Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Daar is GEEN ander skepper behalwe die Here nie. Hy sê dit tog duidelik. Alles in hierdie skepping is Sy werk. Alles. Maar baie mense kan nie die volgende aanvaar nie:
Dit is God….’wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [dit wat onheilig is] skep: Ek, die HERE, is dit wat AL hierdie dinge doen.’
Adam sukkel tot vandag om die volle implikasie van hierdie woorde te besef en te aanvaar. Dit is waarom ‘die kennis van goed en kwaad’ so ‘n groot vereiste is om ‘soos God’ te word. Die woorde ‘te word’ dui ‘n PROSES aan. Die kennis van goed en kwaad is ‘n eerste stap in die proses van elke mens wat van stof gemaak is, om ‘soos God’ te word (in gees):
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
Baie is onder die illusie dat die stoflike Adam in die beeld van God gemaak is by sy skepping:
Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Maar kyk weer na wat hier geskryf staan:
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
‘Nou het die mens geword soos een van Ons…’. Wat? Hoe kan God sê dat Adam (en Eva) na hul oortreding teen Sy opdrag ‘soos een van Ons’ geword het as hulle alreeds by hulle fisiese skepping ‘na Sy beeld’ geskep was. De woorde ‘na Sy beeld’ is baie dieper as ‘n verwysing na uiterlike kenmerke. Dit kan ook nie na perfekte innerlike geestelike insigte verwys nie want Adam en Eva kon nie eens aanvanklik goed van kwaad onderskei nie. Hulle kon nie eens die slang se subtiele verleidelike woorde onderskei nie. Wat se soort perfektheid is dit? Nee, die Skrifte is baie duidelik dat Adam en Eva nie in gees en met geestlike insigte geskep was nie. Kom ons kyk hoe God hierdie waarheid in die volgende woorde van Jeremia na vore bring vir hulle wat Sy woorde kan hoor en ontvang:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
‘…En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker.’ Die voorwerp wat die Pottebakker gemaak het, het misluk IN DIE HAND VAN DIE POTTEBAKKER!!! Die voorwerp kon nie anders doen as om te misluk nie – dit was en is nog steeds in die Pottebakker se hand!!
Ons kan nie iets wat sleg is ‘goed’ noem nie:
Jes 5:20 Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
Die Pottebakker neem VOLLE VERANTWOORDELIKHEID vir Sy skepping. Want kyk wat maak Hy na die eerste skepping misluk soos deur Hom beplan:
Jes 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Die Skepper het alles in Sy hand – die eerste voorwerp (’tot oneer’) en die tweede voorwerp (’tot eer’) – ALBEI vorm deel van Sy EEN plan. Hy het totale mag oor albei!
Rom 9:21-23 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, 23 juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,
Die eerste voorwerp is die ‘eerste Adam’ en hy is ‘die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is’. Hy is anders as die ‘laaste Adam’ Jesus Christus wat ‘die voorwerp van barmhartigheid’ is wat aan ons almal die ware lewe van God skenk op die tyd soos die Vader bepaal:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Daar staan dit heel duidelik en tog word aan baie min die ‘oë’ gegee om te kan ‘sien’ wat God hier deur Paulus vir ons sê. Die eerste Adam is ‘die mens van sonde’ wat ook as ‘die seun van verderf’ bekend staan – tog wil ons almal die eerste Adam preserveer ten alle koste:
2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Ons moet dus eers kan sien wie ons werklik is in die ‘eerste Adam’ en wat God besig is om te doen met hierdie Adam vanaf sy skepping. Dit gebeur egter net as Jesus in ons lewens kom en Sy lig van openbaring bring:
2Th 2:1-2 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
God is gees en die fisiese skepping is alles van tydelike ‘stof’ gemaak. Ook het God geen menslike anatomie nie.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Om die waarheid te sê vlees en bloed (tydelike stof) het nooit, kan nooit en sal nooit in God se geestelike koninkryk ingaan nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Deur die kennis van goed en kwaad te ontdek en te hê, word die PROSES van geestelike ontwaking ingelei. Dit lei die ‘openbaring van Jesus Christus’ in ons. Hy openbaar Homself aan ons deur Sy werke (Sy woorde) in ons en ook dan rondom ons.
Joh 14:10-11 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
Vlees en bloed is die beginstadium van die hele PROSES om ‘soos God’ te word. Kennis van goed en kwaad is die manier waardeur die stofmens ‘geoefen’ word om ‘geestesvermoëns’ te ontwikkel om soos God ‘te word’:
Heb 5:13-14 Want elkeen wat melk [stoflike dinge] gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys [geestelike dinge] is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Hierdie ‘geestesvermoëns’ neem ons tot geestelike volwassenheid wat uiteindelik voltooi sal wees by die ‘eerste opstanding’ vir hulle wat nou daartoe geroep is deur God:
1Kor 15:51-54 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Om die slegte dinge (die ‘verganklike’) insigself as goed te bestempel, toon geestelike blindheid in ‘n persoon. Net hulle wie hul oë gefokus het op die ‘onverganlike’ in die ‘laaste Adam’ is ‘onthoof’ (hul aardse denke is dood), en hulle het ‘die dier’ (‘die mens van sonde’) TOTAAL opgeoffer in hul denke (sy ‘merk op hulle voorhoof’) en dade (sy ‘die merk…op hulle hand’).
Die skeiding tussen kennis van goed en kwaad word net deur die gees van God deur Sy Woord IN ONS gemaak:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die woorde van Jesus in die hele Skrif is gees as ons dit in ons harte (denke) bewaar en DOEN. Die Woord heilig ons in die waarheid om nie ‘n ‘lewende siel’ (eerste aardse mens) met die lewendmakende gees van God (in die hemelse Christus) te meng of te verwar nie. Die twee is heel apart!
Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.