Die stryd wat daar tussen koning Saul, die eerste koning van Israel, en sy opvolger, koning Dawid, bestaan het, beeld vir ons uit die stryd tussen die twee konings wat in ons lewe regeer op die tyd soos deur God bepaal. Ons aardse koning is die eerste koning van vlees en bloed wat uit die stof van die aarde gemaak was deur God:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Hierdie koning kry heerskappy van God om oor die aarde te regeer:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Hierdie aardse heerskappy het egter sy beperkinge, en dit is wat die aardse koning met skok uitvind op die tyd soos deur God bepaal. Ons aardse koning, die eerste vleeslike Adam, kan byvoorbeeld nie God se gebooie hou nie, en hy word ook baie maklik mislei – “die vlees is swak” (Mat 26:41):
Gen 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Toe Adam en Eva ontdek dat hulle tekort skiet, het hulle op hul eie werke staatgemaak om voor God heilig te wees – ons almal doen dit vandag nog.
Gen 3:7-8 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. 8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin.
Die vleeslike koning ontdek dus nie net sy aardse naaktheid en swakheid nie, maar ook sy geestelike naaktheid en onperfektheid. Ons eie pogings om ons naaktheid te dek is altyd pateties en tragies. Maar selfs in hierdie dekkingsproses vind ons verder uit hoe ons beste pogings net ‘n “besoedelde kleed” is:
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
God alleen kan vir ons regte ‘klere’ maak om aan te trek om ons naaktheid te bedek – dit is wat ons eerste aardse koning net nie wil aanvaar nie want hy is aanvanklik baie opgemaak met sy eie pogings en goeie werke:
Gen 3:21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.
Open 3:17-18 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
Ja, die eerste Adam (en sy vrou) was geestelike onperfek en hy was heeltemal onbewus daarvan:
Gen 2:21-25 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. 25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Koning Saul kon nie aanvanklik sien hoe onbevoeg hy eintlik was vir die koningskap nie. Hy het voortgeploeter en nie aan God se Woord gehoorsaam gewees nie, maar die mens se idees gevolg – hy wou populêr wees soos alle wêreldleiers maar eintlik is:
1Sa 15:19-21 Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE? 20 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. 21 Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.
Saul was naak! Hy was ontbloot! Die koningskap was van hom weggeneem a.g.v. sy ongehoorsaamheid en rebellie teenoor God. Saul wou offers bring aan God – dit was sy weergawe van die vyeblare wat hy wou gebruik om sy naaktheid te verberg:
1Sa 15:22-26 Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. 23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. 24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. 25 Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die HERE kan aanbid. 26 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees.
Ons almal gebruik ‘vyeblare’ om ons naaktheid te verberg, en ons oortuig onsself dat ons God kan fop. Soos Adam en Eva, dink ons dat God nie weet waar ons is, en wat ons doen nie – Adam en Eva was definitief geestelik blind en doof. Net die blote feit dat Adam antwoord op God se vrae, wys sy geestelike blindheid:
Gen 3:9-12 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord….. 11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? 12 En die mens antwoord…
God weet alles, en Hy bepaal alles, en Hy bewerkstellig alles. Adam het dit nie geweet nie. Saul het dit nie geweet nie. Ons in ons tyd van geestelike blindheid weet dit nie:
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Saul het aanvanklik nie geweet dat God juis Dawid vooruitbepaal het as die ware koning van Israel nie – as ‘n tipe van die geestelike Koning Jesus.
Hand 13:21-23 …. hulle [die mense van Israel] ‘n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ‘n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank. 22 En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen. 23 Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,
Saul het nie geweet dat dit juis die einste Dawid was wat vir hom moes kom musiek maak as die bose gees wat God gestuur het, vir Saul verskrik het – hierdie Dawid was God se keuse as koning bo Saul:
1Sa 16:19-23 Toe het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my. 20 Isai neem toe ‘n esel, brood en ‘n leersak met wyn en ‘n bokkie en stuur dit met sy seun Dawid na Saul. 21 So het Dawid dan by Saul gekom en voor hom gestaan; en dié het hom baie liefgekry, sodat hy sy wapendraer geword het. 22 Daarna het Saul na Isai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan, want hy het guns in my oë gevind. 23 En net wanneer daar ‘n gees van God oor Saul kom, neem Dawid die siter en speel met sy hand; dan voel Saul verlig en word beter, en die bose gees wyk van hom.
Dit is hierdie Dawid wat ‘n boesemvriend geword het met Saul se seun, Jónatan, en vir wie Saul in sy eie huishouding laat bly het op ‘n tyd:
1Sa 18:1-4 En nadat hy sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jónatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgekry soos sy eie siel. 2 En Saul het hom dié dag geneem en hom nie na sy familie laat teruggaan nie. 3 Toe sluit Jónatan met Dawid ‘n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. 4 Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel.
Dit is hierdie einste Dawid wat kans gesien het om teen die Filistyn, Goliat, te veg, en vir wie Saul laat haal het toe hy hoor van die jong man se moed:
1Sa 17:31-33 Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal. 32 En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg. 33 Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ‘n seun, en hy is ‘n krygsman van sy jeug af.
Saul het selfs vir Dawid aangestel as ‘n leier oor sy krygsmanne omdat Saul kon sien hoe voorspoedig en vernuftig hierdie jong man was. Dawid se aansien het gegroei in die oë van die hele volk tydens Saul se tyd as koning:
1Sa 18:5 En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul.
Maar toe die mense van Israel Dawid openlik vereer bo Saul nadat Dawid Goliat verslaan het, het Saul vir die eerste keer haat teenoor Dawid in sy hart ontdek het. Saul het begin vermoed dat God Dawid as koning in sy plek aangestel het. Nou was die stryd in Saul oopgevlek en Dawid sou sy teiken word:
1Sa 18:6-9 En toe hulle tuis kom, en ook Dawid terug was nadat hy die Filistyn verslaan het, het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugdegeroep en met triangels koning Saul tegemoet. 7 En die vroue wat vrolik was, het gesing en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende! 8 En Saul het baie kwaad geword, want hierdie woord was verkeerd in sy oë. En hy sê: Hulle het Dawid die tien duisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry! 9 En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.
Die ou mens in ons vind een of ander tyd uit dat hy nie God se ware koning is nie. Alhoewel die mens wel heerskappy by God ontvang het (Gen 1:26), ontdek ons almal mettertyd dat hierdie heerskappy sy beperking het!
Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;
Wanneer die tyd vir ons aanbreek om hierdie ontdekking te maak, dan gaan dit gepaard met groot skokke en ‘n abdikering van die troon – die troon behoort eintlik aan iemand anders – die Koning van die konings!!!
Heb 2:9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.
Kom sing saam in die volgende loflied vir hierdie Groot Koning wat ons almal kom verlos van ons aardse koning!!
Heb 1:1-14 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. 3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, 4 terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle. 5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? 6 En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. 7 En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme; 8 maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer; 9 U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; 10 en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. 11 Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, 12 en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie. 13 En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete? 14 Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?