesus wat ons dan ook help om te sien waarom daar twee groepe is waarmee Jesus werk, die “baie” en die “min”.

In Deel 3 kyk ons na die oorspronklike Griekse woorde klētos en ekletos’ wat onderskeidelik vertaal word as “geroep” en “uitverkies” in Afrikaans in die volgende verse:

Mat 20:16  So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep [Grieks:klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].

Mat 22:14  Want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].

In Deel 4 en Deel 5 kyk ons na die geestelike boodskap wat in die gelykenisse in Mattheus 20 en 22 onderskeidelik voorkom om ons te help om die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” beter te verstaan, soos God wil.

Ten laaste wil ons ‘n paar voorbeelde in die Skrifte kortliks aanraak waar die beginsel van die “min” uitverkorenes uitgebeeld word. Ons kan ook deur hierdie voorbeelde sien hoe alles wat in die Skrifte neergeskryf is, help om ons roeping en uitverkiesing te verstaan en raak te sien in ons eie lewe.

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

In Deel 6(A) kyk ons na Noag, sy uitverkiesing, die impak op sy gesin, en die totstandkoming van ‘n nuwe geslag.

In Deel 6(B) kyk ons na die voorbeeld van Abraham wat ook in die Skrifte gebruik word om die uitverkiesingsleer van Christus te verduidelik.

In Deel 6(C) kyk ons na die geslagslyn van Isak as die uitverkore seun van Abraham waar ons baie leer oor die aanneming van kinders van God in Jesus Christus.

In Deel 6(D) kyk ons kortliks na die lewe van Jakob, die uitverkore seun van Isak, en wat ons leer uit sy lewe t.o.v. sy verstandigheid en sy sterk begeerte vir die eersgeboortereg. Hierdie eersgeboortereg kry sy geestelike toepassing in die “min” uitverkorenes in Jesus Christus wat sterk begeer om deel te wees van die salige en heilige eerste “opstanding van die lewe”:

Joh 5:28-29  Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor  29  en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Hierdie opstanding van die lewe hou belangrike gevolge in vir die uitverkorenes in Christus sover dit hul eie lewens betref, maar ook in hul werk m.b.t. die redding van die hele geestelike en menslike skeppings.

1Kor 6:2-3  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?  3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

In Deel 6(E1) bespreek ons die voorbeeld van Josef, en konsentreer eerste op sy kinderjare, wat weereens die uitverkiesing van die “min” belig, vir ons lering “op wie die eindes van die eeue gekom het”.

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle [Israel van ouds] oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

In Deel 6(E2) kyk ons na Josef se tyd as slaaf en sy gevangenisskap in Egipte, wat vir ons help om ons eie tye van lyding en die baie verdrukkinge van die vlees te verstaan.

Josef se tyd as heerser in Egipte

Josef is inderdaad ‘n voorbeeld (tipe) van God se uitverkorenes in Christus wat deur baie verdrukkinge gaan in hierdie lewe, en in die proses daagliks sterf vir hul ou mens van vlees, want hulle weet wat die prys is wat aan hule belowe word, indien hul volhard tot die einde.

Hand 14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Open 15:8  En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

1Kor 15:31  Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Mat 10:22-25  En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.  23  En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.  24  ‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie.  25  Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!

Daar kom ‘n dag waar die basuin van God sal blaas en hulle wie in Christus gesterf het, eerste opgewek sal word om te heers op die aarde.

1Kor 15:50-55  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.  51  Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,  52  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.  53  Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.  54  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.  55  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

Die volgende fase in die storie van Josef volg nadat hy uit gevangenis geroep word deur die farao, en Josef tot ‘n nuwe lewe opgeroep word. Die tronk was toe die regte plek waar Josef moes wees, volgens die tyd en plek van God se besluit. Die idees in die Skrifgedeelte wat eerste mens se aandag trek is dat Josef “uit die gevangenis kom”, en dat hy “geskeer” het, en “ander klere aangetrek” het. Dit alles sinspeel op die eerste opstanding uit die dood waartydens die uitverkorenes opgeroep word tot die nuwe lewe in gees, en as heersers en priesters op die aarde aangestel word:

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Hierdie uitverkorenes in Christus kom uit die gevangenis van sonde (hulle het die dood en die vlees oorwin), en hul denke is vernuwe (in die gees van Christus) om die geregtigheid van Christus te vertoon. Hulle was inderdaad onthoof op ‘n simboliese manier, wat verwys na die wegneem van die ou denke, en die instelling van die nuwe denke van Christus:

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin (denke) van Christus.

Jesus maak ons vry van ons aardsheid, deur ons denke te vernuwe om Sy geestelike dinge te kan sien:

Luk 4:16-19  Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.  17  En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:  18  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  19  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Dit was in die tronk waar Josef die voorman van die farao ontmoet het. Dit is hierdie voorman wat Josef se naam en sy gawe om drome uit te lê aan die farao bekend gemaak het. Die farao het geen ander keuse gehad as om met God se uitverkorene gesprek te voer nie. Josef het aan sy God al die eer gebring, en dit openlik bely voor die farao.

Gen 41:14-16  Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.  15  Toe sê Farao vir Josef: Ek het ‘n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ‘n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.  16  En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ‘n gunstige antwoord gee.

Die farao van Egipte was beïndruk deur Josef se uitleg van sy droom en het God geëer. Josef het aan farao gesê dat God aan hom die droom se uitleg bekend gemaak het:

Gen 41:37-39  En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.  38  Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?  39  En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.  

Die farao het aan Josef ‘n prominente rol gegee in die administrasie van Egipte, met een belangrike klosule:

Gen 41:40  Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.

Hierdie woorde van die farao is baie belangrik om van kennis te neem omdat dit ons help om die verhoudings in die geestelike koninkryk van God te verstaan. Soos God, die Vader, belangriker (“groter”) is as Jesus, so sal Jesus ook altyd belangriker wees as Sy skepsels, self die uitverkorenes sal Hom altyd hoër ag as hulself:

Joh 13:16  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.

Joh 14:28  Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.

Fil 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,  10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Josef se aanvanklike heerskappy was net beperk tot Egipte:

Gen 41:41  Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.

Josef was baie spesiaal behandel en hy het met nederigheid alles uit die hand van die farao ontvang:

Gen 41:42-44  Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang  43  en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. 44 En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.

Drie dinge uit hierdie teks sal hier verduidelik word, want dit het groot geestelike betekenis vir God se uitverkorenes in Christus: (1) die seëlring (2) fyn linneklere (3) goue ketting.

Hierdie betrokke farao beeld ons hemelse Vader uit. Josef beeld Christus uit, en ook hulle wie na Christus getrek word en in Hom opgeneem word. Die seëlring wat Josef van die farao ontvang het, beeld uit die verseëling van die gees van die Vader, wat die Vader eerstens aan Jesus geskenk het:

Luk 1:35  En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

Mat 3:16-17  En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  17  En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.

Luk 4:16-18  Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.  17  En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:  18  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;

Joh 16:15  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Jesus het ook die gees van die Vader aan Sy uitverkorenes beloof:

Joh 14:15-17  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.  16  En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:  17  die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Hierdie gees van die Vader word nou aan die uitverkorenes geskenk in die vorm van ‘n onderpand, wat beteken dat dit slegs in belofte geskenk word. Dit volheid van die gees van die Vader word eers gegee by die eerste opstanding:

2Kor 1:21-22  Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God,  22  wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.

Efes 1:13-14  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,  14  wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die tweede geskenk wat die farao aan Josef gegee het was fyn linneklere. Die fyn linneklere beeld uit die geregtigheid van God in Christus wat alleenlik deur geloof ontvang word, en dit is die enigste sleutel wat toegang tot die koninkryk van God bied.

Rom 1:17  Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

Heb 11:6  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Rom 3:22  die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie.

Rom 5:17  Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.

Gal 5:5  Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

Fil 3:9-11  en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié [geregtigheid] wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;  10  sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,  11  of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.

2Ti 4:8  Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.

Hulle wie hierdie kleed van geregtigheid van Christus ontvang is die bruid van die Lam en hulle alleenlik is deel van die bruilofsfees en maaltyd van die Lam, dit is die salige en heilige eerste opstanding:

Open 19:6-9  En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.  7  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  9  Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

Die derde geskenk wat die farao aan Josef geskenk het, was ‘n goue ketting. Josef moes die goue ketting om sy nek dra. Die goue ketting om sy nek het Josef se heerskappy aangedui. Die uitverkorenes in Christus sal heerskappy kry op die aarde tydens die duisend jaar regeringstyd van Christus:

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die farao het ook aan Josef ‘n nuwe naam gegee, en ook sy vrou aan hom gegee:

Gen 41:45-46  En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag [betekenis: wyse man wat geheime kan verklaar] en aan hom Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.  46  En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.

Die naam Sáfenat-Panéag verwys na ‘n wyse man wat geheime kan verklaar. Christus is die wysheid van God, en in Christus en Sy Woord word alle geheime en verborgenhede van God verklaar:

1Kor 1:23-24  maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;  24  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

Luk 4:16-19  Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.  17  En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:  18  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  19  om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Deur God se Woord, Christus, word hierdie gawe ook aan Sy uitverkorenes geskenk:

1Kor 2:6-10  Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.  7  Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,  8  wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie—  9  maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  10  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

Soos reeds gemeld, beeld hierdie farao ons hemelse Vader uit wat aan Christus alles skenk, ook Sy bruid, wat bestaan uit Sy uitverkorenes wat die Vader ook self uitverkies het:

Joh 16:15  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Fil 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,  10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Joh 6:37  Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

Open 19:6-9  En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.  7  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  9  Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.  

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.