Dieselfde lot tref ALMAL (Deel 10)

In hierdie reeks gesels ons oor ‘n paar aspekte binne hierdie belangrike onderwerp waaroor Solomo geskryf het in die boek van Prediker:

Want dit alles het ek [Salomo] ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed (Pred 9:1-3). 

“Alles is gelyk vir almal” is onmoontlik om te glo vir diegene wat hulself en hul probleme as heel uniek sien. Alles wat ons in die eerste Adam van vlees ervaar is bekend aan almal. Die mens gaan dus eers deur ‘n doodsproses binne die eerste Adam, voordat enigeen geestelike lewe kan kry deur die laaste Adam, Jesus Christus:

Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word (1Kor 15:22).

So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra (1Kor 15:45-49).

“….soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra” is een van die belangrikste stellings om van kennis te neem. Hierdie stelling geld vir ALMAL in die eerste Adam! Hierdie geestelike lewe kom slegs na die dood van die eerste Adam deur die oordele van God. En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe in Adam, so sal elkeen God se geestelike geregtigheid leer deur Sy oordeel:

En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel (Heb 9:27).

Elke seun (of dogter) wat deur God aangeneem word, gaan deur oordeel (tugtiging):

Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie (Heb 12:6-8).

Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie (1Kor 11:32).

Ons kyk spesifiek na die oordeel van God soos opgeteken in die boek van die profeet Sefánja:

Die woord van die HERE wat gekom het tot Sefánja, die seun van Kusi, die seun van Gedálja, die seun van Amárja, die seun van Hiskía, in die dae van Josía, die seun van Amon, koning van Juda. Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE. Ek sal wegraap mense en diere, Ek sal wegraap die voëls van die hemel en die visse van die see en die struikelblokke saam met die goddelose, ja, Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die HERE (Sef 1:1-3). 

As God se oordele ons tref, dan word ons stil:

Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het ‘n offer berei, sy gaste geheilig. En op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog (Sef 1:7-9). 

Ons kyk na twee aspekte in die gedeelte in Sefánja waaraan ons “almal in Adam” skuldig is:

  1. “Uitlandse klere”
  2. “Geweld en bedrog”

“Uitlandse klere” verwys geestelik ook na wat Adam en Eva ook gedoen het toe hulle uitgevind het dat hulle naak is – ons almal doen dit as ons wys na ons eie geregtighede:

Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak  (Gen 3:7). 

Vyeblare is ‘n simbool van die beste pogings wat ons doen om geregtigheid te bekom:

En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind (Jes 64:6). 

Dit is ONS geregtighede wat ons eintlik verblind vir God se geregtigheid. Kyk hoe hanteer God hierdie geregtigheid wat ons selfs “in Sy Naam” doen:

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! (Mat 7:21-23). 

Ons kan nie God behaag deur die goeie werke wat ons wil voorsit nie. Maar ons kan God behaag deur geloof te hê in Sy werke in ons. Sy werke dek ons hele lewe van die begin tot die einde – alles is SYNE en die onvermoë om dit te sien diskwalifiseer ons:

Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen (Jes 45:5-7). 

Toe sê sy vrou vir hom [vir Job]: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! 10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie (Job 2:9-10).

Ons vul God se huis met ons vuil uitlandse klere en ons werke van self-geregtigheid – ‘n openlike verdraaiing van Goddelike geregtigheid en dit is ook hoe ons geweld en bedrog pleeg in geestelike terme. Ons kan in ons geestelike blindheid en arrogansie nie sien dat God alles in ons lewens doen nie – deur Sy perfekte plan. Ons pleeg bedrog as ons dink ons is verantwoordelik vir enigiets in ons lewens. In die tyd wanneer ons hierdie sieklike bedrogspel speel, tree ons ook geweldadig op teen ander in ons pogings om ons bo hulle te verhef en God se werke in ander mense te verkleineer en daarop neer te kyk!

Dit is God wat ALLES skep en dit is God wat ALLES bewerkstellig en beheer in en rondom ons – die goed en die kwaad. Hy is regtig alleenlik God en in volle beheer van ALLES! Net op die tyd van ons oordeel sal ons al hierdie waarhede kan sien met groot skok:

En op dié dag, spreek die HERE—hoor! ‘n geskreeu van die Vispoort af en ‘n gehuil van die Nuwe Stad af en ‘n groot gekraak van die heuwels af! Huil, o inwoners van die Vysel! want al die koopmans gaan te gronde, almal wat geld afweeg, word uitgeroei. En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie. En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie. Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar (Sef 1:10-14). 

Ja. Dit is ‘n bitterlike geskreeu wat ons ervaar as ons eie held, die ou mens in ons, stelselmatig ontbloot word en totaal vernietig word, op die tyd soos deur God bepaal. Maar dit is die tyd (of dan “dié dag”)  van groot vreugde vir die nuwe mens wat uit die as en puin na vore tree!!!!

Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ‘n verskriklike, oor die inwoners van die aarde (Sef 1:15-18). 

Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! (Sef 3:14).

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s