Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 1)

Koning Saul was die eerste koning van fisiese Israel, en uit sy lewe kan ons baie leer oor ons eie eerste koning wat ons lewe regeer, die eerste Adam:

1Sa 9:1-2 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man. 2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.

Vir ons as vleeslike mense is die eerste Adam die beste skepsel wat God daar kon stel. Ons is van nature dol verlief op onsself en ons glo dat ons net die beste moet hê. As baba skree ons uit ons keelgat as ons aandag wil hê en ons ouers en familie is te geneë om te hardloop om ons gemaklik te maak. So ontwikkel hierdie koning in ons – hy ontwikkel in selfsugtigheid en selfvoldaanheid.

So het dit ook gegaan met Saul, veral toe Hy deur God gekies was as eerste koning van fisiese Israel:

1Sa 9:17 Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers.

Dit was in antwoord op die volk van Israel se pleidooie aan God om ook vir hulle ‘n koning te gee sodat hulle kon inpas by die res van die aardse volke.

1Sa 8:4-9 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama, 5 en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies. 6 Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. 7 Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie. 8 Soos al die werke wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het—so doen hulle ook met jou. 9 Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer.

Samuel het Saul dan ook gesalf as eerste koning van Israel met olie uit ‘n kruik – ‘n kruik is ‘n menslike skepping en hierin sien ons ook baie geestelike verwysings na ons eie manier van dinge doen…

1Sa 10:1 En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?

In geestelike taal is ons aardse konings en regeerders ‘n verwysing na ons eie selfsugtige drange en hoogmoed wat die gees van die wêreld in ons manifesteer:

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Alles begin by ons eie Adam, ons eerste koning, wat verseker deur God gesalf word as “seun van God”…

Luk 3:38 die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

….maar hierdie eerste Adam is NIE God se uitverkore seun nie! Daardie status behoort aan Jesus Christus…

Mat 3:16-17 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. 17 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.

Mat 12:18-19 Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. 19 Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

Die uitverkore Seun van God is nie die aardse Adam nie, maar die hemelse Adam – ook genoem die “laaste Adam” omdat ons Hom eers later in ons lewens ontmoet:

1Kor 15:45-48 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

Die hemelse skepping is gereserveer vir Jesus, die “laaste Adam”, nog voor die skepping van die “eerste Adam”. Maar die eerste Adam kom eerste vir ons, sodat ons deur hierdie aardse Adam belangrike lesse moet leer. Die lewe van Saul help ons baie om te leer hoekom die eerste Adam NIE God se geestelike koninkryk kan ingaan nie.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

In ons tyd wanneer die aardse Adam regeer, is ons onervare in die geestelike dinge van God, maar ons wil hê alles moet reg verloop en goed gaan. In ons onkunde en onvolwassenheid dink ons dat ons God ken, terwyl ons in werklikheid nog nat agter die ore is in geestelike terme. As dinge in ons guns is, wil ons hê almal moet dit hoor en weet. As dinge sleg gaan kla ons weer in almal se ore. Hierdie tyd in ons lewens word pragtig in Saul se lewe aan ons gewys, vir ons lering. Kom ons lees….

1Sa 13:1-4 Saul het ‘n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het, 2 het Saul vir hom drie duisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was twee duisend in Migmas en op die gebergte van Bet-el, en duisend was by Jónatan in Gíbea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe. 3 En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor! 4 En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe.

Maar alles gaan nie altyd goed nie. En dan word ons onvolwassenheid aan ons getoon – tot groot verdriet en vernedering wat min van ons kan hanteer in hierdie lewe.

Kyk hoe Saul en sy soldate reageer toe dinge begin skeef loop en kyk of jy daarmee kan assosieer in jou eie lewe…

1Sam 13:5 En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen. 6 Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is—want die volk was in die noute gedruk—het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile. 7 En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.

Onvolwassenheid bring ons ONVERMOë na vore. Ons besef ons kan nie volhou nie. Ons is ongeskik vir die geveg. Hierdie onvermoë het ‘n maat wat ook saamkom – ONGEDULD. Een van ons vleeslike Adam se probleme is ongeduld. Dit vat net ‘n simboliese tydperk van “sewe dae” vir ons vlees om sy ongeduld te wys (die getal ‘sewe’ verwys geestelik na die voltooiing van iets – hier is dit die negatiewe toepassing van die getal. Kyk gerus na ons studie oor die getal sewe by die skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/).

Kyk hoe die gees van ongeduld vir Saul laat optree en die tragiese nagevolge – weereens ‘n verwysing na ons eie eerste koning se lewe IN ONS…

1Sam 13:8-10 En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak, 9 het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer. 10 En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.

God se tyd is nie ons se tyd nie. Dit vind ons net uit op die harde manier. Kom ons lees verder…

1Sam 13:11-12 Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, 12 het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.

Hoor Saul se woorde…”daarom het ek myself sterk gehou”. Hy het geweet dat hy verkeerd doen en dat hy nie oor die vermoë beskik nie, maar hy kon homself nie red van sy eie wysheid en die trots in sy hart nie. Ons hardkoppigheid is nou so duidelik soos daglig. Ons eie aardse hart en sy insigte is ons ondergang. Die aardse hart is van nature, uit die hand van die Pottebakker, verdorwe en dwaas:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Die koningskap van ons eerste Adam is ‘n bedrieglike koningskap. Ons glo ons sal vir ewig lewe in vlees, en dat ons dinge kan hanteer – maar dit is NIE die waarheid nie. Ons aardse koning en sy koningskap is TYDELIK en SWAK – soos deur God bepaal en die nuus kom altyd as die grootste skok. Die koningskap van die hemelse Adam, Jesus Christus, was lank al, voor ALLES in hierdie tydelike skepping, bepaal as die enigste koningskap waarmee God Homself vereenselwig.

Die ware koningskap van die aardse Israel was vir koning Dawid bestem – nie vir Saul nie. God se ware koningskap in ons lewe kom nie deur die eerste Adam nie, maar deur Jesus – die ware Koning ‘na God se hart’.

1Sam 13:13 Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. 14 Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.

Die eerste Adam is DEFINITIEF nie God se ‘beste’ skepping nie. Die eerste Adam se ‘beste’ werke voldoen OOK NIE aan God se ‘beste’ standaard nie. Net Jesus Christus, die “hemelse” Adam, is God se ‘beste’. En Hy alleen bring aan ons God se ‘beste’ – SY GEES:

1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s