Die geestelike betekenis van syfergetalle (1)

INLEIDING

Getalle (syfergetalle) fassineer die mens want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan nie:

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ware geestelike of goddelike insigte kom van die Vader en deur Sy Woord word dit bevestig deur twee of drie getuies:

Mat 16:17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

So wat sê die Woord oor die geestelike betekenis wat daar in getalle opgesluit is?

DIE GETAL ‘EEN’

Natuurlike getalle begin by die getal EEN. Ons almal weet waar die getal die eerste keer  in die skrifte gebruik word:

Gen 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Die getal ‘een’ of ‘eerste’ het dus te make met “die begin”. Die Hebreeuse woord vir “begin” is “rêshı̂yth”, wat onder andere ook die konsep van “eerste vrug” insluit. Hierdie “eerste vrug” kom uit die Vader wat alles geskep het:

Jes 45:5-6 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;

Jesus is die “Eersgeborene van die hele skepping” – die “begin” (die “rêshı̂yth” in Hebreeus en die “alfah” in Grieks) van die skepping van die Vader:

Open 3:14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Uit die Vader kom Sy hele skepping en die hele skepping is geplaas in “die begin”, naamlik  Jesus Christus! Die Vader het dus vir Jesus die God gemaak van hierdie skepping en Hy is bo alles in hierdie skepping:

Joh 1:1-5 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Kol 1:15-17 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

Die getal ‘een’ het dus alles te make met EENHEID tussen die Vader en die Seun – hulle werk saam:

Heb 1:1-6 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2 wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. 3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, 4 terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle. 5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? 6 En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Om geestelike dinge (die “onsienlike dinge”) beter te verstaan het God altyd ‘n natuurlike afbeelding daar gestel om ons te help:

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Binne hierdie eenheid van die Godheid is dus ‘n belangrike orde (‘n rangorde)  wat ons moet goed verstaan. God het ‘n geestelike rangorde daar gestel en dit is van die eerste dinge wat ons van die Godheid kan leer. Die Vader is die eerste in alles en uit Hom kom alle dinge. Om hierdie orde in die Godheid vir ons verstaanbaar te maak, het God eerste ‘n fisiese man geskep voor Hy die vrou geskep het:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Die man is dus die vleeslike “beeld en heerlikheid” van die Vader .

1Kor 11:7 Want ‘n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man.

Daarna het God die vrou geskep – dit is doelbewus so gedoen – die vrou is dus die beeld van Chrisus. Net soos alles uit Christus kom, kom “alles wat lewe” (dit is mense in die geval) uit Eva:

Gen 2:21-24 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Gen 3:20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.

“…een vlees” is die aardse afbeelding van die EENHEID in gees tussen Vader en Seun. Daar is ‘n onlosmaakilke EENHEID tussen die Vader en die Seun – hulle deel een gees en een denke. Hoor wat sê Jesus….

Joh 10:30 Ek en die Vader is een.

Alles is “uit” die Vader en “tot Hom”, insluitende Jesus. Ons moet hierdie belangrike orde in die eenheid tussen Vader en Seun verstaan anders is ons oop vir die valse leerstellings wat elke dag aan ons gepreek word.

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Jesus beklemtoon ook hierdie orde binne die eenheid met Sy Vader.

Joh 14:28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.

Ons almal word ook deelgemaak van hierdie eenheid deur dieselfde gees van die Vader. Ons word dus eers in vlees geskep en deur ‘n leerproses geneem om in die beeld van die Seun (wat die beeld van die Vader is) te kom:

Rom 8:29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;

1Kor 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Kol 1:15 Hy [Christus] is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping.

Ons word dus EEN gemaak in gees met Christus en die Vader:

1Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

Ons word nou deur hierdie een gees in ‘n eenheid gesnoer met die Vader deur Jesus ons Hoof. Soos reeds gesê, word hierdie eenheid vir ons heeltemal uitgebeeld deur die huweliksverbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou. Daar is net EEN liggaam…EEN kerk…want die EEN ware Christus was nog nooit verdeel nie!!!

Efes 5:31-32 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.

1Kor 1:12-13 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus [Katoliek], en ek van Apollos [Protestant], en ek van Céfas [Pinkster of Charismaties], en ek van Christus. 13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?

1Kor 10:17 Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

Die gees van die Vader word dus deur Sy Woord, Jesus Christus, aan ons gebring:

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Joh 17:14 Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

Joh 14:23-26 Jesus antwoord en sê vir hom [Judas, nie die Iskáriot nie]: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. 25 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Daar is die waarheid oor die een gees van die Vader vir hulle wat die gees van God as ‘n valse derde persoon in hierdie eenheid tussen die Vader en Sy Seun wil sien. ‘n Derde persoon in ‘n huwelik is buite-egtelik. Die Vader en die Seun is een geesheilige gees – en dieselfde gees bind ons saam met hulle deur die denke wat in ons gevestig word:

1Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.

Rom 15:6 sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

2Kor 13:11 Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.

Ons sal in deel 2 sien waarom Jesus die EEN Here is wat uit die Vader gekom het en hoe die getal ‘TWEE’ so nou skakel met die getal ‘een’.

Joh 16:27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Joh 16:27 (KJV) For the Father himself loveth you, because ye have loved me, and have believed that I came out from God.

Joh 17:8 Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Joh 17:8 (KJV) For I have given unto them the words which thou gavest me; and they have received them, and have known surely that I came out from thee, and they have believed that thou didst send me.

Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:

Numbers in Scripture – “One = Unity; Two = Witness (part 1)”

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.