Baie mense lewe in totale duisternis oor wat die dood behels as gevolg van die leuens wat aan hulle opgedis word….
…..met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie (2Th 2:10).
Volgens die Skrifte is dood basies die geestelike toestand van die natuurlike mens wat leef in vlees en bloed – ons aardsheid. Ware lewe is net te vind in die gees van God (Joh 6:63):
Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie (Rom 8:5-8).
Daar is ‘n onoorbrugbare kloof tussen die vlees en die gees van God.
Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees (Joh 3:6)
God het egter die mens eerste in hierdie aardse toestand geskep om ons deur ‘n proses te neem om Sy geestelike lewe agterna deelagtig te word.
So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. (1Kor 15:45-50).
Ons is nou in “stof” met die asem van die aardse lewe in ons – wat geen ware geestelike lewe is nie!
En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword (Gen 2:7).
Die aardse lewe is geestelike dood en dit is hierdie waarheid wat baie nie kan aanvaar nie.
Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word (1Kor 2:14).
Die mens is ‘n lewende siel in sy vleeslike bestaan. Die eerste Adam IS ‘n lewende siel wat geestelik dood is! Dit is hoe God ons gemaak het! Dit is net die laaste Adam, Jesus Christus, wat ‘n lewendmakende gees IS! Ek kwoteer weer 1Kor 15 vers 45….
“So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees”
‘n “Lewende siel” is aards en is geestelik dood – dit word nie geestelik dood nie soos aan ons gepreek was in die valse “val van die mens” leerstelling nie. Die aardse mens is van stof en kan nie verder val nie – hy was gemaak in sonde deur die Skepper (“in die hand van die Pottebakker”):
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
LW: Die aardse mens IS ‘n lewende siel; hy het nie ‘n lewende siel as ‘n deel van Hom nie! Sy siel is SY HELE WESE. Kom ons lees weer hoe God ‘n siel maak:
En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword (Gen 2:7).
‘n Lewende siel is ‘n sondige siel en die siel is aards en sal sterf:
Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eseg 18:4).
Die mens word ‘n vasgestelde getal dae gegee in vlees en dan word hy of sy van die aarde verwyder deur die doodgaan van die aardse liggaam:
U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie (Psa 139:16).
Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is (Pred 3:1-2).
en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het (Pred 12:7).
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (Gen 3:19).
Alhoewel God ‘n voorkennis van alles het, ook van ons, het ons nie bestaan voordat ons geskep was in vlees nie. Net soos Job, was ons nog nie daar toe God hierdie skepping na vore gebring het nie. Die mens was eers op die SESDE dag geskep:
Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het (Job 38:4).
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip (Gen 1:26).
Die eerste Adam, en almal van ons, sal eers die geestelike lewe by ons wedergeboorte in gees ervaar in volheid by die opstanding uit die dode:
En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees (Joh 3:1-6).
Vlees is NIE gees nie en gees in NIE vlees nie. Wie kan die twee onderskei? Min. Baie verwar die twee want die Woord van God, God se gees, het nog nie die proses van geestelike wedergeboorte begin nie:
want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is (1Pe 1:23-25).
Daar staan dit. Vlees is verganklik! Dit was so geskep in God se hand! NET GOD SE GEES is ONVERGANKLIK. God het die eerste Adam NIE in gees gemaak nie, maar in verganklike stof!!! Ons moet die “eerste Adam” kan onderskei van die “laaste Adam”:
Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart (Heb 4:12).
So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike (1Kor 15:45-46).
Is daar ‘n bewussyn in die dood? NEE! Net soos die vleeslike persoon NIE die geestelike kan ken nie, so is die bewussyn van dooies uitgewis:
Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet (Pred 9:5).
Min mense glo dat God instaat is om ‘n nuwe geestelike skepping voort te bring by die laaste basuin en nog minder glo dat Jesus al Sy skepsels sal red. Daarom glo hulle in valse leerstellings soos die “onsterflikheid van ‘n siel”. Aardse siele “sal sekerlik sterf” en dit is die waarheid wat min kan glo:
Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie (Gen 3:1-4).
Dit is die slang, of dan Satan, wat hierdie leuen vir die eerste keer verkondig het aan Adam en Eva en die leuen word tot vandag geglo. Mense glo die leuen dat die aardse mens onsterflik is. Hy sien mense sterf, maar glo hulle is nie dood nie. Hulle lewe op een of ander plek voort. Na sy afsterwe glo die mens dat hy (of sy siel dan) onmiddellik oorgaan na die sogenaamde ‘hiernamaals’. ONSIN. Onsterflikheid kom net wanneer die “laaste Adam”, naamlik Jesus Christus ,Sy lewe in ons gee by die opstanding:
So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike (1Kor 15:45-46).
As ons sterf, dan is ons heeltemal onbewus van alles en ons wag vir die opstanding uit die dood. Ja, Jesus kan regtig mense UIT DIE DOOD opwek, selfs al was hulle duisende jare dood en totaal onbewus van alles – soos die Skrifte ook sê!!!!
Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet (Pred 9:5).
Dit is ook wat met Jesus gebeur het na sy tyd op aarde en Sy dood. Hy het alles gedoen om aan ons die proses te verduidelik waardeur ons almal sal gaan. Ons sal almal geestelike lewe ontvang nadat ons deur die dood gegaan het! Dit word die evangelie-boodskap genoem!
Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte (1Kor 15:1-4).
Net Jesus het tans onsterflikheid ontvang!!! Almal wat gesterf het tot dusver, is tot nou toe nog dood. Hoor wat sê Paulus aan Timótheüs:
Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen (1Ti 6:13-16)
Geen dooie persoon besit onsterflikheid nie.
Satan is ‘n leuenaar en die vader van alle leuenaars wat sê dat dooie mense lewe. Nee, dooie mense in Adam “sal” lewe in Christus…TEN VOLLE….in die toekoms. Die woord “sal” dui aan dat die opstanding van alle mense in die toekoms sal plaasvind:
Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees (1Kor 15:22-28).
Ons is nog nie daar nie. Ons het nog net “die belofte” of “onderpand” van die gees ontvang:
in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid (Efes 1:11-14).
Hier is Jesus se woorde wat deur baie verdraai word om res van die skrifte as leuens uit te maak. Jesus sal nooit teen Sy eie Woord spreek nie!
Jesus sê vir haar [Martha]: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? (Joh 11:25-26).
Om te wys hoe belaglik dit is om te beweer dat Jesus sou sê hulle wat in Hom glo nooit sal sterwe nie, is juis te vind in hierdie einste gebeurtenis tydens die dood van Lasarus. Lasarus was ‘n gelowige in Jesus en hy het gesterf! Daar is ook geen bewys dat Lasarus iewers anders was behalwe in die graf toe Jesus hom geroep het “uit” die graf:
Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan (Joh 11:41-44).
Lasarus het NIE onsterflikheid ontvang tydens sy dood nie, of toe hy uit die graf gekom het nie. Hy het NIE onsterflikheid ontvang nie, anders was Paulus verkeerd toe hy hierdie woorde aan Timótheüs sê:
Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen (1Ti 6:13-16)
NET Jesus het tans onsterflikheid, want Lasarus het tog weer gesterf op ‘n later stadium! Ons moet die woorde van Jesus aan Martha verstaan in ‘n geestelike sin. Let op die woorde “opstanding” en “SAL LEWE” in die verse:
Jesus sê vir haar [Martha]: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, SAL lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? (Joh 11:25-26).
Almal wat in Jesus en Sy ware leer glo SAL by die OPSTANDING die geestelike lewe van Christus ontvang, en nooit weer sterf nie want die dood “sal” vernietig word vir daardie persoon – dit is wat onsterflikheid beteken!!!
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood (1Kor 15:26).
En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan (Open 21:4).
Terug pieng: DIE DOEL EN BETEKENIS VAN GELYKENISSE | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Bevryding van vrees…..! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Die ware Apostoliese Geloofsbelydenis | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons ken Christus nie meer na die vlees nie | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: ALMAL sal SEKERLIK sterf! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord