Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan (Deel 1)

Die boek van Genesis is die boek van eerste dinge of beginsels. Ons sal in hierdie skrywe  nog ‘n paar beginsels hanteer wat God se geestelike werke op die fisiese vlak na vore bring. God het al die diere geskape, maar een dier se modus operandi word in Genesis 3 tot ons aandag gebring:

Gen 3:1a  Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het.

In hierdie eerste deel van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping, sal ons konsentreer op ‘n paar van sy karaktereienskappe. Hierdie slang was ‘listiger’ as al die ander diere! Hierdie skepsel was dus in ‘n sekere aspek verhef bo die ander diere wat God geskep het. Die woord ‘listiger’ kom van die Hebreeuse woord “ârûm” wat onder andere te doen het met “vernuftigheid”. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, vertaal die woord as “phronimos” wat in hierdie teks in die Nuwe Testament voorkom:

Mat 10:16  Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig (Grieks: “phronimos”)  soos die slange en opreg soos die duiwe.

Hierdie eienskap van die slang is dus baie belangrik om van kennis te neem want God wil hê ons moet ook as Sy kinders ook ‘versigtig’ of ‘vernuftig’ moet wees ‘soos die slange en opreg soos die duiwe’. Alles wat God gemaak het, die goed en die kwaad, was ‘baie goed’ vir die doel wat God dit gemaak het:

Gen 1:31  Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Gen 2:9  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Jes 45:7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Om iets te maak vir ‘n spesifieke doel, of om goed te doen, en dan daarvan af te wyk is die definisie van sonde. Die Bybelse definisie van sonde is om jou teiken te mis. God het nie iets gemaak en dan daarna afgewyk van sy oorspronklike doel en plan nie. Die boom van kennis van goed en kwaad (boosheid) was so gemaak deur God –die boom het nie so geword nie. Kwaad of boosheid is nie ‘n afwyking in God se skepping nie anders het God gesondig en God kan nie sondig nie. Kwaad of boosheid is deel van God se fisiese skepping “van die begin af”. Net so ook was die slang geskep om God se doel te dien en daarom het God hom ‘listiger’ gemaak as al die diere van die veld. Hy het nie so geword nie, en nog minder het hy dit op sy eie ‘listiger’ geword. God het met alles ‘n perfekte doel en selfs die werke van die slang is onder God se beheer. Kom ons kyk meer in diepte na die karakter van die slang om meer uit te vind wat hier gesê word in Genesis 3. Ons weet dat naamgewing te doen met karaktereienskappe soos die Skrifte vir ons self verduidelik:

Gen 2:19  En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.

Gen 27:36  Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?

1Sa 25:25  My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ‘n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie.

Mat 1:21  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Wat beteken dit en wat kan ons leer van hierdie slang van Genesis 3 in die hele inhoud van God se woord? Hier is die ander name waaronder hierdie skepsel van God opereer wat dan ook vir ons baie help om sy karakter te leer ken:

Open 12:9  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Die verwysing na die ‘ou slang’ is baie betekenisvol in hierdie vers want dit is dieselfde slang wat Adam en Eva in Genesis 3 mee te doen gekry het. Hy word ook die ‘groot draak’ en ‘Satan’ genoem in die vers. Hier is nog verwysings om ons te help:

Jes 27:1  In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak (Hebreeus: “tannıyn” = draak, slang) doodmaak wat in die groot water is.

Jes 51:9  Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster (Hebreeus: “tannıyn” = draak, slang) deurboor het nie?

God het die ‘vinnige slang’ geskep ‘wat IN die groot water is’ – dit is die see. Die slang is dus NIE die ‘groot water’ nie, maar hy is In die groot of baie waters. Hier is wat die ‘groot water’ of ‘baie waters’ beteken:

Jes 17:12  Wee die gebruis van baie volke—soos die gebruis van die see, so bruis hulle! En die gedruis van nasies—soos die gedruis van geweldige waters, so maak hulle gedruis!

Open 17:1-2  En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit,  met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.

Die waters is die vlees en vleeslike denke wat uitgebeeld word as die ‘nasies’ waaroor die ‘konings van die aarde’ regeer. Adam en Eva was van vlees gemaak en dit is dan juis die ‘see’ of ‘water’ waaruit almal eerste gebore word.

Joh 3:5-6  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Vlees is uit die aarde (van stof) gemaak en hierdie aarde is dan ook die plek wat Satan deurkruis:

Job 1:7  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.

Die slang in Genesis 3 het dus nie sommer op sy eie “vrye” wil op die toneel verskyn nie. God het ook vir hom ‘n belangrike doel soos die baie ander beskrywende naamwoorde in die Skrifte ons meer inlig. Hier is ‘n paar tekste waarin dit voorkom:

Jes 54:16  Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

1Kor 5:5  om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.

1Pe 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Mat 4:1-3  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.

1Jn 3:8a  Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.

Joh 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Die slang in Genesis 3 is dus Satan wat Eva (en ook natuurlik Adam) verlei het. Kom ons maak ‘n kort lys van die ander naamwoorde van die slang wat ons in die Skrifte teëgekom het: Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.

Alhoewel hierdie ‘n formidabele lys is, moet ons onthou dat hierdie ‘ou slang’, Satan, beperkte mag het wat alles onder God se totale beheer is soos die boek van Job duidelik uitbeeld:

Job 1:6-12  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.  Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.  En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?  Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.  Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!  Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan (Deel 1)

  1. Terug pieng: Die waarheid oor die “sondeval” | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Albei ‘Adams’ is deel van God se EEN plan vir alle mense! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s