1Jn 5:8 ….daar is drie wat getuig op die aarde: die gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.
Waarna word verwys as dit noem dat hierdie “drie”, naamlik “die gees en die water en die bloed”, “eenstemmig” is op die aarde? En waaroor en met wie stem hulle saam?
Hierdie belangrike vrae en die antwoorde op hierdie vrae word weggesteek vir meeste mense want die afvalliges het hul aandag afgelei om eerder te konsentreer op die volgende woorde wat in meeste manuskripte van die Nuwe Testament NIE voorkom nie, vir baie goeie redes:
1Jn 5:7 Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;
Vir baie wat glo in ‘n valse “drie-eenheid” is hierdie vers 7 een van die groot bewyse dat God uit drie persone bestaan. Maar vir hulle wat die waarheid ken, is dit baie duidelik dat hierdie vers 7 nie eens deel is van die konteks en bedoeling van al Johannes se woorde hier in hoofstuk 5 van hierdie brief nie. As ons verder lees in 1Johannes 5 sal ons eintlik sien wat die oorspronklike konteks regtig op konsentreer, al het ons nie toegang tot die oorspronklike Nuwe Testamentiese boeke of manuskripte nie. Johannes het glad nie eens geglo in ‘n drie-enige god nie, want Johannes het die waarheid van God geken. Johannes het net soos Paulus en al die apostels geglo dat….
1Kor 8:6 ….daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Kyk weer na vers 8 en kyk wat is die kernpunt….
1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.
Hier staan dat hierdie “drie”, dit is die gees, die water en die bloed, is eenstemmig…”getuig” saam….op die aarde. Die onderwerp hier is tog duidelik, naamlik “GETUIENIS”. Dit gaan alles oor saam “getuig” . Kom ons lees verder want die konteks maak dit al hoe duideliker, vir die wie dit kan sien. Kom ons lees vers 8 nou saam met verse 9 tot 12. Kyk hoeveel keer die woorde “getuig” en “getuienis” voorkom…
1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.
1Jn 5:9-12 As ons die getuienis van die mense aanneem—die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.
Die woord “getuig” kom drie keer voor in die genoemde verse!
Die woord “getuienis” kom nie minder as ses keer voor!
Dit gaan alles oor die getuienis van die Vader oor Sy Seun, Jesus Christus!
Die woord “Seun” word hier nie minder as 6 keer genoem in verse 9 tot 12 wat dan die gedeelte wat dit voorafgaan belig!
Daar is niks in die verse 9 tot 12 oor ‘n sogenaamde derde persoon in die Godheid nie.
Die “eenstemmig[heid]” gaan oor die “getuienis” van die Vader oor Sy Seun, Jesus Christus! Niks anders nie! Omdat die afvalliges nie die Vader of Sy Seun ken nie, moet hulle Skrifte verdraai en selfs met vertalings en manuskripte peuter om hul valse leerstellings in te forseer:
Joh 8:19 Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.
Joh 14:7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
As die Vader en die Seun nie in jou hemel getuig wie Hulle is nie, sal hulle ook nie op jou aarde ‘n getuie wees nie want hulle woon dan nie in jou nie. Dit is waarom die afvalliges ‘n derde persoon in die tekste wil inlees asof God en Sy Seun nie self heilig is, en nie self gees is nie:
Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Joh 16:13-15 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
Die Seun het die vleeslike liggaam wat Hy ontvang het met Sy geboorte deur Maria net vir ‘n tyd lank beklee voordat Hy na sy kruisdood uit die dood opgestaan het en in gees terug ontvang was deur die Vader en nou, saam met die Vader, in diegene kom woon wat Sy Woorde aanvaar — “in gees en waarheid”!
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Wie kan die woorde van Jesus verstaan? Dit is baie min wat Hy uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Efes 1:3-4 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.
Die Woord is van Genesis tot Openbaring “eenstemmig” oor die Vader en Sy Seun. Hier is “die drie” wat “eenstemmig” is…. “die gees en die water en die bloed” soos in 1Johannes 5 tereg verduidelik word.
1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.
Kom ons kyk wie die drie is…soos deur die Skrifte uitgewys – nie deur menslike spekulasie of byvoegings nie:
“die gees…”
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
“die water…”
Efes 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.
Joh 4:13-14 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.
“die bloed…”
1Pe 1:2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!
1Pe 1:18-19 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.
Die drie het almal betrekking op EEN en DIESELFDE PERSOON…Jesus Christus as die lewende WOORD van die Vader. Die Woord is gees…is water…is die bloed wat ons nou ervaar, wat ons nou heilig, reinig en nou losmaak van sonde hier op aarde. Dit is God se getuienis aan ons oor wat die Seun doen:
Joh 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
God stuur aan die afvalliges ‘n dwaalgees om leuens te glo en selfs tekste te vervals en in te druk waar dit nooit was nie:
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
As God vir iemand ‘n dwaalgees stuur kan niemand daardie persoon oortuig van die waarheid nie, al staan dit ook voor die persoon se gesig in swart op wit. Mens se blindheid is van God:
Eks 4:11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?
Ek haal ‘n gedeelte van die bostaande lering aan:”Die Seun het die vleeslike liggaam wat Hy ontvang het met Sy geboorte deur Maria net vir ‘n tyd lank beklee voordat Hy na sy kruisdood uit die dood opgestaan het en in gees terug ontvang was deur die Vader en nou, saam met die Vader, in diegene kom woon wat Sy Woorde aanvaar — “in gees en waarheid”!”
Jesus is nognie as gees by die Vader nie, maar nogsteeds as Godmens waar Hy as middelaar vir ons verteenwoordig sodat ons met vrymoedigheid en in regverdigheid na die troon van die Vader kan gaan.
Hoekom se ek so? Nadat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het Hy ‘n menslike liggaam van vleis en been gehad. Alhoewel Hy nie Maria toegelaat het om Hom aan te raak nie, want Hy was nognie by die Vader nie. Joh 20:17 “Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”
Nadat Hy later aan die dissipels verskyn het, nadat Hy by die Vader was, was Hy nogsteeds mens en nogsteeds vleis en been. Luk 24:36 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!
Luk 24:37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.
Luk 24:38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?
Luk 24:39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
Luk 24:40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.
Luk 24:41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?
Luk 24:42 Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek.
Luk 24:43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
Nadat Jesus klaar met Sy dissipels gepraat het in Luk.24:44-49, het Hy hulle uitgelei tot by Betanie en daar het Hy hulle geseen en is Hy in die Hemel opgeneem in presies dieselfde vorm as wat Hy aan hulle verklaar het dat Hy vleis en been is. Hy het nie in ‘n gees verander toe Hy uit die dood uit opgestaan het nie.
Hallo P________
Dankie vir jou respons. Ek waardeer dit en reageer graag op jou woorde.
Jy sê:
“Jesus is nog nie as gees by die Vader nie, maar nog steeds as Godmens waar Hy as middelaar vir ons verteenwoordig sodat ons met vrymoedigheid en in regverdigheid na die troon van die Vader kan gaan.”
Dat Jesus as Middelaar optree by die Vader is 100% waar volgens die Skrifte:
1Ti 2:5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,
Dat Jesus as mens gekom het deur sy geboorte in vlees, deur Maria, is ook 100% waar:
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Hierdie Woord, Jesus Christus, het egter voor ‘vleeswording’ in gees saam met God, die Vader, bestaan, en selfs hierdie fisiese skepping na vore gebring as die God van hierdie skepping:
Joh 1:1-4 In die begin was die Woord [Jesus], en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy [Jesus] was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
God is gees, en die Woord [Jesus] is gees en lewe:
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
“Die vlees is van geen nut nie” sê sekerlik baie vir ons. Gees is nie vlees nie – “dit staan teenoor mekaar”:
Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Jesus het selfs voor Sy ‘vleeswording’ (deur Maria), baie keer in menslike vorm verskyn in die Ou Testament – Hy staan bekend as die “Engel van die Here”, onder andere, in baie Ou Testamentiese gedeeltes. Die frase “Engel van die Here” kom in nie minder as 52 verse in die Ou Testament voor. Hier is ‘n paar voorbeelde van hierdie Skrifverwysings in die Ou Testament: Genesis 16:9-13; Gen 18:1-33; Genesis 22:11-14; Genesis 32:24-43; Eks 3:2-4; Rigter 6:11-24; Rigters 13:2-23; Daniël 3:23-29.
Wat kan ons hieruit leer P____. Hierdie Ou Testamentiese skrifte wil ons leer dat ‘n persoon wat gees is wel in vlees kan manifesteer en selfs fisiese maaltye saam met mense kan geniet! Dink maar aan die geval met Abraham waar nie net ‘n maaltyd saam geniet was nie, maar ook voete gewas was!.
Gen 18:1-5 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. 2 Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. 3 En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. 4 Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. 5 En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.
Gen 18:10-14 En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. 11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. 12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? 13 Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? 14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.
“Die Here” Jesus het in vlees verskyn aan Abraham en Sara. Tog was Hy gees!
Joh 4:24 God is Gees…
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Ons kan dus nou met volle oortuiging verklaar dat die Skrifte duidelik uitwys:
Dat Jesus die God van hierdie skepping is;
Dat Hy inderdaad die een Here is wat aangestel deur die een God, die Vader;
Dat Jesus gees is “van die begin” af;
Dat die Here Jesus wel in aardse vleesvorm verskyn het tydens Sy talle besoek aan mense dwardeur die Ou Testament.
Is dit dan anders in die Nuwe Testament nadat Hy opgewek was uit die graf? Nee P_____. Jy moet sulke idees byvoeg by die woorde van God en ons weet hoe gevaarlik dit is:
Deu 4:2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
Open 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Ons voeg by of laat weg van God se woorde op ons eie risiko.
Kom ons kyk waarom Jesus in vlees verskyn het aan Sy dissipels na Sy opstanding uit die dode:
Luk 24:10-11 En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het. 11 En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.
Jesus self het Sy volgelinge se ongeloof oor Sy opstanding bestraf:
Luk 24:25 En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!
Jesus het in vlees aan Sy volgelinge verskyn omdat hulle nie geglo het in die boodskap van God se engele nie:
Mat 28:1-7 En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. 2 En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. 3 En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu. 4 En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. 5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; 7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
Jesus moes in “vlees en bene” verskyn ter wille van die dissipels se ongeloof:
Luk 24:36-43 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! 37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. 38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? 39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. 40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. 41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? 42 Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. 43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
Ons weet reeds dat Gees wel in ‘n menslike vorm kan verskyn, en dit is wat Jesus dan ook oordra in hierdie woorde aan Sy dissipels en aan ons, as ons dit kan ontvang. Die blote feit dat Hy nie by die deur ingekom het nie, maar skielik “in hul midde” verskyn het, sê sekerlik baie vir ons P____:
Joh 20:26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!
‘n Gees het inderdaad nie “vlees en bene” nie, maar kan in so ‘n vorm verskyn. Thomas het net soos die ander dissipels gesukkel om te glo in Jesus se opstanding. Hoor eers Thomas se ongelowige woorde
Joh 20:24-25 En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.
Jesus het Thomas se woorde gehoor want Hy was daar en onsigbaar aan hulle. Kom ons lees verder….
Joh 20:26-28 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! 27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. 28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!
Jesus het Thomas se presiese woorde herhaal. Hoor nou Jesus se woorde aan Thomas en aan elkeen wat Hom in vlees wil sien:
Joh 20:29-31 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. 30 Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; 31 maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
Ons geloof hang dus nie af van die fisiese dinge nie:.
Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Slegs deur geloof weet ons dat Jesus gees is en by die Vader woon. En waar woon Jesus en die Vader? Jesus sê duidelik waar hulle woon, vir hulle wie Jesus se woorde kan aanvaar:
Joh 14:20-23 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. 22 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Jesus openbaar Hom net in gees aan hulle wat deur geloof sy Woord in gees kan aanvaar:
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Ek is nie hier om jou die “maat van geloof” te gee om Jesus in gees te kan sien nie P_____, want dit is die taak van die Vader:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Die Vader trek diegene vir wie Hy die geloof gee om Jesus in gees te kan sien:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Ons almal moet eers Jesus na die vlees ken, voordat ons Hom na gees ken:
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Jesus was weggeneem voor die “oë” van die dissipels vir hierdie doel…
Hand 1:9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
Jesus het sekerlik nie gelieg toe Hy gesê het dat Hy met sy volgelinge sal wees en IN hulle sal woon nie – Hy en Sy Vader:
Mat 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.
Joh 14:18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.
Joh 14:20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.
Dankie vir jou skrywe P__________, en ek hoop ek was van hulp.
In Christus
Larry