Lees gerus Deel 1 wat ‘n agtergrond tot hierdie studiereeks verskaf.
Die sinfrase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom in twee gedeeltes in die Nuwe Testament voor, waar Jesus ook twee gelykenisse vertel het, naamlik die gelykenis van die arbeiders in die wingerd in Mattheus 20 (verse 1 tot 16), en die gelykenis van die bruilofsfees in Mattheus 22 (verse 1 tot 14).
In Deel 2(A) van hierdie studiereeks was die fokus op die sentrale hooftema in al die gelykenisse van Jesus. In Deel 2(B) was die fokus op die doel van die gelykenisse van Jesus wat ons dan ook help om te sien waarom daar twee groepe is waarmee Jesus werk, die “baie” en die “min”.
In Deel 3 kyk ons na die oorspronklike Griekse woorde ‘klētos’ en ‘ekletos’ wat onderskeidelik vertaal word as “geroep” en “uitverkies” in Afrikaans in die volgende verse:
Mat 20:16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
Mat 22:14 Want baie is geroep [Grieks:‘klētos’ / Strong’s #G2822], maar min uitverkies [Grieks:‘ekletos’ / Strong’s #1588].
In Deel 4 en Deel 5 kyk ons na die geestelike boodskap wat in die gelykenisse in Mattheus 20 en 22 onderskeidelik voorkom om ons te help om die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” beter te verstaan, soos God wil.
Ten laaste wil ons ‘n paar voorbeelde in die Skrifte kortliks aanraak waar die beginsel van die “min” uitverkorenes uitgebeeld word. Ons kan ook deur hierdie voorbeelde sien hoe alles wat in die Skrifte neergeskryf is, help om ons roeping en uitverkiesing te verstaan en raak te sien in ons eie lewe.
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
In Deel 6(A) kyk ons na Noag, sy uitverkiesing, die impak op sy gesin, en die totstandkoming van ‘n nuwe geslag.
In Deel 6(B) kyk ons na die voorbeeld van Abraham wat ook in die Skrifte gebruik word om die uitverkiesingsleer van Christus te verduidelik.
In Deel 6(C) kyk ons na die geslagslyn van Isak as die uitverkore seun van Abraham waar ons baie leer oor die aanneming van kinders van God in Jesus Christus.
In Deel 6(D) kyk ons kortliks na die lewe van Jakob, die uitverkore seun van Isak, en wat ons leer uit sy lewe t.o.v. sy verstandigheid en sy sterk begeerte vir die eersgeboortereg. Hierdie eersgeboortereg kry sy geestelike toepassing in die “min” uitverkorenes in Jesus Christus wat sterk begeer om deel te wees van die salige en heilige eerste “opstanding van die lewe”:
Joh 5:28-29 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.
Hierdie opstanding van die lewe hou belangrike gevolge in vir die uitverkorenes in Christus sover dit hul eie lewens betref, maar ook in hul werk m.b.t. die redding van die hele geestelike en menslike skeppings.
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
In Deel 6(E1) bespreek ons die voorbeeld van Josef, en konsentreer eerste op sy kinderjare, wat weereens die uitverkiesing van die “min” belig, vir ons lering “op wie die eindes van die eeue gekom het”.
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [Israel van ouds] oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
In Deel 6(E2) kyk ons na Josef se tyd as slaaf en sy gevangenisskap in Egipte, wat vir ons help om ons eie tye van lyding en die baie verdrukkinge van die vlees te verstaan.
In Deel 6(E3) kyk ons na Josef se aanvanklike tyd as heerser oor Egipte. Jesus maak ons vry van ons aardsheid, deur ons denke te vernuwe om Sy geestelike dinge te kan sien.
In Deel 6(E4) sien ons hoe Josef die tyd van voorspoed en oorvloed in Egipte bestuur het, en dit help die uitverkorenes in Christus om te sien hoe Christus en Sy Woord ons stelselmatig bevry van ons eie sondige toestand wanneer ons nie meer diensknegte van sonde is nie, maar die diensknegte van die geregtigheid van Christus gemaak word.
Rom 6:1-7 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
Rom 6:15-18 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! 16 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? 17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, 18 en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.
Josef – die tipe van Christus as die ‘Behouder van alle mense’
Josef het tydens die sewe goeie jare se oeste die voedsel versamel in plekke van bewaring – die koring was ontelbaar soos die sand van die see!
Gen 41:47-49 En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed. 48 Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit—die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit. 49 So het Josef dan ‘n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.
Ons word geleer dat ons God se Woord moet bewaar in ons harte, en ons daarop toelê om God te eer in alles wat Hy aan ons gee:
Psa 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
Alles behoort aan God, en alles wat ons ontvang kom van God. Ons moet God eer in “die hele tiende”:
Mal 3:10-12 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. 11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. 12 En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.
Die uitverkorenes in Christus is hierdie “skathuis” en ook “die land van welbehae” waar Christus Sy oorvloedige seën geplaas het. God plaas Sy Woord in Sy skathuis en Sy land van welbehae sal aan almal sigbaar word op die tyd soos God bepaal. Die uitverkorenes se roeping is vasgestel, en niemand sal dit kan keer wat God bepaal het om te gebeur:
Rom 8:28-39 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. 31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. 35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
Die skathuis van Christus is Sy uitverkorenes wat deur baie verdrukkinge die stryd van die geloof suksesvol voltooi.
Gen 41:53-56 Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde gekom, 54 en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood. 55 En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê. 56 En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland.
Hier sien ons ook die positiewe toepassing van Egipte as die land van oorvloed, die uitverkorenes in Christus, waarna die hele wêreld sal kom om gevoed te word deur God se Woord. Die res van die mensdom ervaar dieselfde vurige oordele op ‘n later stadium, en hulle sal ook deur die vuur geneem word om God se redding te ervaar. Hulle sal ook bewus gemaak word van hul eie hongerte vir God se geregtigheid. Dit is wat die hongersnood ook dan uitbeeld wat in die hele wêreld gekom het in Josef se dae van heerskappy in Egipte. Almal sal geforseer word om na God te roep vir reddding in Christus, soos almal na Josef gekom het vir voedsel. Josef is ‘n tipe van Jesus wat deur God aangestel is om die hele wêreld tot redding te bring. Selfs die familie van Josef sal ook deur God getrek word deur hul behoefte om na Egipte te gaan vir voedsel:
Gen 42:1-5 Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat kyk julle so na mekaar? 2 En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie. 3 Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop. 4 Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan ‘n ongeluk hom oorkom. 5 So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän.
Die tien broers van Josef word nou deur God opgestel om hul dag van oordeel te beleef. Hulle was total onbewus van wat vir hulle voorlê! Selfs toe hulle voor Josef verskyn, as die maghebber in Egipte, kon hulle hom nie eens herken nie. Hulle moes buig voor God se uitverkorene, soos hy aan hulle geprofeteer het toe hy jonk was. Nou het die dag van afrekening gekom en hulle sou deur diep beproewinge geneem word deur Josef om hulle eie harte te ontbloot, en uiteindelik tot nuwe oortuigings te bring:
Gen 42:6-8 En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig. 7 Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop. 8 En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie.
God het vir almal ‘n tyd van oordeel waartydens die boeke (die harte) geopen word en die ware toedrag van sake aan die lig gebring word. God se oordeel is pynlik, maar doelgerig en die uitkoms is baie positief:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Josef het reeds deur hierdie tyd van oordeel gegaan toe hy gehaat en bespot was deur sy tien broers, waar hulle hom letterlik wou vermoor. Josef het deur diep smarte gegaan, maar sy tien broers was ongeërg en gevoelloos. Josef moes verder as slaaf in ‘n vreemde land gaan werk, en was selfs ook daar vervolg en die smarte het net verdiep in Egipte. Maar alles wat in die lewe van die uitverkorenes gebeur, die goed en die kwaad, werk ten goede uit. Paulus beeld dit as volg uit:
Rom 8:27-28 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. 28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
God se uitverkorens word inderdaad eerste geneem deur hul tyd van oordeel, soos die apostel Petrus ook so duidelik beskryf in die volgende woorde:
1Pe 4:12-14 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.
1Pe 4:16-18 Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. 17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?
Josef moes deur sy tydperk gaan toe smarte en lyding sy deel was. Wat God egter in privaatheid in ons lewe doen, word later in die openbaar uitgewys:
Mat 6:16-18 En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 17 Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, 18 sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.
Die uitverkorenes in Christus is nie beroemde figure nie, maar word weggesteek deur God, soos Josef se tyd as slaaf en selfs st tyd in gevangenisskap uitbeeld. Dit voel soms of ons wat die waarheid ken alleen staan teen die oormag van leuens in die wêreld. Maar die woorde van Paulus is baie insiggewend oor hoe Elia gebruik was om die volgende waarheid te beklemtoon:
Rom 11:3-5 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! 4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. 5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.
God het inderdaad ‘n “oorblyfsel” in die teenwoordige tyd wat ooreenkomstig die uitverkiesing genade ontvang om “ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe”. Die uitverkorenes is Jesus se eiendom wat Hy gaan gebruik om die res van die mensdom te red van hulle sonde en ongeregtigheid:
Tit 2:11-15 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. 15 Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie.
Josef se broer, Benjamin, verdien hier ook spesiale melding. Benjamin was Josef se broer by die geliefde vrou van Jakob, Ragel. Benjamin moes ook deur tye van hartseer en verlange na sy geliefde broer worstel nadat die tien broers die vals boodskap van Josef se dood kom oordra het. Benjamin was ook geforseer om die reis na Egipte te maak om voor die onbekende heerser van Egipte te verskyn:
Gen 43:11-34 Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man ‘n geskenk af—bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels; 12 en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit ‘n vergissing. 13 En neem julle broer—maak julle klaar en gaan terug na die man. 14 En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek—as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof. 15 Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan. 16 Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet. 17 En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring. 18 En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels. 19 Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis 20 en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop, 21 maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak—ons geld volgens sy gewig—en ons het dit saam met ons teruggebring. 22 Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie. 23 Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring. 24 En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee. 25 En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet. 26 Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe. 27 En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog? 28 En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig. 29 Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag God jou genadig wees, my seun! 30 En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween. 31 Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die ete op! 32 Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars ‘n gruwel is. 33 En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan. 34 Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.
Benjamin het vyf maal groter porsies kos as sy broers gekry. Die geestelike betekenis van die getal vyf beeld uit geloof deur genade, wat aan die uitverkorenes in Christus geskenk word:
Efes 2:4-10 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Benjamin is dus ook ‘n tipe van God se uitverkorenes, wat deur hul ouer broer bedien en voorsien word in hierdie lewe en bevoordeel word bo die res van die mensdom. Benjamin moes ook deur sy tye van smarte en valse beskuldigings gaan, maar aan hom was spesiale aandag gegee. Selfs toe Josef homself aan sy broers openbaar, het Benjamin voordeel getrek:
Gen 45:1-22 Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2 Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. 3 En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. 4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. 5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. 6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. 7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. 8 Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland. 9 Trek gou op na my vader en sê vir hom: So spreek u seun Josef: God het my ‘n gebieder oor die hele Egipteland gemaak. Kom af na my, moenie versuim nie! 10 En u kan in die land Gosen woon en naby my wees, u en u kinders en u kindskinders en u kleinvee en u beeste en alles wat u besit. 11 En ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort. 12 En kyk, julle oë sien dit, en die oë van my broer Benjamin, dat dit my mond is wat met julle spreek. 13 Vertel my vader dan van al my heerlikheid in Egipte en van alles wat julle gesien het, en bring my vader gou hierheen af. 14 Toe val hy sy broer Benjamin om die hals en ween; en ook Benjamin het aan sy hals geween. 15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gespreek. 16 Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars. 17 En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän. 18 En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land. 19 Jy kry dan bevel—doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom. 20 En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s’n. 21 Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis. 22 Hy het aan hulle almal, man vir man, ‘n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.
Die uitverkorenes in Christus is Sy volk, wat Hy as eiendom verkry het van die Vader, en hulle word deur Hom gereinig van alle leuens en valse leerstellings deur die waarheid in Sy Woord. Christus beklee hulle met Sy geregtigheid:
1Pe 2:1-12 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; 2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, 3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is. 4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling— 8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. 9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. 11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; 12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.
Josef het sy tien broers en ook sy hele familie stelsematig gehelp om uiteindelik die plan van God met alles te verstaan. Josef se tien broers kon nie glo dat alles God se idee was nie, en dat Josef hulle vir ewig sou haat toe hulle uitvind dat hy die heerser in Egipte was. Maar God het deur Josef ‘n belangrike doel vir die tien broers, sy hele familie, en die res van die wêreld bewerkstellig het:
Gen 45:3-8 En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom. 4 Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. 5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. 6 Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. 7 Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. 8 Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.
Gen 50:19-21 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? 20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. 21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.
God het ‘n plan wat onbekend is aan die meeste mense, en as die plan uiteindelik aan hulle oopgemaak word, neem dit steeds ‘n baie lank tyd om dit te aanvaar:
1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
1Ti 4:9-11 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges. 11 Beveel en leer hierdie dinge.
God openbaar Sy plan aan Sy uitverkorenes – dit is die plan met die mensdom en die hierdie tydelike skepping waarin ons tans woon. Dit is dan ook hierdie uitverkorenes in Christus wat die hele plan aan almal sal verduidelik deur Sy vurige oordeel, en sodoende almal tot vrede in God bring:
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.