Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 38)

Ons aardse mens se lewe word gekenmerk deur VREES. Vrees heers oor ons vanaf ons vleeslike geboorte. Vrees kan basies in twee maniere opereer in ons:

  • die negatiewe toepassing van vrees is werksaam in ons sover dit ons menslikheid (die vrees van menswees) aangaan,
  • die positiewe toepassing van vrees is werksaam in ons deur die vrees van God wat ons motiveer en bekragtig om reg te leef.

Die eerste tipe vrees is ‘n gevangenis (‘n strik) waarin almal van ons eerste lewe, teenoor die tweede tipe vrees, die vrees van God, wat bevrydend is omdat ons God bo alles in ons lewe ervaar:

Spr 29:25 Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.

Efes 5:20-21 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, 21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.

Die uitdrukking “die vrees vir die mens” in Spreuke 29 vers 25 kan beter uitgedruk word as ‘die vrees van die mens’. Mens het ‘n inherente vrees wat hy nie deur sy eie krag kan van ontsnap nie. Die aardse mens is deel van die tydelike skepping van God wat “aan die nietigheid onderworpe” is deur God se wil:

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

Die woorde “nie gewillig nie” sê vir ons dat die mens NIE ‘n vrye wil het soos algemeen aanvaar en gepropageer word nie. Dit is hierdie besluit van God om die aardse mens slegs ‘n tydelike bestaan te gee, wat die mens baie ontstel en ook die oorsaak is vir al sy vrees. Hierdie vrees vloei dus uit die ‘self’ en sy onvermoë om oor sy eie lot te heers. Selfsug, selfbehoud, selfbeskeming en selfoorlewing dryf die mens om op te tree in stryd met God se opdragte. Dit is die geestelike toestand van die aardse vleeslike mens – hy opponeer God op elke manier denkbaar:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die aardse mens wil sy lewe red en behou, ten spyte van God se besluit dat die mens nooit veronderstel was om vir ewig te lewe:

Mat 16:25a Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor…

Hierdie vrees van die mens is dus ‘n sonde (Neh 6:13), en kyk net waar staan hierdie vrees in die lys van sondes in die boek van Openbaring:

Open 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Ja, vrees staan reg bo in die lys van sondes omdat vrees ‘n “werk” is van ons vlees wat God se wil weerstaan – of so poog die vlees in ons elke minuut van elke dag. Maar vrees en alles in die vlees sal vernietig word op die tyd wat God se vurige oordeel ons besoek:

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Om God te vrees is die grootste wenresep vir ‘n oorwinningslewe. Dit is inderdaad die beginsel van wysheid wat kom deur die gees van God in ons harte:

Psa 111:10 Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid.

2Ti 1:7 Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

1Jn 4:18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Koning Saul se lewe is die tipe van ons aardse vleeslike koningskap. Saul se lewe was gevul met die negatiewe aspek van vrees, naamlik “vrees vir die mens”. Hy het kortgeskiet in sy vrees vir die Here omdat hy, onder andere, nie God se opdragte gehoorsaam het nie, en homself aan slegte dinge en gewoontes gekoppel het. Hier is hoe ons weet dat ons God vrees:

Deu 5:28-29 En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het. 29 Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.

Spr 8:13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek.

Die vlees is van nature ongehoorsaam aan God en neig oor na die slegte raad:

Gen 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

In hierdie interaksie tussen die eerste mense en die listige slang in Eden, sien ons die rede vir ons die vrees “van mense” weereens baie duidelik en die slang het dit uitgebuit:

….van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe

Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Ons vleeslike mens haat die gedagte en werklikheid van die dood! Ons word gedurig gekonfronteer deur die gedagtes en die werklikheid dat ons eendag aan ons vlees totsiens sal moet sê. Maar dan oortuig ons onsself dat ons tog weer sal leef IN VLEES! Nee, ons sal nie weer IN VLEES leef nie. Ja ons sal leef, maar dit sal in ‘n heel ander toestand wees:

1Kor 15:35-38 Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? 36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. 37 En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. 38 Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.

God gaan aan elkeen ‘n nuwe liggaam gee, ‘n geestelike liggaam:

1Kor 15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

Maar ons glo nie hierdie waarheid nie en klou vas aan ons aardse idees – ook aan die idee dat ons nie eintlik gaan sterwe nie. Dit ou slang het tog immers so gesê en ons vlees glo die leuen:

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

Satan heers oor ons as gevolg van die leuens wat ons glo. Twee leuens word hier aan ons uitgewys. Die eerste is dat die vlees nie veronderstel was om te sterf nie, en die tweede leuen is dat dooie mense lewe. Ons word geleer deur valse leerstellings dat Adam geestelik perfek geskep was en nooit sou sterf nie. Maar Adam was van vlees geskep en hier is God se siening van vlees ten opsigte van God se geestelike perfekte koninkryk:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die oorspronklike woorde van God aan Adam was dat hy gaan sterf, veral as ook gaan eet van die verbode boom se vrugte. Maar ons lees die woorde met ons denke reeds opgemaak volgens ons vals oortuiginge. Lees die volgende woorde versigtig en kyk daarna met ander oê:

Gen 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Volgens ons valse oortuigings gee die woord “sekerlik” die indruk dat Adam nie sou sterwe nie maar net wanneer hy sal eet van die verbode vrug. Nee, Adam was ‘n sterflike wese en hy sou verseker daarvan weet dat hy “aan die nietigheid onderworpe” is as hy sou eet van die verbode vrug.  Adam was dus onbewus van die omvang van die “kwaad” in en rondom hom en hy was ook onbewus van die “goed” wat in God gesetel was. Dit is ons almal se aanvanklike natuurlike kondisie en denke. Maar deur ‘n gebod, ‘n wet, het God bepaal dat ons uitgelok sal word om nadere ondersoek in te stel. Kyk hoe pragtig beskryf Paulus hierdie Goddelike proses van ontdekking van Adam oor wie hy as vleesmens was. Ons almal is aan dieselfde ontdekkingsproses onderworpe:

Rom 7:7-9 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. 8 Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. 9 En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe.

God self lok egter niemand uit nie.

Jak 1:13-15 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

God het Sy skepsels wat die begeerlikheid in ons na vore bring deur ons “sinne” (ons denke en sintuie) – volgens God se opdrag. In Eden het God die slang gebruik en tot vandag is die ou slang en al sy medewerkers net so bedrywig in ons onder God se opdrag en toesig:

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Die ou slang, ook Satan, en die duiwel genoem in die Skrifte, is maar een van die skepsels wat God gebruik vir Sy doel (Open 12:9). Hy kom in verskillende vorme en deur verskillende kanale na ons en ons misken hom soms heeltemal. Hy word deur God losgelaat en ook gebind – Hy is God se “hand”:

Job 1:9-12 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.

Job 2:4-6 Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; 5 maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 6 En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe.

Open 20:1-2 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,

Alhoewel Eva gebruik was as eerste respondent tot hierdie bose werker van God, was Adam reg langs haar en hy het sy volle samewerking gegee:

2Kor 11:3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.

1Ti 2:14 En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.

Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Deur die profeet Jeremia sê God duidelik dat die mens in Sy Skeppershand “misluk” – die dood en alle bose werkers is in God se “hand”:

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluksoos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Paulus bevestig dit en God wil hê ons moet weet wat die kondisie was van die aardse mens – hy was aan “nietigheid onderworpe” deur God se “hand”!

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

Dit is nie deur die wil van ‘n mens dat ons sondig en nietig is nie, maar ons wil is onderdanig aan God se proses en plan:

Psa 119:10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.

Rom 9:16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

Rom 7:17-20 Maar nou is dit nie meer ek wat dit [verkeerd] doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.

Jesaja het tot dieselfde slotsom gekom en stem saam dat God volle verantwoordelikheid neem oor AL ons doen en late en alles in ons wese – alles is in Sy “hand”:

Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Maar hierdie leuen dat die mens op sy eie afgewaal het, hou ons almal gevange tot op die tyd wanneer die waarheid aan ons gebring word:

Jes 53:6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Ons ongeregtigheid kom op Jesus! Wat beteken dit? Beteken dit dat ons so op ons eie afdwaal? Nee! Dit beteken Hy bepaal ons weë – ook die dwaalweë is in Sy “hand”!

Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Die Waarheid kom na ons deur ‘n persoon, Jesus Christus (Joh 14:6), wat hierdie “vlees en bloed” deelagtig geword het om aan ons te kom wys dat Hy verantwoordelik is vir alles – alles ‘kom neer’ op Hom.

Rom 11:33-36 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! 34 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? 35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? 36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Hy kom ons dan wys dat hy ‘n plan het met die vlees en met die dood. As ons die plan weet, dan verstaan ons Sy doel met die “vlees en bloed” en wat dood eintlik behels, en daardeur word die vrees vir die dood, en alle ‘vrese van die mens’ weggeneem:

Heb 2:14-15 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Hier is die waarheid oor die toestand van alle dooies en die sterflikes:

Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Net Jesus het op hierdie stadium onsterflikheid nadat Hy in vlees gewees het!

1Ti 6:13-16 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15 wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

Die dood sal egter nie vir altyd die dooies en sterflikes gevange hou nie!

1Kor 15:26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Open 21:4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

ALMAL gaan opgewek word UIT DIE DODE – “elkeen in sy eie orde”!

1Kor 15:12-13 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

1Kor 15:22-24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.

Deur hierdie waarhede word ons bemagtig om God te vrees bo ons vrees van menswees.  Hier is nog ‘n paar tekste wat die vrees vir God in ons lewe aanhelp en waarom dit soveel meer voortrefliker is as die vrees van mense:

Deu 6:24 En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.

Jer 32:39-40 En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. 40 En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.

Deu 10:12-13 En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?

Psa 19:9 (vers 10 in die OAV) Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig.

Spr 3:7 Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad.

Spr 24:21-22 My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie. 22 Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?

Gewapen met hierdie waarhede kan ons nou ons eie heil uitwerk omdat ons weet dat God ALLES IN ons werk:

Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

2Ti 1:7 Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

 

 

 

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s