Die geestelike ‘wêreld’ is kardinaal in ons wese en in elke aspek van ons lewe – die “dinge waar dit op aankom”. Dit is dus belangrik om geeste te “onderskei”:
Fil 1:10 om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,
Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.
Geeste maak hulself bekend deur woorde. God se gees kom na ons deur Sy Woord:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Valse geeste word ook uitgeken aan hul woorde:
1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
1Jn 4:5-6 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. 6 Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.
“Ons” gebruik NET God se Woord om geeste te onderskei en hulle te weerlê!
2Ti 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Tit 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.
Heb 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
S__________ skryf:
Goeie middag Broer
Ek lees gereeld u blog van “Wat is die Waarheid”. Die dinge maak baie sin al het ek nie grootgeword in ‘n kerk wat alles Geestelik beoordeel nie.
Die Geestelike manier hoe u dinge bespreek en sien laat my baie dink aan die manier van die __________ kerk. Diè dat ek die vraag het of u bekend is met die kerk en dalk al ervaring gehad het met hulle?
As u wel bekend is met die __________ kerk sal ek graag verder wil gesels..
Verder geniet ek u blog
Groete.
—————————-
Hallo S_________
Dit is goed om van jou te hoor en dat jy die artikels op my webtuiste ook geniet. Dit beteken baie vir my om dit te hoor broer. Dankie vir die mooi woorde.
Ek kan jou sê dat daar maar baie min mense en kerkorganisasies is wat op die geestelike aspekte van die Skrifte konsentreer. Ons as natuurlike mense is volgens ons skepping eers gefokus op die natuurlike interprestasie, soos God dit dan ook bepaal het.
1Kor 15:46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
Die natuurlike dien belangrike doeleindes, en een van daardie doeleindes is dat ons leer om God se “onsigbare dinge” te verstaan deur die natuurlike dinge:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Maar dan is daar ook ‘n beperking geplaas op die natuurlike denke deur God. Die diep dinge van God en dieper geestelike insig is vir die natuurlike mens en sy denke onbereikbaar:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Jou vraag:
Die Geestelike manier hoe u dinge bespreek en sien laat my baie dink aan die manier van die _____________ kerk. Diè dat ek die vraag het of u bekend is met die kerk en dalk al ervaring gehad het met hulle?
In my studies oor verskeie kerke en hul leerstellings baie jare gelede, het ek ook die leerstellings van die _________ kerk van nader beskou. Ek self het egter nooit aan die betrokke kerk behoort nie.
Ek wil hê jy moet weer oordeel of die leerstellings wat ek verkondig uit die Woord saamstem met die leerstellings van die ___________ kerk. Ek gaan ‘n paar van hul leerstellings aanhaal wat ek gekry het uit hul “Geloofsbelydenis”.
Ek sal net die eerste paragraaf van die “Geloofsbelydenis” van die __________ kerk in hierdie epos hanteer. (Ek sal die woorde wat ek wil bespreek uit hierdie paragraaf uitwys en dan elkeen weerlê volgens die Skrifte). Hulle sê dat hulle glo….
In een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde en alle dinge sienlik en onsienlik, en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader van ewigheid af. God uit God, en Lig uit Lig, waaragtig God en waaragtig mens, verwek deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, wat gely het, gekruisig is, gesterf het, neergedaal het na die hel, en op die derde dag opgestaan het, wat in die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God die Vader sit, vanwaar Hy weer kom in heerlikheid, om die lewende en die dood te oordeel, en aan wie se koninkryk daar geen einde sal wees nie, en in die Heilige Gees wat deur die Profete spreek, waardeur ons die beeltnis van die Vader dra, en wat in ons leer en lei in alle waarheid, en dat Hy een enige Here is.
Die eerste punt uit die eerste paragraaf van die geloofsbelydenis van die _________kerk waarmee die Skrifte en ek nie saamstem nie is….
“…..[Jesus, die Seun van God, gebore uit die Vader] van ewigheid af…”
Ek haal aan uit ‘n artikel op die webtuiste by die volgende skakel, https://4windkoinonia.wordpress.com/2012/11/22/die-drie-eenheid-is-n-valse-leerstelling/, die volgende woorde:
‘Joh 16:27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God UITgegaan het.
Joh 16:30 Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God UITgegaan het.
Jesus was uit die Vader soos Eva uit Adam gekom het. Dit is die beeld wat God ons wil gee van die Godheid – Die Vader en die Seun. Jesus sê dat Hy die “begin” van God se skepping is:
Open 3:14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:
Jesus is die eersgeborene van God se hele skepping en deur Jesus het God die hele skepping na vore gebring:
Kol 1:15-19 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon.’
Jesus was dus nie “van ewigheid af” soos die ________ kerk bely nie. Hy sê self dat Hy “die begin van die skepping van God” is, en dat Hy UIT God kom. Net die Vader is ewig en het nie ‘n “begin” nie:
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Dan sê die eerste paragraaf van die “Geloofsbelydenis” van die _________ kerk ook….
“….[Jesus wat gely het, gekruisig is, gesterf het], neergedaal het na die hel…“
Ek haal weer aan uit ‘n ander artikel op hierdie webtuiste by die skakel:
‘Waar was Jesus voor Sy opstanding uit die dode? Wel hy was dood en in die graf / doderyk soos die Skrifte verklaar:
1Kor 15:3-4 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte, en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.
Vir baie is dit onmoontlik om te glo. Was Jesus regtig dood of was Hy lewendig, soos gepreek word deur hulle at die Woord verdraai. Die Skrifte verklaar Jesus was REGTIG DOOD. Hy was op geen ander plek behalwe in die graf waar hulle Hom begrawe was:
Joh 19:41-42 En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.
Die teks sê dat hulle het nie net Sy liggaam daar neergelê nie, maar Jesus self! Baie glo dat Jesus nie in die graf was nie, net Sy liggaam. Hulle glo dat as mens dood is dan is jy lewendig op ‘n ander plek. Die Woord van God stem egter nie saam nie:
Pred 9:5 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.
“Die dooies weet glad NIKS nie”. Min het geloof ontvang om die woorde te glo en dan kom hulle met allerhande verduidelikings wat nêrens in die Skrifte voorkom nie.’
Die belydenis van die ______ kerk is dus nie Skriftuurlik nie want Jesus het nie “neergedaal…na die hel” (die plek wat baie beskryf as gevul met fisiese vuur en ewige pyniging) nadat Hy op die kruis gesterf het nie. Hy was dood en in die graf.
Dan die derde punt in die eerste paragraaf van die “Geloofsbelydenis” van die _______ kerk makeer ook verdere verduideliking.
(3) “….[Jesus] aan wie se koninkryk daar geen einde sal wees nie…”
Kom ons lees wat Paulus sê wat met die koninkryk van Jesus sal gebeur as alles voltooi is:
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers TOTDAT Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Jesus sal Sy koninkryk aan die Vader “oorgee” en God, die Vader, sal alleen oor alles en almal heers – “sodat God alles in almal kan wees”. Jesus se koninkryk het dus ‘n begin en ‘n einde. Kom ons lees weer vers 25 van 1Korinthiërs 15:
Want Hy moet as koning heers TOTDAT Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.
Kom ons kyk wat die engel aan Maria gesê het by die geboorte van Jesus:
Luk 1:30-33 En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 31 En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid [Grieks: “aiōn”], en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
God se woorde weerspreek nie mekaar nie. Die vraag is: Gaan Jesus die koninkryk aan die Vader oorgee of gaan Hy oor dit regeer “tot in ewigheid”. Die antwoord lê in die Griekse woord “aiōn” wat hier vertaal word as “ewigheid” in vers 33 van Lukas 1. Die woord beteken nie “ewigheid” nie. ‘n “Aiōn” is ‘n tydperk met ‘n begin en ‘n einde. Iets wat ewig is het immer nie ‘n begin en ‘n einde nie:
Efes 3:9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af (Gr. aion) verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld (Gr. aion)?
Tit 2:12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld (Gr. aion) te lewe.
Ek het reeds hieroor geskryf – hier is een skakel waar dit verduidelik word:
Slegs God, die Vader, se geestelike koninkryk het geen begin of einde nie, en Jesus en die werk wat die Vader aan Hom opgedra het, vorm deel van daardie koninkryk:
1Kor 12:28 En wanneer alles aan Hom [Jesus] onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een [God, die Vader] wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God [Die Vader] alles in almal kan wees.
Luk 1:33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid [Grieks: “aiōn”], en aan sy [God se] koninkryk sal daar geen einde wees nie.
Ek sal eers hier volstaan. Ek hoop ek was van hulp.
Jou broer in Christus
Larry
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord