Wat is die verskil tussen die twee wette

Daar is basies twee wette wat God aan ons bring deur Sy Woord – die wet van Moses en die Wet van Christus. Die eerste wet was gegee vir die fisiese Israel en is dan ‘n voorbeeld van alle fisiese wette wat oor alle fisiese mense heers. God alleen is die “Wetgewer” en Hy stel dan eerste hierdie fisiese wette in wat dan heers oor alle vleeslike mense om hulle daarmee te beheer, en dit is goed vir hierdie doel:

Jak 4:12 Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf…

1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet [in die geval verwys Paulus na die wet van Moses] goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,

Die natuurlike wet(te) het dus toepassing op ons in ons wettelose en goddelose tydperk totdat ons van beter weet:

Gal 4:1-3 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. 

Maar daar is ‘n tyd wat vir almal sal aanbreek dat ons onder ‘n nuwe wet sal staan, maar tot dan is ons onder die eerste aardse wet wat ons diensbaar maak onder die “eerste beginsels van die wêreld”. Die hoofdoel van hierdie wet is om aan ons te wys dat ons “in sonde” geskep was deur God, en dat ons onuitputlike drange het om as ‘n slaaf van daardie sonde te leef:

Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Die konsep “in sonde” verwys na ons “ellendige” aardse kondisie wat ons verbind aan “die dood”:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Rom 7:18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.

Hierdie “wet van sonde” hou die aardse mens gevange want die mens kan nie goed doen nie, al wil ek ook. Kyk hoe beskryf Paulus hierdie stryd in ons almal:

Rom 7:23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.

Rom 7:15-17 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

Dit is net wanneer die tweede wet, die wet van Christus, oor ons van krag word, dat ons vrygemaak word van “die wet van sonde”:

Rom 8:1-2 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Christus bring die nuwe “wet van die gees” IN ons, maar Hy moes self deur die eerste wet gaan om ons perfekte VERLOSSER te wees:

Gal 4:4-6 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.  En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!

Die Vader het Jesus Christus “sonde vir ons gemaak” toe Hy “VLEES geword” het en na die aarde kom – Hy het egter NIE SONDE GEDOEN NIE:

2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Onder die ou verbond moes fisiese Israel offers bring, en twee van die offers was nie op die altaar gebrand nie – die sonde offer en die skuldoffer. Die twee moes buite die laer op die grond gebrand word. Die verskil tusen hierdie twee offers word gevind in…

  • dit wat God geskep het as “sonde” (die sonde offer) en
  • dit wat ons doen in daardie sondige toestand (die skuldoffer).

Ons is dus nie verantwoordelik vir wat God geskep het in ons nie, maar ons sal rekenskap gee oor wat ons DOEN in die sondige toestand. Die sondige toestand is wat “vlees” is, uitgebeeld deur ons “liggaam van sonde”.

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [dit wat onheilig / sondig] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God gaan hierdie “liggaam van sonde” vernietig want Hy het dit as ‘n tydelike skepping aan ons gegee om Sy doel in ons te bereik:

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Dit is PRESIES wat Jesus moes deurgaan want die Vader het ook vir Hom NET SOOS ONS GEMAAK, “in sonde”, en Hy moes ook Sy “liggaam van sonde” afstaan:

Heb 2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—

2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Hy het dit alles ervaar wat ons in hierdie “liggaam van sonde” ervaar SONDER OM TE SONDIG. Hy het die oorwinning behaal OOR SONDE, en was deur die Vader opgewek in gees om NOU in ons dieselfde werk van OORWINNING te doen:

Heb 2:17-18 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 18 Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Dit is wat die “wet van die gees” beteken! Die wet van die vlees kan nie hierdie werk in ons doen nie. Christus het die ou wet dus vervul en perfek geleef vir die tyd toe Hy “onder die wet”, dit is die aardse wette, veral die wet van Moses, moes leef:

Mat 5:17-19 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. 19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

Christus het, soos ons almal ook moet doen, onder die aardse wette geleef en dit gehoorsaam TOTDAT Hy Sy HEMELSE bediening moes uitleef.

Luk 3:22-23 en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae. 23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het…

Wat het Jesus “begin leer” toe Hy “omtrent dertig jaar oud” was?

Mat 4:17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

Kyk hoe Jesus die twee wette vergelyk en Sy geestelike wet as meer verhewe voorstel. “Maar ek sê vir julle” lei elke keer ‘n totale verandering in teenoor “julle het gehoor” wat die wette van Moses uitwys AS ONVOLDOENDE!!!

Mat 5:21-22 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. 22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

Mat 5:27-28 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. 28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

Mat 5:31-32 Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. 32 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

Mat 5:43-44 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.

Jesus doen dit doelbewus om Sy wet van die gees (“Maar ek sê vir julle”) te kontrasteer met die wet van Moses (“julle het gehoor”). Jesus het die wet van Moses, en in die sin ALLE tydelike wette, vervang met die wet van die gees wat BAIE HOëR VEREISTES STEL vir hulle wat in die gees lewe. Die “wet van die gees” werk van binne af en dan maak dit ook die buitekant skoon. Ons leef dus reg ook in ons aardse lewe. Dit is wat die aardse mens met sy verknogdheid en fokus op ‘n uiterlike vertoon net nie kan doen nie. Hy kan nie sy hart verander nie al doen hy dinge van buite “reg” in sy eie oë en in die oë van hulle wat in sulke aardse geregtigheid glo:

Mat 23:25-26 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. 26 Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

Die wet van die gees werk by die oorsprong van al ons probleme:

Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Die hart van die mens, dit is geestelike taal wat verwys na ons denke, is die plek binne-in ons vanwaar God ons hele lewe beheer. Dit word in geestelike terme ook as “hemel” uitgebeeld en iemand wat dink die hemel is ‘n geografiese plek in die ruimte daarbuite, verstaan nie die geestelike dinge van God nie:

Rom 10:6-10 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; 7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? 8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Die koninkryk van “die hemele” het inderdaad NABY gekom – as ons dit kan sien.

Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

As ons weet dat God ons  in ons harte reinig, dan weet ons ook hoe Hy ons hemele skoonmaak. Hy gee aan ons Sy denke, Sy manier van dink, die denke van Christus en dit is slegs deur “die wet van God na die innerlike mens” dat ware lewe uitspruit IN ONS.

Job 15:14-15 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees? 15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie.

Heb 9:23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Rom 7:22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens…

Die innerlike werk van God se gees haal die fokus weg van die uiterlike mens en sy wet van die vlees. Die natuurlike mens is nie instaat om die werk van God te verstaan nie:

2Kor 4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.

Efes 3:16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens…

1Kor 2:14-16 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Die innerlike koninkryk van God verander ALLES.

2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Hier is ‘n paar dinge wat verander word:

“Wie is die grootste…”

Mat 18:1-4 In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? 2 Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan 3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! 4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.

Hoe lewe ons reg?

Mat 5:20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.

Mat 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Rom 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet [van Moses], terwyl die wet en die profete daarvan getuig.

Gal 5:4-5 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. 5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

Ons kan nie die geregtigheid van die nuwe wet van die gees ontvang as ons nie afsien van die geregtigheid van die ou wet nie. Ons moet sterf vir die ou mens en sy wette:

Mat 9:16-17 En niemand sit ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ‘n erger skeur. ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.

Gal 2:20-21 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s