Gee aan ‘elkeen wat jou iets vra…’

God gee aan die natuurlike mens ‘n wet wat bedoel is vir die onregverdige:

1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,

Die doel van hierdie wet is om aan die onregverdige uit te wys wat alles in hom is en wat hy van nature doen (“in die hand van die Pottebakker”):

Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is [“die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes”], sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Ons almal is gebore “onder die wet” in sondige vlees en dit neem tyd om te sien hoe sondig ons is. Die tragedie is dat ons in ons tyd van blindheid vir ons eie sondigheid na ander mense se sonde wys en hulle foute gouer raaksien! Om dit nog verder te kroon wil ons onsself regverdig maak deur die einste wet wat bedoel was om ons “die kennis van sonde” in onsself uit te lig! In ons blinde arrogansie het ons geen manier om te sien dat die geregtigheid wat God skenk NIE kom deur die wet wat bedoel is vir die wettelose…

Rom 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,

Dit is net deur die geloof in Jesus Christus dat ons God se ware geregtigheid deelagtig word:

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die wet vir die wettelose word ook genoem “die wet van die sonde en die dood” wat totaal die teenpool is van “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus”. Die “wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” maak ons vry van “die wet van die sonde en die dood”:

Rom 8:1-2 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Hierdie volgende woorde van Jesus val dus onder die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus, want hulle wat onder die wet van die sonde en die dood lewe, lees hierin iets heel anders tot hul eie nadeel…

Luk 6:29-30 Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. 30 Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

Hierdie verse sê aan hulle wat onder die wet van die sonde en die dood lewe, dat hulle ander mense se sagmoedigheid, hul vrygewigheid en hul gasvryheid mag misbruik.

Nee, dit is nie die gees van daardie woorde van Jesus nie.

Sommige mense glo weer dat hulle regverdig verklaar sal word as hulle toelaat dat mense hulle op die wange slaan, en as hulle hul klere en besittings weggee aan “elkeen wat jou iets vra”.

As “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” ons weer onder “die wet van die sonde en dood” plaas, dan mis ons die boodskap van verlossing heeltemal.

Bring die geloof in Christus werke na vore? O JA!

Jak 2:20-24 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? 21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? 22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? 23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. 24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

Om die werke van die geloof in Christus (“die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus”) te vergelyk met die werke wat spruit uit ons vlees (“die wet van die sonde en dood”) spreek van geestelike blindheid. “Die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” gee aan elkeen wat daarmee gevul is die geestesvermoëns om reg te onderskei tussen vlees en gees / goed en kwaad:

Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Hier is dit duidelik hoe “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” IN ONS ons beweeg om Christus se goeie werke na vore te bring:

Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Sê God dat ons mense moet toelaat om ons te misbruik en dinge wat ons hard voor werk moet weggee aan hulle wat geen waardering daarvoor het nie? Nee!

God beveel ook duidelik dat ons nie dit wat heilig is aan “honde” en die “varke” moet gee nie:

Mat 7:6  Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.

Die gebruik van die woorde “honde” en “varke” is in ‘n geestelike sin beskrywend van diegene wat die Woord van God misbruik vir persoonlike en onheilige doelwitte.

Dit is hulle wat die werke van die geloof in Christus (“die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus”) gelyk sien as die werke wat spruit uit ons vlees (“die wet van die sonde en dood”). Hierdie “honde” en “varke” is daarop uit om mense te oordeel en te verdoem deur…

  • karakterskending as gevolg van die afguns, moord en haat in hul eie harte (“die weg van Kain bewandel”);
  • net aan hulself te dink en wat hulle vir hulself kan kry vir eie gewin (“om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort”);
  • hulself in trots te verhef en nie hul eie posisie en besittings te aanvaar nie – hulle altyd in dwaasheid met ander te vergelyk (“die verset van Korag”):

Jud 1:11-13 Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom. 12 Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld; 13 woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.

Die persoon wat volgens “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” lewe, weet dat die Skrif leer duidelik dat ons nie mense moet versterk in hul kwaad nie:

2Th 3:6-8  Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie.  7  Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie;  8  ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.

Elkeen moet vir sy eie bord kos werk – fisies en geestelik:

2Th 3:10-12  Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.  11  Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is.  12  Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet.

‘n Leeglêer is iemand wat nie vir homself en sy familie wil sorg nie – dit ontbloot ‘n diep geestelike probleem wat met liefde baie duidelik en sterk aangespreek moet word.

1Ti 5:8  Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.

In ‘n geestelike sin is ‘n leeglêer iemand wat nie sy eie heil wil uitwerk met vrees en bewing nie:

Fil 2:12  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;

God se mense leef volgens “die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” en hulle dra hul eie juk en help ander wanneer hulle dit kan doen. Hulle het nie “die wet van die sonde en dood” nodig om aan hulle voor te skryf nie – Christus leef in hulle en Hy “werk” kragtiger as enige vleeslike wet.

Gal 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

Gal 6:9-10 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 10 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

Kol 1:27-29 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. 28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; 29 waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.

Dra mekaar se laste sluit egter nie uit dat elkeen sy eie las moet dra, en self sy eie bed moet opneem en self loop nie:

Gal 6:4-5  Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie.  5  Want elkeen sal sy eie pak dra.

Joh 5:8  Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.

“Die wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” help ons om reg te oordeel wanneer ‘n persoon gehelp moet word en wanneer nie:

Luk 6:29-30  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.  30  Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s