In dele 1 en 2 van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping het ons gekonsentreer op ‘n paar van sy karaktereienskappe. Die Skrifte sê dat hierdie slang ‘listiger’ of dan “vernuftiger” was as al die ander diere! Hier is ‘n paar karaktereienskappe wat die slang het wat baie betekenisvol vir ons is:
Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.
Ons het ook gevind dat die slang van die begin af al hierdie eienskappe besit het en dat God die bose of dit wat onheilig is geskep het vir God se doel:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Jes 45:6b-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Ons het ook die volgende oor die slang, of Satan dan, reeds bewys uit die Woord van God:
- Hy is ‘n definitewe geestelike persoonlikheid wat apart van God en die mens bestaan;
- Hy is aangestel om die aarde, dit is die vlees en natuurlike denke van elke skepsel, te ‘deurkruis’;
- Hy is vernuftigheid gegee om aan mense dwalings te gee wat hulle dan glo;
- Hy doen hom dus voor as ‘n engel van die lig en oortuig mense van valse leerstellings;
- Hy het beperkte mag wat alles onder God se totale beheer is;
- Hy het geen “vrye” wil nie, maar is vas onder die oortuiging dat hy dit wel het;
- Hy het geen respek vir God se heilige ordes nie en slaan toe op die mens se swakpunte.
Daar is diegene in die afvallige Christendom wat beweer dat die slang, of Satan dan, eers perfek was en daarna boos geword het deur sy eie “vrye” wil. Hulle verdraai dan ook Bybelse tekste soos Jesaja 14 en Esegiël 28 om hul punt te staaf. Kom ons kyk van wie word in Jesaja 14 gepraat :
Jes 14:4 dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!
Daar staan dit duidelik – die teks gaan oor die koning van Babel. Daar was regtig historiese konings van Babel en na so ‘n koning word hier verwys. Maar as jy nie oë gegee is om te sien wie die koning van Babel geestelik verteenwoordig nie, sal jy vir die leuens van die afvalliges val. Alle koninkryke wat op die aarde gekom het is maar basies verwysings na innerlike koninkryke binne-in ons. As ons nie dit weet nie, sal ons sekerlik ook nie die koms van die koninkryk van God in hierdie tyd sien nie. Kyk net waar is die koninkryk van God as dit kom vir hulle wat dit in hierdie tyd kan sien:
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
‘….hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar!’ Almal wa t wel sê “kyk hier!” of “kyk daar!” weet nie waar die koninkrkyk van God is nie. Vir diesulkes sal die koninkryk van God eers uiterlik kom voor hulle dit innerlik sal ervaar. Dit is hulle wat kyk na “tekens en wonders” wat hulself uiterlik afspeel. Hulle sal dus die nooit die oplossings oor alle uiterlike probleme op die aarde innerlik soek nie. Vir diegene is dit altyd maklik om na foute buite hulself te verwys omdat hulle blind gemaak is vir hul eie. So sal die debatte oor regerings en politieke en ekonomiese stelsels aangaan sonder enige werklike oplossings. Die een sal beter lyk (‘Kyk hier!’) as die ander (‘Kyk daar!’). Die een (nasie) sal veg teen die ander. Maar dit is in werklikheid ‘n innerlike stryd wat na buite geprojekteer word. Perfektheid in die vlees (of ‘n sogenaamde “beter lewe”) in die tydelike skepping van God is dus vir diegene wat so glo ‘n gegewe feit en haalbaar nou. Op hierdie sand-fondasie van perfektheid in die vlees word die leuen ook gebou dat Satan ‘n perfekte engel was en toe geval het. Selfs gedeeltes soos Jesaja 14 word misbruik om die leuen te staaf. Kom ons kyk waarom die afvalliges hierdie gedeelte gebruik:
Jes 14:4-12 dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met ‘n agtervolging sonder verskoning. Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel. Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie. Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
Hierdie koning van Babel het gesterf en het na die doderyk gegaan. Die doderyk is volgens die Skrifte ‘n plek waar die dooies slaap en van niks weet nie, en waar almal se nagdagtenis vergeet word:
Pred 9:5 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.
As hierdie gedeelte na Satan verwys dan is Satan dood en in die doderyk. Hoe absurd is so ‘n stelling!
Dan verwys die verse in Jesaja 14 ook na die val van die ‘môrester’ en vir baie word dit dan gesê dat hierdie verwys na Satan wat geval het uit ‘n fisiese hemel!
Jes 14:12 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!
As ons nie weet wat en waar die hemel is nie, kan ons nie anders om daarna as ‘n fisiese plek te verwys wat agter die laaste hemelliggaam in hierdie fisiese kosmos is nie. Maar vir diegene met geestelike oë is die hemel ‘n geestelike dimensie wat God, wie geen begin het nie, ‘in die begin’ gemaak het. God was dus voor die hemele gemaak was reeds daar. Hy het dus geen behoefte aan ‘n hemel nie. Die hemele is egter ‘n skepping van God en het ‘n skeppingspunt – ‘n begin. God het hierdie hemele gemaak om in te woon, alhoewel al die hemele wat God gemaak het nie Hom kan bevat nie. Kom ons kyk na ‘n paar verse wat dit bevestig:
Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Psa 2:4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.
1Ki 8:27 Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.
Al die hemele tesame kan God NIE BEVAT nie!!! Maar kom ons keer terug na die koning van Babel in Jesaja 14. Hoe val die aardse koning van Babel uit die hemel as die hemel ‘n plek daar ver is, soos die afvalliges dit wil hê? Hier is die woorde van Nebukadnesar, een van die konings van Babel:
Dan 4:28-30 Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom. Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?
Hy was verhef in sy eie denke! Hy het nie aan God die eer gegee nie wanyt hy was geestelik blind. Hy moes uitvind wie aan hom (en aan almal van ons) ALLES gee. Vir die doel het die Here toe vir hom ‘n droom gegee wat hom baie gepla het en Daniël het toe die droom vir hom verstaanbaar gemaak:
Dan 4:19-22 Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, ‘n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom. Die boom wat u gesien het—wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot AAN DIE HEMEL gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was, en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het— DIT IS U, O KONING, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.
Nebukandesar se hoogmoedige denke moes vernietig word en hy moes uit sy hoë hemel gewerp word totdat hy kon erken dat God heers alleen en is soewerein oor elke mens en elke skepsel se denke en ook oor almal se doen en late!
Dan 4:25 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
Soos Nebukadnesar is almal van ons simbolies die koning in ons denke of hemel want ons glo ons doen dinge so op ons eie en in ons eie krag! Belaglik, maar tragies waar. Ons verlossing van hierdie denke kom net wanneer ons uit daardie hemel val en bely dat God alleen oor alles heers en dat ons totaal afhanklik is van Hom vir ALLES:
Jes 14:12-16 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?