Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) – Deel 1: Die tempel

Inleiding:

In hierdie studie-reeks kyk ons na die wederkoms van Jesus soos dit beskryf word in Mattheus 24-25, en ook in Lukas 17 en 21. Tien belangrike aspekte word uit hierdie hoofstukke gehaal wat ons help om die wederkoms van Jesus aan ons verstaanbaar te maak, soos God wil:

Deel 1: Die tempel

Deel 2: Die einde van die wêreld-eon (die aardse tydperk)

Deel 3: Die gruwel van die verwoesting

Deel 4: Die verdrukking

Deel 5: Die gelykenis van die vyeboom

Deel 6: Die onvoorspelbare dinge van God

Deel 7: Die twee tipe dienskegte van God

Deel 8: Die tien maagde

Deel 9: Die talente

Deel 10: Die skape en die bokke

DIE TEMPEL

Die teks:

Mat 24:1-2  En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.

Luk 21:5  En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy: Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.

Die belangrike woorde van Jesus wat ons van kennis moet neem op hierdie stadium is…“Sien julle al hierdie dinge?” Wat is “al hierdie dinge”? Hierdie woorde word op verskeie plekke in die teks in Mattheus 24 aangetref:

Mat 24:2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.

Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

Mat 24:8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.

Mat 24:33 So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.

Mat 24:34 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.

Die woorde “al hierdie dinge” bind dus alles saam as ‘n eenheid, en ons moet dus weet na watter dinge verwys word. Die dissipels was baie opgemaak met die aardse tempel daar in Jerusalem, maar Jesus het hul bewondering vir daardie tempel en al die mooi dinge rondom die tempel ‘n groot terugslag toegedien. Hy sê dat daardie tempel vernietig sou word. Dit het ook dan so gebeur as ons die geskiedenisbronne daaroor lees. In die jaar 70 nC was die tempel vernietig deur die Romeine. Tot vandag is daar nog geen tempel in Jersualem te sien nie. Maar is dit al wat die teks vir ons wil sê? Die fisiese tempel in Jerusalem was afgebreek, maar as ons die volgende gedeeltes in ons tekste in Mattheus en Lukas hierby lees, dan wil Jesus Sy dissipels se aandag op iets baie dieper en meer persoonlik vestig. “Al hierdie dinge” wat in hierdie hoofstukke genoem word gaan baie dieper as wat die menslike oog kan sien:

1Kor 2:9-10 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.

Vir hulle wie God nou agter die skerms van die aardse gelykenisse neem, word die dieptes van God en Sy werke in mense, en in die mensdom as ‘n geheel, oopgemaak. Daarom neem Jesus sommiges eenkant.

Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom…

Die Skrif sê hierdie dissipels was eenkant geneem wat dui daarop dat God ander dinge vir Sy ware volgelinge wil uitwys wat nie vir die algemene leser van die Skrifte nou beskikbaar is nie. Hier is ‘n paar verse wat bewys dat Jesus baie keer “afsonderlik” met ‘n paar dissipels gepraat het, en dinge tot ‘n dieper vlak vir hulle geneem het:

Mat 17:19 Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?

Mar 4:34 en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.

Mar 9:28 En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?

Mar 13:3 En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik:

Luk 10:23 En Hy het Hom omgedraai na sy dissipels en afsonderlik aan hulle gesê: Salig is die oë wat sien wat julle sien;

Die dissipels van Jesus se nuuskierigheid was geprikkel en hulle wou meer weet oor die tempel se vernietiging. God bewerkstellig dit in Sy uitverkorenes om te klop, te vra en te bid:

Mat 7:7-11 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. 9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; 10 en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? 11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Daarom vra hierdie dissipels dan ook skaamteloos vir Jesus verder uit oor “al hierdie dinge”, en hulle doen ook dan iets baie eienaardigs. Hulle vra Hom oor Sy wederkoms en die voleinding van die wêreld met betrekking tot die vernietiging van die tempel:

Mat 24:3  En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

Luk 21:7  En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?

Die afbreek van die tempel en die wederkoms gaan dus saam! God het inderdaad aan hierdie dissipels ‘n belangrike insig gegee, en tot vandag gee God aan Sy ware dissipels insig in Sy woorde en die waarheid wat daarin weggesteek is:

Joh 8:31-32 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. 32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

As die afbreek van die fisiese tempel in Jerusalem Jesus se wederkoms inlei, waar is Hy? Baie mense wat Jesus uiterlike verwag op ‘n fisiese wolk wat hulle dan na ‘n ander plek sal neem, sal nie hierdie vraag nou kan beantwoord nie. Die tempel in Jerusalem is weg, en Jesus is skynbaar nêrens te vind nie. Jesus het gesê mense sal soek na Hom en Sy koninkryk en dit nie op aardse plekke vind nie:

Luk 17:20-23 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. 22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie. 23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie agterna loop nie.

Daar is baie interpretasies van hierdie tekste beskikbaar, maar baie min kan sien wat in die woorde van die dissipels en in Jesus se antwoorde aangaan.

Mat 24:1  En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. Mat 24:2  En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.

Luk 21:5  En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy:  Luk 21:6  Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.

Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons Sy woorde se primêre funksie en toepassing nie op die aardse vlak moet sien nie, anders gaan ons verdwaal tussen al die menslike interpretasies en al hul aardse plekke waar hulle wil hê jy moet soek:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Daar was dus wel ‘n fisiese tempel in Jerusalem en uit daardie aardse tempel en sy betekenis leer ons baie geestelike lesse. Dit is die doel van alles wat God binne hierdie tydelike fisiese skepping voortgebring het, en ook al die dinge wat mense doen binne die geskiedenis, veral soos dit opgeteken is in die Skrifte.

Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

Alle aardse dinge en alle gebeure in die geskiedenis word alles deur God beheer en dit help ons om dieper geestelike dinge van God in ons eie lewe te verstaan.

Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Die volgende teks verduidelik hierdie waarheid oor hoe ons die onsigbare dinge van God verstaan deur die sigbare dinge:

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Ons kan net God se doel en werkswyse verstaan as ons weet dat God se geskrewe woorde primer op ‘n geestelike vlak in elkeen se lewe van toepassing is, maar dat ons ook nie die uiterlike toepassing van God se Woord in die proses moet vernalaat nie. God se Woord het inderdaad twee toepassings – ‘n uiterlike toepassing in die sigbare dinge rondom ons, en dit het ook ‘n baie belangrike innerlike toepassing vir ons persoonlike toepassing en geestelike ontwikkeling. Hier is die twee dimensies waarbinne God met ons werk in hierdie skepping:

Gen 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Die “hemel” verteenwoordig die innerlike geestelike wêreld in ons denke en bewustelikheid, en die “aarde” verteenwoordig ons aardse bestaan in vlees, en ook alles wat ons deur ons vleeslike sintuie kan waarneem in hierdie skepping rondom ons. Albei hierdie wêrelde besit goed en kwaad en ons word deur ‘n proses geneem om die twee te kan onderskei (reg kan sny), waarmee ons dan ook tot geestelike volwassenheid kom:

Heb 5:14  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

2Ti 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

Volgens die Skrifte was daar verskeie tempels gebou in Jerusalem – dit was die enigste plek waar God bevel gegee het dat offers gebring moes word en aanbidding kon plaasvind. 

Deu 12:1-7  Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat die HERE, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe.  2 Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. 3 En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.  4 So mag julle nie doen met die HERE julle God nie; 5 maar die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom. 6 En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.  7 En daar moet julle voor die aangesig van die HERE julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die HERE jou God jou geseën het.

Die tempel het die vervoerbare tabernakel (wat tydens die wildernis-periode gebruik was) vervang. Die eerste onbeweeglike tempel was gebou deur Salomo:

1Kon 6:1  En in die vier honderd en tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif—dit is die tweede maand—het hy die huis vir die HERE gebou.

1Kon 6:37-38  In die vierde jaar is die fondament van die huis van die HERE gelê, in die maand Sif,  38 en in die elfde jaar, in die maand Bul—dit is die agtste maand—was die huis voltooi in al sy dele en volgens al sy vereistes, sodat hy sewe jaar daaraan gebou het.

Met tyd van die ballingskap was die tempel wat Salomo gebou het, verwoes deur Nebukadnésar (koning van Babel / Babilon):

2Kon 24:8-10  Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Nehústa, ‘n dogter van Élnatan, van Jerusalem.  9 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE net soos sy vader gedoen het. 10 In dié tyd het die dienaars van Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem opgetrek en die stad is beleër.

2Kron 36:5-7  Vyf en twintig jaar was Jójakim oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE sy God.  6 Nebukadnésar, die koning van Babel, het teen hom opgetrek en hom met koperkettings geboei om hom na Babel te vervoer. 7 Ook van die voorwerpe van die huis van die HERE het Nebukadnésar na Babel gebring en dit in sy tempel in Babel gesit.

Esr 5:12  Maar omdat ons vaders die God van die hemel vertoorn het, het Hy hulle oorgegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, die Chaldeër; hy het hierdie huis verwoes en die volk na Babel weggevoer.

Maar koning Kores van Persië wat Babel oorgeneem het, het weer die Israeliete die kans gegee om weer die tempel te herbou, en dit was dan ook onder Serubbábel voltooi, maar hierdie tempel het nie die glorie van die eerste tempel weerspieël nie:

Esr 5:1-2  Maar Hággai, die profeet, en Sagaría, die seun van Iddo, die profete, het vir die Jode wat in Juda en Jerusalem was, geprofeteer in die Naam van die God van Israel wat oor hulle was.  2 Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Jésua, die seun van Jósadak, klaargemaak, en hulle het begin om die huis van God wat in Jerusalem was, te bou, en saam met hulle was die profete van God wat hulle ondersteun het.

Jes 44:28  wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.

Esr 5:13-15  Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babel, het koning Kores bevel gegee om hierdie huis van God te bou.  14 En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en in die tempel van Babel gebring het, dit het koning Kores uit die tempel van Babel uitgehaal, en dit is oorhandig aan een, met die naam van Sésbassar, wat hy as goewerneur aangestel het;  15 en hy het vir hom gesê: Neem hierdie voorwerpe, gaan sit dit in die tempel in Jerusalem, en laat die huis van God gebou word op sy plek.

Koning Herodus (die Grote) het egter hierdie tempel laat vergroot en mooier maak, en dit was na hierdie tempel waar Jesus tydens Sy aardse dae op tye besoek het. Dit is op hierdie pragtige tempel en sy geboue wat die dissipels Jesus se aandag gevestig het. Dit het Jesus die kans gegee om die dissipels (en ons wie Sy woorde as gees kan aanvaar) se aandag weg te lei van die aardse interpretasies. Daarom is daar nie meer ‘n aardse tempel nie. Maar tog is daar steeds mense wat die aardse tempel(s) wil hê, kom wat wil. Hulle is vasgevang binne hul aardse drogredes. Ja daar is mense wat hard werk om weer ‘n tempel in Jerusalem te bou, veral hulle wat in die uiterlike koms van die Messias glo. Hulle glo ook dat voor die Messias kom, die antichrist eerste in daardie tempel moet sit. Vir hulle is dit ‘n uitgemaakte saak dat die nuwe tempel gebou moet word om die einde van die aardse eeu in te lei. Sommige mense glo ook dat hulle aangestel is deur God om Hom te help in die proses. Hulle kan nie sien dat die bou en afbreek van die verskeie aardse tempels in Jerusalem deur die geskiedenis (soos opgeteken in die Skrifte) ons juis moet help om te sien dat God nie eintlik baie omgegee het vir daardie aardse tempels nie. God se ware tempel waar Hy werk en uiteindelik vir ewig sal woon, is meer Sy fokus. Lees mooi waar God se ware tempel is…

1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Maar as mens nie weet waar die ware tempel van God is nie, dan weet mens ook nie wie die ware antichris is nie. Hierdie antichris, of “gruwel van die verwoesting”, verwys duidelik na hoe ons self op God se troon in God se tempel sit, en dink dat ons in beheer is (‘n valse vrye wil het).

2Th 2:3-4  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

As ons dus die tempel reg kan sien, sal ons ook die gruwel kan sien wat God gaan verwoes wanneer sy tyd vertreke is. As ons die ware tempel en die antichris kan sien, sal ons ook korrek kan “lees” en “oplet” wat in die Skrifte oor onsself gesê word (meer hieroor in Deel 3 van hierdie studiereeks):

Mat 24:15  Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—

Dit is hulle wie nou “afgesonder” is deur die Vader, en wie Hy nou in die aardse eeu na Jesus bring wie “al hierdie dinge” reg kan “lees” en na dit “oplet” in hulself en hul eie lewe.

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Hierdie afgesonderde groepie vorm saam die groter tempel van God en hulle word nou “gemeet” en ingepas sonder mensehande volgens die ware mate van God – die ware mate van God is Sy waarheid in die leerstellings van Christus.

Hand 7:48-49 Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: 49 Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?

So beskryf Johannes hierdie “meet en pas”-proses:

Open 11:1-4  En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.  2 Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap.  3 En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. 4 Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.

Hier is hoekom die uitverkorenes in Christus eerste gemeet word deur God, volgens Petrus:

1Pe 4:12-14  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;  13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.  14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

1Pe 4:17  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Die profeet Esegiël beskryf hierdie oordeelsproses (“meet”-proses) as volg:

Eseg 40:2-4  In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ‘n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ‘n stad gebou was, teen die suide.  3 En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was ‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was ‘n linnetou en ‘n meetroede; en hy het by die poort gestaan.  4 En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien.

Esegiël word ook ‘n beeld gegee van die uitverkore kerk (die tempel) van Christus. Die tempel wat Esegiël van profeteer in hoofstukke 40 tot 48 van die boek, is tot ‘n groot mate ‘n verwysing na die geestelike tempel wat God vir almal voorberei het waar elkeen ‘n geestelike woonplek van God self is- volmaak in Hom en in Sy geestelike beeld finaal:

Open 21:1-6  En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.  2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.  6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

Ten Slotte:

Die fisiese dinge is geskep om ons te help dat God ons wil lei tot Sy geestelike dinge:

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

God wil ons by Sy geestelike dinge laat fokus want dit is waar ons gaan eindig:

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Die tempel is dus die plek waar God met ons ontmoet. Hierdie plek is nie meer by ‘n tempel wat met mense hande gebou was nie:

Hand 17:24-25  Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 25  Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

God neem ons dus stadig deur ‘n proses om te ontdek dat ons Sy heilige woning is, en Hy wil intiem met ons verkeer.

1Kor 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Jesus se harde woorde oor die val van die aardse tempel in Jerusalem was dus eerder ‘n verwysing na ons eie aardse tempel van vlees (en alles wat daarmee gepaard gaan) wat afgebreek sal word om die hemelse tempel na vore te bring.

Mar 8:31 Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan.

Dit is hierdie waarheid wat nie maklik deur ons vlees wil aanvaar word nie. Hierdie volgende gebeurtenis is opgeteken om aan ons te wys hoe die vlees die woorde van Jesus vertolk, en wat Hy eintlik meen as Hy sê dat God gaan ‘n nuwe tempel oprig:

Joh 2:13-22  En die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.  14 En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit.  15 En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.  16 En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie. 17 En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.  18 Toe antwoord die Jode en sê vir Hom: Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen? 19 Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. 20 En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?  21 Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek. 22 En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.

Die nuwe tempel van God is Jesus en Sy uitverkorenes, en hulle sal sigbaar wees op die aarde want hulle sal ook alle aardse regerings oorneem.

Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die tempel van God sal definitief nie voldoen aan menslike mates en sienings nie, en so sal die stad van God, die nuwe Jerusalem, ook nie op een aardse plek gesetel wees nie!

Open 21:2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.

Hab 2:14 Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.

Hierdie “tempel” sal op aarde funksioneer vir die simboliese 1000 jaar tydperk, voordat alles op aarde en in die hele fisiese skepping uiteindelik totaal vernietig sal word!

Open 20:7-10 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; 8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. 10 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.

2Pe 3:10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

Hierdie totale uitwissing van alle fisiese dinge in hierdie skepping gebeur om die laaste oordeel in te lei waardeur die groot geestelike taak van die kerk van die Christus voltooi sal word:

Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

1Kor 15:24-28 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

In Deel 2 van hierdie studiereeks sal ons uitwys waarom ons einde van die aardse tempel en die einde van ons eie aardse eeu (die eon van die wêreldgees in ons) moet verwelkom, as God dit aan ons openbaar.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.