Gen 1:2-5 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
As ons die skeiding tussen die duisternis en die lig kan sien, kan ons die dieper betekenisse van die skeiding tussen die aarde en die hemel verstaan. Op dag twee in Genesis 1 maak God hierdie skeiding nog duideliker vir ons deur die hemele van nader te beskou:
Gen 1:6-8 En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.
God het op die tweede dag van sy skepping ‘n uitspansel na vore geroep. Dit is belangrik om te sien is dat die uitspansel “hemel” genoem was deur God. Ons word dus nou gewys wat hierdie hemel is en hoe dit inpas in God se plan en werk in ons. Hierdie uitspansel moes ‘n skeiding maak tussen “waters en waters”. Die uitspansel het die waters wat bo die uitspansel was geskei van die waters wat onder die uitspansel was.
Gen 1:8 En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.
As ons nie dag een kan herken in ons geestelike ontwikkeling nie, sal dag twee geen sin maak nie. Hierdie is nie alleen ‘n uiterlike natuurlike skeppinsproses nie, maar ‘n dieper innerlike geestelike ontwakening wat deur God uitgewys word vir die wat oë gegee is om te kan sien. Ons moet dus stadig beweeg en sekermaak dat ons die geestelike proses noukeurig volg. Die Hebreeuse woord hier vir uitspansel is “raqiya” en dit kom van die woord “raqa” wat die volgende beteken: om iets uit te rek of te strek deur dit aanhoudend te hamer, soos met metaal gewerk word. En dit alles vind plaas in die “uitspansel” of die hemel. Die hemel is dus ‘n plek waar God werk binne-in elke persoon – of die persoon daarvan bewus is of nie. Net vir hulle wat dit kan “sien” word die hele Goddelike aksies in ons iets wonderbaarlik om te aanskou. Dit is die hemel waar God sy raad en planne met elke mens werk of bewerkstellig:
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Daar word binne-in elke persoon se lewe ‘n skeiding gebring tussen die waters wat onder die uitspansel is en die waters wat bo die uitspansel is. Die “water” onder die uitspansel sluit alle vleeslike en tydelike dinge in waarmee die persoon van kleins af mee te doene kry. God het ‘n sisteem daargestel wat hierdie dinge beheer en dit word Skriftuurlik “Babilon” genoem. Dit is ‘n sisteem wat as ‘n tipe “hoer” optree omdat dit mense verlei en aan die verlustiginge van die vlees verslaaf. Die geestelike hoer sal geoordeel word binne-in elke persoon op die gepaalde tyd:
Open 17:1-6 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.
Die vrou verteenwoordig nie net die hele wêreldsisteme nie, maar ook die valse godsdienste waarvan die afvallige Christendom die grootste deel uitmaak (hulle wat die “ander Jesus” aanbid en vas glo dat hulle die ware Jesus aanbid):
2Kor 11:4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.
Mat 7:19-23 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Die baie waters waarop die groot hoer sit is eintlik ‘n geestelike woestyn waar baie gaan drink aan (brak- of sout-) water wat nie hul geestelike dors les nie. Hulle bly dors en soek na nog meer dinge om hulle te bevredig, maar is niks wat hulle kan bevredig nie. Sy ry op ‘n skarlakenrooi dier (die eerste Adam in ons almal) wat God laster en allerhande leuens en valse leerstellings aan mense verkoop. Die hoer is baie aanloklik vir die vlees. Die hele wêreld is verwonder oor haar en is op verskeie maniere in gemeenskap met haar werke. Sy vervolg, bespot en vermoor die ware getuies (die “twee getuies”) van Jesus omdat hulle haar valshede ontbloot deur God se suiwer woorde van vuur:
Open 11:3-8 En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is.
Die getuies van Jesus spreek die woorde van God wat die lewende geestelike water. Dit is die waters wat bo die uitspansel voorkom. Hulle is dieselfde stem “van baie waters” wat deur die egte leer van Christus voorstel wat uit Sy mond gaan:
Open 1:12-18 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.
Dit is die waters van die geestelike lewe wat uit Sy mond gaan wat almal se dors sal les op die laaste dag van die groot fees waar almal sal drink, verniet:
Joh 4:13-14 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
Joh 7:37-39 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
Open 21:6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.
Open 22:17 En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
Maar om die water van die lewe te drink moet die uitspansel of die hemel in ons kan onderskei tussen “die waters onder die uitspansel” en “die waters bo die uitspansel”. Om dit te doen drink ons almal eerste die water “onder die uitspansel”. En dit word gevolg met ‘n proses van wedergeboorte waar pyn en tyd benodig word om van al die vleeslike dinge wat ons so aan geheg word het, ontslae te raak. Dit is onmoontlik vir enige mens om te doen op sy eie, maar net deur Jesus IN ons is dit moontlik:
Joh 3:3-6 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Dit is slegs deur ons beproewings, baie verdrukkinge en ons toetse dat ons gelykvormig kan word aan die geestelike beeld van Jesus Christus. Dit is deur al die sewe plae te ervaar dat ons terugkeer na die huis van ons Vader as Sy verlore seuns en dogters:
Open 15:6-8 En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels. En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid. En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.