Die gee van ‘n ‘tiende’ (Deel 3)

Inleiding:

Die Skrifte het primêr te doen met die geestelike dinge van God….

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Ons as mens ervaar aanvanklik ‘n vleeslike bestaan in die “eerste Adam”, en die geestelike dinge van God word eers agterna aan ons openbaar, op die tyd soos God bepaal vir elke mens:

1Kor 15:45-48  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

God gebruik dus die natuurlike en sigbare dinge om ons stadig in te lei in Sy onsigbare geestelike dinge:

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Die metode wat God egter gebruik om hierdie geestelike dinge in ons vas te lê sodat ons Hom kan ken en kan dien in gees en waarheid, kom slegs na ons deur ‘n radikale vernuwingsproses in ons denke:

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Ons natuurlike denke wil aan dinge op aarde vashou, en wil alles op ‘n fisiese manier interpreteer en toepas. Daarom is geestelike dinge van God dwaasheid vir die natuurlike denke.

1Kor 2:14-15 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

Om God se geestelike denke te betree, moet ons ons aardse manier van dink prysgee. God se gedagtes en Sy denke is iets heel anders:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

1Kor 2:9-13 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Die doel en toepassing van breuke in die Skrifte:

As dit kom by breuke in die Skrifte, en ook dan die tiende, is die beginsel om “geestelike dinge met geestelike” te vergelyk ook van toepassing. ‘n Breuk, per aardse definisie, berus op die beginsel om iets as deel van ‘n geheel te sien. Die ‘geheel’ is basies te vind in die getal ‘een’. Elke deel, hoeveel daar ookal mag wees, kry sy waarde en is net betekenisvol binne hierdie geheel. Hierdie natuurlike begrip van breuke maak die geestelike toepassing verstaanbaar (Rom 1:20). God is ‘een’ en elke deel van hierdie skepping staan in ‘n sekere verhouding tot Hom en alleenlik deur Hom kry alles waarde en betekenis:

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom…

Alle dele, dit wil sê, alle dinge in Sy skepping, kry slegs betekenis t.o.v. hierdie geheel, naamlik die “een God” wie ook as “Vader” bekendgestel word in die Skrifte.  Dit is baie belangrik om hierdie waarheid te sien. Baie dink hulle verstaan die Vader as die “een God”, maar dan gaan hulle en ‘verdeel’ God in ‘n sogenaamde ‘drie-eenheid’ en soms ook ‘n ‘twee-eenheid’ wat albei totale vreemde begrippe is binne die waarheid van die Skrifte. Vir die ware gelowige in die ware Christus “is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is”. Ons begryp wat “uit wie alles is” regtig beteken. Kyk net wie word eerste genoem wat uit die Vader is…

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Daar is ook “een Here, Jesus Christus” wat “van [die Vader] uitgegaan het”. Jesus bevestig hierdie waarheid:

Joh 16:27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.

Jesus sê ook self dat Hy “die begin van die skepping van God”, “die Vader”, die “een God”, is!

Open 3:14 …Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

God, die Vader, is “een God” maar Hy deel Sy gees met Jesus wie “van [die Vader] uitgegaan het”.

Joh 16:15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Heb 1:3 Hy, wat die afskynsel is van sy [die Vader] heerlikheid en die afdruksel van sy [die Vader] wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte.

Fil 2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie [in gees].

Joh 14:28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.

Ek beklemtoon: Die Vader is NIE verdeeld nie! Alles gaan van Hom uit, alles kom totstand deur Hom, en alles keer terug na Hom toe!

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Hy het reg tot ALLES.

Dit is hoe enige deel of breukdeel in die Skrifte gesien moet word.

God het die uitsluitlike reg tot die geheel en deur ‘n proses word hierdie waarheid in elkeen van ons individueel gevestig eerstens, en later sal almal dit kan verstaan. Ons natuurlike konsep van breuke is die struikelblok wat ons verhinder om God se geestelike doel met getalle en breuke te sien. ‘n Breuk, per aardse definisie, berus op die beginsel om iets as deel van ‘n geheel te sien. Elke deel, hoeveel daar ookal mag wees, kry sy waarde en betekenis binne die geheel. Die dele van die breuk staan in ‘n verhouding tot mekaar. God is die Geheel van alles – alles kom van Hom, en alles is deur Hom en alles is tot Hom!

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God is die “Geheel” van alles, en alles het hul bestaan te danke aan Hom. Alles staan dus in ‘n verhouding tot Hom, al weet hulle dit of nie. Alles is geskep vir God se doel, self die bose dinge:

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Alles kry hul doel, waarde en betekenis van God. Alle dinge in God se skepping kry slegs betekenis t.o.v. hierdie geheel, naamlik die “een God” wie ook as “Vader” bekendgestel word in die Skrifte. Breuke gaan dus basies oor die verdeling van ‘n geheel, en binne ons aardse interpretasie en konsepsualisering van verdeling is daar maar altyd die idee van verliese teenwoordig. Ons as mens hou nie daarvan om te deel nie. Jesus ken ons natuurlike harte en weet hoe ons werk. Ons aardse koninkryke is maar altyd verdeeld en dit is waarom ons natuurlike denk nie God se werke kan verstaan nie:

Luk 11:17 Maar Hy [Jesus] het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en ‘n huis wat teen homself is, val.

Die geestelike konsep van verdeling lei egter ALTYD tot ‘n seën, vermeerdering en vervulling:

Mat 14:19-20 Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. 20 En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol.

Die tiende bring aan ons die boodskap van hoe die “brokstukke” en verlies aan aardse dinge (en dinge van die vlees) uiteindelik sal lei tot ‘n oorskot in gees. As ons die vlees opgee, dan beweeg ons in die rigting van die volheid in gees wat aan die einde van ‘n pynlike proses aan ons geskenk word:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Mar 10:28-30  Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.  29  En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie,  30  of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.

Diegene wat God in gees en waarheid aanbid het niks te doen met een deel (een tiende) van hul aardse lewens nie. Dit gaan ook nie oor ‘n tweede tiende, of ‘n derde tiende nie. Tiendes gaan oor die proses van geestelike ontwakening waar ons stelselmatig kan sien dat alles aan God behoort, en dat Hy alles in hierdie skepping, en alles in ons eie lewe “werk” volgens die raad van Sy wil!

Efes 1:10-12  om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—  11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,  12  sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het.

Ons leer stelselmatig om alles aan God te bring – die “hele tiende” is God s’n! Die ware kind van God streef na die geloof wat perfektheid in gees na vore sal bring. Dit is hoe ons geestelike rus kry In Hom:

Fil 3:8-10 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word.

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.God is nou glad nie meer tevrede dat iemand Hom net EEN dag van die week sal dien nie en dae, maande, tye en jare waarneem nie:Gal 4:9-10 maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? 10 Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.God stel ook geensins belang om ‘n skamele tiende deel van ons lewens te hê nie. Christus wil hê dat ons elke dag in Hom bly deur SAAM met Hom te sterf vir die ou lewe.1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.So verheerlik ons die Vader as ons kan sien dat ALLES kom van die Vader deur Jesus tot eer en verheerliking van die Vader.Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

1Kor 6:19-20 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Jesus verwag ‘n “oorvloediger” geregtigheid van Sy volgelinge! Dit gaan dus nie oor ‘n gedeelte (‘n breuk) van ons lewe nie, maar baie meer. Ons hele lewe is die offer wat aanvaarbaar is onder die nuwe verbond in Christus.

Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

God gee Sy oorvloed aan ons en daardie oorvloed sal uit ons vloei!

Joh 7:37-39  En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  38  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.  39  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo…

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.