Die Beginsels van Geloof (Deel 10 – Kerngedeelte: Genesis 13:5-18)

Abram (hy is eers later Abraham genoem) se omswerwinge in the land van Kanaän beeld ons eie geloofspad uit waar God baie toetse na ons bring sodat ons ons eie hart kan leer ken. God weet alles en Hy gebruik hierdie toetse vir ons verootmoediging om ons te help om Sy almagtigheid in alles te kan sien. Ons dink ons is sterk en kan alles doen, maar dit is ‘n valse siening wat op trots gebaseer is. Ons leer dus deur die beproewinge wat die Here stuur hoe swak ons eintlik is en dat ons natuurlike hart bedrieglik is bo alle dinge:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Ons moet dus op die harde manier leer sodat ons stelselmatig ten volle op God moet vertrou, soos Hy ook te werk gegaan het met die volk van Israel in die Ou Testament, vir ons lering:

Deu 8:1-2 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Abram en Lot, sy broerskind, het stelselmatig baie ryk geword en daar het toe probleme ontstaan met weiding vir hulle talle vee:

Gen 13:5-7 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.

Twis is teenwoordig in die onvolwasse vleeslike hart in almal van ons. Maar soos ons groei in die geloof van Christus sal ons kan sien dat God vir elkeen voorsien om sy eie unieke plek in God se plan in te neem. Daar is geen duplisering in God se koninkryk nie. Elkeen het ook sy unieke funksie in God se koninkryk, maar dit is nie wat in die natuurlike mens se denke en aardse koninkryke gebeur nie. Daar is gedurig naywer en wedywering, en so is afguns en jaloesie ook die oorsaak van die baie bloed was moes vloei sedert die begin:

1Jn 3:10-12 Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.

Abram het hierdie lesse ook geleer in sy groeiproses in die geloof,  en het toe vir Lot die voordeel van die keuse gegee:

Gen 13:8-9 Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.

Lot, wat nog onvolwasse was in die geloof, se oë was gerig op dit wat aantreklik en voorspoedig gelyk het vir sy vlees:

Gen 13:10-11 Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.

Abram het geweet dat God se werklike geestelike seëninge kom nie deur sigbare dinge of deur sintuie van die vlees nie, maar juis deur dit wat deur geloof aanvaar word:

Gen 13:12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.

Die vleeslike verleidings kom altyd na ons in ‘n aantreklike pakket, maar binne-in is dit nie dieselfde nie:

Gen 13:13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.

Abram was deur God in alles geseën ten spyte van dit wat vir Lot nie goed gelyk het nie – dit was vir Abram aanvaarbaar omdat hy God geken het. God skep ‘n paradys in ‘n woestyn, vir die wat dit kan sien. Abram het die hele land van God gekry en hy kon dit alles in besit neem, soos God dit vir hom en sy nageslag sou gee:

Gen 13:14-18 En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee. Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE ‘n altaar gebou.

Mamre beteken sterkte en Hebron beteken vriendskap of gemeenskap. Hebron is die plek van ewige en voortdurende intieme gemeenskap met God waar ons Sy sterkte en krag in ons kan ervaar en geniet. Ons wil wees waar Hy is – by sy kinders:

Heb 10:24-25 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Abraham het vir ‘n tydjie sy tent opgeslaan by Hebron, en in Hebron het hy ‘n ander altaar vir die Here gebou. Ons weet dat die altaar is die plek van offers. Ons altaar is om ons kruis op te neem en God te volg teen die heersende orde van ons samelewing en hulle selfsugtigheid:

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

As ons wil bly in gemeenskap met God, kan ons nooit die altaar verlaat nie, al trek ons later uit ons fisiese Hebron. Die geestelike Hebron gaan saam met ons. Mag Hy ons barmhartig wees en in ons Sy begeerte lewendig hou om altyd die belangrikheid van toewyding aan Hom eerste te stel bo alles wat die vlees wil hê, sodat ons Sy lewe in ons kan ervaar – ‘n lewe van oorwinning in elke opset!!!

Advertisements
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s