Daar bestaan nie ‘n “kits-saligheid” nie!

Die globale vloed in Noag se dae was ‘n tipe van die finale oordeel oor alle vleeslikheid in God se skepping, en spesifiek in ons eie lewens. Dat agt mense uit die ark kon kom, wys vir ons dat daar ‘n nuwe geestelike lewe is wat God vir elke mens gaan voorsien.

“Vir elke mens?” Sommige vra ook: “Wat se soort Wiskunde is dit dat hierdie agt die voorsteling van die redding van ALLE mense voorstel!”

Baie vind aardse Wiskunde moeilik, maar God se Wiskunde is onmoontlik vir die natuurlike mens om te verstaan – selfs die slimste Wiskundiges kan dit nie uitwerk nie:

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

1Kor 1:19-20 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?

Om ons nog meer te verwar: hier is die Goddelike Wiskudige formule en berekeningsproses mooi uiteengesit oor hoe God almal gaan red!

Open 17:11 En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf.

Maar kom ons gaan stadiger te werk. Hoe gaan God almal red deur ‘n “verderf” te bring? Die vernietiging van die ou wêreld, soos in Noag se dae, wys ons baie duidelik hoe God die ou mens (die eerste Adam in ons) totaal sal vernietig en hy sal dan vervang word deur ons nuwe mens in Christus, die laaste Adam:

1Kor 15:22  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word

Lewe in Christus is egter totaal anders as die lewe wat ons in die eerste Adam gehad het. Die eerste Adam is ‘n tydelike skepping waarin God ons voorberei om Hom uiteindelik in gees en waarheid te kan ken en aanbid. Dit is dus deur ‘n proses dat die nuwe mens in Christus na vore gaan kom in almal. Hierdie proses het God vooruit bepaal, voor die grondlegging van die wêreld. In hierdie proses ervaar ons die donkerte of geestelike dood eerste en word dan uit hierdie donkerte en dood gebring tot sy Lig en Lewe. Dit is die geestelike betekenis van dag een van die natuurlike skepping:

Gen 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Aardse of vleeslike dinge word as skaduwees in die Skrifte gesien omdat dit die geestelike werklikheid reflekteer. Soos die geestelike werklikheid deur Sy Lig na ons gebring word, so vervaag die aardse dinge. Daarom is aardse dinge (soos geslagsregisters) van geen nut nie omdat dit net as geestelike tipes gesien moet word omdat daarin lê geestelike waarhede opgesluit wat in ons lewens opereer, vir die wat dit kan sien:

1Ti 1:4  en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is.

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Die aardse dinge is dus ‘n gelykenis wat dieper dinge wegsteek en hierdie dieper geestelike dinge is net sigbaar vir hulle vir wie God oë gee om dit te sien. Soos die Lig dus groter word, so “sterf” die skaduwees. As ons die innerlike betekenis van die sigbare kan sien is dit egter net die begin van ons geestelike groeiproses. Die toepassing of uitleef van die innerlike geestelike kennis bring geestelike begrip en lewe na vore wat in ons gesien kan word. Dit word die vrug van die gees genoem word:

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

As die gees van God in ons is en in ons werk, is dit eerste vir ons, en dan ook vir ander sigbaar want die boom word aan sy vrug geken:

Mat 7:16-20 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Rom 9:8  Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.

Ons eerste boom (wat ons is in die eerste Adam) is sleg en bring slegte vrugte na vore. As God die boom afkap is dit ‘n pynlike proses, maar ‘n nuwe boom word in sy plek geplant – die boom van die Lewe – Jesus Christus. Ons lewe dus van elke woord wat uit God se mond uitgaan en daarom neem ons noukeurig kennis daarvan:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Deur Noag se drie seuns en hul nageslagte word baie van onsself gesê. Een van Noag se seuns was Sem wat hier laaste genoem word om hierdie baie belangrike geestelike beginsel uit te wys:

Mat 19:30  Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Sem word dus laaste genoem omdat deur Sy lyn die Messias sou kom. Die laaste Adam (Jesus) sal dus die eerste en belangrikste persoon in ons lewens word wanneer die eerste Adam sterf en uitgewis word. Deur Sem en sy seuns word ook ander geestelike waarhede ons gebring:

Gen 10:21-31  En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van Jafet, is seuns gebore.  Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpagsad en Lud en Aram.  En die seuns van Aram was: Us en Hul en Geter en Mas.  En Arpagsad was die vader van Selag, en Selag van Heber. En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en die naam van sy broer was Joktan.  En Joktan was die vader van Almódad en Selef en Hasarmáwet en Jerag  en Hadóram en Usal en Dikla en Obal en Abímael en Skeba  en Ofir en Háwila en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan.  En hulle woonplek was van Mesa af in die rigting van Sefar, die berg van die Ooste.  Dit is die seuns van Sem volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, volgens hulle nasies.

Dit klink bra onnodig om al hierdie name te lees! Maar hulle speel ‘n belangrike rol in ons eie lewens as ons weet wat aangaan. Ons weet dat hierdie fisiese geslagsregister werklike mense aandui, maar ons weet ook dat deur hierdie mense kom geestelike waarhede in ons lewens ter sprake. Hier is een voorbeeeld: Uit al Sem se nageslagte word die aandag en fokus reg van die begin gebring na een familielyn:

Gen 10:21  En ook vir Sem, die stamvader van al die seuns van Heber, die ouer broer van Jafet, is seuns gebore.

Deur Sem en al sy nageslagte is die naam van Heber hier pertinent uitgelig. Hoekom? Want deur Heber kom een van die belangrikste karakters in die Bybel – Abraham. Al die ander name is ook belangrik want hulle word gebruik om ons te laat sien dat God baie dinge en mense in ons lewens bring om sy voltooide produk in ons te bewerkstellig. Niemand en niks moet as vanselfsprekend en terloops gesien word nie – alles word gebruik deur God vir ‘n goeie doel:

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Abraham se fokus hier is tiperend van die fokus wat God op Jesus geplaas het want deur Abraham (en dit wat hy ervaar het), leer ons so baie van Jesus se werke in ons:

Gen 11:26-28  Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran. En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot.  En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs.

Deur Sem se bloedlyn het ons dus die storie van die Bybel, maar dit het lank geneem vir Sem om sy eerste spruit te sien. Sem was eenhonderd jaar oud toe sy eerste seun gebore was, twee jaar na die vloed:

Gen 11:10  Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader van Arpagsad geword, twee jaar ná die vloed.

Sem se wagtyd om sy eerste seun se geboorte te sien, wys ons na die tydsame proses wat God ingestel het voordat daar enige geestelike vrug gesien kan word. Dit is een van die belangrikste lesse wat die Bybel vir ons wil deurgee!!! Daar steek geen waarheid in dit wat sommige verkondig as ‘n “kits-saligheid” nie. Nee, dit is deur baie verdrukkinge dat enigeen die geestelike koninkryk van God deelagtig gaan word: 

Hand 14:22  en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Heber het twee seuns gehad: Peleg en Joktan. Joktan se naam beteken “klein”. Daar word egter baie meer klem op Peleg en sy nageslagte in die Skrifte gelê. Peleg se naam beteken “verdeeldheid” en in sy dae het “die aardbewoners verdeeld geraak”. Hierdie verdeeldheid wys ons weereens na dit wat die vlees in ons voorstel – verdeeldheid en verwarring – wat God self bewerkstellig, vir ons lering. Die natuurlike mens kan nie sien waarmee God besig is nie en daarom stuur God doelbewus die verwarring en dwaling om hulle met aardse dinge en met mensgemaakte dinge besig te hou. Die natuurlike mens is versot daarop om te stry, te baklei en oorlog met ander te maak. Die mens hou ook daarvan om daarvan te hoor en oor die dergelike aardse dinge te gesels en te debatteer:

2Th 2:10-11  en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,

Die natuurlike mens glo in verdeeldheid (grense) en verdedig hul eie sienings of eie gebiede met alles wat hulle het. Dit is die rede vir al die oorloë en probleme wat die wêreld self nooit gaan oplos nie. Dit is nie aan hulle gegee om dit te doen nie. Dit alles gebeur terwyl God besig is om te midde van die oënskynlike verwarring Sy een familie voor te berei waardeur die Christus voortkom – en dit gebeur reg onder die oë van die res van Noag se afstammelinge:

Mat 13:10-11  En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?  Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar