Die proses waardeur ons almal indiwidueel, en die hele mensdom kollektief, gaan in ons ontwikkeling tot geestelike volwassenheid, word orals in die Skrifte uitgebeeld, maar veral in die geskiedenis van die fisiese volk van Israel. Alles wat met Israel gebeur het, is verwysend na ons eie lewe en daarom is dit uiters insiggewend:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde [oorspronklike Griekse woord: “tupos” = tipe], en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
In hierdie reeks studies kyk ons kortliks na hierdie pad, soos dit uitgebeeld word deur ‘n sewe-stap proses waardeur Israel moes gaan in hulle geskiedenis, soos opgeteken in die Ou Testament, vir ons “voorbeeld”. Hier is die sewe fases wat vir ons as riglyn dien:
- Die tyd in Egipte;
- Die bevryding van die Egiptiese slawerny;
- Die tyd in die wildernis;
- Die ingang in die Beloofde Land;
- Die tyd in die Beloofde Land;
- Die tyd in ballingskap in Babilon;
- Die terugkeer uit Babilon en die heropbou-proses.
Hierdie proses hou nou verband met sewe feeste van die fisiese Jode:
- Die pasga
- Die fees van ongesuurde brode.
- Die ‘vyftigste’ dag fees (Pinksterfees).
- Die fees van “basuingeklank”.
- Die fees van die “Versoendag”.
- Die huttefees.
- Die groot fees op “die agste dag” van die huttefees.
Lees gerus meer oor die getal ‘7’ se geestelike toepassing in ons lewe by hierdie skakel:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/
Ons tyd in Egipte (die vlees) en ons eerste stap tot verlossing.
Ons almal begin in “die eerste mens, Adam” as ‘n sondige skepsel, en groei dan tot perfekte geestelike saligheid in Christus, “die laaste Adam”. So beskryf Paulus die proses:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. (46) Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. (47) Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. (48) Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. (49) En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
In Genesis leer ons van hoe God hierdie groep mense as volk verenig het onder hul geroepe leiers, soos Abraham, Isak, Jakob en Josef. Josef was deur God uitverkies om Jakob (Israel) en sy 12 seuns en hul families na Egipte te bring in ‘n tyd van voorspoed en welvaart wat God daar vir hulle voorberei het:
Hnd 7:14-17 Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf en sewentig siele. (15) En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders. (16) En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ‘n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem. (17) En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ‘n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte.
In die boek van Eksodus lees ons egter van die tyd toe die welvaart van Israel in Egipte ‘n groot probleem begin word het vir die Egiptenare:
Eks 1:7 Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.
Die Israeliete het vermeerder en buitengewoon magtig geword, en toe ‘n ander farao van Egipte die troon bestyg het, was hy glad nie tevrede met die situasie nie:
Eks 1:8-10 Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. (9) Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. (10) Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.
Die “slim plan” van die nuwe Farao en die Egiptenare om Israel se welvaart en mag te verminder, het ‘n stelselmatige volkmoord en slawerny ingesluit:
Hnd 7:19 Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.
Eks 1:11 Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.
Die land, Egipte, wat eers baie goed gelyk het, het nou sy ware identiteit begin openbaar. In geestelike terme verwys hierdie land, Egipte, na ons tyd in vlees. Alles is eers so onskuldig en dit lyk of ons bedoel is om vir ewig hier te bly in vlees. Dit is ook hoe Adam en Eva geglo het, veral toe die listige slang sy bedrog verkondig:
Gén 3:1-5 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? (2) En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, (3) maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. (4) Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; (5) maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Dieselfde leuen word tot vandag geglo. Maar die waarheid bly nog staan – alle mense is geskep om te sterwe “in Adam” (die eerste voorwerp in die hand van die Pottebakker), voordat die nuwe (geestelike) lewe in Christus kom (die “ander voorwerp” wat “reg was” in die oë van die Pottebakker):
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Dit is wat Israel in Egipte moes uitvind. Egipte is die plek van dood en slawerny. Vlees en sy aardse denke en dinge verteenwoordig die dood:
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. (6) Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, (7) omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. (8) En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Ons vlees is nie deel van God se geestelike koninkryk nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Ons word stelselmatig ontnugter met die gang van ons aardse lewe en alles wat eers so mooi was, verander voor ons oë. Probleme, pyn en siekte, en uiteindelik die dood gee aan die aardse lewe ‘n wrang smaak en ons probeer allerhande dinge om ons lewe gelukkig te maak. Maar alles van hierdie skepping faal en misluk, en is onvervullend.
1Pe 1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker….
Soos met Israel wat hul kinders moes verloor, sien ons hoe ons ons eie nageslag in vlees verloor. Ons gee onsself oor aan die vlees en offer alles op om die idees van die wêreld te bevorder, en ons promofeer aardse suksesse en materialisme. Kom ons lees weer wat ons eie aardse Farao doen:
Hnd 7:19 Hy [die Farao: ons aardse koning = die vlees] het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.
Ons word slawe van die sondige vlees en ons is getrou aan ons aardse meesters:
Eks 1:13-14 Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien (14) en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye—al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.
Al hierdie dinge verwys na ons werke in vlees wat onder die gees van die wêreld opereer. Hierdie gees dryf ons om alles te doen wat die aardse meesters beveel – “die begeerlikheid van die vlees…die begeerlikheid van die oë…die grootsheid van die lewe”:
1Jo 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
God stuur egter vir “die wêreld” ‘n Verlosser, wat almal nie nou kan erken as sulks nie.
1Jo 4:14-15 En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. (15) Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God.
Joh 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Vir Israel was dit Moses en hy was ‘n tipe van Jesus Christus. Moses moes in Egipte grootword, in die huis van die Farao vir ‘n baie goeie rede:
Hnd 7:20-22 In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; (21) en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. (22) En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.
Soos Moses as tipe in Egipte (land van sonde) moes opgroei, het Jesus ook gekom na hierdie wêreld om net soos ons in ‘n liggaam van sonde (die paleis van Farao) te leef:
2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— (15) en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. (16) Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. (17) Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. (18) Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Moses moes deur ‘n proses geneem word om vernedering te ervaar, om as verlosser van Israel op te tree. Jesus was verneder om as mens op aardse te leef. Ons leer dieselfde lesse in ons groeiproses na geestelike volwassenheid:
Fil 2:5-8 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. (6) Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, (7) maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; (8) en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Die plae wat Egipte en die volk van Israel getref het, is ons almal se deel want ons aardse hart is hard, en ons kan nie God se opdragte reg uitvoer nie. Maar God in Sy barmhartigheid gee aan ons Sy geloof om te kan luister na Sy Woord. Hy skenk ook die vermoë om Sy Woord te kan doen sodat verlossing kan kom uit sonde se slawerny. Alles kom op Sy tyd. Israel moes die fees van die pasga hou op die vooraand van hul verlossing uit Egipte:
Eks 12:21-28 Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga. (22) En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. (23) Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie. (24) Onderhou dan hierdie saak as ‘n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid. (25) En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. (26) En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? (27) dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig. (28) En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
Die pasga is ‘n tipe van die bloed van Jesus wat moes vloei vir verlossing van sonde. Dit is eers as ons die bloed van die Lam van God op ons eie deurposte kry, dat ons die eerste stap in die proses van verlossing ervaar:
1Pe 1:17-19 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; (18) omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, (19) maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
Die dood van Jesus aan die kruis is ons eerste stap om God se werk in ons lewens te erken. Ons ken dan God se werke in ons op ‘n basiese vlak, en daar is nog baie lesse wat vir ons wag. Dit is hoe ons eers soos die gemeente in Korinthe optree, as ons net Jesus ken in vlees, en Hom as gekruisigde:
1Kor 2:1-3 En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, (2) want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. (3) Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing.
1Kor 3:1-4 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. (2) Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, (3) omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? (4) Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?
Om Jesus se dood vir ons sonde te aanvaar is die eerste stap in ons proses tot geestelik volwassenheid. Die bloed van Jesus op die “die bo-drumpel en aan die twee deurposte” van ons harte beteken dat ons kan nou sien dat God se Woord alleenlik ons denke en lewenswandel kan verander:
1Pe 1:23-25 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. (24) Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, (25) maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.
Ons moet groei om nie dinge na uiterlike vleeslike standaarde te oordeel nie. Die proses is innerlik!
2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. (17) Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Daar lê nog ‘n lang pad voor waartydens ons meer uitvind hoe ons persoonlik by die proses van kruisiging betrokke raak:
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 16) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord