Die waarheid oor Lasarus en die ryk man (Deel 2)

Adam en Eva het een gebod gekry by God om nie te eet van die boom van kennis van goed en kwaad nie. Was hulle minder of meer skuldig as diegene wat 10 gebooie gekry het? As mens aan een gebod van God skuldig is,  is jy skuldig aan almal:

Jak 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Die straf vir die een is dieselfde as die straf vir die tien. Wat is die straf vir sonde? Die DOOD. Almal wat ‘in sonde’ gebore sal “sekerlik sterwe”:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 7:24  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Rom 6:23  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Ons aardse liggaam is die sonde waarin ons gebore is- dit “mis die merk” want dit is nie ‘n geestelike liggaam nie!!! Ons sondig omdat ons IN sonde of IN ‘n ‘liggaam van hierdie dood’ op hierdie aarde moet leef. Dood en sonde is die kondisie van alle aardse liggame. Selfs Jesus moes ‘in sonde’ gebore word, soos Dawid dit stel. Jesus was ‘sonde…gemaak’ toe Hy in ‘n aardse liggaam ‘ontvang’ was, alhoewel Hy NIE gesondig het nie:

2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Alle aardse liggame (Jesus se liggaam was DIESELFDE as ons s’n) sterf ook ‘sekerlik’, d.w.s. die fisiese sterwende kondisie word op een of ander manier beëindig. Hierin lê die verborgenheid van Jesus se dood vir ons sonde. Hy het met ons sondige en sterwende kondisie geassosieer deur in dieselfde liggaam as on s’n te kom. Met die daad het Hy openlik gewys dat Hy neem volle verantwoordelikheid omdat Hy ons so gemaak het – sterwend van tydelike stof wat geestelik naak is!!! Dit is hoe Hy sterf vir ons. Sy kruisdood het net hierdie doodskondisie finaal beëindig vir Hom persoonlik. En Hy het belowe om ALMAL weer te red van hierdie sondige kondisie en Sy opstanding uit die dode is die bewys daarvan!!!

1Kor 15:3-4 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

Hy ‘het gesterf vir ons sondes’ wanneer ons persoonlik kan sien wat Sy dood eintlik werklik beteken en ons ook dan sterf saam met Hom ‘vir ons sondes’ (‘op die regte tyd’ vir ons) – nie slegs ‘n historiese gebeurtenis van (ietsie meer as) 2000 jaar gelede nie. Dit is hoe ons ‘[aan]vul in [ons] vlees … die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir Sy liggaam’:

Rom 5:6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.

1Ti 2:6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;

Adam en Eva het God se gebod oortree en is nog steeds dood en nie in ‘n ewige hel nie. Maar die afvalliges stem nie saam nie. Almal wat ‘in sonde’ sterwe is in die hel sê die afvallige Christendom. Dit sluit Adam en Eva sekerlik in volgens hulle valse verdraaiings. Die afvalliges kan net eenvoudig nie sien dat ‘die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here’. Almal sterf ‘in sonde’ – dit is in hul aardse (sondige) liggaam wat hulle van God ‘ontvang’ het. Net soos NIEMAND self die tyd en kondisie van hul aardse geboorte en liggaam kan kies nie, kan NIEMAND ook self die tyd van hul geestelike geboorte en geestelike lewe kies nie:

Efes 2:8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Die afvalliges gebruik dan veral die valse toepassing van die gelykenis van Lasarus en die ryk man om ‘n ewige hel as die loon vir sonde te verdraai. Hulle het geen geloof ontvang om te kan sien dat almal gered gaan word ‘deur genade’. Hulle verdraaiings van die gelykenis van Lasarus en die ryk man is een van die skokkendste mistastings deur hierdie afvalliges. Hier is die gelykenis volledig:

Luk 16:19-31  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.  En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.  30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

In deel 1 van hierdie uitsending het ons reeds die volgende vasgestel uit hierdie gelykenis:

  • Jesus het die gelykenis op die Fariseers gemik omdat hulle geldgierig was;
  • Alle gelykenisse is van begin tot einde figuurlik en bevat belangrike geestelike waarhede wat die natuurlike mens se denke nie kan verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word.

Om die geestelike betekenis dus te verstaan moet ons geleer word om geestelike  met geestelike vergelyk en dit is die uitsluitlike taak van die gees van God:

1Kor 2:12-13  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Die gees in die wêreld vergelyk fisiese met fisiese en ook fisiese met geestelike, maar nooit geestelike met geestelike nie. Daarom kan hierdie gelykenis nie deur die natuurlike mens verstaan word nie. Die ryk man (‘n fiktiewe karakter in die gelykenis) word eerste in die gelykenis genoem vir ‘n goeie rede:

1Kor 15:46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Mat 19:30  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Soos die fisiese geseënde Israeliete in die Ou Testament as uitverkore volk moes dien vir God se doeleindes, was hulle egter verblind om van hulself baie meer te dink as aan God se doel met hulle. Hulle was, deur God, ‘n diep slaap gegee om nie net hul eie Messsias mis te kyk nie, maar het ook die behoeftes van ander rondom hulle nie gesien nie. Hul eie ‘tafel’ met al die fisiese seëninge het hulle verblind:

Rom 11:8-10  Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.    En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees ‘n vangnet en ‘n strik en ‘n struikelblok en ‘n vergelding.  Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom.

Die woorde “tot vandag toe” wys ons ook dan verder as die fisiese Israel. Die ryk man verteenwoordig ook hulle wat in die ‘groot stad’, wat geestelik “Babilon” genoem word, hulself verlustig by hul ‘tafel’ wat gedek is met allerhande valse leerstellings wat hulle as waarheid ervaar. Die groot stad is geklee in haar fyn linne en purper wat ‘n beeld van koninklike gesag uitbeeld, maar slegs ‘n valse en tydelike heerskappy het:

Open 3:17  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

Joh 9:40-41 En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind? Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.

Open 18:16 Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!

Dit is die geldgierige fariseërs wat selfs ‘tot vandag toe’ God se Woord verdraai om hulle eie agendas, beurse en bankrekeninge te pas. Maar dit sal hulle nooit versadig nie. Soos die nie-Jode gesien was as honde in Bybelse tye, so wag daar vandag ook hondjies (die uitgeworpenes) vir die ‘krummels’ wat die ryk man niks van dink nie:

Hag 1:6 julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek.

Mat 15:25-28  Daarop kom sy (‘n Kananése vrou) en val voor Hom neer en sê: Here, help my!  Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.  En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.  Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.

Dit is hierdie krummels wat deur die rykes as niks geag word nie, maar van onskatbare waarde vir hulle wat ‘arm van gees’ is. Die krummels verteenwoordig die ware leerstellings van Christus wat geloof gee in God as die redder van alle mense:

Mat 17:20  En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Die ryk man verteenwoordig dus vandag ook hierdie groot en weelderige organisasies van menslike oorsprong wat in die naam van Jesus opereer en baie mislei om nie die ware leerstellings van Christus te glo nie. Hulle verteenwoordig ook die sewe kerke (of vroue) wat in Jesus se Naam opereer:

Mat 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Jes 4:1  En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.

Open 1:11  Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

Die ryk man is hulle wat sê dat hulle kan sien, maar eintlik totaal verblind is deur God. Dit is hulle wat dink hulle het nie meer bekering nodig nie omdat hulle klaar bekeer is:

Luk 15:7  Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.

In deel 3 sal ons in meer diepte kyk na wie die bedelaar Lasarus verteenwoordig in hierdie gelykenis.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar